Pêrels

’n String pêrels en ’n skildery van Jan Vermeer van ’n meisie met ’n pêrel--oorbel

... uit die oesters wat so oes lyk!

As ’n skulpdier lyk hy allermins indrukwekkend. Maar die oester sorg vir ’n gesogte juweel, die pêrel—én vir een van die mens se gewildste seekosse...

Ter illustrasie BO: ’n String pêrels en ’n skildery van Jan Vermeer van ’n meisie met ’n pêrel-oorbel.

E

EN nag—só lui die ou, ou Japanse legende—was die gode van die bose weer met ’n onheilige plan besig. Hulle het saamgesweer om ’n pragtige prinses en haar beminde van mekaar af weg te hou.

Die koningin was so ontsteld oor die geliefdes se foltering dat sy gehuil het. En toe haar trane uit die hemel val, is hulle beklee met die ligglans van die volmaan, voordat hulle as pêrels in die see geval het.

Die geloof dat pêrels uit die trane van gode gevorm het, het lank bly voortleef, tot omstreeks 200 n.C. toe die Arabiere die ware maker van die gesogte juweel ontdek het—die nederige oester. Eers kyk ons in hierdie artikel na die fraaie pêrels en hoe hulle ontstaan. Daarna bekyk ons hul veel leliker, maar merkwaardige vervaardiger van naderby.

Pêrels van wisselende vorms en gehalte LINKS: Pêrels van wisselende vorms en gehalte.

Foto: Dr. John Supan,  Louisiana State University / NOAA

    

Pêrels

HET jy ’n familielid met die naam Magriet? Indien nie, ken jy iemand met daardie naam? Die kans is goed, want Magriet was veral vroeër een van die bekende name onder ons Afrikaanse dogters—die Boere-niggie van die Engelse Margaret, die Italiaanse Margherita, die Duitse Margarete, die Spaanse Margarita, die Franse Marguerite...

In watter taal ook al, die naam kom van die antieke Griekse woord vir “pêrel”—en van die ou, ou tye af is meisies oor die wêreld heen na hierdie waardevolle juweel genoem.

Die pêrel is die enigste juweel wat deur ’n dier gemaak word; die meeste ander word uit die grond gehaal. En terwyl mineraaljuwele hard is en gewoonlik lig weerkaats, is pêrels sagter en word lig sowel geabsorbeer as weerkaats. Dit maak hulle glimmend.

Die diertjie wat vir hierdie kunswerk sorg, is die nederige oester. Die mooiste pêrels word gemaak deur die pêreloester Margaritifera van die tropiese seë.

Tafeloesters maak ook pêrels, maak dié is dof en min werd.

Die oester is nie die enigste skulpvis wat pêrels produseer nie. Sekere seeslakke, seemossels en ander seeskulpdiere se pêrels is wel mooi gekleur, maar nie glansend nie. Daar is ook party varswater-mossels wat vir pragtige pêrels sorg.

Hoe pêrels gevorm word
OESTERS en sekere ander skulpdiere maak ’n spesiale stof genaamd perlemoen, waarmee die binnekant van die skulp uitgevoer word. Partykeer steek ’n vreemde voorwerp soos ’n sandkorrel, ’n stukkie gebreekte skulp of ’n klein parasietjie vas tussen die mantel (die vlesige liggaam van die oester) en die perlemoenlaag.

Skulp met pêrelDie mantel raak geïrriteer deur die indringer en produseer perlemoen wat dit omhul. Die perlemoen bou in konsentriese lae rondom die voorwerp op en vorm op dié manier ’n pêrel.

Die vernaamste verskille tussen natuurlike en gekweekte pêrels is dat die binnekern van die natuurlike kleiner is en meer maar dunner perlemoenlae bevat.

Natuurlike pêrels
HOEWEL oesters miljoene der miljoene eiers voortbring, bereik bloedmin daarvan werklik volwassenheid. Die oester het naamlik ’n hele string vyande in elke stadium van sy ontwikkeling, hetsy as eier, larwe of jong oester.

Sodra hy, om dit so te stel, sy sit op ’n voorwerp gekry het, kan hy nie langer rondbeweeg en wegvlug wanneer gevaar dreig nie. Hy kan deur seeplante of verskuiwende slik versmoor word, of die toestande in die water kan só verander dat hy vrek.

Natuurlike pêrels is dus baie skaars—en uiters duur. Hulle is eenmaal in baie wêrelddele gevind: die kuste en riviere van Europa, die Verre Ooste, Noord-, Suid- en Sentraal-Amerika, die Persiese Golf, die Rooi See en die Stille Suidsee (Oos-lndië, die Filippynse Eilande en die noordkus van Australië).

Maar in baie streke, veral die Amerikas, is oesterbeddens gestroop of deur besoedeling vernietig. Gekweekte pêrels is goedkoper en makliker om in die hande te kry, met die gevolg dat min natuurlike pêrels deesdae vir juwele geoes word.

Gekweekte pêrels
DIE Chinese word as die eerste mense erken wat pêrels gekweek het, in die veertiende eeu. Hulle het harde modderballetjies, kraletjies of klein metaal-Boeddhatjies binne-in oesters geplaas en gewag dat dit met perlemoen bedek raak.

Laat in die negentiende eeu het ene Kokitsji Mikimoto, die seun van ’n arm Japanse noedelmaker, met die kweek van pêrels begin eksperimenteer. Ná verskeie mislukkings en finansiële rampspoed het hy die kuns bemeester. Jaloerse teenstanders het hom hof toe gesleep om vas te stel of sy pêrels as vals, nagemaak of gekweek beskou moes word. Die uitspraak was dat hulle gekweek is—en dis hoe hulle vandag nog beskou word.

Pêreloesters word meestal by Australië, Korea, Myanmar (Birma), Okinawa, die Filippyne en Hongkong gekweek—en veral Japan, die wêreld se grootste produsent.

Stringe gekweekte Japanse pêrels, reg vir uitvoerREGS: Stringe gekweekte Japanse pêrels, reg vir uitvoer.

Foto: Dr. John Supan,  Louisiana State University / NOAA

Oesterboere teel die oesters in oesterbeddens en plaas hulle dan oor in beskermende hokke waarin hulle kan groei. Wanneer die oesters sowat drie jaar oud is, plant vaardige werkers klein stukkies perlemoen of mosselskulp binne-in die skulp. Die oesters word dan in die water teruggeplaas, in draadhokke naby die kus.

Twee keer per jaar ondersoek werkers die hokke om die seegras te verwyder en klouskulpe van die oesters se skulpe af te haal. Die diere se vordering word noukeurig aangeteken.

Van een tot vier jaar ná die inplanting word die oesters uit die hokke gehaal en hul skulpe oopgemaak. Daar is slegs een pêrel van ’n hoë gehalte in omtrent elke twintig.

Die pêrels word dan gewas, geskei volgens kleur, glans, grootte en gebreke, en uiteindelik gepoleer voordat hulle mark toe gestuur word.


Dat die pragtigste pêrels uit só iets kan kom, lyk haas onmoontlik LINKS: Dat die pragtigste pêrels uit só iets kan kom, lyk haas onmoontlik.

Foto: Dr. John Supan, Louisiana State University / NOAA
    
    

 Oesters  

OESTERS lewe op die seebedding langs kuslyne en inhamme waar die water stil en nie te diep nie en die klimaat mild tot tropies is, soos dele van Europa, Noord-, Sentraal- en Suid-Amerika, die Verre Ooste, Australië en Afrika.  

Die benaming “oester” geld vir ’n aantal tweekleppige weekdiere (skulpdiere met ’n tweeledige skulp), hoewel die enigste ware oesters dié is wat behoort tot die Ostreidae, soos die Europese tafeloester Ostrea edulis en Suid-Afrika se kommersiële Crassostrea margaritacea.

Pêreloesters behoort egter tot ’n ander soort.

Mense geniet reeds oestervleis sedert die gryse verlede. Die antieke Romeine was so versot daarop dat hulle Britse oesters na Rome ingevoer en hulle uiteindelik self langs die kus op oesterplase begin kweek het.

Oesters is vandag steeds een van die gewildste seekosse en daar is talle kwekerye wêreldwyd waar die toestande daarvoor gunstig is. Suid-Afrika het min geskikte kalm inhamme, maar hier het oesterverbouing ook al tot ’n hele kuns in sekere lagunes ontwikkel.

Oesterskwekerye
OESTERS wat pêrels lewer, is in die reël óf manlik óf vroulik, maar af en toe is daar hermafrodiete, dit wil sê enkelinge wat manlik sowel as vroulik is. Bevrugting vind plaas wanneer die oesters eiers en sperma in die water vrylaat.

Ná bevrugting ontwikkel die eiers in vryswemmende, mikroskopies klein larwes wat twee tot drie weke in die water rondswem voordat hulle ’n gedaantewisseling ondergaan.

Die metamorfose is so ingrypend dat die oester sy vermoë verloor om te swem. Gevolglik heg hy hom vir die res van sy lewe vas aan ’n soliede voorwerp (’n rots of ander basis). Verskeie oesters kleef gewoonlik aan dieselfde rots, of selfs aan mekaar, om ’n oesterbed te vorm.

Oesterkwekers sorg vir voorwerpe soos ou skulpe of teëls sodat die jong oesters hulle daar kan vestig.

Die oesters is gewoonlik ná twee tot vier jaar bekwaam om geoes te word. Dié in vlak water kan met tange van hul basisse gepluk word. Oesters in dieper water word met masjiene gedreg.

’n Afdopper gebruik ’n skerp beitel om ’n skulp oop te beur. En kyk wat kry hy binne! LINKS: ’n Afdopper gebruik ’n skerp beitel om ’n skulp oop te beur. En kyk wat kry hy binne!

Foto: Keith Pomakis / Creative Commons License (foto gewysig)

Die bou van die oester
JY het miskien al gehoor hoe iemand speels daarvan beskuldig word dat hy so "toe soos ’n oester is". Wel, dit kan nogal ’n treffende vergelyking wees as jy sien hoe dig hierdie skaaldier werklik is!

Die oester se kleppe word toe gehou deur ’n kragtige adduktor-spier, wat dit moeilik maak om die skulp oop te breek. Nogtans word die kleppe meestal effens oop gehou.

Die oester met sekere van sy belangrikste organeDie kleppe, wat met ’n skarnier verbind is, is ru aan die buitekant, en een klep is gewoonlik groter as die ander. Die oester lê in die grootste deel en die ander klep dien as deksel.

Die oester se liggaam word bedek deur ’n dik laag vel wat die mantel genoem word. Dié is aan die binnekant van die skulp vas. Die taak van die mantel is om kalk uit die omringende water te onttrek en skulp daaruit te vorm. Lae word op dié manier tot die skulp toegevoeg namate die dier binne-in groei.

Lyne aan die buitekant van die skulp toon waar hierdie stof bygevoeg is. By pêreloesters vorm die skulpvormende vloeistof ’n glansende stof genaamd perlemoen (of perlemoer) aan die binnekant van die skulp. Die binnekant van tafeloesters se skulpe is dofwit en pers.

Die liggaam van die oester is ’n massa grys weefsels. Daar is geen kop of oë nie, hoewel twee rye voelers aan die mantel die dier waarsku oor die veranderings in ligsterkte en chemikalieë in die water.

Die oester het ook nie longe nie en haal deur middel van veeragtige kieue asem.

Klein, harige uitsteekseltjies genaamd cilia staan van die kieue af uit en trek deur middel van golfbewegings water in die mantelholte in. Terwyl die water oor hulle spoel, word klein organiese deeltjies uitgefiltreer en na die oester se mond gevoer.

Die spysverteringstelsel sluit ’n maag, twee verteringskliere en ’n spyskanaal in. ’n Klein hartjie pomp die bloed deur die liggaam.  


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad