|
’n Laslappie van Mieliestronk | ||
|
CHRISTENDOM: Die gelowige volgelinge van Jesus
DIE Bybel bestaan uit die Ou Testament en die Nuwe Testament. Die Nuwe Testament is eie aan die Christendom en bestaan onder meer uit die vier Evangelies, waarin vertel word van die lewe van Jesus Christus, wat in Betlehem in Palestina gebore is, aan die kruis vir die sondes van die mensdom gesterf het, opgestaan het uit die dood, na die hemel opgevaar het en sal terugkeer om die mens te oordeel.
Ná
sy hemelvaart het sy twaalf apostels die leer van Christus verkondig, en
deur die eeue heen het dit regoor die wêreld versprei. Romeinse
keisers soos Nero en Diocletianus het die vroeë Christene wreed vervolg.
Hulle is gedwing om ondergronds in katakombes te skuil om hul
godsdiensplegtighede te beoefen. Keiser Konstantyn het eers in 313 n.C. in
die Edik van Milaan verdraagsaamheid teenoor die Christendom gelas. Die
lam is ’n ou Christelike simbool. Dit versinnebeeld die onskuldige Jesus
wat geoffer is vir die sondes van die mens. Evangelie
beteken die blye boodskap. Die vier Evangelies in die Nuwe Testament is
deur die evangeliste Matteus, Markus, Lukas en Johannes geskryf. Christus
se geboorte word tradisioneel op Kersdag, 25 Desember, gevier, dog dis
feitlik seker dat hy nie in daardie tyd van die jaar gebore kon gewees het
nie. Die Gregoriaanse kalender het die berekende geboortejaar van Christus
as beginpunt, maar sekere kenners reken dat die Christelike jaartelling
eintlik ses jaar vroeër moes begin het. Met Kersfees word geskenke gegee en Kersliedere gesing. Rooms-Katolieke en ander kerke vertoon dikwels ’n voorstelling van die Kind Jesus in die stal, iets wat by St. Franciscus van Assisi begin het. Die versiering van Kersbome is ’n gebruik wat uit Europa na Suid-Afrika ingevoer is.
| ||
|
|
LINKS: Die
geboorte van Jesus en sy lewe as baba is eweneens in die geskiedenis deur
talle kunstenaars uitgebeeld. Hier is die Adorasie van die Herders
deur die Nederlander Gerrit van Honthorst (1590-1656). ONDER: ’n Fragment van ’n bladsy uit ’n Latynse Bybel.
| |
|
Hoe het die Kruis ontstaan?
DIE kruis is een van die oudste simbole van
die mensdom en dit word in baie godsdienste gebruik.
Maar kom ons veronderstel dat met “die
ontstaan van die Kruis” in die vraag hierbo in der waarheid die
Kruis as Christelike simbool bedoel word—dat dit
gevolglik eintlik die oorsprong van die praktyk van
kruisiging beteken. Waarom sou mense in die ou dae aan houtbalke
gespyker gewees het wat in die vorm van ’n kruis met mekaar
verbind is, om in smart daaraan te hang totdat hulle uiteindelik
hul laaste asem uitgeblaas het?
In die
Christendom is die kruisigingsproses inderdaad kardinaal. Christene
glo immers dat Jesus Christus as die Seun van God juis op aarde aan
’n kruis kom sterf het om daardeur die sondige mens van ’n ewige
verdoemenis te bevry.
Maar toe die
Ou Romeine eeue gelede hierdie teregstellingsmetode bedink het om
van veroordeelde misdadigers en ongewenstes ontslae te raak, sou
hulle natuurlik hoegenaamd nie só daaraan kon gedink het nie. Hulle
sou ook nie die geweldige gevolge kon besef het van wat dit op die
hele beloop van die mensebestaan sou hê nie. Hoe hul alleraakligste,
mees liefdelose skrikdoodsmetode sou boemerang om daardeur juis die
duiwel in kettings te slaan, sou eers later in die geskiedenis
ontvou.
Die Romeine
was een van ’n paar volkere wat kruisiging toegepas het. Hulle
het die kruis van sowat die sesde eeu v.C tot die vierde eeu n.C.
gebruik—en omdat die land van die Jode tydens Christus se aardse
omwandelinge onder Romeinse beheer was, sou dit vir hulle niks
vreemds gewees het om Jesus op hierdie manier vir sy vermeende
“oortredings” te straf nie.
Geskiedkundiges is dit nie heeltemal eens oor hoe die praktyk
ontstaan het nie. Een teorie is dat dit kon ontwikkel het uit ’n
primitiewe gebruik wat arbori suspendere genoem is—die hang
aan ’n arbor infelix (ongelukkige boom) wat aan die gode van
die onderwêreld toegewy is.
Almal wat ernstig oortree het, sou ook nie gekruisig kon word nie. Kruisiging is gebruik vir slawe, seerowers en vyande van die staat—dit is beskou as die skandelikste en afstootlikste manier om te sterf. Romeinse burgers is in die reël van hierdie soort straf vrygestel, tensy hulle aan erge misdade teen die staat, soos hoogverraad, skuldig bevind is. | ||
|
Klik hier om terug te keer na die
Laslappie-bladwyser | ||