|
’n Laslappie van Mieliestronk |
D-DAG:Die inval in Normandië Dit was die grootste inval vanuit die see van alle tye—tweehonderdduisend Geallieerde soldate se oorname van die Normandiese strande. Daarmee is ’n vasstrapplek gekry op die Nazi-besette Europa, wat uiteindelik tot die einde van die Tweede Wêreldoorlog gelei het...
Kopieregvrye historiese foto deur Robert F. Sargent
DIS
vroegoggend, 6 Junie 1944. Duisende Geallieerde soldate plons uit hul
landingsvaartuie in die vlaksee, storm na die strande van die Normandiese
kus van Frankryk. Hulle is almal deel van die grootste inval vanuit die
see van alle tye. Binne
ure is hordes van hierdie dapper troepe dood. Toe
hierdie artikel laas in 2006 hersien is, was dit reeds meer as sestig jaar
sedert die mees ambisieuse operasie van die hele Tweede Wêreldoorlog
geloods is: die sogenaamde "Operation Overlord" in die deur
Duitsland besette Europa. Vanoor
die Engelse Kanaal is die Nazi-besette Frankryk by Normandië binnegeval
met ’n taakmag groter as enigiets in die geskiedenis. Sowat 4000 skepe,
11 000 vliegtuie, die grootste deel van die Britse vloot en duisende
valskermtroepe het aan die reuse-inval deelgeneem. Die
doel van die operasie was om Europa te bevry en uiteindelik na die hart
van Duitsland self op te ruk. As dit sou misluk, sou dit beteken dat die
oorlog nog jare kon voortwoed, met miljoene wat nog sou sterf ná die
massas mense wat reeds dood was. Waar
"Operation Overlord" die kodenaam van die inval was, was
"D-Day" die kodenaam van die geheime dag waarop dit sou begin.
Dit was aanvanklik beplan vir 5 Junie 1944. Die "D" in
"D-Day" staan eevoudig vir "the day of the attack." Brittanje
en Amerika het reeds van ’n inval begin praat van die oomblik toe
Amerika in Desember 1941 tot die oorlog toegetree het. Die VSA het geglo
dat die oorlog net gewen kon word met ’n inval oor die Kanaal en daarna ’n
intog in Duitsland. Genl. Dwight D. Eisenhower is as opperbevelhebber van
die operasie aangestel. Die
Duitsers het geweet ’n inval is onvermydelik, maar het geen benul gehad
waar dit sou gebeur nie, en die Britte het hulle ook nog doelbewus op ’n
dwaalspoor gebring met kamma-voorbereidsels aan die kus oorkant Calais.
Intussen was die Duitse veldmaarskalk Erwin Rommel egter besig om sy
"Atlantiese Muur" aan die Franse kus te bou. Die
weer was stormagtig op 5 Junie en Eisenhower is genoodsaak om die inval
uit te stel. Uiteindelik het die lugvloot en armada in die donker op die
Normandiese kus toegesak, waar die lugsoldate eerste geland en die
Duitsers teruggehou het. Teen dagbreek van 6 Junie het oorlogskepe die
strande gebombardeer. Toe, om 06h30, bestorm die eerste Britse,
Amerikaanse, Kanadese en Franse aanvalstroepe en tenks die strande en neem
dit oor.
Foto: U.S. Library of Congress
Die
aanval het die Duitsers onvoorbereid betrap. Trouens, Hitler het daardie
oggend laat geslaap
en niemand het hom durf wakker maak nie. Teen die tyd dat hy sy bevele kon
gee, het die Geallieerdes hulle reeds op die strande gevestig en is talle
troepe en groot hoeveelhede ammunisie afgelaai. Die
Duitsers het verbete weerstand gebied en die Geallieerdes plek-plek hewig
onder skoot gehad. Nogtans was die vyf vernaamste strande aan die einde
van die lang, lang dag oorgeneem. Die
inval in Normandië het die volmaakte vastrapplek vir verdere militêre
welslae geword. Teen 15 Augustus is Parys ontset, en teen die einde van
September is die Duitsers uit Frankryk en België verdryf. Met
Japan aan die spartel en Russiese troepe wat in die ooste van Europa opgeruk het, was
die einde van die oorlog in sig. |