|
’n Sonsverduistering -- presies wat is dit?
’n
SONSVERDUISTERING,
’n
maanverduistering,
’n komeet of ’n
reënboog... watter vrese en ontsag moet sulke natuurverskynsels nie by die onkundige ou volkere ingeboesem
het nie.
Probeer die gode só met hulle kommunikeer? Is dit voorspellings van wat gaan kom? Word vanuit die hemelkoepel daar bo skouspelagtige boodskappe na die doemelinge
hier onder gestuur? ’n Mens kan jou indink hoe die antieke mense met
bewing die lug ingestaar of
selfs met allerhande rituele kon probeer het om op die gewaande gode se "uitbarstings" te
antwoord.
Vandag, met ons gevorderde kennis, weet ons ’n komeet is bloot ’n
reusagtige "vuil sneeubal" wat om die son wentel en ’n dampende "stert" ontwikkel wanneer dit die
slag naby die son kom.
’n Reënboog is eenvoudig ’n verskynsel waar die wit lig van die son in sy
verskillende kleurkomponente opgebreek word deur die waterdruppels in die lug.
’n Maansverduistering gebeur wanneer die aarde voor die son inskuif en die aarde se skaduwee gevolglik op die maan gegooi word.
En ’n sonverduistering -- soos ’n deel van Suid-Afrika hom nou weer
ervaar het -- is doodeenvoudig die verdonkering van die son wanneer die maan tussen die son en die aarde inkom en die maan sy skaduwee op die aarde werp.
Die maan verdonker nooit die hele aarde nie. Trouens, wanneer dit gebeur, is dit op enige
gegewe oomblik slegs ’n betreklik klein kolletjie op ons planeet wat die verduistering ervaar
-- ’n kolletjie wat ook vinnig oor die aardoppervlak aanskuif vanweë die draaiing van die
aarde. Mense wat hulle binne-in die kolletjie bevind, belewe ’n sogenaamde algehele
verduistering.
Só ’n verduisterde kolletjie is nooit baie groot nie -- maar die afgelope keer was dit
’n blote 87 km in deursnee. Die skaduwee het
ooswaarts beweeg teen ’n stuk of 2000 km/h en, omdat die kolletjie dié slag so klein
was, het die algehele verduistering op enige plek op sy pad [van die Suidelike Atlantiese Oseaan af tot in Suid-Australië] nooit meer as twee minute en vier sekondes
geduur nie.
Met
elke algehele sonsverduistering is daar wel ’n breë halfskadu-baan op die aardoppervlak
aan elke kant van die kolletjie se pad. Dis daar waar die son slegs gedeeltelik agter die maan wegraak. Daar word dan van
’n gedeeltelike verduistering gepraat -- soos talle opgewonde Suid-Afrikaners hom ook
pas weer ervaar het!
Kyk
ook bladsy oor maansverduisterings |