|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
EL ESCORIAL:
Vir
party mense is die klooster-paleis El Escorial in Spanje darem te stroef
en somber. Maar as ’n mens nader kyk, is dit maklik om te sien waarom
baie dit as die agtste wonder van die wêreld beskou... AAN
die voet van die barre Guadarrama-berge, iets meer as 40 km noordwes van
die Spaanse hoofstad, Madrid, staan ’n reusagtige granietstruktuur wat
sowel ’n kerk as ’n klooster, ’n koninklike paleis en ’n
begraafplaas is.
BO: El Escorial van ’n afstand af gesien. Op 12 April 2004 gesien deur die lens van Håkan Svensson (Xauxa), wat die foto ingevolge die GNU Free Documentation License in die Wikipedia-ensiklopedie beskikbaar stel (Detail, buiterande weggesny)
Foto: Spaanse Nasionale Toeristeburo Dit is
opgerig deur koning Filips II, wat van 1556 af tot met sy dood in 1598 oor
Spanje geheers het. Die geskiedenis van El Escorial gaan terug tot in
1557. In daardie jaar, op 10 Augustus, het Filips se soldate die Franse in
die slag by St. Quentin verslaan. Die datum is betekenisvol—10 Augustus
is die feesdag van die Katolieke heilige St. Laurens. Boonop is die
plaaslike kerk, wat aan St. Laurens opgedra is, in die geveg verwoes. Filips, ’n
godsdienstige man, het ’n gelofte gedoen om die Spaanse oorwinning te
gedenk deur ’n kerk en klooster te bou wat aan die heilige opgedra sou
word. Die argitekte het, só word vertel, die gebou in die vorm van ’n
braairooster uitgelê—omdat die heilige op een gebraai is. Benewens ’n
kerk en klooster wou Filips ook ’n paleis hê van waar hy altyd die hoë
altaar van die kerk kon sien. En dan het Filips se pa, Karel I, ook nog ’n
koninklike panteon begeer waar die konings van Spanje begrawe kon word.
Werk het in 1563 begin en tot 1584 voortgeduur. (Die panteon is egter ná
Filips se dood gebou.)
Kopiereg het verstryk vanweë ouderdom El Escorial
is ’n enorme reghoekige bouwerk (sowat 150 m by 200 m) van grys graniet.
In die middel is die koepelkerk en panteon, suid en suidoos lê die
koninklike paleis en kantore, en noord is die woonbuurt van die monnike. Die gebou
het ’n menigte vensters en deure—minstens 2600 en 1200 respektiewelik.
Baie mense het hulle al probeer tel, maar min stem saam oor presies
hoeveel daar is. Die enorme kompleks se gange strek na bewering altesaam
160 km ver. Die gebou is
dikwels gekritiseer dat dit so baie soos ’n gevangenis sou lyk. En dit
kom inderdaad somber voor—Filips wou dit immers so hê. Maar wat dit
buite kortkom, word aan die binnekant vergoed. Om vandag El
Escorial te besoek is om ’n kunsmuseum binne te loop, want sy mure is
ryklik versier met gipspleisterwerk, voortreflike muurtapyte en skilderye
deur beroemde kunstenaars. Daar is ook uitstallings van pragtige meubels,
brons- en marmerfigure en ander artefakte. Ondanks
Filips se welslae by St. Quentin is die res van sy bewind deur nederlae
gekenmerk. Eers het Nederland, ’n onskatbare besitting, hom onafhanklik
van Spanje verklaar. Toe verloor Spanje baie van sy besittings in Suid- en
Sentraal-Amerika. Uiteindelik is die kwansuis ''onoorwinklike'' Spaanse
vloot vernederend deur die Britte verslaan. Die gebou
wat Spanje moes verheerlik, het pleks daarvan die begin van die einde van
die groot wêreldmoondheid ingelui. |