Is dit hoe die dinosourusse—en ook die ptesourusse—in die jong dae van ons planeet van die aarde af verdelg is?

BO: ’n Pterosourus (vlieënde neef van die dinosourusse) klief verskrik deur die lug wanneer ’n reuse-rots uit die ruimte in die aarde inploeg. Is dit hoe die dinosourusse—en ook die ptesourusse—in die jong dae van ons planeet van die aarde af verdelg is?

Grafiese voorstelling is ’n verwerking van ’n illustrasie wat deur die Amerikaanse ruimteagentskap NASA beskikbaar gestel is

Geen stomme oerdier sou naastenby kon begryp het wat destyds in sy leefwêreld aan die gang was nie. Maar as ’t ware in ’n oogwink was die son verduister—of net ’n flou skynsel aan die hemelruim omdat sy strale omtrent nie deur die opgewerpte stof in die lug kon dring nie. Die aarde self het soos ’n klok gevibreer.
En toe het ’n tyd van ys en dood aangebreek vir die derde planeet van die son...
Is dit hoe dit gebeur het? ’n Botsing van die aarde en ’n reusagtige voorwerp uit die ruimte vorm die basis van die mees aanvaarde teorie oor die uitsterwing van die dinosourusse. Maar die magtige Ryk van die Dino’s kon natuurlik ook heeltemal anders geëindig het. Hieronder word meer oor hierdie eienaardige oerdiere vertel...

DINOSOURUS is die naam wat moderne geleerdes gee aan enige van ’n groep van sowat 1300 reptiele wat, volgens hulle, van meer as 200 miljoen tot omtrent 65 miljoen jaar gelede oor die aarde geheers het.

Onder dié was daar plantvreters soos byvoorbeeld die Iguanodon en Trikeratops en vleisvreters soos die legendariese ou paaiboelie die Tirannosourus. Dinosourusse het allerhande groottes gehad en sekeres was kolossaal.

Maar die dinosourusse sou nagenoeg 65 miljoen jaar gelede eenvoudig van die aangesig van ons planeet verdwyn het. Hoekom?

’n DinosourusDie heersende teorie is dat dit die gevolg was van ’n kataklismiese botsing tussen die aarde en ’n enorme ruimtelike voorwerp soos ’n asteroïede of ’n komeet. Wat volgens hierdie teorie sou gebeur het, is dat soveel stof en rommel as gevolg van die botsing in die aarde se atmosfeer uitgewerp is, dat dit die atmosfeer lank sou besoedel en die landskap sou oorskadu het.

Baie van die son se verwarmende strale is weggekeer, die wêreld het ysig koud geword, talle plante het verskrompel en vergaan, en baie diere het ook gevrek.

Terwyl sekere diere wel daarin kon slaag om die ystyd te oorleef wat deur die botsing veroorsaak is, was die dinosourusse nie toegerus om hulle by die geweldige klimaatsverandering aan te pas nie.

Toe die ystyd opklaar, was die aarde dus weer naby aan woes en leeg en ’n totaal ander plek...

’n Alternatiewe teorie oor hoekom dinosourusse   verdwyn het

DAAR is ook verskillende ander teorieë oor hoe die magtige heerskappy van die dinosourusse tot ’n einde gekom het—soos dat daar bloot ingrypende natuurlike veranderinge op aarde was sonder dat dit noodwendig deur ’n botsing met ’n ruimtelike voorwerp veroorsaak is. Party geleerdes reken die aarde se suurstof het in ’n stadium meer as ’n derde van die atmosfeer gevorm, teenoor die sowat een vyfde daarvan vandag. Toe die suurstof verminder, redeneer hulle, was die dinosourusse se doppie geklink.

Maar die interessantste teorie is bes moontlik dat hierdie bielie-reptiele deur ’n pandemiese siekte soos vigs finaal bokveld toe gestuur is.

Die seksueel en deur bloed oordraagbare siekte kon aanvanklik by ’n plantvretende dinosourus posgevat het. Hy kon deur vleisvreters gevreet gewees het, wat dit ook gekry het. Die vleisvreters kon dit op hul beurt oorgedra het aan ander vleisvretende en plantvretende soorte wat in jagtogte gebyt is, maar weggekom het.

Deur so ’n oordrag (seksueel by dieselfde soorte onder mekaar) en deur bytery en vretery (van verskillende soorte) kon die virus DIV, wat staan vir Dino-Immuniteitsgebrek-Virus, binne ’n betreklike kort tyd die hele dinosourusbevolking van die aarde afgemaai het.

Die primitiewe, stompsinnige spul dinosourusse sou immers nie die verstandelike vermoë van vandag se menslike geleerdes kon gehad om te weet wat die siekte veroorsaak en hoe om die verspreiding daarvan te bekamp nie.

Wanneer is eerste dino-fossiele ontdek? 

     

OORBLYSELS van dinosourusse is, sover bekend, die eerste keer in die 1820’s in Engeland ontdek. Teen die 1840’s was etlike genera reeds bekend sodat die groot vergelykende ontleedkundige Richard Owen die naam Dinosauria aan hulle gegee het (Grieks vir "vreeslike akkedis"). Dit was egter nie voor die ontdekking van volledige gefossileerde dinosourus-geraamtes in die 1880’s dat besef is dat dinosourusse meestal op twee agterpote geloop het nie—’n baie ongewone houding vir ’n reptiel, maar tipies van die voëls.

 

Soos die meeste lewende reptiele en voëls het baie dinosourusse (indien nie almal nie) neste gebou en eiers gelê. Daar is nie afdoende getuienis of hulle warmbloedig was of nie. Behoue geblewe voetspore en lang ledemate toon nietemin dat hulle baie vinnig kon hardloop.

Presies wanneer was die “Tyd van die Dinosourusse”?

DIE sogenaamde Mesosoïese Era het, volgens die wetenskaplike indeling van die aarde se verskillende historiese periodes, nagenoeg 183 miljoen jaar geduur—van 248 miljoen tot 65 miljoen jaar gelede. Dit het bestaan uit drie geologiese tydperke: die Trias-, die Jura- en die Kryttydperk. Dit word nie-amptelik die “Tyd van die Dinosourusse” genoem en die einde van Mesosoïese Era is sinoniem met hul uitwissing.
•  Triastydperk: van ongeveer 248 tot 206 miljoen jaar gelede.
•  Juratydperk: begin omstreeks 206 en eindig sowat 142 miljoen jaar gelede.
•  Kryttydperk: begin 142 en eindig 65 miljoen jaar gelede.

Versteende mis van ’n dinosourus Versteende mis van ’n dinosourus

REGS: Dit is nie net uit hul versteende geraamtes dat geleerdes baie te wete kan kom van die oerdiere wat destyds gelewe het nie. Voetspore wat bewaar gebly het toe die diere getrap het in modder wat daarna in klip verander het, kan navorsers ook vertel hoe groot ’n dier kon gewees het en hoe hy kon beweeg het. Selfs reste soos versteende mis, soos die een hierby wat naby die dorp Eastend in Saskatchewan, Kanada, gevind is, kan baie openbaar omtrent die dier wat dit uitgewerp het. Hierdie koproliet of dreksteen (soos sulke versteende uitwerpsels genoem word) is nagenoeg 44 x 16 x 13 cm en moet die produk van ’n groot vleisvretende dinosourus, bes moontlik ’n Tirannosourus, gewees het, want daar is beenreste in die koproliet. Die skaalpaneeltjie onderaan is 15 cm lank.

Krediet: Royal Saskatchewan Museum / U.S. Geological Survey

Waar pas die dinosourusse  in die groot reptiel-prentjie?

DIE reptiele het hul bloeityd in die Mesosoïese Era beleef, maar sedertdien het verreweg die meeste soorte uitgesterf. Slegs vier van die 23 reptielordes het tans nog lewende verteenwoordigers—of vyf as die voëls as ’n moderne tak van die dinosourusse ingereken sou word.

Wetenskaplikes het lank gedink dat ons hedendaagse voëls en die dinosourusse direk verwant moet wees, want hul beendere toon plek-plek opvallende ooreenkomste. Maar in 1999 het navorsers ’n fossiel bestudeer van ’n diertjie so groot soos ’n muis wat sowat 220 miljoen jaar gelede in die laat Triastydperk in Asië gewoon het—’n fossiel met die duidelike reste van iets soos vere.

Hierdie diertjie was ’n sogenaamde archosourus en dra die naam Longisquama insignis—geen dinosourus nie. Nou reken sekere geleerdes daar is in der waarheid ’n regstreekse verband tussen die geveerde Longisquamas en die moderne veervolk. Dit plaas natuurlik die lank bestaande teorie oor die skakel tussen die dinosourusse en die voëls onder verdenking.

Die fossiel met “vere” wat ’n beroering veroorsaak hetREGS: Die fossiel met “vere” wat ’n beroering veroorsaak het. Bewys dit dat die voëls nie direk verwant kan wees aan die dinosourusse nie?

Krediet: Oregon State University / Vergunning U.S. National Science Foundation

Die bekendste ordes van die reptiele (uitgesterf en nog lewend) word hieronder genoem. Kyk ook die artikel op die Mieliestronk-werf oor die reptielsoorte wat vandag nog leef.

•   Saurischia en Ornithischia: dinosourusse

IN opgrawings van Trias-strata word die vroegste tekens van hierdie bekende reptiele met hul lang sterte en lang nekke gewaar. In latere strata is hul fossiele baie volopper, maar teen die einde van die Mesosoïese Era begin hulle in hul afwesigheid skitter. Ná ’n heerskappy van baie miljoene jare het hulle eenvoudig totaal van die aangesig van die aarde verdwyn.

•   Rhynchocephalia: tuataras 

DIE orde Rhynchocephalia bevat ’n enkele lewende familie met slegs twee spesies van die tuatara, die enigste oorlewendes van ’n orde wat volgens die wetenskaplikes in die Juratydperk op die aarde gefloreer het. Die tuataras is akkedisagtige alleenlopers wat tot ’n paar rotsagtige eilande in Nieu-Seeland beperk is, maar hul geraamtes en skedels verskil kennelik van dié van die akkedisse.

•   Squamata: akkedisse en slange

DIE meeste reptiele behoort vandag tot hierdie orde , wat meer as 2500 slangspesies (onderorde Serpentes) en meer as 3000 akkedissoorte (onderorde Sauria) insluit. ’n Omvattende artikel oor slange verskyn elders op die Mieliestronk-werf.

•   Chelonia: see-, land- en varswaterskilpaaie

DAAR is vandag nagenoeg 250 skilpadspesies—in die orde Chelonia—en hulle behoort tot twee onderordes, naamlik die Cryptodira, met tien families, en die Pleurodira, met twee families. Die meeste—waaronder die seeskilpaaie, landskilpaaie en die meeste varswaterskilpaaie—behoort tot die onderorde Cryptodira. Hulle is tandelose horingbek-reptiele en wissel in grootte van omtrent ’n handlengte tot langer as twee meter.

•   Crocodilia: krokodille, alligators, Amerikaanse kaaimanne en gaviale

BUITEN die alligators, wat in China en die suidooste van die Verenigde State woon, lewe die krokodilagtiges in die wêreld se tropiese en subtropiese streke. Hulle is almal amfibies (lewe op land, sowel as in die water). ’n Omvattende artikel oor “ou Krok en sy neefs” verskyn elders op die Mieliestronk-werf.

•   Ichthyosauria 

ALLE lede van hierdie orde het uitgesterf: groot reptiele van die see wat visagtige liggame en roeispaanagtige ledemate gehad het. Sekere soorte het tot vier meter lank geword.

•   Sauropterygia 

NOG ’n uitgestorwe orde van groot waterdiere met groot ledemate waarmee hulle kranig deur die water kon “vlieg”. Dit herinner ’n mens aan die behendigheid van ons pikkewyne wat as ’t ware die vliegmaneuvers van die lugvoëls onder die water kan uithaal en soos dodelike aanvalsduikpbote op hul prooi kan toesak (al is hulle sulke lomp skepseltjies op die land).

•   Therapsida 

HIERDIE interessante orde, wat ook die “soogdieragtige reptiele” genoem geword, het ook uitgesterf. Hulle sou volgens die geleerdes nie net in die Triastydperk bestaan het nie, maar ook in die voorafgaande  Permiese tydperk (van 290 miljoen tot 248 miljoen jaar gelede).

Die soogdieragtige reptiele is des te interessanter vir Suid-Afrikaanse navorsers omdat ’n yslike menigte getuienisse van hul destydse teenwoordigheid vandag in die Karoo te vinde is. Soos hul naam aandui, het hulle soogdieragtige kenmerke gehad—en ’n plaaslike kenner vertel dan ook dat, hoewel talle gefossileerde dinosouruseiers reeds wêreldwyd gevind is, geen enkele eier van ’n soogdieragtige reptiel nog opgeduik het onder die talle goed gepreserveerde skedels en geraamtes wat in die Karoo gekry is nie. Dit lyk dus of lewendbarend kon gewees het, soos soogdiere.

Soogdieragtige reptiele in Antarktika — ’n voorstellingLINKS: Soogdieragtige reptiele het ook in Antarktika voorgekom, in ’n tyd toe daardie vrieskoue wêrelddeel nog so warm was dat dit lewensvorms op die land goed kon onderhou. Hier is ’n kunstenaar se voorstelling van sulke oerdiere wat reg is om mekaar aan die spreekwoordelike keel te gryp.

Illustrasie deur Bill Stout, U.S. Antarctic Program / National Science Foundation


•   Pterosauria

DIE pterosourusse was ’n groep vlieënde oerreptiele wat deur die voorwêreldlike hemele geklief het totdat hulle ook soos hul neefs, die dinosourusse, aan die einde van die Kryttydperk uitgesterf het. Hieronder word meer oor hulle vertel.

Pterosourusse—die drake in die lug

Soos vlieënde drake... dis moeilik om te glo dat hierdie reptiele eenmaal in hul menigtes in die lug daarbo gesweef het...

REGS: ’n Treffende voorstelling deur John Conway van Anhanguera piscator, ’n pterosourus uit die laat Kryttydperk.

John Conway stel dit vir gebruik beskikbaar ingevolge die GNU Free Documentation License, waarvan die bepalings verstrek word by hierdie skakel van die vrye Wikipedia-ensiklopedie
Meer oor Conway op die Wikipedia-werf by hierdie skakel
   

Sover bekend die grootste vlieënde dier wat ooit gelewe hetREGS: Nog ’n voorstelling van ’n pterosourus, 'n meer as vyf en ’n halwe meter lange Quetzalcoatlus northropi, met ’n geraamde vlerkspan van elf tot twaalf meter. Dit maak hom, sover bekend, die grootste vlieënde dier wat ooit gelewe het. Fossielmonsters van dié pterosourus is in ’n Amerikaanse wildtuin ontdek. Hierdie vlieënde reptiele het die antieke landskap met die dinosourusse gedeel en ’n suksesvolle bestaan in die lug gevoer terwyl die dinosourusse oor die land geheers het.

Illustrasie: Big Bend National Park / U.S. National Park Service

Teks hieronder oor pterosourusse uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld

JY staan op ’n verlate strand met die seeskuim wat oor jou voete spoel... kyk in die loom van die stil dag op na ’n ry getande kranse aan die een kant. 

Dan sien jy dit: ’n klompie hangsweeftuie wat beurtelings koers kry die lug in om ’n rukkie later saam-saam oor die branding te sweef. Jy bewonder die grasie, die gemak waarmee hulle sweef. 

Maar dan, meteens, pyl een van die hangsweeftuie soos blits op die water af, pluk ’n vis uit die see uit en vreet hom gulsig op terwyl hy weer opstyg. Ontnugtering! Dis geen hangsweeftuie nie, maar harige monsters wat daar vlieg. En hul vlerkspan is groter as dié van enige voël wat jy al ooit gesien het. 

Die monsters het groot, starende oë en lang, onheilspellende “snawels”. Party het ’n vreemde kam op die kop en sommige het ’n eienaardige, spiesagtige stert. 

Dit klink miskien na ’n verdigsel, maar dit is presies wat jy dalk sou sien as jy deur die eeue kon teruggaan na die Tyd van die Dinosourusse. Want terwyl dinosourusse die land bewandel en seegedrogte die oseane deurkruis het, is die lug daarbo geregeer deur ’n tans uitgestorwe groep vlieënde reptiele wat die pterosourusse genoem word... 

FOSSIELE dui daarop dat die pterosourusse meestal kusstreke wyd en syd op die aarde bevolk het.

Toe die eerste pterosourus-fossiele laat in die agttiende eeu gevind is, het paleontoloë—mense wat fossiele bestudeer—gedink dat hulle tot ’n soort seedier behoort, moontlik ’n soogdier wat sowel op land as in die water gelewe het. 

In die vroeë negentiende eeu het ’n Franse wetenskaplike korrek aangeneem dat die fossiele eenmaal vlieënde reptiele was, maar die gedagte was vir die mense destyds so vergesog dat sy teorie verwerp is. Vir die res van die eeu het navorsers gedink die fossiele was alles van uitgestorwe vlermuise tot vlieënde buideldiere. 

Vandag, met die oorvloed fossiele tot hul beskikking, stem die paleontoloë saam dat die gevleuelde kreature wat ons pterosourusse noem ’n besonderse groep vlieënde reptiele was. 

DAAR was twee hoofgroepe pterosourusse: rhamphorhinchoide en pterodaktilusse. 

Die rhamphorhinchoide was klein en kompak, die kleinste omtrent so groot soos ’n mossie, die grootste soos ’n kraai. Die kop was lank en smal, en die bek het baie tande gehad. Die lang, grasieuse stert het hulle help stabiliseer terwyl hulle gevlieg het. 

Die pterodaktilusse—die naam beteken “vlerk-vingers”—het van die rhamphorhinchoide verskil deurdat hulle ’n langer kop en ’n buigbare, voëlagtige nek gehad het. Daar was min van hulle wat tande gehad het. Die brein was verder gevorder en het dié reptiele in staat gestel om vinnige, kort bewegings met die vlerke te maak terwyl hulle gevlieg het. Die stert was óf veel korter óf afwesig, en die vlerke korter en breër. 

Sekere pterodaktilusse was enorm. Een van hulle, Quetzalcoatlus, het ’n vlerkspan van 11-12 m gehad—dieselfde as dié van ’n klein vliegtuigje—en hy was dus die grootste dier wat ooit gevlieg het. 

’n Mens kan van die vorm van ’n pterodaktilus se kop aflei wat hy gevreet het: sekeres het byvoorbeeld ’n lepelvormige plat bek gehad waarmee hulle in die water heen en weer kon swiep op soek na klein skaaldiertjies of visse; ander se gesig was breed en padda-agtig om insekte sommerso uit die lug uit op te skep; party het kamme soos skeermesse aan die bek gehad om die water te klief en visse te ontbloot; en by die mannetjies van sommige soorte was daar ’n kam op die kop om die wyfies se aandag te trek. 

KENNERS het eenmaal gedink dat die pterosourusse swakkerige vlerke gehad het en hulle slegs gebruik het om op die lugstrome te sweef. Maar fossiele wat ’n tyd gelede ontdek is, dui daarop dat die vlerke met sterk vesels versterk kon gewees het, wat die reptiele in staat sou gestel het om met eie krag te vlieg. 

Paleontoloë het lank gewonder of die dinosourusse koud- of warmbloedig was. Die meeste stem saam dat hulle, vanweë hul aktiewe leefwyse, waarskynlik warmbloedig was. Die pterosourusse was moontlik ook. Om warm te bly, sou hulle ’n haarbedekking moet gehad het. 

In 1970 het paleontoloë dan ook inderdaad ’n pterosourus-fossiel in Rusland gevind met die afdruk van ’n dik haarbedekking op die rots. 

Baie geheimsinnighede omhul steeds die pterosourusse. Hoe het hulle byvoorbeeld hul kleintjies grootgemaak? Hoe het hulle hulself verdedig? 

Wat ons wel weet, is dat hul betreklik goed ontwikkelde breine moet gehad het, veral in die breinkompartemente wat met sig, koördinasie en balans te doen gehad het. Hulle was dus vernuftige vlieënde roofdiere soos, sê nou maar, die uile—en spreekwoordelike dom uilskuikens was hulle na alle waarskynlikheid nie!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad