|
|
| Merkwaardige denker se lewende nalatenskap ’n halfeeu ná sy dood... en ’n eeu ná sy 'wonderjaar' |
Die wêreld ken hom as die vader van die Relatiwiteitsteorie—’n ingewikkelde wetenskaplike begrip wat deur betreklik min mense verstaan word. Ook as die pa van die vergelyking E = mc2, wat stipuleer dat massa en energie in werklikheid slegs twee vorms van dieselfde ding is. Maar wie was hierdie kleurryke Albert Einstein eintlik—die aartsgenie wat in April 2005 reeds vyftig jaar oorlede was? Interessant genoeg was dit in 2005 ook presies honderd jaar vantevore dat hy sy "wonderjaar" belewe het wat ons denke oor tyd en materie vir altyd sou verander...
AARMEE hou jy jou besig, jou bevrore walvis, jou gerookte, gedroogde, ingelegde stukkie siel?" het ’n jong Albert Einstein in 1905 skertsend aan ’n vriend van hom geskryf. Wat die vriend aan die doen was, is nie juis ter sake nie. Wat van wesenlike belang vir die moderne wetenskap geblyk het, was die monumentale projek waarmee Einstein self in daardie jaar doenig was. Want in 2005 was dit presies honderd jaar vantevore dat hierdie aartsgenie sy sogenaamde "wonderjaar" belewe het wat ons denke oor tyd en materie vir altyd sou verander. En om dit te vier, is ’n rits konferensies, boeke, konserte, kompetisies, lesings, webwerwe en wat nog alles beplan deur fisici, universiteite en regeringsliggame op verskillende plekke. Einstein
was ’n verpersoonliking van suiwer intellek, die verbete
kampvegter vir menseregte, die peuterende professor met die
Duitse aksent, ’n komiese cliché in duisend rolprente—geen wonder hy word as een van die heel
groot geeste van die twintigste eeu beskou nie. Trouens, die
gevierde tydskrif Time het hom met die eeuwisseling selfs tot dié Persoon van
die Eeu benoem. Want
Einstein het nie maar net die wêreld aanvaar soos hy is
nie, hy het dieper gedink oor die sin van alle dinge. As
die groot genie onder die geniale denkers van sy tyd het hy—bloot deur daaraan te dink—ontdek dat ons wonderbaarlike
geskape heelal glad nie is soos dit lyk nie. Terselfdertyd
het Einstein met ’n eenvoudige, ongekunstelde
hartstog geglo dat mense wat anders is met menswaardigheid
behandel moes word. Dit was moontlik omdat hy self as kind
soveel van ander kinders verskil het en daar so teen hom
gediskrimineer is. “Ons
moet nie net verskille tussen individue en tussen groepe verdra
nie,” het hy op ’n keer geskryf, “maar ons behoort dit
inderdaad te verwelkom en hulle as ’n verryking van ons te
bestaan te beskou. Sonder verdraagsaamheid in hierdie breedste
sin, kan daar geen kwessie van ware moraliteit wees nie.” Einstein
was ’n baanbreker op sy eie terrein wat die
filosofie en wetenskap op ’n verstommend wonderbaarlike manier
met mekaar probeer versoen het. Maar boonop was hy iemand
wat die sinloosheid van geweld besef het. Dit iets wat ons
vandag nog tot diepe nadenke kan stem in ons gewelddadige
land met sy baie hoë misdaadsyfer.... ALBERT
EINSTEIN (gebore op 14 Maart 1879 te Ulm, Württemberg,
Duitsland, en oorlede op
18 April 1955 in Princeton, New Jersey, in die VSA) sal
natuurlik allereers onthou word as die vader van die sogenaamde
Relatiwiteitsteorie, waaroor later in hierdie artikel meer
vertel word. Die
Duitser van Joodse afkoms wat na Amerika uitgewyk en Newton se
teorie van swaartekrag op sy kop omgekeer het, is op verskeie
manier vir sy bydraes tot die wetenskap vereer. ’n Eenheid in
die fotochemie, die einstein, is na hom genoem, asook die
chemiese element einsteinium en die asteroïde 2001 Einstein. En
tog het alles vir hom so nederig begin.
Hy
was die seun van ’n taamlik onsuksesvolle sakeman wat van Ulm
na München verhuis het, waar
die jong Albert aanvanklik een van die swakste leerlinge in die
klas was. Toe die gesin daarna weer na Milaan in Italië versit,
was pappa Einstein reeds so diep in die geldelike verknorsing
dat hy nie meer kon betaal om sy seun op skool te hou nie. Gelukkig
vir Albert het van die familielede en vriende hom te hulp gekom.
Hulle het hom in staat gestel om aan die Federale Instituut vir
Tegnologie in Zürich, Switserland, te gaan studeer. In
Zürich het Albert onder leiding van die geniale wiskundige
Minkofski tot ’n briljante student in die wiskunde ontwikkel.
In 1900 het hy sy graad met die hoogste onderskeiding behaal en
daarna gaan onderwys gee. Twee jaar later het hy egter die
onderwys laat vaar en ’n pos in die Switserse patentekantoor
in Bern aanvaar. Einstein
het
sy werk, die ondersoek van patente, uiters vervelend en ver
benede sy vermoëns gevind, maar dié werk het hom met genoeg
vrye tyd gelaat sodat hy sy aandag aan belangriker probleme kon
bestee. In die loop van sy verblyf in Bern het hy dan ook
belangrike wetenskaplike verhandelinge geskryf. Die
Spesiale Relatiwiteitsteorie
DIE
bekendste van Einstein se vroeë werke is in 1905 in die Annalen
der Physik onder die opskrif “Die
elektro-dinamika van bewegende liggame”
gepubliseer. In hierdie verhandeling het Einstein sy
Spesiale Relatiwiteitsteorie in besonderhede uitgewerk. Hierdie
wiskundige werk het tot die gevolgtrekking gelei dat nóg lengte
nóg massa nóg tyd absoluut is. Waarop dit neerkom, is dat die
grootte van hierdie hoeveelhede relatief is en van die posisie
en die bewegingsnelheid van die waarnemer afhang. Die snelheid
van lig is egter ’n uitsondering: lig se snelheid is altyd
dieselfde ongeag wat die bewegingsnelheid van die waarnemer is. Kort
ná die publikasie van hierdie verhandeling is ’n doktorsgraad
in die filosofie aan Einstein toegeken, en in 1908 is hy as
dosent aan die Universiteit van Bern aangestel. ’n Rukkie
later is hy tot professor in Zürich bevorder, en in 1911 het hy
hoogleraar aan die Universiteit van Praag geword. Verdere
eerbetoon het die groot wetenskaplike te beurt geval toe hy in
1913 tot lid van die Pruisiese Akademie vir Wetenskap gekies en
as hoogleraar in fisika aan die Universiteit van Berlyn
aangestel is. Die
Algemene Relatiwiteitsteorie
EINSTEIN
se tweede groot werk, Die Grondslag van die Algemene
Relatiwiteitsteorie, is in 1916 gepubliseer. In hierdie werk
het hy sy idee van die Spesiale Relatiwiteitsteorie uitgebrei
tot situasies waarin liggame nie slegs relatief tot mekaar
beweeg nie, maar ook versnel as sou hulle in ’n gravitasieveld
wees. Die
korrektheid van hierdie teorie kon met behulp van verskeie
natuurverskynsels getoets word, en in elke geval het die
eksperimentele resultate Einstein se voorspellings bewys. In
1921 het Einstein op grond van hierdie twee werke die Nobelprys
vir Fisika ontvang. Einstein
in Amerika
IN
1921 het Einstein Amerika vir die eerste keer besoek. Sy besoek
daar het met groot feestelikhede gepaard gegaan, wat veral verbasend
was as ’n mens in gedagte hou dat hy van ’n land gekom het
wat kort tevore in die Eerste Wêreldoorlog nog teen Amerika
geveg het en dat waarskynlik slegs een mens in ’n duisend van
dié wat hom toegejuig het, enigsins iets van sy werk kon
verstaan. Met
Einstein se tweede besoek aan Amerika in 1933 het Adolf Hitler
in Duitsland juis aan die bewind gekom. Vanweë sy Joodse afkoms
het Einstein besluit om liewer nie na Berlyn terug te keer nie,
en hy het na België gegaan, waar hy ’n tyd lank as gas van
koning Albert vertoef het. Verskeie
pogings is aangewend om ’n geskikte pos vir die beroemde
wetenskaplike in Frankryk te vind, maar dit was tevergeefs.
Daarom het Einstein reeds in 1933 na Amerika teruggekeer, waar
hy aan die Instituut vir Gevorderde Studie in Princeton, New
Jersey, aangestel is. In
sy nuwe pos het Einstein die geleentheid gehad om onderrig te
gee sowel as om navorsing te doen. Hy het lesings aan voor- en
nagraadse studente gegee, en terselfdertyd aan sy
Eenheidsveldteorie gewerk. Hy het gehoop om met hierdie werk
’n allesomvattende wiskundige teorie te verskaf vir die
begrippe swaartekrag en elektromagnetisme. In
die loop van sy verblyf in Amerika het Einstein by die politiek
betrokke geraak. Hierdie groot geleerde, wat ’n pasifis in
murg en been was, was uiters bekommerd dat sy wiskundige teorieë
die wetenskaplikes in Duitsland in staat sou stel om ’n
atoombom te vervaardig en sodoende die Nasionaal-Sosialiste die
regeerders van die wêreld te maak. Dit was hierdie gevaar wat
hom op 2 Augustus 1939 sy beroemde brief aan Amerika se pres.
Roosevelt laat skryf het waarin hy die moontlikheid van die
vervaardiging van ’n atoombom uiteengesit het. Ná
die oorlog het Einstein Brittanje en Amerika aangemoedig om hul
atoomgeheime met Rusland te deel, met die gevolg dat hy deur
baie mense as ’n instrument van die Kommunisme beskou is. Sy
laaste jare het hy in ’n eenvoudige huis in Princeton
deurgebring. Hy is op 18 April 1955 oorlede. Sêgoed
van Einstein
·
• Toe
aan hom gevra is om in ’n paar woorde die wese van sy
relatiwiteitsteorie uiteen te sit sodat almal dit kan verstaan,
het Einstein só geantwoord: As
u die antwoord nie te ernstig sal opneem nie en dit as ’n
soort grap beskou, kan ek dit as volg verduidelik: vroeër is
geglo dat as alle materiële dinge uit die heelal moet verdwyn,
slegs nog tyd en ruimte sou oorbly. Volgens die
Relatiwiteitsteorie verdwyn tyd en ruimte saam met hierdie
dinge. ·
• Daar
bestaan ’n hartstog om dinge te verstaan, net soos daar ’n
hartstog vir musiek bestaan. Hierdie hartstog kom meer algemeen
by kinders voor, en die mens verloor dit gewoonlik namate hy
ouer word. Sonder hierdie hartstog kan daar geen wiskunde of
wetenskap wees nie. Die hartstog in my het nooit sy vonkeling
verloor nie. ·
• Besorgdheid
vir die mens en sy lot behoort altyd die belangrikste oorweging
by alle tegniese prestasies te wees. Moet dit nooit vergeet te
midde van al jou diagramme en vergelykings nie. ·
• Die
ewig onverstaanbare in die natuur is dat ’n mens dit wel kan
verstaan. ·
• Die
lewe is altyd ’n wordingsproses, nooit ’n “is”-toestand
nie. ·
• Einstein
oor sy veragting van oorlog: Iedereen wat genot daaruit put om
onder luide geskal van marsmusiek in aaneengeslote geledere te
marsjeer, is vir my ’n voorwerp van veragting. Sy verstand het
hy bloot per toeval bekom, aangesien sy rugrnurg heeltemal
voldoende sou gewees het. Hierdie vlek op die beskawing moet so
spoedig moontlik onderdruk word. Heldemoed op bevel—sinnelose
geweld en patetiese vaderlandsliefde—met watter vurige haat
verafsku ek nie hierdie dinge nie; hoe snood en veragtelik is
oorlog nie. Ek sou my eerder in stukke laat opsny voordat ek aan
sulke verwerplike bedrywighede deelneem. ·
• Na
sy vrou Mileva, gebore Maric, ’n Serwiese klasmaat met wie hy
op 6 Januarie 1903 getrou het, het Einstein liefderyk verwys as “
’n skepsel wat my gelyke is en wat so sterk
en onafhanklik as ek is”. Hoofbron vir teks vanaf Spesiale Relatiwiteitsteorie tot die einde: Kennis-ensiklopedie, met dank |