|
’n Laslappie van Mieliestronk | ||||
|
EURO:
DIE
euro is Europa se gemeenskaplike geldstelsel, ’n geldeenheid wat in die
begin van 2002 in verskeie Europese lande in gebruik geneem is om hul
onderskeie geldstelsels te vervang. Die omskakeling is toe as een van die
belangrikste gebeurtenisse in die hele ekonomiese geskiedenis van die
węreld bestempel. Die eerste
twaalf lande (lidlande van Europese Unie of EU) wat besluit om uitsluitlik
die euro te gebruik (met elkeen se ou geld tussen hakies) is in
alfabetiese volgorde: •
België (Belgiese frank) Dit was van
meet af egter ’n uitgemaakte saak dat nog lande hulle later by dié
twaalf sou wou voeg. Daar is agt
euro-muntstukke: die 2-euro-munt, 1-euro-munt en muntstukke met die
waardes 50, 20, 10, 5, 2 en 1 sent. Die een kant van elke muntstuk in die
euro-reeks is oral dieselfde, maar die verskillende lidlande bring elk hul
eie motiewe op die keersy aan. Die verskillende munte is egter oral
geldige betaalmiddels in die euro-sone (of "Euro-land", soos dit
ook genoem word). So kan ’n Franse burger byvoorbeeld ’n worsbroodjie
in Berlyn koop met ’n euro-munt waarop die afbeelding van die koning van
Spanje verskyn.
Grafika
in die openbare domein geplaas by die Wikipedia-ensiklopedie op die web.
Afbeelding van note deur EU toegelaat mits dit nie met regte note verwar
kan word nie. Hoe
die euro ontstaan het
DIE
droom om Europa een te maak is baie oud. Maar hoe verder ’n mens in die
geskiedenis teruggaan, hoe onmoontliker was dit eintlik om daardie droom
te verwesenlik. Die haakplek
was—en is steeds—’n verskeidenheid van volkere met ’n eeue-oue
geskiedenis van afsonderlike nasionalismes. Tog het nuwe ekonomiese
realiteite baie van die Europese lande met verloop van jare steeds nader
aan mekaar gedwing. En moderne
voorstanders van die idee maak geen geheim meer van hul doelwit nie. ’n
Verenigde State van Europa sou immers sy stem met ’n magtige dreuning
kon verhef. Hy sou ten minste ook kon streef na ’n leiersposisie in die
węreldpolitiek naas die dominante Amerika. Dog voordat
daar staatkundige eenheid kan wees, moet die lande ’n ekonomiese geheel
vorm. En dis waar die euro so ’n kardinale rol te speel het. Die
oorsprong van die euro lę in die Verdrag vir Europese Vereniging (Treaty
on European Union) of Maastricht-verdrag, wat in 1992 deur die lidlande
van die Europese Gemeenskap—tans die Europese Unie—onderteken is. Die Europese
Unie (EU) is ’n supranasionale organisasie wat uit ’n aantal Europese
lande bestaan wat besluit het om oor ’n verskeidenheid van sake saam te
werk (ekonomies, monetęr, op veiligheidsgebied, ens.) en eenvormige wette
te aanvaar. Die vyftien volle lede van die EU is Oostenryk, België,
Denmarke, Finland, Frankryk, Duitsland, Brittanje, Griekeland, Ierland,
Italië, Luxemburg, Nederland, Portugal, Spanje en Swede. Hierdie
organisasie het self ’n lang geskiedenis en die naam is verskeie kere
verander. In 1994 is
die Europese Monetęre Instituut (European Monetary Institute) in die lewe
geroep as ’n oorgangsmeganisme tot die stigting van die Europese
Sentrale Bank en ’n gemeenskaplike geldeenheid. Die Europese Sentrale
Bank het in 1998 tot stand gekom. In die begin
van 1999 het die meeste lede van die Europese Unie die enkele eenheid, die
euro, vir wisselkoers- en elektroniese betalings aanvaar. Brittanje is een
van die lande wat nog water trap oor die saak. Die aanvaarding van die
euro deur soveel ander lande is egter as ’n uiters betekenisvolle stap
in die rigting van Europese staatkundige eenheid beskou. Deurdat die
verskillende lande ’n gemeenskaplike ekonomiese beleid aangeneem het,
kon hulle ook saamspan om ’n demper te plaas op buitensporige openbare
besteding, om skuld te verminder en om ’n kragtige poging aan te wend om
inflasie aan bande te lę. En in die begin van 2002 het miljoene Europeërs toe die nuwe jaar binnegegaan met totaal veranderde munte en note in hul beursies. Suid-Afrikaners wat oud genoeg is om "Daan Desimaal" te onthou (toe ons die pond vir die rand verruil het) sal kan vertel watter geweldige aanpassings so iets ook van die gewone mens kan verg. | ||||