|
DIAL DIRECT
Motor- en Huishoudelike Versekering |
|
|
Wêreld van die skubberige gedrogte Ons
doen die rondte van vader Cloete by die vier reptiel-ordes*)
wat nog in die wêreld oor is—en
ontdek dat hulle die nietige oorblyfsels is van ’n magtige werweldier-klas wat
baie, baie eeue gelede in die aarde se prille jeug bestaan het... |
|
ENMAAL,
lank, lank gelede het hulle in hul grillerige menigtes oor die aarde
geskarrel—die ongelooflik reusagtige en fantastiese dinosourusse,
plesiosouriërs, igtiosouriërs, monosouriërs, plakodonte en al sulke
afskuwelike “drake”. In
hul stomende hahitats het hulle oorlewe deur moerasplante te verslind of
selfs deur mekaar te verskeur. Vandag praat die geleerdes van daardie
tyd—die sogenaamde Mesosoïkum—as die “Eeu van die
Reptiele”. Ons
hedendaagse reptiele is ’n nietige oorblyfsel van dié gruwelike
glorieryk van weleer. Die
sestien ordes van die werweldier-klas Reptilia het gekrimp tot ’n skamele vier.
Hierdie vier ordes is: Crocodilia (die krokodilagtiges), Chelonia (die
skilpaaie), Squamata (die
slange en akkedisse) en Rhynchocephalia
(slegs verteenwoordig deur twee spesies tuatara-akkedisse van sekere
Nieu-Seelandse eilande). Daar is vandag saam sowat 6.000
soorte reptiele op aarde, wat dalk nie min klink nie, maar ’n druppel
aan die emmer is in vergelyking met al die hordes wat die aarde in ons
planeet se
prille jeug bewandel het. Maar
wat se ding is ’n reptiel werklik? Wel, vir eers is hy gewerweld, dit
wil sê hy het ’n ruggraat soos ek en jy. Dog hierdie kruipende diere
verskil van ander gewerweldes deurdat hul vel met ’n spesifieke
horingagtige opperhuid van droë skubbe bedek is. Die stuktuur van die
skubbe verskil van dié van visse en, anders as amfibieë, het reptiele
min of geen kliere in hul vel nie.
Geleerdes
is ook betreklik seker dat reptiele regtig “nie veel tussen die
spreekwoordelike ore het nie” (reptiele soos slange het in elk
geval nie ore nie). As jy nog altyd gedink het ’n esel is darem lekker
dom, moet jy ’n slag oplees oor die krokodil se “primitiewe” verstand.
En het jy
al ooit ’n skilpad probeer leer om jou hartlik met sy voorpoot te
groet soos jou Malterserhondjie maak? Dis
’n
onbegonne taak. Reptiele se breine is dan ook in verhouding baie kleiner as dié
van soogdiere van dieselfde grootte. Boonop
is reptiele koudbloedig. Anders as die warmbloedige voëls en soogdiere,
kan hulle nie hul eie liggaamstemperatuur reguleer nie en word hulle
regstreeks beïnvloed deur die temperatuur van die omgewing. Daarom sal
byvoorbeeld ’n koggelmander ná ’n koue nag eers in die oggendson op
’n klip lê en “ontdooi” voordat hy genoeg opgewarm het om
sy dagtaak te vervul. Reptiele slaap ook meestal hul dae om wanneer dit
koud is. Reptiele
het longe en haal asem soos ons. Oë is gewoonlik aanwesig, maar by
grawende soorte is die oë baiemaal verberg. Maar ogies word wel
behoorlik vir die wyfies gemaak wanneer sekere pronkerige mannetjies die
teenoorgestelde geslag wil imponeer. Party akkedis-bruidegomme ontbloot
hul helderkleurige liggaamsdele vir hul bruide, terwyl sekere nag-geitjies
paringsroepe uiter. Alligator-mannetjies
brul, ’n gedrag wat vermoedelik met hofmakery en paring verband hou.
By sekere waterskilpaaie tril die kloue aan die mannetjie se voorpote
wanneer hy sy begeerde wyfie se kop streel, terwyl slangmannetjies met
hul kenne oor hul wyfies stryk voordat hulle paar. Bevrugting geskied
inwendig. Die
meeste reptiele lê eiers, hoewel daar sekere slange en akkedisse is wat
hul kleintjies lewend in die wêreld bring. Reptieleiers verskil van dié
van amfibieë (soos paddas) deurdat hulle spesiale vliese en ’n dop
het wat help keer dat die embrio uitdroog in ’n droëland-omgewing
waar daar moontlik min vog is. Die dooier (geel gedeelte) in ’n
reptieleier is groot en verskaf voeding aan die embrio regdeur sy
ontwikkelingstyd. Reptiele
gee gewoonlik geen snars om vir hul kleintjies nie. Nadat haar eiers gelê
is, byvoorbeeld onder die sand waar die son dit moet warm bak, kry die
wyfie sorgeloos koers sonder om ’n oomblik daaraan te dink of haar
babas uiteindelik na haar of na hul pa gaan aard of dalk hul ouma se
bekoorlike grynslag gaan erf! ’n
Jong reptiel groei vinnig tot volwassenheid nadat hy uitgebroei het. By
die meeste reptiele duur die grootwordtyd minstens ’n jaar, maar baie
soorte skilpaaie ontgroei eers hul kinderskoene ná verskeie jare.
Reptiele kan ook horingoud word, veral die skilpaaie, waarvan ouderdomme
van meer as 150 jaar al opgeteken is. MODERNE reptiele wissel in grootte van slangetjies en akkedissies kleiner as ’n mens se handbreeedte tot yslike krokodille en groot luislange van by die tien meter. ’n Leerskilpad kan langer word as ’n volwasse man en so swaar weeg soos ses of meer mense. Die grootste akkedis is die Komodo-draak, wat langer as drie meter kan word—beslis groot genoeg om ’n mens te beseer.
|
|