|
LINKS: ’n Kunstenaar se voorstelling van die cholera-epidemies van die negentiende eeu. Krediet: U.S. National Institutes of Health
|
||||
IT
is ’n verskrikking wat sporadies toeslaan oor die wêreld, veral in
die Ooste, maar ook in Afrika en in ons eie land—’n siekte so
kwaadaardig dat ’n pasiënt teen sonop springlewendig kan wees en teen
sononder in die lykshuis kan lê. Dit begin met braking, koors en
buikloop, wat die liggaam met geweld ontwater. As
die besmetting onbehandeld en noodlottig is, verander die pasiënt se
vel verkleur spoedig tot ’n blouerige grys. Hy begin stuiptrekkings
kry, sy oë sink weg in hul kaste en sy liggaam word koud. Sy polsslag
verflou. Hy sterf.
’n Verwoestende epidemie
in 1817 in Bengale het Europese dokters se aandag die eerste keer daarop
gevestig. Oor die volgende dekades het dit ver en wyd oor die
handelsroetes versprei en die aarde se eerste werklike wêreldwye siekte
geword, wat duisende mense van China tot Europa en Amerika afgemaai het. Dokters
het aanvanklik min van dié aaklige siekte begryp, maar dit het ’n
vernuftige Engelse dokter gekos om die oorsaak daarvan vas te stel en
uit te werk hoe om dit te voorkom. Die wêreld is ’n groot dank
verskuldig aan dr. John Snow en sy baanbrekerswerk met cholera. Sy
verhaal begin baie jare gelede in die oorbevolkte Londen wat deur die
Industriële Omwenteling geskep is...
HOLERA
het England in
Oktober 1831 getref en spoedig regoor die land versprei. Binne twee jaar
was duisende mense in hul graf. Iets
meer as anderhalwe dekade later, in 1848, het ’n tweede epidemie
tussen 50,000 en 70,000
lewens in Engeland en Wallis geëis. In ’n daaropvolgende epidemie in
1854 is 30,000 mense net in Londen
oorlede. In
daardie ontsettende jare van paniese skrik het onkundige dokters hul pasiënte probeer red deur bloedlating of met konkoksies soos
laudanum ('n opiumtinktuur) en brandewyn—dikwels vrugteloos. Wat, om
hemelsnaam, kon tog die verwekker van hierdie pes wees? Dat dit vuil
water was, sou min mense blykbaar kon raai. In die
eerste helfte van die 1800's het Londen ’n ongekende
bevolkingsontploffing beleef wat sy getal inwoners hemelhoog tot 2,5
miljoen laat styg het. Die stad het een van Europa se toonaangewende
handel- en fabriekstede geword en hordes plattelanders het—saam met
hul vee—op die Engelse hoofstad toegesak. Dikwels sou agt, nege
mense ’n kamer in ’n deelhuis met hul diere deel. Londen, soos ander groot stede van destyds, kon die geweldige toevloei van nuwe inwoners hoegenaamd nie hanteer nie. Saam met die steeds toenemende mensemenigte het die ontsettende stank vermenigvuldig van meer as 200,000 vuilputte en die vullis wat in elke sloot en steeg opgehoop het. Boonop het die vuilgoed met die herhaalde reënstorms of met hoogwater van die Teems in die huise ingespoel en die markpleine oorstroom.
BO: ’n Gedrang by Covent-Garden Market in die destydse Londen. Uit Rudolph Ackermann se Microcosm of London, or, London in Miniature, met graveerwerke deur Augustus Pugin (argitektuur) en Thomas Rowlandson (figure). Uitgegee in 1808-1811, 3 volumes.Intussen
het die dronkgeslane dokters steeds probeer antwoorde soek vir die
dodelike cholera. Daar is selfs gereken dat dit deur die inaseming van
giftige gasse veroorsaak word. ’n Mens kan jou die groot vrees
voorstel, want hoe kan ’n mens nou ophou om lug in te asem? Tog
was daar een dokter, John Snow, wat nie wou byt aan die storie van die
vuil lug nie. Die gevaar kan nie in die lug wees nie, het hy geredeneer,
want hoekom tas dit dan nie die longe aan nie?
Snow
het ’n ander teorie gehad—dat cholera deur besmette kos of water veroorsaak word. Hy het die teorie reeds in
1849 gepubliseer, maar dit was eers met die epidemie van 1854 dat hy dit
kon bewys. Hy het die plekke gekarteer waar mense aan die siekte dood is
en aangedui dat besmette water die sondaar was. Snow het gevind dat
cholera veral gewoed het aan ’n sekere deel van die Teems, die rivier
wat deur Londen loop, wat
erg deur stadsriool besoedel is. Snow
het die stadsowerheid ingelig, maar die wiele van die burokrasie maal
stadig. Teen die somer van 1858 was die stad gehul in die sogenaamde "Groot Stank." Die Teems het so verskriklik begin stink dat duisende Londenaars
uit die stad uit gevlug het. Selfs die parlement moes naderhand as gevolg van
die stank sluit. Die
herhaalde uitbrake van siekte en ondraaglike reuke het die stadsvaders
gedwing om nuwe riole te bou en die stad se water te beskerm. Die enorme
herontwerpte rioolstelsel van Londen het die cholera-epidemies tot ’n
einde gebring. Dit het ook as model gedien vir stadsbeplanners regoor
Europa, Amerika en elders. Hoewel epidemies en oorbevolkte agterbuurte
die dryfveer was, het Engeland die leier op die gebiede van stedelike
beplanning en openbare gesondheid geword. In 1876 is die kommavormige bakterie wat cholera veroorsaak, onder ’n mikroskoop ontdek deur die Duitse dr. Robert Koch. Daarna sou almal weet wat cholera werklik is—’n akute aansteeklike dunderm-infeksie, wat veroorsaak word deur die inname van kos en water wat met die bakterie Vibrio cholerae besmet is, gewoonlik deur menslike ontlasting.
INTLIK word cholera nie deur die genoemde
bakterie self verwek nie, maar deur ’n gifstof (enterotoksien) wat
deur die bakterie geproduseer word. Ná 'n inkubasietyd van ses uur tot
twee dae ontwikkel daar skielik ’n waterige diarree, met braking kort
daarna. Die gevolg is ’n hewige ontwatering waardeur die liggaam
liters vog kan verloor. Dit kan noodlottig wees, maar sterftes kan deur
vinnige en korrekte behandeling voorkom word. Behandeling behels die inname van
rehidrasie-vloeistof per mond (om ontwatering teen te werk) en moontlik antibiotika. Indien die pasiënt nie die vloeistof kan sluk
nie, moet dit binneaars toegedien word. Cholera-sterftes
kom meestal voor onder babas, verswakte bejaardes en ondervoede mense. Sowat
’n miljoen Vibrio cholerae-bakterieë moet deur ’n gesonde
volwasse ingeneem word voordat hy cholera opdoen, maar dit kan minder
wees by byvoorbeeld mense met verswakte immuunstelsels. Interessant: volgens
die web-ensiklopedie Wikipedia
(die Engelse weergawe) is met onlangse genetiese
navorsing vasgestel dat daar ’n verband bestaan tussen mense se
vatbaarheid vir cholera (en ander soorte diarree) en hul bloedgroep.
Mense met bloedgroep O is die meeste vatbaar. Diegene met groep AB het
die meeste weerstand en is feitlik immuun. Tussen hierdie twee uiterstes
is bloedgroepe A en B, met groep A wat ’n groter weerstand as groep B
het. Cholera kom hoofsaaklik in die Ooste voor, maar is endemies in Afrika. Dit steek ook gereeld kop uit by arm gemeenskappe op die Suid-Afrikaanse platteland, veral in die provinsies Mpumalanga, Limpopo, die Oos-Kaap en die noorde van KwaZulu-Natal. Mosambiek is baie kwesbaar. Vir mense wat na gebiede reis waar cholera endemies is, is voorkomende anticholera-inspuitings noodsaaklik. ’n Entstof wat van dooie bakterieë gemaak word, bied gedeeltelike beskerming vir ’n tydperk van drie tot ses maande ná immunisasie. Reisigers word ook vir hul eie veiligheid gevra om op higiëne te let en lig te loop vir rou kos en water wat dalk besoedel kan wees.
Hoofbron
vir geskiedenis van cholera: National
Geographic:
Cholera:
Tracking the First Truly Global Disease |
||||