__________________________________________________

Die
bisarre geskiedenis van die galg en ander metodes van teregstelling
in Suid-Afrika en elders
Jy sal
hang aan jou
Stemme klink deesdae oral op van mense wat wil hê dat die owerheid weer die galg as straf vir ernstige geweldsmisdade moet instel. Of hierdie oproep meriete het of nie, moet elkeen vir homself besluit. Maar as ’n mens die geskiedenis van die doodstraf bestudeer, kom jy af op verhale wat jou hare kan laat rys...
__________________________________________________
|
" |
Y sal hang aan jou nek tot jy dood is…" Só het seker duisende veroordeeldes die regter hoor sê in die tyd toe die doodvonnisse nog algemeen in howe gevel is.
Party terdoodveroordeeldes het daarna flou geskok ineengesak, ander het gelyk of hulle onbetrokke is, nog ander het verskriklik gehuil of gewelddadig gereageer teenoor almal in die omtrek.
Een geval is bekend van ’n veroordeelde wat by die aanhoor van sy doodvonnis ’n vrou binne trefafstand "geskop het dat sy rol". Daar was baie uiteenlopende reaksies in verskillende lande waar die galg as straf gegeld het.
Ingevolge die Engelse reg sou ’n regter by doodstrafoplegging die beskuldigde se volle name uitspreek en dit opvolg met die volgende formulier: ".....you are sentenced to be taken hence to the prison in which you were last confined and from there to a place of execution where you will be hanged by the neck until dead and thereafter your body buried within the precincts of the prison and may the Lord have mercy upon your soul." Eers in 1947 is in Engeland aanbeveel dat die formulier gewysig word en die woorde "be hanged by the neck until dead" vervang word deur "suffer death by hanging".
Die geskiedenis van die doodstraf in Suid-Afrika—’n straf wat in 1995 "ongrondwetlik" verklaar is—moet in samehang gesien word met die geskiedenis van doodstraf in die breë. Die vroegste historiese verslae bevat reeds getuienis daarvan. In die Bybel is die doodstaf vir meer as dertig verskilende misdade voorgeskryf, terwyl die Drakoniese Kode van ou Griekeland dit verder gevoer en dié soort straf vir elke oortreding ingestel het.
Die voltrekking van die doodstraf het deur die eeue op op allerhande maniere plaasgevind en van volk tot volk verskil. Daar was byvoorbeeld kruisiging, kook in olie, onthoofding, verbranding, uitmekaarskeuring, steniging, verdrinking en hoeveel ander grusaamhede.
LINKS:
Die bekendste en epogmakendste kruising in die wêreldgeskiedenis was dié van
Jesus Christus—hier besig om Sy kruis na Golgota te dra, volgens ’n voorstelling
in 1850 deur die skilder El Greco (Domenikos Theotokopoulos, 1541-1614), wat in
Kreta gebore is maar veral in Spanje aktief was. Kruisiging, die teregstelling
van ’n misdadiger deur hom aan ’n kruis te spyker of vas te bind, was ’n
heersende vorm van teregstelling van die sesde eeu v.C. tot die vierde eeu n.C.,
veral onder die Egiptenare, Carthagers, Perse en Romeine. By die Romeine is die
praktyk in 337 n.C. afgeskaf deur keiser Konstantyn I, die eerste Romeinse
heerser wat tot die Christendom bekeer is. Hy het dit gedoen uit respek vir
Jesus, wat ’n kruisdood gesterf het.
Die doodstraf is in ou samelewings gesien as ’n onontbeerlike komponent van ’n geordende samelewing. Maar in diktature is dit ook deur al die eeue gebruik om van ongewenste teenstanders ontslae te raak. In ons eie wêrelddeel sou swart konings soos Shaka, grondlegger van die Zoeloevolk, byvoorbeeld in die negentiende eeu nog die mag hê om alleen oor enige van hul onderdane se lewe of dood te besluit.
’n Mens kan vandag hul metodes bevraagteken en as wreed beskou, maar nie lank tevore nie is die doodstraf in die kamtige gesofistikeerde Kaap nie veel mensliker toegepas nie. Vertellings soos die een hieronder klink vandag so barbaars dat ’n mens dit skaars kan glo.
Doodstraf
aan die Kaap in die tyd van die Nederlandse
Oos-Indiese Kompanjie
ESTIÉNNE
BARBIER het onrus in die Ou Kaap (REGS) gestook. En daarvoor is hy verskriklik
gestraf. Hy is in die openbaar op ’n houtkruis vasgemaak en toe, onder groot
belangstelling van die omstanders, is eers sy regterhand en daarna sy kop
afgesny.
Die
kop is vervolgens as "waarskuwing" êrens op ’n paal vasgespyker.
Die liggaam is in vier dele opgesny en eweneens op pale in verskillende dele van
die jong Kaapse nedersetting uitgestal. Enigiemand wat nog kon dink dat hy met
die waarnemende goewerneur, Daniël van den Henghel, en dié se gesag kon mors,
moes finaal van sulke rebelse planne afgeskrik word.
Barbier,
’n gebore Fransman wat ’n sersant in diens van die Kompanjie was, wou
naamlik die boerebevolking aan die Kaap oorreed om teen die bewindhebbers te rebelleer.
Maar hy is gevang en by sy verhoor was daar ’n ellelange lys aanklagte teen
hom, nie net van aanhitsing tot opstand nie, maar onder meer ook van
brandstigting en moord. Uiteindelik moes Barbier dus met sy lewe boet… op ’n
wyse wat ons vandag met weersin vervul.
Maar
só was die regspleging aan die Kaap steeds in die jaar 1739,
toe daar nog lank nie aan die menseregte van gevangenes gedink is soos
vandag nie.
In
die Kompanjiestyd is gevangenes, om die minste te sê, nie met deernis behandel
nie. Inteendeel, veroordeeldes is onder meer selfs "gevierendeel", dit
wil sê deur perde in vier geskeur. In hierdie tyd het die metodes van
teregstelling hier asook in Europa gewissel, maar iemand wat doodgewoon opgehang
of onthoof is, het destyds nog ’n "mooi" dood gesterf.
Die
oorheersende idee in die moderne strafreg dat gevangenes hervorm of
gerehabiliteer kan word, het nie bestaan nie—eerder die ou uitgangspunt van
" ’n oog vir ’n oog" en dat misdadigers met uitgerekte pyniging en
wrede strawwe vir hul dade moes betaal. Straf is deur en deur as ’n
afskrikmiddel beskou, wat dan ook verklaar waarom dit so grusaam was.
Trouens,
geregshowe was so streng en wreed dat doodstraf en foltering toegepas is vir
vergrype waarvoor oortreders vandag waarskynlik slegs ’n paar maande in die
tronk sal sit.
Doodstraf
aan die Kaap onder die Britse vlag
SELFS
in die 1800’s nog is ’n seuntjie van nege jaar in Engeland ter dood veroordeel
omdat hy verf ter waarde van sowat twee pennies gesteel het. Gelukkig is die
vonnis nie voltrek nie.
In
1822 was daar sowat 200 misdade wat ingevolge die Engelse strafwette met die
dood gestraf kon word. Iemand wat byvoorbeeld ’n vis gesteel of dreigdriewe
geskryf het, kon kragtens wet opgehang word.
Vanweë Suid-Afrika se lang verbintenis met Brittanje ná 1806 is ons regspleging in baie opsigte op die Britse lees geskoei. (Natal en Kaapland was immers lank Britse kolonies en die latere Unie van Suid-Afrika was aanvanklik ’n lid van die Britse Gemenebes, die voorloper van die Statebond).
Die
beginsels wat in die Suid-Afrikaanse regstelsel vervat is, is aanpassings uit
die Romeins-Hollandse reg, vermeng met die Engelse reg wat ná 1806 toegepas is.
Die Romeins-Hollandse reg is oorheersend in privaatreg, terwyl die Engelse reg
meer prominent in strafsake is.
Dit
is dan ook nie verbasend dat die toepassing van die Engelse reg in die
voltrekking van doodvonnisse op meer as een manier sy onwisbare stempel op ons
land gelaat het nie. Een uiterste voorbeeld is die wrange nasleep van die sogenaamde
Slagtersnek-opstand van 1815.
Die
opstand het voortgespruit uit die vervolging van ’n boer in die Oos-Kaap, wat
gedaag is om voor die hof te verskyn weens die beweerde mishandeling van ’n
Kleurlingwerker. Weens sy weiering is ’n luitenant en twaalf Khoikhoi-soldate
gestuur om hom in hegtenis te neem, maar hy het hom verset en is doodgeskiet.
Vyf
burgers wat in opstand gekom het oor sy dood, is verhoor, skuldig bevind en ter
dood veroordeel. Die vyf is in die openbaar opgehang.
Die
galgtoue het gebreek, maar die manne is ’n tweede keer opgehang voordat hulle
dood was. Die hele voorval het groot verontwaardiging onder die koloniste laat
posvat en het lank sy donker skaduwee oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis
gewerp.
Later sou sekere Britse teregstellings van Kaapse rebelle voor ’n vuurpeloton in die Anglo-Boereoorlog eweneens tot geweldige openbare misnoeë lei.
Doodstraf
in Suid-Afrika van 1910 tot die einde
van die jare tagtig
NÁ
die unifikasie van die destydse Transvaal, Vrystaat, Natal en Kaapland in 1910
het die Suid-Afrikaanse strafreg voorsiening gemaak vir die doodstraf in
bepaalde gevalle, maar openbare teregstellings was in die twintigste eeu
gelukkig iets van die verlede.
Mense
wat ter dood veroordeel is, is vinnig deur ’n laksman in ’n afgesonderde
teregstellingslokaal om die lewe gebring. Dit was egter steeds geen verfynde
teregstellingspraktyk nie. Trouens, feitlik geen buitestaander wat wel nog
iemand se galgdood kon bywoon, kon daar wegstap sonder om tot in sy siel geskok
te wees nie. Nadat talle veroordeeldes miskien maande lank in dodeselle gewag
het terwyl hulle op moontlike begenadiging deur die owerheid gehoop het, is hul
nekke op ’n dag eenskaps en onseremonieel deur toue afgeruk.
’n Tou is om die veroordeelde se nek geplaas en sy staanplek is onder hom uitgeruk. Die liggaam kon met rukkings, geluide en afskeidings reageer. Die dood was gou, maar dit was stellig nie altyd klinies nie.
REGS: Stellasie vir galgtoue... die rekonstruksie van ’n galg in die stad Fort Smith, in die Amerikaanse staat Arkansas, waar altesame 87 mans tussen 1873 en 1896 weens halsmisdade opgehang is. Foto’s van hoe die galg-lokaal van die Sentrale Gevangenis in Pretoria gelyk het, is waarskynlik nie maklik bekombaar nie, indien hoegenaamd—en miskien is dit goed so, om die agtergeblewenes van tereggesteldes die geweldige pyn van só ’n visuele nagedagtenis te spaar.
Foto: Fort Smith National Historic Site / National Park Service / U.S. Department of the Interior
LINKS:
Nog meer kru: ’n skavot in die 1860’s in Amerika. Vir ’n goeie uitsig op die
ophangery het toeskouers selfs in bome geklim.
Foto: U.S. Library of Congress
Meer
as 4200 Suid-Afrikaners het tussen 1910 en 1989 só aan die galg gesterf. Sowat die helfte
van hulle is tereggestel tussen 1978 en 1988 toe die stryd teen apartheid op sy
hewigste was.
Onder dié wat gehang is weens hul bedrywighede vir Umkhonto we Sizwe, die militêre vleuel van die ANC, was Vuyisile Mini, Wilton Khayingo en Zizakile Mkhaba (1964), Solomon Mahlangu (1979) en Benjamin Moloise (1985). Moloise, ’n digter wat daaraan skuldig bevind is dat hy ’n swart polisieman vermoor het, is gehang ondanks internasionale pleidooie dat hy begenadig moes word.
Baie "nie-politieke" moordenaars moes ook die hoogste tol betaal. Sekeres het veel groter belangstelling gaande gemaak het as die res, veral omdat hul moordsake so bisar en buitengewoon was. Onder hulle was berugte gifmoordenaressse soos Daisy de Melker en Maria Lee.
Daisy
Louisa de Melker (gebore
Hancorn-Smith) se hofsaak is moontlik die mees
bespreekte moordverhoor in die Suid-Afrikaanse regsgeskiedenis. Sy
is die oggend van 30 Desember 1932 gehang ná haar dramatiese verhoor van dertig
dae waarna sy daaraan skuldig bevind is dat sy haar eie seun van twintig jaar
vergiftig het. Sy was ook aangekla van die gifmoord van haar twee mans, maar die
staat kon nie bo alle twyfel bewys dat sy daaraan skuldig was nie.
Benewens vir moord (waarvoor die galg verpligtend was, tensy die beskuldigde versagtende omstandighede kon bewys) sou Suid-Afrikaanse howe ook die doodstraf kon oplê vir hoogverraad, kinderdiefstal, verkragting, roof met verswarende omstandighede, huisbraak met verswarende omstandighede, sabotasie en terrorisme.
Die
afskaffing van die doodstraf in Suid-Afrika
JUIS
omdat Suid-Afrika ’n
besonder hoë teregstellingsyfer en buitengewoon baie sogenaamde halsmisdade
gehad het, het daar met verloop van tyd ’n ál heftiger debat oor die
doodstraf ontstaan.
Dit is aangevuur deur ’n wêreldwye veldtog om dit afgeskaf te kry. Vandag, onder demokratiese Westerse lande, is dit nog net Amerika wat die doodstraf toepas. Die res van die wêreld beweeg steeds in die rigting van afskaffing, met sowat drie lande per jaar wat ’n einde daaraan maak.
REGS:
Die elektriese stoel, ’n hoogs omstrede Amerikaanse teregstellingsvoorwerp. Die
veroordeelde word daarop vasgebind, en een elektrode word met sy kopvel verbind
en die ander met die kuit van sy een been. Die elektrodes word met ’n
soutoplossing benat om voldoende kontak te verseker. Die dood tree gewoonlik in
binne twee minute nadat die elektriese stroom deur die veroordeelde se liggaam
begin vloei het.
Foto verskaf deur PDImages.com, wat dit as openbare besit (“in the public domain”) aandui, maar ook die volgende skakel na hul webwerf versoek: www.PDImages.com
Mense wat die
afskaffing van
die doodstraf
voorstaan,
se een groot beswaar daarteen is dat dit so absoluut onherroeplik is in
die geval van ’n fout
(soos met die negentienjarige Derek Bentley, wat in 1953 in Engeland gehang is
vir ’n
moord
wat hy nie gepleeg het nie). Hulle beroep hulle ook op die
twyfelagtige afskrikwaarde van die doodstraf, die onskendbaarheid van die menslike lewe en
die hedendaagse siening dat straf die hervorming van oortreders moet probeer
bewerkstellig.
In
Suid-Afrika sou teenstanders van die apartheidsregering wat hulle in die politieke
bevrydingstryd laat geld het, boonop nooit vergeet van die ewige gevaar wat hulle
geloop het om deur die howe ter dood veroordeel te word nie.
’n Belangrike faset van die verset teen die doodstraf is die menseregte-kwessie. Dit is iets wat ook ervaar is in ander lande wat, soos Suid-Afrika, ’n dramatiese politieke verandering ondergaan het. Wanneer mense die doodstraf as ’n menseregte-aangeleentheid beskou, is lande wat meer demokraties word maar alte gretig om doodstraf af te skaf, omdat hulle dit met die vorige bewind en sy veronderstelde magsmisbruik vereenselwig. Só het ’n aantal Oos-Europese lande van die doodstraf ontslae geraak kort nadat hul Kommunistiese bewinde in 1989 tot ’n val gekom het.
Die meeste mense wat in Suid-Afrika in die dodesel beland het, was swart en toenemende verset onder swartmense het die blanke bewind genoop om in 1990 ’n moratorium op die doodstraf te plaas. Die Nasionale Party-regering het die verbod in 1993 opgehef, maar niemand is daarna opgehang nie.
Nadat
die nuwe politieke bedeling in 1994 werklikheid geword het, het die Grondwetlike
Hof op 6 Junie 1995 eenparig vir die afskaffing van die doodstraf gestem deur
dit "ongrondwetlik" te verklaar. ’n Beampte van die Sentrale
Gevangenis in Pretoria—waar die hangerye voorheen plaasgevind het— het berig dat die nuus met "’n geskreeu en
handegeklap en algemene gejuig" deur die veroordeeldes in die dodeselle
begroet is.
Die sowat 450
mense wat toe nog in die dodeselle was, kon daarna uitsien dat hul vonnisse tot
lewenslange tronkstraf of iets anders versag sou word.
Sedertdien
het die onrusbarend hoë voorkoms van misdaad in die land egter oral stemme vir
die herinstelling van die doodstraf laat opklink. Maar dit is onwaarskynlik dat
dit in die nabye toekoms sal gebeur, indien ooit.
Daar
is mense wat voel dat die galg te barbaars is om teruggebring te word, maar dat
daar aan alternatiewe teregstellingsmetodes soos vergassing of die dood deur
middel van ’n spuitnaald gedink kan word.
’n
Mens wonder onwillekeurig hoe Suid-Afrikaners sal stem as ’n referendum vandag
gehou sou word om oor die herinstelling al dan nie van doodvonnisse te besluit.
Daar
is inderdaad al meermale vir só ’n volkstemming gevra en die ANC-regering
word taks deur opposieleiers en ander mense aangevat oor sy beweerde sagkense
hantering van gewelddadige misdadigers.
Wat is jou eie gevoel oor die doodstraf noudat jy hierdie artikel gelees het?
______________________________________________
______________________________________________