|
BO: ’n Vlakvark (Phacochoerus africanus).
Detail van ’n foto deur Trisha M.
Shears,
wat dit by Wikimedia Commons op die wêreldwye web tot
openbare besit verklaar het (“released into the public domain”)
Sies, jou vark!
WAT het die maniere van ’n vark en ’n gesig
soos ’n nagmerrie? Die antwoord is straks nie so moeilik nie. Dis
die vlakvark, natuurlik. Laat ons eerlik wees—hier’s nou rêrig ’n
hele homp van ’n knopperige lelikheid op pote.
Die kop is te groot vir die lyf. Dis lank en plat aan die voorkant,
met oë absurd naby die bokant. Groteske vratte ontsier die kante en
buitengewoon lang tande krul by sy bek uit.
En praat van slegte maniere! Die vlakvark is knaend aan die kwyl en
boonop ’n onhebbelike morsjors. Trouens, hy so lief vir modder dat
hy meestal met modder bedek is. En sy tafelmaniere. Die opgeskote
jonges vreet graag mis. As jy ’n sog met kleintjies opgewonde maak
of steur, vreet sy haar kinders net daar op. En ten slotte is daar die
slagtande. Hulle lyk dalk snaaks, maar moenie daarmee spot nie.
Gevalle is selfs bekend van vlakvarke wat mense doodgegaffel het.
Maar met sy lelikheid en rare maniere is vlakvark se kind bloot goed
toegerus om in sy hougebied te oorlewe. Met die lang snoet word
knolle en wortels immers ondergronds opgespoor en uitgegrawe en
verlate erdvarkgate vir eie gebruik vergroot. Deurdat die oë naby
die bokant van die kop sit, kan hy ook bo-oor die lang gras van die
Afrika-savanne kyk of daar nie roofdiere soos leeus en luiperds in
die omtrek is nie.
Die vlakvark se vratte—van kraakbeenweefsel—is baie belangrik. In die paartyd
veg die bere teen mekaar. As dit nie vir die beskerming was wat die
vratte bied nie, sou die mededingende vryers se oë en kake sleg
deurgeloop het. Die lang, gekrulde slagtande word in gevegte
gebruik—en is nuttig om klippe en stompe om te keer wanneer die
vlakvark kos soek.
Modderbaddens is niks vreemds in die diereryk nie—die modder help
beskerm die diere teen die skroeiende son.
Vra elke navorser wat vlakvarke in die vrye natuur bestudeer het, en
hy sal jou vertel van hul verstommende, byna minsame geaardheid.
Soos ander varke is hulle glo hoogs intelligent en merkwaardig
vindingryk in die slegste toestande. Hulle is bekend daarvoor dat
hulle hul gesinne met woeste geweld beskerm.
En oplaas is daar hul innemende hebbelikheid om met die sterte regop
in die lug te hardloop—vlakkop oor die vlakte net om hulle dan weer
soos varke te gedra.

Pienk
verskrikking
LINKS:
’n Maraboe (Leptoptilos crumeniferus).
Foto deur Jessie Cohen, fotograaf van die
Smithsonian National Zoological Park (“Fair
use permitted for non-commercial purposes; not to be altered;
credit must include this url:
http://nationalzoo.si.edu/ Animals/PhotoGallery/Birds/7.cfm”)
“ ’N VUIL ou man met ’n siek kopvel,’’ is hoe
een fotograaf die maraboe (’n soort ooievaar) beskryf het. En ’n
mens kan maklik sien hoekom. Die maraboe van Afrika moet beslis een
van die wêreld se lelikste voëls wees.
Sy gesig lyk asof dit aan die brand gesteek was. Die lang, swaar
snawel lyk skoon buite verhouding tot die lyf. En aan die keel swaai
’n lelike, pienk, vlesige sak. Wat die doel daarvan is, is nie
duidelik nie. Geleerdes reken dat dit enigiets van ’n voedselspens
tot ’n kussing vir die swaar snawel kan wees. Dit word wel groter in
die paartyd en word dus feitlik seker vir vertoon tydens die
hofmakery gebruik.
Maar dis wanneer die maraboe vlieg dat hy sy regmatige plek inneem.
Hy is ’n reuse-voël—sowat 1,5 m hoog met ’n vlerkspan van byna 2,5
m—en hy lyk eenvoudig manjifiek wanneer hy op ’n lugstroom sweef,
die kop omhoog en die lang pote wat geanimeerd agternasleep.
Hoewel hy ’n lid van die ooievaar-familie is, gedra die maraboe hom bra soos ’n aasvoël.
Hy vreet die reste van dooie diere en druk sy kaal kop en nek diep
in die karkas in. Hy vreet ook lewende prooi.
Ongelukkig vir die maraboe is nie alles aan hom lelik nie. Sy
voortreflike wit vere—ook maraboe genoem—was eenmaal baie gewild as
versierings aan vroue se hoede en tabberds. In sekere dele van
Afrika is die voëls so erg gejag dat hulle onrusbarend uitgedun is.

GROOT
FOTO BO:
Hulle is groot en swart, maar sekere mannetjies van die
seelikkewane (Amblyrhynchus cristatus)
van die Galapagos-eilande word rooierig in die paarseisoen. (Volgens
’n ander bron word die verkleuring egter veroorsaak deur die pigment
in die seewier wat hulle vreet.)
KLEINER FOTO: ’n
Galapagos-likkewaan in sy volle lengte.
Groot foto:
kerndeel van ’n foto deur
Sputnikcccp,
wat dit op
hierdie bladsy by Wikimedia Commons op die
wêreldwye web gelisensieer het ingevolge die
GNU Free Documentation License, Weergawe
1.2 of enige latere weergawe wat deur die aFree Software Foundation
gepubliseer word
Klein voorstelling
op groen agtergrond: FreeClipartNow.com
Afskuwelike
‘drake’ van die Galapagos-eilande
DIE seelikkewaan van die Galapagos-eilande
moet beslis die wêreld se afskuwelikste reptiel wees—soos dan ook
blyk uit vroeë beskrywings daarvan. David Porter, wat in die vroeë
1820’s ’n kaptein in die Engelse vloot was, het geskryf van
“tallose likkewane, enorm groot en met die afgryslikste voorkoms
denkbaar... Hulle lyk so weersinwekkend dat niemand aan boord
oorreed kon word om hulle as kos te eet nie.’’
Die reptiele kon ook nie die hart versag van die bekende Britse
natuurkundige Charles Darwin nie, wat tydens sy veelbesproke reis in die
1830’s geskryf het: “Die rotse aan die kus wemel van groot swart
akkedisse tussen drie en vier voet lank; die kreatuur lyk afgryslik,
het ’n vuil swart kleur, is dom en beweeg traag.’’
Ondanks hul groteske gesigte is seelikkewane verrassend sagmoedig.
Hulle vreet nie vleis nie, net alge. Wanneer die gety afneem, duik
hulle in die water in om seewier te soek. Hulle gebruik hul yslike,
skynbaar boosardige kloue om aan die gladde rotse te klou en hul
stomp snoete om stringe seewier af te skeur. Gebiedsgebonde
mannetjies veg wel onder mekaar, maar die akkedisse lê gewoonlik oor
mekaar in die son en steur hulle skaars aan wat om hulle gebeur.
Die meeste seelikkewane het ’n vuil swart kleur. Maar op ’n paar
eilande in die Galapagos-argipel is akkedisse met rooi en swart
kolle op hul lywe en metaalgroen kamme en voorpote. Hulle lyk amper
soos drake. Volgens een bron is die verkleuring as gevolg van
fisieke veranderings by die mannetjies in die paarseisoen. ’n Ander
bron skryf dit toe aan hul dieet. Party soorte seewier bevat
pigmente wat, wanneer dit gevreet word, in die vel opgaar en die
diere hul dramatiese kleure gee, word gesê.
Haai, stompneus, waar kry jy die lipstiffie?
LINKS:
’n Yunnan-stompneusaap. (Rhinopithecus bieti).
Gewysigde
weergawe van oorspronklike foto by
Science museums of China
ANTJIE SOMERS, het ons oorgrootjies gesê. Daar’s ’n paaiboelie wat
kinders vang en dié se naam is Antjie Somers. En met sy opsigtelike
rooi lippe en twee klein gaatjies wat moet deurgaan vir ’n neus, is
die rariteit van ’n stomneusaap dalk nie te ver van ’n Antjie
Somers nie. Hy vang nou wel nie kinders nie. Maar as jy met
donkermaan tussen die bome só ’n dierasie moet teëkom, hol jy tien
teen een jou bene van jou lyf af.
Of dalk verskil jy totaal van hierdie vernederende beskrywing en
beskou die Chinese Yunnan-stompneusaap as ’n koddige mooi lelikheid wat
eintlik in ’n strokiesboek tuishoort.
Hoe ook al, die Chinese is baie lief vir hierdie uiters skaars
boorling van die suidweste van China. Die
Yunnan-stompneusaap (Rhinopithecus bieti) is dekades lank as uitgestorwe
beskou, totdat agt pelse ’n klompie dekades gelede hul opwagting in
daardie wêrelddeel gemaak het.
Iewers moet daar dus nog van die diere wees, het diereliefhebbers
besluit, en ’n ekspedisie in die Yunling-berge het dit bevestig. Dié
berge is op plekke tot omtrent 5600 m hoog. Die ekspedisie het
gevind dat sowat duisend Yunnan-stompneusape in ’n strook naaldbos
bo-op die skerp bergrûe woon. Die slegte nuus was egter dat hul
getalle aan die afneem was en dat hul voortbestaan bedreig word.
Hulle vreet hoofsaaklik die korsmos wat op naaldbome voorkom, maar
dit kos die verorberde korsmos tien tot twintig jaar om weer terug
te groei. Die gevolg is dat die ape ’n groot weigebied nodig het en
gedurig moet beweeg. Dit is dus uiters noodsaaklik dat hul habitat
ongeskonde bly.
Die Chinese regering het die Yunnan-stompneus-aap op ’n spesiale lys van
bedreigde diere geplaas en geld bewillig om die plekke te beskerm
wat die diere nodig het om te oorleef. Daar is selfs begin om van
die ape in ’n sentrum in Beijing te teel.
|