Christopher
Columbus
of Cristóbal Colón*)
* ) Italiaans-Spaanse seevaarder wat in Spaans bekend staan as Cristóbal Colón, in Italiaans as Cristoforo Colombo en in Engels as Christopher Columbus. Ter wille van groter eenvormigheid gebruik ons die Engelse benaming en verkies om nie sy voornaam in Afrikaans te verander in Christophorus of selfs te verdiets tot Christoffel, soos vroeër wel gedoen is nie. Die portret HIERBY (deur Sebastiano del Piombo uit die sestiende eeu) is een van die vele voorstellings van dié gevierde seevaarder. |
||
Columbus (1)
|
||
K
het nou ’n stadium bereik waarin selfs die veragtelikste skepsel reken
dat hy my kan beledig... As ek Indië gesteel het of die heilige stad
waarvan Sint Petrus die biskop was en hulle aan die More oorhandig het,
kon hulle my nie in Spanje met groter vyandigheid behandel het nie.” Bitter
woorde van Christopher Columbus. Die jaar: 1500. Die plek: ’n skip op
pad na Spanje. Die
Genuese ontdekkingsreisiger is in kettings geboei en word in skande en
ongenade na Europa teruggebring. Net
agt jaar gelede het dié man Amerika ontdek—’n gebeurtenis wat as
een van die belangrikste in die ganse geskiedenis gereken sal word. Maar
op hierdie oomblik is ons nog die stom getuies van ’n gruwel. Columbus
is hier allesbehalwe die held wat eeue later steeds gehuldig sal word... Want
was Columbus se reis nie die begin van blywende bande tussen Europa en
Amerika en uiteindelik die res van die wêreld nie? Maar
hoe het dit gebeur dat hy destyds as skandemaker gebrandmerk is? Die
antwoord word in ons volgende aflewering verstrek. Want eers moet ons
kyk na die gebeurtenisse en die drama wat tot hierdie vernedering in
1500 gelei het... Sy
vroeë lewe
CHRISTOPHER
COLUMBUS
is
in 1451 in Genua in Noordwes-ltalië gebore. Sy familie was
wewers
en hy het min formele opleiding gehad. Maar hy was ’n gebore seeman,
wat vroeg-vroeg die golwe aangedurf het. Op
sy eerste seereis, toe hy negentien was, was hy op ’n Genuese galei
wat ’n spul seerowers moes gaan straf. Daarna het hy verskeie ander
reise onderneem. Die
laat vyftiende eeu was ’n opwindende tyd om ’n loopbaan as
seevaarder te kies. Die grootste deel van die wêreld was nog
ongekarteer. Heersende winde en seestrome was grotendeels onbekend en
het miskien glad nie in die seevaarder se guns beweeg nie. Maar die gees
van die tyd was ’n drif vir wêreldverkenning en ontdekkings. Omstreeks
1479 is Columbus getroud met dona Felipa de Perestrello, ’n Portugese
vrou wat vir hom die lewe geskenk het aan een seun, Diego. Sy is
omstreeks 1483
oorlede.
Columbus het nooit weer getrou nie, hoewel hy later ’n minnares uit
die burgerstand gehad het, Beatriz de Harana, wat vir hom die lewe aan
’n buite-egtelike seun, Fernando, geskenk het. Sy
oogmerk
COLUMBUS
wou nie bewys dat die wêreld rond is nie. Opgevoede mense van daardie
tyd het dit reeds geweet. Hy wou eenvoudig ’n kortpad vind na Indië
(destyds Indië, China, Japan en die Oos-lndiese eilande) deur oor die
Atlantiese Oseaan weswaarts te seil. En
hy wou ’n groot vergoeding hê: ’n persentasie van die handel, die
goewerneurskap van enige land wat hy dalk sou vind, die titel van
admiraal en ’n verheffing tot die adelstand. Eerste
poging
DIE
eerste probeerslae om ’n ekspedisie te loods was vergeefs. Koning
Johannes II van
Portugal was teësinnig om ’n nuwe projek aan te pak terwyl die
ekspedisies langs die kus van Wes-Afrika soveel tyd en geld gekos het. Hy
het ’n kommissie van geleerdes aangestel om Columbus se vertoê aan te
hoor, maar die uitspraak was dat die reis onprakties sou wees. Sukses
in Spanje
IN 1484 het Columbus Portugal verlaat en met die jong Diego Spanje toe gegaan. Koningin Isabella van Kastilië het simpatiek gestaan teenoor sy idees, dog haar adviseurs het soos die Portugese gedink. Op die koop toe het die stryd teen die More haar en die koning, Ferdinand, besig gehou.
Vergunning
Chicago Historical Society / U.S. National Park Service Maar
in Januarie 1492, toe die laaste Moorse vesting verower is, is Columbus
ontbied. Sy versoek is weer eens van die hand gewys, maar op sy uittog is
hy deur ’n boodskapper ingehaal wat hom gevra het om terug te kom. Die
reis kon plaasvind! En hy sou alles kry wat hy vra. Eerste
reis
OP die oggend van 3 Augustus 1492 het twee klein karvele, die Pinta en die Niña, en ’n groter skip, die Santa Maria, wat Columbus self gehuur het, Palos verlaat. Die Santa Maria was sowat 35 meter lank en die karvele elk nagenoeg 15 meter. Nie een van hulle waffers groot nie, volgens vandag se standaarde.
Passaatwinde
uit die noordooste het die vaart letterlik voor die wind laat verloop. Die
bemanning het baie vreemde dinge gesien. Weke lank het hulle deur die
Sargasso-see gevaar, ’n reuse-kol seegras wat snags fosfories flikker. Vroeg
in Oktober het die ontdekkingsreisiger gesien hoe groot swerms voëls
suidweswaarts vlieg, en hy het van rigting verander om hulle te volg. Teen
dié tyd het die bemanning begin vrees dat hulle met die terugtog wind op
sou vaar. Op 10 Oktober, net een goeie seildag weg van die land af, het
hulle daarop aangedring om om te draai. Columbus
kon sy manne paai deur hulle aan die moontlike voordele te herinner as
hulle sou volhard. Die matrose het ingestem om nog drie dae voort te gaan. Die
volgende dag was daar tekens van land: ’n tak met blare en bessies en
’n gekerfde houtstaf. Groot opwinding, ’n Beloning is uitgeloof vir
die eerste man wat die land sien. Om tienuur daardie aand het Columbus
beweer dat hy ’n flikkerlig in die verte gesien het. Om
twee-uur die oggend van 12 Oktober roep ’n matroos op die Pinta vanuit
die voorkasteel: “Tierra! Tierra!” Land. Inderdaad.
Binne minute kon almal die maanverligte strand in die verte sien. Daar was
’n singery en ’n gelag. Tot
Columbus se verbasing het die dagbreek nie groot stede, besige hawens en
krioelende markte onthul soos verwag is nie, maar mense wat rondhardloop
“so naak as toe hul ma’s die lewe aan hulle geskenk het”. Hy
het geglo dit was ’n Indiese eiland en dat die mense Indiërs
was.
Hy het dit San Salvador genoem. Ná ’n paar dae het die skepe Kuba bereik. Columbus was oortuig dis ’n deel van China en het ’n aantal manne die land ingestuur om die Chinese keiser op te spoor. Pleks van hom het hulle inboorlinge gevind wat sigare gerook het.
Krediet: An Ongoing Voyage Exhibition, U.S. Library of Congress Die
vloot het daarop langs die noordkus van Hispaniola gevaar. Op Kersdag het
die Santa Maria op ’n rif by die huidige Cap-Haitien gestrand. Die
plaaslike opperhoof was so vriendelik dat Columbus veertig manne
agtergelaat het om
goud
te soek. Op
16 Januarie 1493 het die Pinta en Niña huiswaarts begin keer, ook met verskeie
gevange Indiane en papegaaie aan boord. Die terugvaart was vol gevare. Die skepe het mekaar
verloor en die Niña het byna gesink. Dié het sy toevlug geneem tot een
van die Asore-eilande wat in Portugese besit was, maar Columbus is amper
hier opgesluit. Toe hy die eiland verlaat, het die skip in ’n orkaan
beland. Eindelik
het die seëvierende ontdekker Lissabon bereik. Hy het
koning
Johannes II besoek
en hom ewe trots die Indiane gewys. Sy skip het Palos oplaas op 13 Maart
1493 bereik, en die Pinta het later dieselfde dag aangekom. ’n
Groot ontvangs het Columbus te beurt geval. Koning Ferninand en koningin
Isabella het sy titel van Admiraal van die Oseaan bekragtig, en hy het ook
die titel Onderkoning van Indië ontvang. Wat meer sê, hy is aangesê om
’n volgende ekspedisie te organiseer... • Klik hier en lees verder in die volgende aflewering |
||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |