Panamese goue padda Diere-sintuie (1): Sig

O, kyk die oë!

ReënwoudvoëlDie sig-sintuig wissel baie van dier tot dier en talle ervaar hul omgewing totaal anders as ons. Maar presies hoe sien diere?
 
  
   
   
Foto van kop van Panamese goue padda van NatureServe, met vergunning van U.S. National Science Foundation. Foto van reënwoudvoël met vergunning van William Laurance / NASA Earth System Science Data and Services.


Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

V

ANUIT ’n stygende lugstroom honderde meters bokant die grond skiet ’n witkruisarend neer op sy prooi—’n dassie wat jy skaars sou opmerk teen die laaggroeiende bossies.

’n Trop impalas, altyd waaksaam, gewaar ’n jagluiperd wat hulle bekruip, en hulle laat spaander.

O, kyk die baie oë!Baie diere is grootliks op goeie sig aangewese om te kan oorleef. Die sig-sintuig wissel grootliks van dier tot dier. Die arend se skerp oë is legendaries. ’n Webspinnekop kan slegs veranderings in die lig gewaar. Soogdiere het twee oë en spinnekoppe tot agt. Uile sien alles feitlik in swart-wit. Stekelbaarsvisse sien meer kleure as die mens.

Maar kom ons kyk eers na die basiese bou van oë voordat ons ’n paar soorte diere se sig-sintuie van naderby beloer.

Bou van die oog

JOU eie oë is aan die voorkant van jou kop—net soos dié van katte, honde, roofvoëls en ander jagters. Die gesigsveld van die oë oorvleuel—’n verskynsel wat binokulêre of stereoskopiese sig genoem word—en dit stel jou in staat om voorwerpe in besonderhede te sien. Des te belangriker: as gevolg daarvan kan jy afstand skat.

Diere wat gejag word, het weer oë aan die kante van die kop, omdat dit belangriker is dat hulle rondom hulle moet kan sien.

Ongelooflik soos dit dalk kan lyk, is die oë van alle werweldiere—en twee ongewerweldes, die seekat en pylinkvis—volgens dieselfde "bloudruk" ontwerp. Hulle werk bra soos ’n kamera.

Bou van die oogElke oog is ’n met vog gevulde sak, gewoonlik bolrond, met ’n lens in die voorste helfte, wat lig versamel en dit op die ligsensitiewe retina agter konsentreer. Die ligsensitiewe retina bestaan uit stafies en keëls, en dié is met die optiese senuwee verbind wat na die brein loop.

Die oë van insekte verskil geweldig van ons s’n. Hulle staan bekend as samegestelde oë en bestaan uit duisende klein seshoekige eenheidjies wat ommatidia genoem word.

Elke ommatidium is ’n miniatuur-ogie, met ’n lens wat lig van die buitekant na ’n senuwee stuur. Die brein voeg die verskillende beelde saam om ’n prent-mosaïek te vorm. Samegestelde oë word slegs by geleedpotiges soos insekte en skaaldiere aangetref.

   
   By-siende...  ’n insekoog   

REGS: ’n Elektronmikrograaf van ’n klompie van ’n by se menigte oogeenhede, die seshoekige sogenaamde ommatidia. Elke ommatidium is ’n piepklein ogie met sy eie lens.

Elektronmikrograaf: CDC / PHIL

Oogdeeltjies van ’n by

Roofvoëls

WitkoparendFoto: U.S. Fish & Wildlife Service

ROOFVOËLS het die skerpste sig van alle diere. Hoewel hulle basies dieselfde as dié van die mens is, is die oë in verhouding groter, sodat daar meer ligsensitiewe selle in die retina is.

Die oë van soogdiere en sekere voëls het ’n besonder sensitiewe kol in die retina wat die fovea genoem word. Dié is soos ’n telefotolens en vergroot die beeld wat daar­op val. Pleks van die gewone enkele fovea, het die roof­voëls twee en partykeer drie daarvan.

Daar word gemeen dat die sentrale deel van ’n arend se sig twee keer vergroot word om die voël uitmuntende sig te gee.

Ook baie belangrik is die ligging van die oë vooraan die kop. Die meeste roofvoëls het goeie lig nodig om so uitstekend te kan sien. In dowwe lig sien die mens beter as hulle.

Anders as ander roofvoëls kan die uil egter dinge sien in wat ons mense as stikdonkerte sal beskou.

Maar hy kan darem nie werklik in die pikdonker sien nie, omdat daar geen sig kan wees as lig nie die oë binnekom en die senuselle van die retina stimuleer nie. Daar val egter altyd snags ’n sekere hoeveelheid lig  vanuit die hemelruim op die aarde.

Uil-oë  Uil-oë 
  
LINKS: Die oë van die nonnetjiesuil.

Foto: Kopiereg © Suid-Afrikaanse Toerisme / South African Tourism (detail)

Die geheim van die uile se verstommende visie lê in die grootte en bou van die oë.

Hulle is groot om soveel beskikbare lig moontlik in te neem. Die retina bestaan feitlik heeltemal uit dig saamgepakte stafies wat, hoe­wel dit die sien van kleure beperk, uitsonderlike sig in swart-wit meebring.

Die oë wat vorentoe kyk, lê wyd uitmekaar op die plat gesig. Dit gee die uil stereoskopiese visie sodat hy afstande baie presies kan skat.

Die kombinasie van al hierdie faktore maak die sig van die uil om­trent honderd keer sensitiewer as die mens s’n.

Insekte en spinnekoppe

HOE lyk jy vir ’n vlieg, ’n mot of ’n by? Die mens sal seker nooit werklik weet nie, maar dis fassinerend om daaroor te wonder en in ’n ander Mieliestronk-artikel word in meer besonderhede daaroor bespiegel.

Hoe ook al, baie insekte, soos vlieë, word as verpestelik, vuil en naar beskou, maar daar is darem een ding wat hulle heel besonders maak: hul treffende oë. Groot en helderkleurig aan die kante van die kop, bestaan hulle uit talle juweelagtige ommatidia. Die vlieg kan nie baie mooi in besonderhede sien nie, maar bewegings word blitsvinnig gewaar.

Die kop van die roofvlieg is baie beweeglik en draai gedurig rond soos hy uitkyk vir prooi. Dié insek jaag dikwels enigiets wat beweeg.

Anders as insekte, het spinnekoppe klein, enkelvoudige oë. Die meeste het agt, geleë in twee rye van vier elk; ander het ses, vier of twee. Sekere spinnekoppe wat in grotte woon, het glad nie oë nie.

Spinnekop-oë  Spinnekop-oë 

LINKS: Spinnekop-oë wat vir ’n mens loer... genoeg om die dapperstes die hasepad te laat kies!

Die graad van sig hang grootliks af van die manier waarop die spinnekop sy kos in die hande kry. Jagspinnekope het goeie nabyvisie. Webspinnekoppe is minder afhanklik van sig om hul prooi te vang en gebruik hoofsaaklik hul oë om veranderings in die lig waar te neem.

Spinnekop-oë konsentreer hoofsaaklik op die getal pote wat binne sig is. Ses pote beteken kos. Agt pote beteken ’n maat.

Reptiele en amfibieë

KLEIN reptiele soos geitjies maak feitlik heeltemal staat op hul uitstekende sig om hul insekprooi te vang. Baie woon in woestyne of die trope waar die lig helder is. Die pupille van baie van hulle verklein tot vier klein gaatjies wat skerp skynsels afweer, en ’n baie presiese beeld word gevorm. 

Baie diere hou stof en vullis uit hul oë deur dit te knip. Voëls het ’n "derde ooglid" wat ’n knipvlies genoem word en soos ’n ruitveër werk. Die meeste geitjies het egter geen ooglede nie. Pleks daarvan het elke oog ’n deursigtige bedekking wat dit beskerm.

Daar is ook ’n ander klein reptiel met merkwaardige oë, te wete die trapsuutjies of verkleurmannetjie. Dis juis aan sy oë te danke dat die trapsuutjies sy prooi so dodelik doeltreffend met sy klewerige tong kan vang.  

Trapsuutjies  Suutjies trap en oral kyk... 

LINKS: ’n Buitengewone soort trapsuutjies van Madagaskar.

Foto: Christopher J. Raxworthy / via NASA by hierdie web-skakel

Die oë beweeg naamlik onafhanklik van mekaar—wat beteken dat die een vorentoe kan kyk en die ander een agtertoe, sodat die trapsuutjies oral rond kan loer vir kos.

Wanneer hy ’n slagoffer gewaar, draai die verkleurmannetjie in sy rigting en vestig albei sy oë op hom. Met behulp van binokulêre sig kan die verkleurmannetjie nou die slagoffer se afstand noukeurig skat enwaps!—daar sit sy turf!

Vir ’n groot reptiel soos die krokodil is die ligging van sy oë weer belangrik. Soos die neus sit hulle so effens bokant die plat kop, wat die krokodil in staat stel om te sien en asem te haal selfs wanneer hy onderkant die watervlak lê.

Vanweë hul uitpeul-oë kan ook amfibieë soos paddas goed rondom hulle sien. Almal buiten ’n paar soorte gebruik slegs hul oë om hul prooi te vind.

Nag-soogdiere 

BAIE nagdiere het ’n weerkaatsende laag wat die tapetum genoem word net agter die retina van elke oog. Die tapetum bestaan uit talle silweragtige kristalle wat alle ligstrale wat die stafies straks nog nie geabsorbeer het nie na die retina terugkaats. Op dié manier kry die stafies ’n tweede kans om die lig te ontvang.

Weerkaatsings van die tapetum kan dikwels gesien word by diere soos katte wanneer die ligte van ’n motor op hulle val.

Maar watter van die primate het die grootste oë in verhouding tot die liggaam? Hierdie onderskeiding kom die sogenaamde spookdiertjie toe, en sy oë lyk amper rêrig soos sopborde!

Spookdiertjie  Og, wat ’n oog! 

LINKS: Die spookdiertjie te midde van die flikkeringe van die nag... ’n geanimeerde aanpassing van ’n illustrasie op ’n Indonesiese posseël.

Omdat die spookdiertjie snags jag terwyl hy van boom tot boom spring, is goeie sig vir hom noodsaaklik.

Anders as die meeste nagdiere het hy geen tapetum agter die oë wat die lig weerkaats om nagvisie te bevorder nie. Pleks daarvan het die oog ’n fovea—wat gewoonlik by dagdiere aangetref word.

Daarby is die oë vooraan die gesig sodat die dier in drie dimensies sien. Só kan hy sy afstand skat van die takke wat hy moet gryp en sy kos tussen die digte blare vind.

Skakels na al die artikels in hierdie reeks oor diere-sintuie:

  Inleiding
1.
Hoe diere sien   2. Hoe diere hoor   3. Hoe diere ruik
4. Hoe diere proe   5. Hoe diere tas (voel)
6. Diere-sintuie wat die mens nie het nie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad