AAT waai, Meraai! Dis darem lekker by die pretpark. Die opwinding in die duikbommer of die groot sensasie op die kermiswiel. En hierna gaan ry ons spooktrein en skrik ons ons skoon uit ons verstand uit.
Hoekom is dit vir mense soms so lekker om bang te wees? Waarom spring valduikers uit vliegtuie? Hoekom stort rekspringers van brûe af? Waarvoor hang bergklimmers soos vlieë teen loodregte kranse, net ’n paar vingerpunte van die dood af, tussen hemel en aarde?
Die antwoord lê in die byniere of adrenale kliere—een soort van verskeie, ietwat obskure organe in wyd uiteenlopende dele van die menslike liggaam. Die kliere—wat saam die endokrienstelsel vorm—produseer hormone, of chemiese boodskappers, wat deur die bloed na verskeie ander dele van die liggaam vervoer word.
Die adrenale kliere of byniere, wat bo-op die niere lê, stel adrenalien vry, wat nodig is om die liggaam voor te berei om op gevaar te reageer. Hierdie hormoon laat die hart vinniger klop sodat meer suurstof die spiere kan bereik. Dit laat ook die lewer meer suiker in die bloed vrystel vir energie. Die byniere reguleer boonop die liggaam se sout- en waterinhoud.
Die pituïtêre klier (ook genoem die hipofise), wat so groot soos ’n ertjie is en net onder die brein lê, stel baie verskillende hormone vry, waaronder die groeihormoon vir die ontwikkeling en groei van die beendere, spiere en ander organe. Wanneer daar te veel of te min van dié hormoon is, volg abnormale groei.
Die skildklier, wat voor die strottehoof geleë is, produseer hormone wat verantwoordelik is vir verstandsontwikkeling en selmetabolisme (die verandering van suurstof en voedingstowwe in die liggaamselle in energie en hitte).
Die manlike geslagskliere, die testisse of testikels, produseer testosteroon, ’n hormoon wat die seksuele ontwikkeling by mans beheer. Die vroulike geslagskliere, die eierstokke, skei estrogene en progesteroon af, hormone wat die vroulike seksuele ontwikkeling stimuleer.
Bogenoemde hormone is net ’n paar van die sowat dertig wat jou liggaam produseer.
Hormoon-aksie is een van twee maniere waardeur die liggaam alles beheer wat binne-in hom gebeur. Die ander manier is deur middel van die spiere.
Die brein en sy dele
JOU brein speel ’n rol in alles wat jy doen, of jy nou ’n boek lees, op jou kop staan, asemhaal, ’n hamburger verorber of slaap. Dis ook die sentrum van jou denke, emosies en geheue.
Die menslike brein het drie hoofdele: die serebrum, die serebellum en die harsingsstam.
Die grootharsings of serebrum, die grootste deel van die brein, bestaan uit die twee breinhelftes, verbind deur ’n brug van breinweefsel wat die corpus callosum of harsingbalk genoem word. Die serebrum is die setel van die intelligensie, kennis, geheue en oordeel.
Die oppervlak van die serebrum word die korteks genoem. Die meeste van die brein se inligting word hier geberg.
Die kleinharsings of serebellum is ’n geplooide lob wat onder die serebrum lê, agterlangs in die brein. Dit beheer en koördineer die spiere wat nodig is vir verfynde ledemaatbewegings soos loop, spring, klavierspeel en vir die handhawing van die ewewig.
Die stingelvormige harsingstam voor die serebellum verbind die serebrum met die rugmurg. Dit het verskeie dele, waaronder die medulla en pons, wat basiese liggaamsfunksies soos die hartklop en asemhaling beheer. Die senuvesels van die liggaam gaan die brein by die harsingstam vanuit die ruggraat binne.
In die middel van die brein is die talamus, wat inligting van die sintuie ontvang en dit na die gepaste deel van die serebrale korteks stuur; en die hipotalamus, wat met inwendige toestande soos honger, dors en liggaamstemperatuur te doen het.
Die limbiese stelsel, ’n groep strukture wat deel van die talamus en hipotalamus insluit, is met emosionele response soos vrees en aggressie gemoeid.
Senuwees DIE brein en rugmurg vorm saam die sentrale senustelsel. Die senuwees wat na ander organe soos die arms, bene oë en ore loop, vorm die periferiese senustelsel.
Die senuwees wat inligting aan die brein oordra, word sensoriese senuwees genoem; dié wat opdragte aan spiere gee, staan as motoriese senuwees bekend.
Senuwees is oral: in jou brein en rugmurg, en waar hulle van die brein en rugmurg na alle ander dele van jou liggaam loop.
Die basiese eenheid van die senustelsel is die senusel of neuron. ’n Senusel bestaan uit ’n selliggaam, met sy kern, ’n lang, dun projeksie genaamd ’n akson of senuvesel en korter, vertakkende arms wat dendriete genoem word.
By sekere soorte neurone word die akson omring deur ’n huls van vetterige stof genaamd miëlien, bra soos die isoleringsplastiek van ’n kragdraad. Miëlien, wat deur ’n reeks Schwann-selle afgeskei word, verhoog die snelheid waarmee die boodskappe beweeg.
’n Dendriet ontvang ’n “boodskap”, of senu-impuls, meestal van die akson of ’n ander neuron. Die impuls beweeg deur die sel en verbind met die volgende een via die akson.
Dendriete en aksons raak nie werklik aan mekaar nie. Daar is ’n nou openinkie—die sinaptiese kloof—tussen hul eindpunte. Spesiale chemikalieë stuur senu-impulse oor die gaping. Die impuls beweeg dan verder totdat dit óf die brein (in sensoriese senuwees) óf ’n spier (motoriese senuwees) bereik.
Illustrasie met vergunning van 3DScience.com
|
||