|
BO: ’n Pterosourus (vlieënde neef van die dinosourusse) klief verskrik
deur die lug wanneer ’n reuse-rots uit die ruimte in die aarde inploeg.
Is dit hoe die dinosourusse—en ook die ptesourusse—in die jong dae van
ons planeet van die aarde af verdelg is?
Geen stomme oerdier
sou naastenby kon begryp het wat destyds in sy leefwêreld aan die gang
was nie. Maar as ’t ware in ’n oogwink was die son verduister—of net ’n
flou skynsel aan die hemelruim omdat sy strale omtrent nie deur die
opgewerpte stof in die lug kon dring nie. Die aarde self het soos ’n
klok gevibreer. |
||
|
DINOSOURUS
is die naam wat moderne geleerdes gee aan enige van ’n groep van sowat
1300 reptiele wat, volgens hulle, van meer as 200 miljoen tot omtrent 65
miljoen jaar gelede oor die aarde geheers het. Onder dié was daar plantvreters soos byvoorbeeld die Iguanodon en Trikeratops en vleisvreters soos die legendariese ou paaiboelie die Tirannosourus. Dinosourusse het allerhande groottes gehad en sekeres was kolossaal. Maar die dinosourusse sou nagenoeg 65 miljoen jaar gelede eenvoudig van die aangesig van ons planeet verdwyn het. Hoekom? Die
heersende teorie is dat dit die gevolg was van ’n kataklismiese botsing
tussen die aarde en ’n enorme ruimtelike voorwerp soos ’n asteroïede of
’n komeet. Wat volgens hierdie teorie sou gebeur het, is dat soveel stof
en rommel as gevolg van die botsing in die aarde se atmosfeer uitgewerp
is, dat dit die atmosfeer lank sou besoedel en die landskap sou oorskadu
het.Baie van die son se verwarmende strale is weggekeer, die wêreld het ysig koud geword, talle plante het verskrompel en vergaan, en baie diere het ook gevrek. Terwyl sekere diere wel daarin kon slaag om die ystyd te oorleef wat deur die botsing veroorsaak is, was die dinosourusse nie toegerus om hulle by die geweldige klimaatsverandering aan te pas nie. Toe die ystyd opklaar, was die aarde dus weer naby aan woes en leeg en ’n totaal ander plek... ’n Alternatiewe teorie oor hoekom dinosourusse verdwyn het
DAAR
is ook verskillende ander teorieë oor hoe die magtige heerskappy van die
dinosourusse tot ’n einde gekom het—soos dat daar bloot ingrypende
natuurlike veranderinge op aarde was sonder dat dit noodwendig deur ’n
botsing met ’n ruimtelike voorwerp veroorsaak is. Party geleerdes reken
die aarde se suurstof het in ’n stadium meer as ’n derde van die
atmosfeer gevorm, teenoor die sowat een vyfde daarvan vandag. Toe die
suurstof verminder, redeneer hulle, was die dinosourusse se doppie
geklink. |
||
|
Wanneer is eerste dino-fossiele ontdek?
OORBLYSELS
van dinosourusse is, sover bekend, die eerste keer in die 1820’s in
Engeland ontdek. Teen die 1840’s was etlike genera reeds bekend sodat
die groot vergelykende ontleedkundige Richard Owen die naam Dinosauria
aan hulle gegee het (Grieks vir "vreeslike akkedis"). Dit was egter nie
voor die ontdekking van volledige gefossileerde dinosourus-geraamtes in
die 1880’s dat besef is dat dinosourusse meestal op twee agterpote
geloop het nie—’n baie ongewone houding vir ’n reptiel, maar tipies van
die voëls.
Soos die meeste lewende reptiele en voëls het baie dinosourusse (indien nie almal nie) neste gebou en eiers gelê. Daar is nie afdoende getuienis of hulle warmbloedig was of nie. Behoue geblewe voetspore en lang ledemate toon nietemin dat hulle baie vinnig kon hardloop. |
||
|
Presies wanneer was die “Tyd van die Dinosourusse”?
DIE
sogenaamde Mesosoïese Era het, volgens die wetenskaplike indeling van
die aarde se verskillende historiese periodes, nagenoeg 183 miljoen jaar
geduur—van 248 miljoen tot 65 miljoen jaar gelede. Dit het bestaan uit
drie geologiese tydperke: die Trias-, die Jura- en die Kryttydperk. Dit
word nie-amptelik die “Tyd van die Dinosourusse” genoem en die einde van
Mesosoïese Era is sinoniem met hul uitwissing. |
||
|
||
|
Waar pas die dinosourusse in die groot reptiel-prentjie?
DIE
reptiele het hul bloeityd in die Mesosoïese Era beleef, maar sedertdien
het verreweg die meeste soorte uitgesterf. Slegs vier van die 23
reptielordes het tans nog lewende verteenwoordigers—of vyf as die voëls
as ’n moderne tak van die dinosourusse ingereken sou word. Hierdie diertjie was ’n sogenaamde archosourus en dra die naam Longisquama insignis—geen dinosourus nie. Nou reken sekere geleerdes daar is in der waarheid ’n regstreekse verband tussen die geveerde Longisquamas en die moderne veervolk. Dit plaas natuurlik die lank bestaande teorie oor die skakel tussen die dinosourusse en die voëls onder verdenking.
Die bekendste
ordes van die reptiele (uitgesterf en nog lewend) word hieronder genoem.
Kyk ook die artikel op die Mieliestronk-werf oor die
reptielsoorte wat vandag nog leef.
|
||
|
Pterosourusse—die drake in die lug Soos vlieënde drake... dis moeilik om te glo dat hierdie reptiele eenmaal in hul menigtes in die lug daarbo gesweef het...
Teks hieronder oor pterosourusse uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
JY
staan op ’n verlate strand met die seeskuim wat oor jou voete spoel...
kyk in die loom van die stil dag op na ’n ry getande kranse aan die een
kant. |
||