|
Laslappie |
|
DIESEL, RUDOLF: Uitvinder
van die dieselenjin
RUDOLF Christian Karl Diesel was die Duitse meganiese ingenieur wat die dieselenjin uitgevind het. Hy is nagenoeg ’n eeu en ’n half gelede in Parys gebore en het sy opleiding in Engeland en aan die Politegniese Skool in München, Duitsland, ontvang. Terwyl
hy in Parys in beheer van ’n verkoelingsinstallasie was, het Diesel in
binnebrandmasjiene belang begin stel. In 1893 het hy sy idees oor die
onderwerp in Die Teorie en Konstruksie van ’n Rasionale Hitte-motor
beskryf. Diesel
se eerste enjin het opgeblaas en dit het byna die uitvinder se dood
beteken.
Ná baie mislukkings het hy in 1897 ’n werkende model ontwerp.
Diesel het die Verenigde State in 1912 besoek en mense daar vertel van sy
enjin en sy baie moontlikhede in die skeepvaart en nywerheidswese. Hoewel
sy uitvindsel hom ryk moes gemaak het, het gedinge oor patentregte en, na
bewering, gewetenlose sakelui die grootste gedeelte van Diesel se rykdom
weggemelk. Hy het aan sy einde gekom toe hy op ’n geheimsinnige wyse
oorboord geval het terwyl hy besig was om die Engelse Kanaal op ’n
stoomboot oor te steek. Diesel se dieselenjin is ’n binnebrandmasjien waarin die brandstof ontsteek word deur hitte wat van saamgeperste lug verkry word. Dit is soortgelyk aan die petrolenjin in sy konstruksie en werking, maar het geen vergasser ("carburetor") of vonkproppe nie en gebruik sogenaamde "diesel" as brandstof. Dieselbrandstof is ’n vloeistof wat hoofsaaklik saamgestel is uit koolwaterstowwe afkomstig van petroleum.
Foto
op
16 Julie 2005 geneem in die Franziskanermuseum in Villingen-Schwenningen,
Duitsland, en deur die
fotograaf, Flominator,
beskikbaar gestel ingevolge die GNU
Free Documentation License,
waarvan die volledige besonderhede verstrek word in die Wikipedia-ensiklopedie.
Flominator se tuisblad (in Duits) kan bereik word by hierdie
skakel. Dieselenjins
kan gebruik word om sulke toestelle soos kragopwekkers en pompe aan te
dryf, asook treine se lokomotiewe, vragmotors, busse, trekkers en selfs
skepe en duikbote. In die meeste van die voertuie word dieselenjins soos
petrolenjins aangewend—om die wiele of skroef ("propeller") te
laat draai. In lokomotiewe sit dieselenjins egter kragopwekkers aan die
werk. Elektrisiteit van hierdie generators gaan na elektriese motore wat
die wiele laat draai. Die
grootste dieselenjins is so kragtig soos groot stoomenjins en sekere
stoomturbines. Skepe ter see word deur diesels aangedryf wat baie duisende
perdekrag opwek.
|