Diere-sintuie (5): Tassin

’n Deur-tas-tende ondersoek

Meisjan-vark

Volgens die spreekwoord verstaan ’n vark geen snars van politiek nie. Maar danksy ’n baie gevoelige snoet weet die swyn darem van ’n hele klomp ander dinge!
Otte, soos die sogenaamde Meisjon-vark
*) op die FOTO HIERBO, en ander vroeteldiere het hierdie gevoeligheid in hul snoete nodig om na wortels, knolle en bolle onder die grond
te kan grawe.
   
Maar dan speel die gevoelsintuig ook so ’n kardinale rol in die lewe dat jy jou kwalik kan voorstel hoe enige dier—en die mens—daarsonder sou gefunksioneer het...

*) Die Meisjon-vark (op Engels Meishan geskryf, maar eweneens MAY-shawn uitgespreek) kom uit Suid-China. Die sôe is bekend daarvoor dat hulle baie klein varkies op ’n slag kry—vyftien, sestien in ’n werpsel teenoor die tien, twaalf van ander sôe. Varkvleisprodukte van Meisjons smaak net so lekker as dié van konvensionele rasse, word vertel, maar Meisjon-vleis bevat meer vet.

Foto: Keith Weller / ARS / U.S. Department of Agriculture

Teks uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
Foto-kompilasie deur Mieliestronk.com

 

D

IS donkermaan. ’n Honger straatkat sluip rond tussen ’n

paar leë tromme op soek na ietsie om te vreet. Buiten die geritsel van vullissakke is alles doodstil.

 

Dan, skielik, skuur die kat se snorbaard teen ’n piepklein muisie wat in ’n hoekie wegkruip. Die kat kan die muis glad nie sien nie. Maar—kerplaks—met die snelheid en presisie van ’n muisval, het die roofdier die knaagdier in sy dodelike bek.

   
Die tassin is gewoonlik oor die hele liggaam versprei, met ’n hoër konsentrasie op sekere dele.

 

Op vrywel enige deel van die menseliggaam is daar byvoorbeeld haartjies wat soos voelspriete werk om oor gebeurtenisse buitekant die liggaam verslag te doen. Maar daar is ook ’n konsentrasie van "fyngevoeligheid" in die vingerpunte.

 

Ongewerweldes se tasorgane is versprei, met konsentrasies op die voelers en tentakels. By baie werweldiere verskerp lang hare op die gesig die tassin.

 

Om te kan voel beteken ook dat die liggaam gewaarsku kan word teen sensasies soos pyn, hitte en koue.

 

Laaste maar nie die minste nie, help tas om verbintenisse tussen diere te smee.

 

Tas is so ’n kardinale deel van die lewe dat ’n mens jou kwalik kan voorstel hoe mens en dier daarsonder sou gefunksioneer het.

 

   
Die kat se snor... dis g’n blote klossies baard nie

REGS: As iemand hom verbeel hy’s die kat se snor, soos die (Anglisistiese) spreekwoord lui, dink hy dat hy alte wonderlik is. Waar die oorsprong van die Engelse idioom oor die “cat’s whiskers” lê, is ’n ope vraag, maar die feit bly staan dat katte se snorre beslis iets is waarmee hulle sou kon gespog het as hulle die intellek gehad het om dit te doen. Katte se snorre—en dié van ander diere—is immers glad nie sulke eenvoudige organe as wat ’n mens dalk geneig sou wees om te dink nie. Die beweging van die hare is die sneller vir sensoriese selle, wat impulse deur vertakkings van die gesigsenuwees na die brein toe stuur. Snorre is gevoelig vir vibrasies met ’n baie lae frekwensie.

Kat met snor
   

Foto deur VALE,  wat dit in die vrye Wikipedia-ensiklopedie op die wêreldwye web stel dat hy die kopiereg daarop hou, maar (paradoksaal) die vrye gebruik daarvan toelaat met of sonder erkenning
  

   

  
Gevoelige voëls

BY voëls is die sig- en hoorsin baie goed ontwikkel en die reuk-, smaak- en tassin betreklik swak. ’n Paar voëls wyk egter hiervan af en maak goed gebruik van hul tassin.

 

ReënwoudvoëlREGS: ’n Reënwoudvoël.

 

Foto met vergunning van William Laurance / NASA Earth System Science Data and Services (detail)

  

Daar is byvoorbeeld Suid-Amerikaanse voëls wat met gevoelige snawels rondvoetel in die los grond en blare-afval van woudbodems op soek na wurms en ander ongewerweldes. Die tassin word versterk deur sensitiewe kwashare om die basis van die snawel, wat bewegings tussen die blarepuin gewaar.

 

Die tassin van die see-anemoon

 
See-anemoonREGS: ’n See-anemoon.

 
Foto: NOAA

 

HULLE kan dalk soos die blomblare van ’n blom lyk, maar die wuiwende tentakels van die see-anemoon het ’n aggressiewe doel. Besaai met netelselle, is hulle so dodelik vir ’n klein seediertjie as wat ’n haai vir ’n vis is.

 

Die anemoon gebruik sy tentakels om chemies tussen eetbare en oneetbare voorwerpe te onderskei. As die voorwerp kos is, word die talle naalde in die tentakels in die slagoffer ingespuit en word hy verlam.

 

Die tassin van die vis

DIE sig- en reuksin van visse speel ’n groot rol om hulle na hul prooi en maats te lei en hulle teen roofdiere te waarsku. Maar daar is ’n derde sintuig wat hulle hierin help en hulle baie bewus van trillings onder die water maak.

 

Onder die vel is naamlik ’n reeks met jellie gevulde kanale waaraan sensitiewe hare geheg is wat in die rigting van die water se beweging buig. Dié is goed voorsien van senu-ente. Twee groot kanale loop weerskante van die lyf. Party loop ook verspreid in die kop.

 

Hierdie kanale is deur middel van klein porieë met die buitewêreld verbind. Enige versteuring van die water buite die vis se liggaam word deur die hare binne-in die kanale geregistreer. Benewens die opsporing van prooi- en roofvyande, help hierdie stelsel blykbaar ook sekere visse om te navigeer.

 

Die tassin van die skoenlapper

VIR sekere vlieënde insekte is dit noodsaaklik om die windsnelheid te meet voordat hulle vlieg. Bye bereken hul vliegspoed volgens die bepaalde uitwaartse kromming van hul voelhorings in die wind.

 

Skoenlappers het ook ’n "private weerstasie". Die mannetjies van die vlinders en motte vlieg altyd teen die wind in wanneer hulle die reukmolekules van ’n wyfie volg. As die wind egter sterker stoot as wat hulle kan vlieg, sou dit hul eenvoudig verder van hul liefdesdoelwit af waai. Voordat hulle dus opstyg, bepaal hulle die windsnelheid met hul voelhorings—en bly hulle aardgebonde as die wind te sterk is.

 

Die tassin van robbe


BaardrobREGS: ’n Bebaarde rob op die ys.

 

Foto: NMML Photo Gallery / NOAA

 

ROBBE se smaak- en reuksin is swak ontwikkel. Die water waarin hul leef, is dikwels troebel, en goeie sig is dus ook van weinig nut om hul prooi op te spoor. Pleks daarvan maak robbe in mindere of meerdere mate van hul tassin gebruik om kos te vind.

 

Hiervoor het hulle ’n vlesigheid aan die snoet, en die moestasse wat hiervandaan uitstrek, is goed voorsien van senuwees en uiters gevoelig vir roeringe.

 

Dis feitlik seker dat hulle dit gebruik om die vibrasies van diere in die nabyheid op te vang of om, soos walrusse, in diep water na kos te tas.

 

Die tassin van spinnekoppe

ALLE webspinnekoppe leef  in ’n wêreld van tas. Hul sig is swak en hulle verlaat hulle op hul gevoeligheid vir vibrasies om deur die lewe te gaan. Hul webbe werk nogal soos telefoondrade om vir hulle inligting oor te dra.

 

SpinnerakLINKS: Die spinnerak van ’n webspinnekop.

 

Foto van NSF Collection, U.S. National Science Foundation, met vergunning

 

Met hierdie akute sensitiwiteit vir verskillende trillings kontroleer die spinnekop die drade van die spinnerak en word onderskei tussen ’n spartelende prooidiertjie, ’n blaar wat deur die wind in die web gewaai is en—as die spinnekop ’n wyfie is—’n mannetjie wat versigtig toenadering soek. Web-vibrasies dien ook vir kommunikasie tussen die volwasse spinnekop en kleintjies.

 

Die hengelspinnekop is ook gevoelig vir die vibrasies wat deur ’n swemmende vis in die water veroorsaak word.

 

Die tassin van ape


’n Gibbon-ma en haar kleintjieLINKS: ’n Gibbon-ma met haar kind. Gibbons word ook langarmape genoem. In hul geval is daar geen sprake van die lang arm van die gereg nie, maar wel van die lang arm van moeder! En hierdie arms se vertroeteling is noodsaaklik vir die gesonde ontwikkeling van ’n gibbontjie.

 

Foto met vergunning van Jim Zuckerman, Gibbon Conservation Center / Via Genome.gov van VSA se sentrale regering

 

SOOS by die mens, is liggaamlike aanraking en vertroeteling noodsaaklik vir die normale, gesonde ontwikkeling van die jong ape. Die babas klou soos nete aan hul ma’s—nie net omdat dié enige oomblik die hasepad kan kies nie, maar ook omdat dit so lekker is om só gekoester te word en dit hulle veilig laat voel.

 

Die tassin van otters

WATERSOOGDIERE soos otters, wat in troebel water lewe, maak grootliks van hul tassin gebruik om prooi op te spoor en te vang.

 

OtterREGS: ’n Otter, gevoelige snorbaard en al.

 

Foto: Dennis Money / U.S. Environmental Protection Agency 

 

Danksy opvallende snorbaarde op hul bolippe kan die otters, terwyl hulle op die oppervlak rondswem, hul prooi se woelinge in die water waarneem.

 

Otters wat nie swempote het nie, soos die groot otter, is verbasend behendig met hul voorpote. Hulle gebruik hul sensitiewe vingers om op die modderige see- of rivierbedding of in smal skeure na skaaldiere, weekdiere, paddas en vissies rond te tas.

Skakels na al die artikels in hierdie reeks oor diere-sintuie:

  Inleiding
1.
Hoe diere sien   2. Hoe diere hoor   3. Hoe diere ruik
4. Hoe diere proe   5. Hoe diere tas (voel)
6. Diere-sintuie wat die mens nie het nie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad