|
EIERS:
Die
ontploffing |
|
||||||||||||||||||||
|
REGS
BO: ’n Groot klomp viseiers (skelvis) is hier aan die uitbroei... en
die
ontluikende larwes swem ’n reuse-stryd
Eiers is waar die lewe begin. Met ’n ekspedisie waarin ons verskillende diere se eiesoortige eiers van naderby bekyk, betree ons ’n besonder interessante wêreld... |
|||||||||||||||||||||
|
Geleerdes
sê die wyfies van die olifantvoëls het vir die grootste eiers gesorg wat
enige bekende diersoort nog kon genereer. En die kleinste voëleiertjies op aarde dan? Dié word gelê deur ’n kolibrie-spesie (hummingbird) van Jamaika. Elk van dié kolibrie se eiertjies is maar ’n klompie millimeters lank en jy sal maklik oor ’n hele paar van hulle kan loop sonder dat jy besef dat jy besig is om op eiers te trap.
Soos
voëls se vere verskil, só verskil ook die eiers wat hulle voortbring.
Geles, wittes, bont gespikkeldes, allerhande soorte. Maar almal weet
natuurlik dis nie net voëls wat eiers lê nie. Wat meer sê, sekere
diersoorte se eierproduksie is so groot dat ’n mens die feite kwalik kan
glo. Dink maar net aan die see-sonvis wat met ’n enkele legsel 300
miljoen eiers deponeer. Daarteenoor lê ’n ander vis, die sogenaamde
tand-karp, net omtrent twintig eiers oor ’n tydperk van etlike dae. Die
grootste eier van enige lewende dier is dié van die walvishaai. Een van
30 cm lank is al gevind met ’n volmaakte haai-embrio’tjie binne-in. Die
grootste eier van alle lewende voëls behoort aan die volstruis. Dit staan
gelyk aan sowat twee dosyn hoendereiers en moet 40 minute kook om gaar te
word. Dis ook interessant dat die volstruiseierdop slegs 1,5 millimeter
dik is, maar tog die gewig van ’n man van nagenoeg 130 kilogram kan dra.
MAAR
wat is ’n eier eintlik? Die bioloë sê dit is die fundamentele sel
waaruit ’n dier ontwikkel. By diere wat eiers lê, word aan die eier
gedink as die sel saam met sy houer. By nie-eierlêende diere, asook by mense,
is die vroulike voortplantingsel ook ’n eier (ovum). Alle voëls en baie
reptiele, visse en insekte lê eiers, terwyl net twee soogdiere, Australië
se mierystervark en eendbekdier, daartoe in staat is. Teenoor
die veertien of meer sentimeter wat ’n volstruiseier lank is, is ’n
menslike ovum slegs sowat een veertigste van ’n sentimeter in deursnee. Alle
eiers is basies dieselfde as hulle eers gevorm is, maar kry die spesiale
karaktertrekke van hul betrokke spesie nadat hulle begin ontwikkel het. ’n
Voëleier het vyf hoofdele: ’n dop, dopvliese, eierwit, eiergeel en
kiem. Die eerste vier dele is net daar om die kiem te beskerm en te voed,
wat dan in ’n voëltjie ontwikkel.
Die
binnekant van ’n bevrugte hoendereier
Die
eiergeel of dooier is ’n groot geel bal wat in die middel van die
eierwit of albumen lê. Dit is ’n enkele sel. Aan die een kant van die
dooier, naby die oppervlak, is ’n dun skyfie—die eierkiem of kiemvlek—wat
die kiem word sodra die eier bevrug is. Partykeer
is daar twee gele in een eier en dan word van ’n dubbeldoor gepraat. Die
rekordgetal dooiers wat in een hoendereier gevind is, is sover vasgestel
kan word, nege. Die
dooier sowel as die eierwit verteenwoordig ’n spens, ’n ryk voorraad
kos vir die ontluikende voëltjie, en dis hierdie spens wat ons beroof
wanneer ons ’n hoendereier as kos gebruik. Ons
weet almal dat voëleiers deur hul ouers uitgebroei geword. Die broeier is
gewoonlik die wyfie, maar af en toe sal die mannetjie ook sy ouerlike plig
in dié verband nakom. Sekere soorte voëls sal nie begin broei voordat
hulle eers ’n bepaalde getal eiers gelê het nie. Een soort Amerikaanse
houtkapper moet byvoorbeeld eers vier eiers in die nes hê of anders sal
sy glad nie op hulle gaan sit nie. ’n
Voëlkenner het eenmaal een eier per dag uit só ’n houtkapper se nes
verwyder. Die stomme, redelose, maar tog so toegewyde ma het meer as
sewentig eiers gelê voordat sy uiteindelik die stryd gewonne gegee het. By
voëls is dit die hitte van die ma-voël se liggaam wat die ontploffing
van lewe binne-in die eier aan die gang sit. Sodra die temperatuur in die
middel van die eier 37 tot 38 grade Celsius bereik, begin die
selverdeling. Daarna gaan die kettingreaksie voort totdat die hart, lewer,
longe en oë binne-in die dop gevorm is—trouens al die organe van ’n
lewende voël. Wanneer
dit ná ’n paar weke omtrent tyd raak vir die eier om uit te broei, vul
die klein voëltjie reeds die eier byna heeltemal. Teen hierdie tyd is die
hele dooier en ook die eierwit opgebruik. Die nuwe geveerde wesentjie het
geen ander keuse as om uit sy sel te breek nie. Om
hom te help om uit sy dop te kruip, het die natuur hom voorsien van ’n
harde klein "eiertandjie" aan die bokant van sy snawel, naby die
punt. Hierdie eiertandjie val af kort nadat dit sy werk gedoen het. Dit
wat betref die uitbroei van voëleiers. Reptiele het in die reël nie dié
soort broei-instink nie en gebruik sand, warm gebak deur die son, om die
uitbroeiwerk vir hulle te doen. Vissies, insektelarwes en baie ander
kruipers moet normaalweg ook maar op eie stoom uitbroei en daarna self
sien kom klaar in die nuwe wêreld met sy baie gevare. ’n Mens kan jou kwalik voorstel wat ons in hierdie wêreld sonder hoendereiers sou gedoen het. Dis immers nie vir spek en boontjies dat spek en eiers as ontbytkos so gewild is nie!
|
|||||||||||||||||||||