Diere-sintuie
(5): Nie-menslike sintuie
’n Sesde sintuig...
Geanimeerde foto: U.S. Geological Survey |
||
|
Teks uit Huisgenoot se
Ons Wonderlike Wêreld
IE
honde hardloop rond. Die hoenders vlieg vervaard in die bome in. Die
perde sit op loop. Ma-katte gee haastig pad uit hul huise en dra hul
kleintjies saam. Slange slinger uit hul neste, en hase en rotte vlug
ylings tot in hul gate. Geen
mens sou kon aanvoel dat die aarde op die punt is om te skeur nie.
Maar die diere is rasend. "Iets" vertel hulle: hier kom
gevaar. Aardbewing...
In 1976 het ’n groep seismoloë, geoloë en bioloë in Kalifornië,
Amerika, koppe bymekaar gesteek om die vreemde gedrag van diere voor
skuddings te bespreek. Waarom gebeur dit? Wat waarsku hulle teen die
komende onheil? Die 35 kenners wat daar bymekaar was, het talle bewyse
aangevoer dat diere—voëls, visse en insekte inkluis—sulke
rare
vermoëns het. Vandag
kan niemand meer ontken dat dit so is nie. Met die verwoestende tsoenami
in Desember 2004 in die Ooste is dit weer eens waargeneem. Daar
was ’n tyd in die verlede toe die bestudeerders van dieregedrag dié
soort voorkennis aan ’n bonatuurlike sintuig toegeskryf het. Hierdie
onverklaarbare vermoë is as ’n soort towerkrag beskou—en van die
diere is selfs as gevolg daarvan aanbid. Maar
navorsing toon vandag dat, hoewel diere beslis bykomende sintuie het,
hierdie sintuie volkome natuurlik is. Vanselfsprekend kan ons mense
dit nie ten volle begryp nie. Migrasie—die
tergende raaisel
DIE dag volg die nag, die somer volg die winter, die vloed volg die eb in die ewige kom en gaan van die see. Só is daar allerhande siklusse in ons wonderlike wêreld—tydkringe waarvolgens die natuurwesens hulself rig en reguleer.
Diere
reël hul lewens volgens die siklusse deur gebruik te maak van wat
wetenskaplikes die biologiese horlosie noem—’n ingebore
fisiologiese meganisme vir die meting van tyd of die hou van ritmes. Ons
vind dit oral, by die kleinste insekte en die grootste soogdiere.
Skoenlappers vlieg geweldig ver. Wildebeeste trek oor groot afstande.
Die stiptheid van hul vertrek en aankoms is verstommend, des te meer
hul vermoë om hul weg te vind. Hoewel
ons meen dat trekdiere van magnetiese velde gebruik maak om hul pad te
kry, het ons geen benul watter deel van hul liggaam as die sensor
gebruik word en hoe dit gedoen word nie. Migrasie
is steeds een van die natuur se tergendste raaisels... Trekvoëls
se 'ingeboude' sin vir rigting
VAN alle trekdiere het voëls ’n ongeëwenaarde vermoë om in ’n kort tyd oor lang afstande te beweeg. Hulle vlieg, dikwels snags, ver oor die see en oor onbekende gebiede. Hoe doen hulle dit?
Foto: NASA Baie
kenners het al die geheim probeer ontrafel. Party het aangevoer dat voëls
die son en sterre gebruik om hul weg te vind. Maar uit latere
navorsing het geblyk dat voëls wat verblind was ewe suksesvol was. Vandag
is die mees aanvaarde teorie dat voëls ’n hoogs ontwikkelde
magnetiese sintuig het, terwyl hul waarneming aangevul word deur
inligting wat hulle van die son en sterre ontvang. Die
aarde is baie soos ’n reuse-magneet, en die magnetiese lyne
daaromheen word deur die trekvoëls soos ’n kompas gebruik, word
gereken. Wat
weet ’n wildebees of ’n kariboe? DIE grootste "groot trek" van groot landdiere is dié van die blouwildebeeste van die Serengeti-vlakte in Oos-Afrika. Gedurende die reënseisoen is die troppe wyd versprei oor die oostelike deel van die vlakte, waar hulle op die kort, soet gras wei. In die begin van die droë seisoen versamel die wildebeeste om die oorblywende groen kolle en vorm reuse troppe van 10 000 of meer, wat uiteindelik weswaarts begin trek op soek na nuwe weiveld. Maar wat is die snellers wat só ’n trek laat begin?
Lang
vlug van die skoenlappers
SEKERE insekte trek verbasend ver, maar daar is geen trek-insek wie se kordaatstuk ’n mens meer verbyster as die Noord-Amerikaanse koningvlinder nie.
Foto: U.S. Fish & Wildlife Service In
die herfs vlieg die brose koningvlinders sowat 4000 km van Kanada
in
die noorde tot by Florida of Mexiko in die suide, waar hulle die
winter in ’n gedeeltelike winterslaap verwyl. Presies
hoe hulle hul weg vind, is nog onseker. Die waarskynlikste
moontlikheid is dat hulle hulself rig volgens die posisie van die son,
maar dit moet nog bewys word. Dis
egter onwaarskynlik dat hulle slegs die son aanwend om só akkuraat te
navigeer. Moontlik maak hulle ook van die aarde se magneetveld,
windrigting en ’n ingebore "geheue" gebruik. Hittesensors
van die slange
SOGENAAMDE
"putadders" soos
ratelslange is die oorsprong van talle mites. Dis weens hul
merkwaardige vermoë om skielik van nêrens af te verskyn met ’n
dodelike pik—selfs in stikdonkerte.
Foto: Robert S. Simmons / U.S. Fish & Wildlife Service (gewysig) Hul sekuurheid is nie die gevolg van die een of ander geheimsinnige sintuig nie, maar vanweë uiters doeltreffende hittesensors op die kop. Daar is twee kuiltjie-agtige openinge ("putte") wat soos motorligte weerskante van die gesig tussen die oë en die neusgate lê. Die
"putte" is
uitgevoer met delikate membrane wat goed voorsien is van senu-ente. Dié
is so sensitief vir hitte dat die slange temperatuurwisselings van so
min as 0,003 grade C kan bespeur. Die
senu-ente reageer op die infrarooi straling uit die warm liggame van
soogdiertjies en voëls. Sy
vermoë om infrarooi straling te gewaar, stel die slang nie net in
staat om te weet wanneer sy prooi naby is nie, maar ook om sy grootte
en vorm te bepaal—selfs watter soort dier dit is. ’n Ratelslang
wat die sand na ’n voël of muis oorsteek, word nie deur die
kamoeflering van sandkleurige vere of pels geflous nie. Elektries
gelaai NOG
’n buitengewone sintuiglike vermoë is dié van sekere waterdiere om
hul omgewing te voel deur ’n elektriese veld rondom hulself op te
wek. As daar ’n versteuring in die veld is, weet die dier dat ’n
moontlike prooi in aantog is. Waterdiere
soos watersalmanders (in hul waterstadia) en verskillende soorte visse
kan weer die elektrisiteit waarneem wat deur die gejagte dier se
spiere opgewek word wanneer hy asemhaal. Só kan hulle prooi opspoor
wat heeltemal versteek is. Die eendbekdier is, sover bekend, die enigste soogdier wat op sy prooidiere se elektriese velde reageer. Die rare snawel is ryklik bedeel met sowel elektriese ontvangers as tas-ontvangers en stel die dier in staat om kos in die mere en riviere van Australië te vind.
Eendbekdiere (LINKS BO) en ’n watersalmander (REGS BO). Albei soorte kan op die elektrisiteit van hul prooi reageer. • Illustrasie van eendbekdiere uit John Gould: The Mammals of Australia (1849-61), openbare besit (“public domain”) vanweë die verstryking van kopiereg • Foto van watersalmander (Notophthalmus viridescens) deur W. Battaglin / U.S. Geological Survey Bombardement
van die weeluis RATELSLANGE
en ander kuilvipers is nie die enigste diere wat hul prooi se hitte
gebruik om hulle soontoe te lei nie. Weeluise klim snags op na die slaapkamerplafon en voel met hul voelhorings na die warmte van ’n slapende slagoffer. Georiënteer deur die hittestrale van die liggaam, val die luis dan met die presisie van ’n bom op ’n kaal gedeelte.
Sekere muskietwyfies kan, behalwe dat hulle mense en diere kan ruik, met hul voelhorings presies bepaal waar ’n slagoffer is volgens die hitte wat sy liggaam uitstraal.
|
||
|
Skakels na al die artikels in hierdie reeks oor diere-sintuie: •
Inleiding |
||