|
AT
het ’n muis en ’n muskeljaatkat gemeen, of ’n okapi en ’n
olifant, ’n aap en ’n skaap, ’n beer en ’n boerbok, ’n
hond en ’n hert? Of wat is die ooreenkoms tussen die piepklein
kruipmolletjie in jou tuin en die reusagtige blouvinwalvis wat
nagenoeg dertig meter lank kan word?
Die
antwoord is: hulle is almal soogdiere. Hulle is gewerweld en
warmbloedig, het elkeen ’n hart met vier kamers en hulle is
vernuftig—en nadat hulle in die wêreld gekom het, het almal
van hulle ’n ruk lank aan hul ma’s gedrink. Ons kan ook sê
hulle het gesuig. Anders gestel: hulle is gesoog. Die
benaming soogdier beteken bloot dat hulle moedersmelk uit die
spesiale melkkliere van hul mammas gesuig het.
Mammas,
het ons gesê. Nou sien ons ook sommer waar die Engelse woord mammal
vir ’n soogdier vandaan kom (en die Latynse betiteling vir sy
bepaalde klas, die Mammalia).
Ook
die mens word deur dierkundiges as ’n soogdier geklassifiseer.
Van die sowat 4 600 soogdierspesies wat op die aarde voorkom, is
die mens die onbetwiste heerser en die trotse kroon van die
skepping. Wat suiwer intellek aanbetref, is daar daar geen ander
skepsel op ons planeet wat eens naby die mens kom nie.
Die
voorkoms van hare is tipies van die soogdiere, hoewel dit by
baie walvissoorte slegs in die fetale ontwikkelingstadiums voor
hul geboorte aanwesig is. Soogdiere se senustelsels, insluitende
hul breine, is die hoogste ontwikkel van alle diere. Die meeste
van hulle het vier pote waarmee hulle loop, hoewel van hul
ledemate ook vir swem (die swempote van robbe) of vir vlieg (die
vlerke van vlermuise) gebruik word. By byvoorbeeld die walvisse
is daar egter net twee sweempies van verborge ledemate onder die
vel, terwyl die doegongs glad geen ledemate het nie.
Alle
soogdiere buiten enkeles soos die einste doegongs en sekere
luidiere en miervreters het dieselfde getal nekwerwels. Dit geld
vir die grootste walvisse en die kleinste muisies en selfs vir
daardie ou langnekke, die kameelperde. By elkeen, hoe groot of
klein ook al, is daar slegs sewe werwels in die nek.
DIE
Mammalia word gewoonlik in drie onderklasse ingedeel:
-
die
Monotremata of eierlêende soogdiere, waarvan die
platypus of eendbekdier en die echidna
of mierystervark van Australië die enigste oorlewende
spesies is, en waarvan die kleintjies ontwikkel in eiers met
leeragtige doppe en groot dooiers, dit wil sê baie geel
binne-in die eiers;
-
die
Marsupialia of buideldiere, soos die kangaroes,
wallabies, koalas,
buidelmuise, buidelrotte,Tasmaniese duiwels en ander;
-
en
die Placentalia of plasentale soogdiere.
Verreweg
die meeste soogdiere is plasentaal—die plasenta is ’n orgaan
wat ná bevrugting tydens die draagtyd in die baarmoeder
ontstaan en waarmee die bloedsomloop van die ma en fetus met
mekaar verbind word. Die twee individue se bloed meng nie
volledig in die plasenta nie, maar word genoegsaam na aan mekaar
gebring sodat die oordrag van voedingstowwe (van die ma na die
fetus) en van afvalprodukte (van die fetus na die ma) tussen die
twee bloedsomlope kan plaasvind.
Alle
soogdiere buiten die enkeles wat eiers lê, het kleintjies wat
lewend gebore word nadat hulle in hul vroeë stadiums binne ’n
liggaamsholte van die moeder ontwikkel het. By buideldiere word
pasgebore kleintjies egter deur die ma in ’n sak (huidplooi)
gedra om eers behoorlik te ontwikkel voordat hulle self die wêreld
kan aandurf. Wat meer sê, die draagtyd by baie buideldiere is
’n skamele agt tot vyftien dae, waarna die grootste deel van
die kleintjies se ontwikkeling ná die geboorte in die ma se
sak, of buidel, plaasvind.
Teenoor
soogdiere soos hierdie wat heeltemal hulpeloos by geboorte is,
is daar ander wat dadelik in staat is om te loop of selfs te
hardloop en wat met volgroeide pelsies en wawyd oop ogies en
oortjies in die wêreld kom.
Die
onderklas van die plasentale soogdiere word gewoonlik in
volgende agttien ordes ingedeel:
1) Insectivora (insektevreters):
byvoorbeeld kruipmolle,
krimpvarkies, skeerbekmuise.
2) Dermoptera:
die
sogenaamde vlieënde lemurs.
3) Chiroptera: die vlermuise (vrugtevretend en insektevretend).
4) Carnivora (roofdiere): landroofdiere soos honde, wolwe,
jakkalse, katte (kyk huiskat
en leeu), muishonde en waterroofdiere soos robbe,
walrusse, seehonde.
5) Macroscelidea: die klaasneuse (rotagtige, langharige,
insektevretende diertjies met ’n lang snoet).
6) Primate: sluit in die lemurs, die apies en die mensape. Ook
die mens word deur die dierkundiges by die primate ingedeel.
7) Xenarthra: sluit in die armadillo’s, luidiere en die drie
miervreters van die Amerikas.
8) Pholidota: byvoorbeeld die ietermagô, ’n skubberige
miervreter wat enigsins op ’n likkewaan lyk.
9) Tubulidentata: die erdvark.
10)
Rodentia (knaagdiere): byvoorbeeld eekhorinkies, bewers,
marmotte, muise, rotte, ystervarke.
11) Lagomorpha: hase, konyne en fluithase of pika’s. (Hase en
konyne is vroeër
as knaagdiere geklassifiseer omdat hulle ook sulke beitel-agtige
voortande het waarmee hulle soos knaagdiere knaag. Hulle verskil
egter van die Rodentia deurdat hulle bo twee paar voortande
pleks van een het.)
12) Sirenia (sirenes):
doejongs, manati’s. (Die sirenes word
in Engels “sea
cows” genoem, maar hulle het weinig gemeen met seekoeie. Hulle
is waterdiere en is lui, lelik en log, met harige en verrimpelde
gesigte en hulle vreet letterlik soos varke.)
13) Cetacea
(walvisagtiges): walvisse en dolfyne.
14)
Hyracoidea: die dassies.
15) Artiodactyla (ewehoewiges): byvoorbeeld varke, seekoeie en
die herkouers soos beeste, skape, bokke, wildsbokke, takbokke,
kamele, kameelperde.
16) Perissodactyla (onewehoewiges): byvoorbeeld perde, esels,
sebras,
renosters.
17) Scandentia: die boomspitsmuise.
18) Proboscidea: die olifante (Afrika-olifant en Indiese
olifant).
REGS:
Sog klink soos soog, en nie verniet nie: die vark-ma is
onteenseglik ’n sóógdier (orde Artiodactyla,
die ewehoewiges).
Foto:
Scott Bauer / USDA / ARS
DIE
eienskap van warmbloedigheid, soos ons dit by die soogdiere
aantref, maar ook by voëls, is besonder interessant. Dit
beteken egter nie dat die liggaamstemperatuur gedurig warmer as
dié van die omgewing is nie, trouens, in die snikheet tropiese
streke is dit net mooi die teenoorgestelde. Maar warmbloedige
diere beskik oor ’n inwendige hittereëling wat hul
liggaamsfunksies in die meeste klimate volmaak ondersteun.
Dit is
heeltemal anders as by die koudbloedige diere soos die reptiele
wat nie hul eie liggaamstemperatuur kan reguleer nie en
regstreeks beïnvloed word deur die temperatuur van die
omgewing. Daarom sal byvoorbeeld ’n koggelmander ná ’n koue
nag eers in die oggendson op ’n klip lê en “ontdooi”
voordat hy genoeg opgewarm het om sy dagtaak te vervul, terwyl
jou hond maklik snags in die winternaarheid kan rondkerjakker
terwyl die ryp dik en geil op die gras lê.
Om
weer hul liggame teen oorverhitting te beskerm, sal die meeste
soogdiere vinnig asemhaal om hitte deur die longe uit die
liggaam te pomp. Mense en sekere ander soogdiere koel ook af
deur te sweet.
Baie
van die soogdiere is dan ook besonder beweeglik en rats. Die
beste naelloper onder hulle is die blitsige luiperd, wat nagenoeg 70 km/h binne twee sekondes kan
bereik as hy
stormloop.
Daarna kan hy op volle vaart ongeveer 110 km/h en selfs tot
omtrent 130 km/h haal. Vergelyk dit met die leeu se sowat 80
km/h of die windhond se nagenoeg 60 km/h.
Ja-nee,
Mamma Mia, dié Mammalia is darem ’n wonderlike klomp diere!
|