Stille water, diepe see... Onder draai die skimme mee |
|
|
Kompilasie van foto’s van die Amerikaanse regeringsinstansie NOAA WAT kan leef in die vlaktes en valleie op die bodem van die diepsee—ver, ver ondertoe waar die sonlig wegkwyn tot ’n flou skemering of selfs ’n ewigdurende nag? ’n Mens sou nogal geneig wees om te antwoord: “Niks kan daar lewe nie. Lewende wesens het mos die son se energie nodig om te funksioneer.“ Tog is daar rare diertjies wat dapper in die abissale dieptes oorlewe danksy voedselreste wat uit die boonste lae van die oseaan op hulle neersif. En wetenskaplikes wat ’n studie van hulle maak, reken hulle is enige tyd net so fassinerend as die eienaardigste seediere wat nader aan die oppervlak hou. Navorsers van die Amerikaanse regeringsinstansie NOAA (National Oceanic and Atmospheric Administration) bestudeer die diepsee-lewe onder meer deur middel van sogenaamde ROV’s. Dit staan vir Remotely Operated Vehicles.
Op die samegestelde foto HEEL BO is van die merkwaardige diertjies en larwes wat al deur NOAA-navorsers gefotograveer is. Die wesentjies is hier nie volgens skaal nie, maar die kompilasie is wel verteenwoordigend van ’n wêreld onderkant ons wêreld waar vreemder kreature hul lewe slyt as die vreemdstes wat ’n skrywer van wetenskap-fiksie kan bedink.
BO: ’n Spinnekopkrap op ’n diepsee-mosselbank. Foto: C. FISHER / NOAA / OCEAN EXPLORER |
|