|
Adel
van die fitoplankton… die piepklein wonderplantjies in die wye waters
van die aarde Diatome,
Wonderbare
klein, klein kluisie, Foto BO: Dr. Neil Sullivan, Univ. of Southern California / NOAA Photo Library |
||||
Hulle
word fitoplankton genoem, oftewel plantaardige plankton. Maar al is
hulle plante, maak baie van hulle vir hulle pragtige huisies om in te
woon. Hierdie kleinste plantjies op aarde word diatome genoem. Diatome
is mikroskopies klein eensellige alge (wiere) wat ’n dop (frustule)
van hoofsaaklik silika (silikondioksied) afskei, hoewel dit ook ’n
bietjie sellulose kan bevat. Silika is ’n harde wit of kleurlose
(glasagtige) vaste stof wat in der waarheid die vernaamste bestanddeel
van die aardkors is. Dit kom in die vorm van sand, kwarts en in
verbindings in gesteentes voor. Verskeie soorte van hierdie gesteentes, soos ametis en
opaal, is gesogte edelstene.
Dit is hierdie verstommende
strukture en skoonheid van die
diatome se doppies wat geleerdes sowel as leke fassineer sedert die vroegste tye toe hulle met behulp van mikroskope waargeneem
is. Diatome
wissel in grootte van minder as 1 tot meer as 1000 µm (mikrometer of
mikron), maar die meeste is so tussen 10 en 100 µm groot. Een mikron of
mikrometer is ’n miljoenste van ’n meter. ’n Mens kan kan jou
skaars voorstel hoe klein dit werklik is. Iemand het egter al bereken dat
sowat 25 miljoen diatome in ’n enkele teelepel sal kan inpas. Hulle is so klein, maar tog strek die “begraafplase” van diatome ver en wyd en plek-plek selfs tot ’n paar honderd meters diep. Hier is die rusplekke van onberekenbaar baie dooie plantjies. Met die verloop van hoeveel millenniums het hulle gevrek en aanhoudend bo-op mekaar op die seebodem gaan lê. Die
selwande van klipharde silika het gemaak dat hierdie organismetjies se
skelette oor haas onmeetlike tye as fossiele in die besinksel bewaar gebly
het. Baie inligting omtrent die verlede van die aarde is dan ook in die oorskot
van só ’n duisternis diatome vasgelê. Party
gesteentes bestaan feitlik heeltemal uit diatoomfossiele. Sulke rotse
lyk wit en kalkagtig. Die gesteente staan bekend as diatomiet of diatomeë-slib
en word kommersieel ontgin en byvoorbeeld as skuurmiddel verkoop, asook
as ’n bestanddeel van sekere verfsoorte. Baie
tandepastas bevat boonop deeltjies van diatoomfossiele—die silika daarin help om
bakterieë en voedselreste van ons tande af te skraap.
Maar
wat is die vernaamste rol van die lewende diatome in die see, hierdie
plantjies wat volgens geleerdes tot die grootste groep alge in die filum
Bacillariophyta behoort? Omdat hulle so piepklein is, moet die diertjies
wat hulle vreet ook piepklein wees. Dog groter diere kan weer dié
diertjies vreet en nog groter diere die groteres totdat ’n mens by die
logste en lywigste diersoorte uitkom. Dit staan bekend as ’n voedselketting. ’n
Voedselketting in die see kan uiteindelik walvisse insluit, diere wat so groot is
dat selfs ’n kalfie onder hulle so groot soos ’n olifant kan
wees. Tog begin alles by die kleinste plantjies en diertjies van die
plankton, organismetjies soos die diatome, wat belangrike elemente in
voedselkettings in die moderne oseane en mere vorm.
Daar
is meer as 200 genera lewende diatome en daar is al geraam dat daar
sowat 100 000 bestaande spesies kan wees. Maar hulle is nie beweeglik
nie en ’n mens kan wel vra hoekom hulle dan nie weens hul betreklik
swaar doppies in die water wegsink nie. Hulle maak egter op die wind
staat om die boonste lae van die sonverligte water om te woel om hulle
aan die dryf te hou. Sekere spesies reguleer ook aktief hul vermoë om
te dryf en nie te sink nie. Hulle
plant gewoonlik by wyse van selverdeling voort. Ná verdeling behou elke
plant die een helfte van die dop en skei ’n ietwat kleiner dop af wat
in die ou een inpas. Opeenvolgende selfverdelings lei tot al hoe kleiner
dogterselle totdat ’n minimum-grootte bereik word. Periodiek kom daar
egter ook seksuele voortplanting voor, wat weer selle met die organisme
se oorspronklike grootte lewer.
Diatome
stel bioloë in staat om die oorsprong van waterbesoedeling te bepaal en
die welstand van ekosisteme te monitor. ’n Oorvloed diatome dui daarop
dat water ryk aan voedingstowwe is, veral stikstof en fosfor.
Diatoomfossiele help weer geoloë om die geskiedenis van antieke klimate
te rekonstrueer. Een
van die interessantste aanwendings van diatome was in die Tweede Wêreldoorlog.
Die diatome van verskillende plekke is uniek, en die presiese seestrand van
waar die Japanners ballonne gelanseer het wat vir bombardemente gebruik
is, is vasgestel toe sedimente ontleed is wat in die ballongewigte gebruik
is. Die Japanners se doppie was geklink. Hulle nie geweet het dat vindingryke Amerikaners die diatoom op sy doppie sou takseer nie! |
||||