’n Laslappie van Mieliestronk

EURO:

Europese geld vir die 21ste eeu

 

Euro-simbool

Euro-munt

Euro-simbool

Euro-munt

DIE euro is Europa se gemeenskaplike geldstelsel, ’n geldeenheid wat in die begin van 2002 in verskeie Europese lande in gebruik geneem is om hul onderskeie geldstelsels te vervang. Die omskakeling is toe as een van die belangrikste gebeurtenisse in die hele ekonomiese geskiedenis van die węreld bestempel.

Die eerste twaalf lande (lidlande van Europese Unie of EU) wat besluit om uitsluitlik die euro te gebruik (met elkeen se ou geld tussen hakies) is in alfabetiese volgorde:

   België (Belgiese frank)
   Duitsland (Duitse mark)
   Finland (markka)
   Frankryk (Franse frank)
   Griekeland (dragme)
   Ierland (die punt—nie te verwar met die Britse "pound" nie)
   Italië (lire)
   Luxemburg (Luxemburgse frank)
   Nederland (gulde)
   Oostenryk (schilling)
   Portugal (escudo)
   Spanje (peseta)

Dit was van meet af egter ’n uitgemaakte saak dat nog lande hulle later by dié twaalf sou wou voeg.

Daar is agt euro-muntstukke: die 2-euro-munt, 1-euro-munt en muntstukke met die waardes 50, 20, 10, 5, 2 en 1 sent. Die een kant van elke muntstuk in die euro-reeks is oral dieselfde, maar die verskillende lidlande bring elk hul eie motiewe op die keersy aan. Die verskillende munte is egter oral geldige betaalmiddels in die euro-sone (of "Euro-land", soos dit ook genoem word). So kan ’n Franse burger byvoorbeeld ’n worsbroodjie in Berlyn koop met ’n euro-munt waarop die afbeelding van die koning van Spanje verskyn.

Euro-banknoteLINKS: Euro-banknote.

Grafika in die openbare domein geplaas by die Wikipedia-ensiklopedie op die web. Afbeelding van note deur EU toegelaat mits dit nie met regte note verwar kan word nie.
   
Sewe euro-note is beskikbaar—in  verskillende kleure en groottes. Hulle is onderskeidelik  500, 200, 100, 50, 20, 10 en 5 euro's werd.

Hoe die euro ontstaan het

DIE droom om Europa een te maak is baie oud. Maar hoe verder ’n mens in die geskiedenis teruggaan, hoe onmoontliker was dit eintlik om daardie droom te verwesenlik.

Die haakplek was—en is steeds—’n verskeidenheid van volkere met ’n eeue-oue geskiedenis van afsonderlike nasionalismes. Tog het nuwe ekonomiese realiteite baie van die Europese lande met verloop van jare steeds nader aan mekaar gedwing.

En moderne voorstanders van die idee maak geen geheim meer van hul doelwit nie. ’n Verenigde State van Europa sou immers sy stem met ’n magtige dreuning kon verhef. Hy sou ten minste ook kon streef na ’n leiersposisie in die węreldpolitiek naas die dominante Amerika.

Dog voordat daar staatkundige eenheid kan wees, moet die lande ’n ekonomiese geheel vorm. En dis waar die euro so ’n kardinale rol te speel het.

Die oorsprong van die euro lę in die Verdrag vir Europese Vereniging (Treaty on European Union) of Maastricht-verdrag, wat in 1992 deur die lidlande van die Europese Gemeenskap—tans die Europese Unie—onderteken is.

Die Europese Unie (EU) is ’n supranasionale organisasie wat uit ’n aantal Europese lande bestaan wat besluit het om oor ’n verskeidenheid van sake saam te werk (ekonomies, monetęr, op veiligheidsgebied, ens.) en eenvormige wette te aanvaar. Die vyftien volle lede van die EU is Oostenryk, België, Denmarke, Finland, Frankryk, Duitsland, Brittanje, Griekeland, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Portugal, Spanje en Swede.

Hierdie organisasie het self ’n lang geskiedenis en die naam is verskeie kere verander.

In 1994 is die Europese Monetęre Instituut (European Monetary Institute) in die lewe geroep as ’n oorgangsmeganisme tot die stigting van die Europese Sentrale Bank en ’n gemeenskaplike geldeenheid. Die Europese Sentrale Bank het in 1998 tot stand gekom.

In die begin van 1999 het die meeste lede van die Europese Unie die enkele eenheid, die euro, vir wisselkoers- en elektroniese betalings aanvaar. Brittanje is een van die lande wat nog water trap oor die saak. Die aanvaarding van die euro deur soveel ander lande is egter as ’n uiters betekenisvolle stap in die rigting van Europese staatkundige eenheid beskou.

Deurdat die verskillende lande ’n gemeenskaplike ekonomiese beleid aangeneem het, kon hulle ook saamspan om ’n demper te plaas op buitensporige openbare besteding, om skuld te verminder en om ’n kragtige poging aan te wend om inflasie aan bande te lę.

En in die begin van 2002 het miljoene Europeërs toe die nuwe jaar binnegegaan met totaal veranderde munte en note in hul beursies. Suid-Afrikaners wat oud genoeg is om "Daan Desimaal" te onthou (toe ons die pond vir die rand verruil het) sal kan vertel watter geweldige aanpassings so iets ook van die gewone mens kan verg.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad