| Silwerskoon
waterkrag... sonder besoedeling van die aarde
Hidroëlektrisiteit
Die destydse burgeroorlog in Mosambiek het die groot hidroëlektriese kragleweraar mettertyd totaal verlam... maar die geroeste ratte van die Cahora Bassa-projek het ’n aantal jare gelede weer flink begin draai om broodnodige elektrisiteit aan ons węrelddeel te help verskaf. En op die koop toe is daar geen besoedeling van die omgewing, soos byvoorbeeld met die verbranding van steenkool vir kragopwekking gebeur nie... |
|
|
ATERKRAG, word dit genoem. Of
hidroëlektrisiteit. Die geweldige invloed van die swaartekrag van die
aarde om water van hoog na laag te laat vloei, word ingespan om
elektrisiteit te help opwek vir ’n kraghonger węreld. Sowat twintig
persent van die aarde se elektrisiteit word op hierdie manier
gegenereer en, wat meer sę, dié soort krag is
"silwerskoon".
Hidroëlektrisiteit word opgewek deur
generators wat gekoppel is aan turbines wat deur die krag van vallende
water aangedryf word. In ’n waterkragsentrale word van die water in
’n dam agter ’n damwal deur middel van sluise toegelaat om te
ontsnap en hierdie vinnig bewegende water laat turbines draai wat op hul
beurt aan generators (kragopwekkers) gekoppel is. Die grootste hidroëlektriese skema in
Suidelike Afrika—volgens party bronne in die hele Afrika—is die
Cahora Bassa-projek. Die Cahora Bassa-dam wat hiervoor gebruik word, is
ook Suidelike Afrika se naasgrootste kunsmatige meer en is geleë in die
Tete-provinsie in Mosambiek. Die naam Cabora
Bassa (met ’n b pleks van die h) kom weliswaar steeds
dikwels voor in geskrifte oor die dam, maar dit is hoe dit gespel is
toe Mosambiek nog ’n oorsese provinsie van Portugal was. Deesdae word
die spelwyse Cahora Bassa verkies. Die Cahora Bassa-dam is een van die
drie groot damme in die Zambezi-riviersisteem—die ander twee is die
Kariba en Itezhi-Tezhi. Met die Cahora
Bassa word die Zambezi sowat 150 km noordwes van Tete opgedam en
die dam stoot terug tot by die
samevloeiing van die Zambezi en die Luangwarivier aan die Zambiese
grens. Die bou van die dam is indertyd as een
van die grootste siviele bouprojekte ooit in Afrika beskou. Die damwal
is 303 meter breed by die kruin en 171 meter hoog.
DIT is dan ook terdeë besef deur die destydse owerhede van Portugal en Suid-Afrika, wat in die laat jare sestig van die vorige eeu ooreengekom het tot die Cahora Bassa-projek, waarkragtens die Portugese ’n enorme waterkragsentrale by die dam sou bou en Suid-Afrika die opgewekte hoëspanning-gelykstroomkrag sou koop. Suid-Afrika sou die krag van sy grens met Mosambiek af na die Apollo-omsettingstasie in Midrand herlei. Die
Cahora Bassa-projek was ’n gesamentlike onderneming van Suid-Afrika se
groot kragverskaffer Eskom en Hidroelectrica de Cahora Bassa (HCB), ’n
firma waarin die Portugese regering ’n aandeel van 82 persent en
Mosambiek 18 persent gehad het. Maar weens die onrustige politieke
toestande in die destydse Suidelike Afrika—en veral as gevolg van die
burgeroorlog wat Mosambiek nog ’n hele aantal jare ná sy
onafhanklikwording in 1975 geteister het—is die Cahora Bassa-projek
van meet af deur groot probleme geteister. Trouens, in die jare tagtig
is die kragverskaffingsprojek weens die burgeroorlog heeltemal tot
stilstand gedwing. Eers
nadat die burgeroorlog in 1992 beëindig is, kon die skade aan die
gesaboteerde hoogspanningsleidings herstel word. Aan die Mosambiekse
kant moes oor ’n afstand van 893 km altesaam 1 895 lyntorings
vervang en 2 311 opgeknap word. Gelukkig was daar geringer skade
aan die Suid-Afrikaanse kant en het dit slegs normale onderhoudswerk van
Eskom geverg om die lyne weer in werking te kry. Hierdie werk het in
1995 begin en is laat in 1997 voltooi. Teen 1998 was die
hoogspanningsleidings weer volstoom aan die werk. Intussen is begin om
die Portugese aandeel in die projek geleidelik na Mosambiek oor te dra. Vandag
voorsien die opgedamde blou waters van die Zambezi by Cahora Bassa
broodnodige elektrisiteit aan ’n ontwikkelende węrelddeel wat dit
gretig opslurp. Met sy opwekkingspotensiaal van 4.000 megawatt sien
Cahora Bassa deesdae kans om nie net krag aan Mosambiek en Suid-Afrika
te lewer nie, maar dit ook na Zimbabwe uit te voer. En alle belanghebbendes wat die groot moontlikhede van hierdie waterkragsentrale besef, hoop dat dit vorentoe ook nog krag tot krag sal gaan!
BO:
Die sleutel tot die verkryging van elektrisiteit uit vallende
water—enorme kragopwekkers wat deur die voorstuwende water aan die
draai gehou word. Hulle werk maar net soos baie soorte dinamo’s wat
vandag gebruik word, selfs dié in elektriese speeltreintjies, net op
’n baie groter skaal. Onder só ’n opwekker is ’n metaalskag wat
verbind is met ’n skroef (“propeller”) wat deur vallende water
gedraai word. Wanneer die water die skroef laat tol, tol die skag en
dié laat op sy beurt die komponente in die opwekker draai. |
|