|
DIAL DIRECT
Motor- en Huishoudelike Versekering
|
|||||
|
Baie
net soos
|
|||||
IS
amptelik: die oudste dinosourus-eiers wat nog ooit in ons tyd gevind is,
is in die jong dae van die aarde in Suid-Afrika gelę.
En dis nie
al verbasende nuus nie. Geleerdes sę die baba-dinosourusse wat uit
daardie eiers sou gebroei het, sou bes moontlik baie soos menslike babas
gewees het. Hulle sou aanvanklik tandeloos gewees en baie waarskynlik
eers handeviervoet gekruip het voordat hulle sou geleer het om soos hul
ouers op hul twee agterpote rond te skarrel.
Dit alles
dui daarop dat ouerlike sorg nodig was om hulle groot te kry—dat Ma
hulle nie sommer maar net soos klein akkedissies aan hul eie genade
oorgelaat het nie.
Ses
gefossileerde dinosourus-embrio’s is reeds in 1978 in Suid-Afrika
ontdek—onder die, volgens wetenskaplikes, 183 miljoen jaar oue
Drakensberg-lawavloei. Dit was tydens padbouwerke in die Golden Gate
Hoogland Nasionale Park in die Oos-Vrystaat. Die fossiele is egter so broos dat argeoloë
lank huiwerig was om die eiers oop te kap, wat by die Universiteit van
Witwatersrand in Johannesburg uitgestal is.
Maar in die jongste tyd het ’n span tog besluit om twee van die ses dinosourus-eiers met die nuutste argeologiese gereedskap te kraak, waaronder miniatuur-hamerbore en fyn tandartsbore onder kragtige mikroskope. Hierna het hulle die węreld met hul verstommende bevindings verras. Navorsers
van die Universiteit van die Witwatersrand in Johannesburg, die
Universiteit van Toronto, Kanada, en die
Smithsonian
Institution in die Amerikaanse hoofstad Washington het twee volmaak
gevormde embrio’tjies van die dinosourus-spesie Massospondylus
carinatus ontbloot. Dié was ’n langnek-plantevreter wat in die
laat Trias-tydperk en vroeë Jurassiese era op sy twee groot agterpote
rondgedool het om sy kos van die destydse gewasse af te knabbel.
En die
navorsers vermoed dat die kleintjies se groot koppe te swaar aan die
lang nekke kon gewees het vir hulle om sommerso regop te staan pas nadat
hulle uitgebroei het. Daarom het hulle allig eers rondgekruip. Robert
Reisz van Universiteit van Toronto, wat die navorsingspan gelei het, sę
hy kan aan geen ander gewerwelde skepsel dink wat dit doen
nie—"buiten miskien ons (mense) en ons is verskriklik onbeholpe
nadat ons 'uitgebroei' het!"
Dit lyk
voorts of die eierdoppe nie hard was soos latere dinosourus-eiers nie,
maar sag en leeragtig soos moderne reptiel-eiers.
Geld vir
hierdie navorsingsprojek is bewillig deur die Universiteit van Toronto,
die Natural Sciences and Engineering Council van Kanada, die National
Geographic Society en die Paleo-Antropologiese Wetenskapstrust van
Suid-Afrika.
BO:
Twee voorstellings deur kunstenaars van hoe 'n volwasse Massospondylus
carinatus kon gelyk het. Die boonste illustrasie is deur Gabriel Lio
van die Universiteit van Toronto by Mississauga. Dit is onbekend wie die
onderste illustrasie gedoen het.
|
|||||