Opmerking:
Hoewel dit eentyd algemene praktyk was om die name van die Britse
koninklikes van ouds in Afrikaanse geskrifte te verdiets (byvoorbeeld
Hendrik vir Henry, Maria vir Mary, Eduard vir Edward en Elisabet vir
Elizabeth) word dit nie hier gedoen nie. Baie mense sal saamstem dat dit
eintlik onsinnig is om, sê maar, vandag se Britse prinse en prinsesse
Charles en Anne te noem, maar na hul naamgenoot-voorsate as Karel en Anna
te verwys!
IE
oggend van Sondag, 15 Januarie 1559, breek koud en sneeuwit aan in Londen.
Maar vandag gaan Engeland een van die hartlikste geleenthede in sy hele
geskiedenis beleef—die kroning van koningin Elizabeth I in die
Westminster-abdy.
Dis
amper soos ’n sprokie. ’n Menigte naaldwerksters, vragryers,
tuiemakers en skrynwerkers was weke lank met die voorbereidings besig.
Sowat 630 m blou tapytstof is aangekoop vir die optog deur die abdy, en
die kostuums vir die koningin se personeel kos byna tienduisend pond.
Die
kroningsoptog is gister, Saterdag die veertiende, gehou. Elizabeth het in
’n goue draagstoel gesit wat deur twee muile, ook in goud gedrapeer,
gedra is. Die optog het van die Londense Tower (ja, dis tog die korrekte
vertaling van die Tower of London) na Westminster beweeg.
Op
haar kop was ’n prinseskroon. Haar rok was so styf van die goue
versiersels dat dit glo soos ’n harnas uitgestaan het. Sy is gevolg deur
’n kavalkade van sowat duisend ruiters, en aan weerskante van haar was
talle opgesmukte lakeie.
Langs
die strate van Londen het die juigende skares hul vorstin met goeie wense,
gebede en tere
woorde oorlaai en tekens van toegeneentheid met hul hande gemaak.
Trompette is geblaas en mense het met wyn die heildronk op hul koningin se
gesondheid gedrink.
Elizabeth
het na elkeen wat met haar gepraat het, geluister en hom geantwoord... wys
genoeg om die gewone mense se steun te win.
En
nou, vandag, word sy met glans en glorie in die abdy gekroon. Toe sy aan
haar volk voorgestel word, bulder die skares hul goedkeuring, en orrels,
trompette, tromme, fluite en klokke gaan so luid te kere dat dit, volgens
een skrywer van hierdie tyd, klink asof die wêreld vergaan. Hierna gaan
die optog na die Paleis van Westminster vir ’n lang feesmaal.
Só
begin die lang en emosionele verhouding tussen Elizabeth I en die Engelse
volk. Maar die lewe was nie altyd so voorspoedig vir Elizabeth nie. Haar
jeugjare is deur die een tragiese gebeurtenis ná die ander gekenmerk.
Jeugjare
ELIZABETH
is op 7 September 1533 in die Greenwich-paleis gebore. Sy was die dogter van
koning Henry VIII van
Engeland. Haar ma, Anne Boleyn, was Henry se tweede vrou.
Hy
was meer as twintig jaar getroud met Catherine van Aragon. Dié het slegs
vir hom ’n dogter, Mary, geskenk. Henry wou bitter graag ’n seun hê, en
toe Catherine se vrugbare jare byna verby was, het Henry van die
Rooms-Katolieke Kerk weggebreek, van haar geskei en met Anne Boleyn getrou.
Toe
Anne swanger word, het dokters en astroloë Henry verseker dat sy ongebore
kind ’n seun is. Hy was verbysterd toe Elizabeth gebore is en het geweier
om haar doop by te woon.
Die
klein prinsessie is aan een van die bediendes toegewys en in ’n huis op
die platteland grootgemaak waar sy min van haar ouers gesien het. Anne het
wel kort daarna ’n seun verwag, maar daar was ’n miskraam en haar man
het haar verwerp.
Toe
Elizabeth omtrent twee en ’n halwe jaar oud was, is Anne op bevel van
Henry in die Londense Tower onthoof—kwansuis weens owerspel en
hoogverraad.
Net
die volgende dag is Henry met sy derde vrou, Jane Seymour, getroud.
Elizabeth is tot ’n buite-egtelike kind verklaar, die titel van prinses
ontneem, baie van haar bediendes is afgedank en haar toelaag is verminder.
Al was sy so jonk sou sy opgemerk het: "How haps it? Yesterday my Lady
Princess, today but my Lady Elizabeth?"
Jane
het op 12 Oktober 1537 die lewe aan ’n seun, Edward, geskenk en is kort
daarna oorlede. Die twee moederlose kinders het saam grootgeword en hegte
vriende geword. Hulle was albei hoogs intelligent en het uitstekende
onderrig ontvang.
Toe
hy maar net sewe was, het Edward hom met die skryf van Latynse gedigte
onderskei. Elizabeth was self ’n knap Latyn-student en het Italiaans vlot
gepraat. Sy het moderne en antieke tale bestudeer, asook godsdiens,
geskiedenis, aardrykskunde, wiskunde, wetenskap en musiek. Een van haar
onderwysers het opgemerk dat sy die gawes van "skoonheid, statuur,
verstandigheid en arbeidsaamheid" gehad het.
Die
hoogadellike jong meisie het ook van oefeninge gehou en was selde
siek. Haar halfbroer, daarenteen, was ’n swak en olike kind.
REGS:
Die dertienjarige Elizabeth in 1546 (die jaar voor haar pa se dood), volgens
detail van ’n skildery wat vermoedelik deur Levina Teerlinc gemaak is.
Intussen
het Henry nog drie keer getrou,
maar nie weer pa geword nie. Hy is in Januarie 1547 oorlede toe Elizabeth
maar net dertien was. Hoewel sy en Edward hul pa net ’n paar keer gesien
het, was hy steeds vir hulle die koning. Toe hulle hoor dat hulle wees is,
het hulle aan mekaar vasgeklou en gehuil.
Henry
se testament het bepaal dat Edward die troon moes bestyg. Mary, en dan
Elizabeth, was die volgende op die opvolgingslys. Die seun is tot koning
Edward VI gekroon
en onder die voogdyskap van Edward Seymour, graaf van Hertford, geplaas.
Elizabeth is aan Henry se
laaste
vrou, Catherine Parr, se sorg toevertrou.
REGS:
Die jong koning Edward VI, Elizabeth se halfbroer.
Dit
was geen maklike tyd vir die twee kinders nie. Verskeie mense het Edward
probeer onttroon, terwyl Elizabeth by beweerde verraad betrek is (maar tog
van alle blaam onthef is).
Maar
die ondervinding was ook goed vir Elizabeth, want in die ses jaar toe haar
halfbroer regeer het, het sy haar waardevolste les geleer—hoe om in die
gevaarlike politieke wêreld te oorleef.
Mary
die Bloedige
NÁ
Edward se dood in 1553 is Elizabeth se halfsuster Mary tot koningin Mary I
gekroon. Mary se ma, Catherine van Aragon, was ’n vurige Katoliek en het
haar dogter natuurlik ook Rooms grootgemaak. Elizabeth, daarenteen, het
Protestants grootgeword.
REGS:
Mary, Elizabeth se halfsuster, wat tot koningin Mary I gekroon is en die
onvleiende bynaam "Bloody Mary" sou ontvang.
Dit was omdat die
laaste jare van haar heerskappy gekenmerk is deur die wrede vervolging
van Protestante wat geweier het om Katolieke te word.
Baie
mense was bang dat koningin Mary sou probeer om die Engelse staatskerk
Katoliek te maak. Daar was talle komplotte om haar te
onttroon,
en Elizabeth, wat besef het dat sy maklik as ’n verraaier gebrandmerk kon
word, het groot moeite gedoen om Mary ter wille te wees sonder om die steun
van die Protestante te verloor.
Toe
Mary besluit om met Philip II
van
Spanje te trou, was die Engelse met afgryse vervul. Spanje was ’n
Katolieke land. Wat meer sê, hulle was bang dat hulle betrokke sou raak by
daardie land se duur oorloë teen Frankryk en maar net ’n druppel in die
oseaan van die Spaanse dominium sou word.
In
Januarie 1554 het ’n groep rebelle onder sir Thomas Wyatt Londen
binnegemarsjeer met die doel om Mary te onttroon en Elizabeth koningin te
maak. Maar die rebellie is onderdruk en die rebelle teregggestel.
Mary
het vermoed dat Elizabeth by die rebellie betrokke was en haar in die
Londense Tower laat opsluit en ondervra. Geen getuienis kon teen haar gevind
word nie, en sy is na ’n trekkerige herehuis in Woodstock, naby Oxford,
verban. (Ná Mary se troue is sy toegelaat om na die Hatfield-paleis terug
te keer.)
Die
laaste jare van Mary se heerskappy is gekenmerk deur die wrede vervolging
van Protestante wat geweier het om Katolieke te word. Hulle is in die
openbaar op die brandstapel verbrand om as voorbeeld vir ander te dien.
Mense het haar verafsku en haar die bynaam "Bloody Mary" (Mary die
Bloedige) gegee.
Philip
is terug Spanje toe en het sy vrou haar eie gang laat gaan. Soos die Engelse
gevrees het, het hy hulle by die oorlogvoering betrek en veroorsaak dat
hulle Calais, hul enigste oorsese gebied, verloor het.
Mary
het baie siek geword en ’n jaar later, op 17 November 1558, is sy as ’n
bitter, kinderlose vrou oorlede. Die Engelse volk, wat nou al geruime tyd
hul hoop op die 25-jarige Protestantse Elizabeth gevestig het, het haar dieselfde
dag tot koningin verklaar. Twee maande later is sy tot koningin Elizabeth I
gekroon.
Die
Elizabethaanse tyd
DAAR
is min koninginne—of konings—wie se bewind so glorieryk was dat hul naam
aan daardie tydperk gegee is. Koningin Elizabeth I het eers Engeland se
ekonomie herstel en haar land toe deur ’n goue eeu gelei. Die tyd waarin
sy die koningin was, word die Elizabethaanse tyd genoem.
Van
haar ma, Anne, het Elizabeth omsigtigheid, slimmigheid en ’n skerp tong geërf.
Van
haar pa, Henry VIII, het
sy—benewens haar goudrooi hare en haar gelaatskleur—haar energie,
dryfkrag, vertroue, intelligensie, vasbeslotenheid, ydelheid en trots gekry.
Al
hierdie eienskappe sou haar help in die haas onmoontlike taak om koningin te
wees in ’n tyd toe vroue as die mans se mindere beskou is.
Maar
Elizabeth het haar uitmuntend van haar taak gekwyt. Sy het haar land deur
een van sy mees glorieryke tydperke gelei en een van die mees geliefde
koninginne geword wat Engeland ooit gehad het.
Haar
eerste take, toe sy die bewind oorgeneem het, was om ’n sterk en
doeltreffende regering saam te stel, die oorlog teen Frankryk te beëindig,
haar land se sukkelende ekonomie te herstel en die Protestantse Kerk te
bestendig sonder om die Katolieke die harnas in te jaag.
Om
dit te kon regkry het sy bekwame en betroubare raadgewers om haar versamel.
Haar belangrikste keuse was miskien William Cecil, ’n wyse en bedrewe
regsgeleerde en diplomaat, wat sy as Hoofsekretaris en ’n lid van haar
Raad aangestel het. Cecil sou feitlik die hele tyd tydens haar bewind in
haar diens bly.
Op
2 April 1559 is die vredesverdrag van Cateau-Cambresis onderteken, wat die
duur oorlog teen Frankryk beëindig het.
Elizabeth
het daarop haar land se ekonomie begin regruk. Die silwermunte is tot hul
ware metaalwaarde herstel en staatsuitgawes (en daarmee saam inflasie en
skuld) is beteuel. Die vestiging
van
nywerhede en nuwe ambagte is aangeprys sodat daar vir meer mense werk kon
wees.
Elizabeth
het geleidelik die Anglikaanse geloof herstel en die land onder ’n
volksgodsdiens probeer verenig wat selfs vir die ekstremiste aanvaarbaar sou
wees. Sy en William Cecil het versigtig en tegemoetkomend opgetree. Sy het
verskeie wette bekragtig, waaronder een wat die Anglikaanse Kerk as die
staatskerk hervestig het waarvan sy die hoof was—soos haar pa destyds.
Nog
’n wet het ’n nuwe weergawe goedgekeur van koning Edward se Gebedeboek
van 1552, wat ’n paar veranderings ingesluit het om die Katolieke ter
wille te wees.
Mary,
Koningin van die Skotte
DAAR
was sekere mense wat gevoel het dat Henry VIII se
regmatige troonopvolger nie Elizabeth I was nie, maar Mary Stuart, koningin
van Skotland, ’n Katoliek en ’n kleinkind van Henry VII.
REGS:
“Mary, Queen of Scots”—
dit was die naam waaronder Mary Stuart in die geskiedenisboeke verewig sou
word.
Ná
’n skandalige verlede was
Mary
se Skotse onderdane so omgekrap dat sy in 1567 gedwing is om te abdikeer en
na Engeland te vlug. As ’n vurige Katoliek en die volgende erfgenaam van
die Engelse troon, het haar teenwoordigheid mense ongemaklik laat voel.
Mary
was sowat twintig jaar lank onder bewaking in Engeland. Nogtans het sy
Katolieke ondersteuners om haar vergader en die vrede in Engeland bedreig.
Daar was verskeie sameswerings teen Elizabeth, maar hulle het almal
misluk.
Die
Engelse parlement het Mary ’n "monsteragtige en reusagtige
draak" genoem en gevra dat sy tereggestel word. Maar Elizabeth was
huiwerig om te gelas dat ’n eie familielid doodgemaak moes word.
Maar
in 1586 word Mary tog aangekla en verhoor weens haar deelname aan nog ’n
sameswering en aan verraad skuldig bevind. Die Engelse koningin het oplaas
haar niggie se doodvonnis
onderteken.
Mary is ’n week later tereggestel.
Spaanse
armada
 REGS:
Koning Elizabeth I
se sogenaamde Armada-portret. Sy het die dra van
besonder
swierige uitrustings gewild
gemaak soos die een wat sy hier aanhet—met
die groot uitgepofte
moue en nog heelwat, te veel om alles te noem.
"EK
WEET ek het die liggaam van ’n swak en kragtelose vrou, maar ek het die
hart en krop van ’n koning, en ’n koning van Engeland daarby, en dis vir
my veragtelik dat... enige prins van Europa dit kan durf waag om die
grense
van my koninkryk binne te dring."
Spanje
staan op die punt om Engeland binne te val, en koningin Elizabeth I lewer
haar beroemde rede voor haar troepe op die oewers van die Teems. Die groot
hoogtepunt van Elizabeth se heerskappy is ophande.
Sy
is van nature geen oorlogsugtige vrou nie. Meer as enigiets anders begeer sy
dat Engeland " ’n vreedsame, stil, goed geordende staat en
koninkryk" moet wees. Maar in 1588 raak ’n oorlog teen Spanje
onvermydelik. Watter gebeurtenisse het tot die koningin se toespraak gelei?
Die
verhouding tussen Elizabeth I en Philip II
van
Spanje was maar altyd gespanne. Verskeie gebeurtenisse in die middel van die
jare tagtig het sake vererger. In 1585 het Elizabeth troepe en geld gestuur
om die Protestante in Nederland te help in hul stryd om hulle van die
Spaanse heerskappy te bevry.
Sy
het ook avonturiers en ontdekkingsreisigers soos sir Walter Raleigh en sir
Francis Drake aangemoedig om
Spaanse
handelskepe te plunder en die buit na Engeland terug te bring. Wat meer sê,
sy het hulle toegelaat om na die Nuwe Wêreld te vaar om skatte te
soek—’n gebied wat die Spanjaarde as alleenbesit beskou het.
Die
laaste druppel wat die dam laat bars het, was Mary Stuart se teregstelling,
wat Philip se komplot verydel het om Elizabeth se heerskappy te beëindig.
Philip het gereageer
deur ’n groot armada (oorlogsvloot) van Spaanse skepe byeen te bring om
Engeland binne te val.
Een
nag, voordat hulle vertrek het, het Drake die Spaanse hawe Cadiz
binnegesluip en dertig Spaanse skepe vernietig. Die vasberade armada het
nogtans in Julie 1588 uit Lissabon gevaar.
Dit
het uit 130 skepe bestaan, met ’n leër van 20 000 soldate aan boord. Maar
die Engelse matrose was hoogs bedrewe en hul skepe was beter. Boonop het die
Engelse, Protestante sowel as Katolieke, geld byeengebring en manskappe
verskaf om die vyand te beveg.
Die
Spaanse vloot wou van Portugal af in die Engelse Kanaal opvaar, hulle by
troepe onder die hertog van Parma, Philip se regent van Nederland, aansluit
en
dan Engeland binneval. Maar Drake het hierdie planne gedwarsboom toe hy die
Spaanse vloot in die Kanaal op agtervolg en verhinder het dat hulle en die
troepe van Nederland bymekaarkom. Die armada het na Calais ontsnap, maar
hier is hulle deur Engelse vuurskepe aangeval.
Die
Spanjaarde het besluit om terug te keer Spanje toe deur noord van Skotland
te vaar. Die meeste
van die skepe het in verskriklike storms vergaan en baie min soldate het
uiteindelik tuis gekom. Spanje se aansien is ’n lelike knou toegedien.
Die
oorwinning oor die Spanjaarde is oor drie dae gevier en daar was ’n
spesiale dankseggingsdiens in die St. Paulus-katedraal. Die 55-jarige
Elizabeth was meer gelief as ooit.
’n
Nuwe optimisme
ELIZABETH
se heerskappy het ’n goue eeu vir Engeland ingelui. Die 44 jaar van
betreklike vrede wat sy geskep het, en die nuwe
idees
van die Renaissance en Hervorming, het Engelse geleerdes, kunstenaars,
musici en ontdekkers laat gedy.
Die
Engelse letterkunde het hom veral onderskei. Francis Bacon het sy Essays
saamgestel; Christopher Marlowe het The Tragical History of Doctor Faustus
geskryf en opgevoer; Edmund Spencer het sy epiese gedig The Faerie Queen
geskryf; en William Shakespeare het vir van die wêreld se grootste gedigte
en dramas gesorg.
Musiek,
drama, die digkuns en
argitektuur
het floreer en ál meer mense het leer dans, gedigte skryf en
musiekinstrumente bespeel.
Die
ontdekkingstogte van Walter Raleigh en Francis Drake het die Engelse
staatskas verryk en handel en voorspoed vir Engeland gebring.
Maar
namate Elizabeth ouer geword het, het die son oor die goue eeu begin sak.
Daar was opstande in Ierland en die Spanjaarde het gedreig om die bewind
daar oor te neem. Die graaf van Essex, ’n aantreklike jong man wat sy
besig was om as haar nuwe Hoofsekeretaris op te lei, het teen Elizabeth
saamgesweer (en misluk). Daar was probleme in die parlement oor die heerser
se monopolie op internasionale handel.
Mettertyd
het sy treurig, rusteloos en humeurig geraak en minder in staatsake belang
gestel.
Sy
het deurentyd geweier om haar troonopvolger aan te wys. Die dag voor haar
dood het sy aangedui dat haar familielid koning James VI
van
Skotland, die Protestantse seun van Mary, Koningin van die Skotte, die
volgende koning moes wees.
Vroeg
die volgende môre, op 23 Maart 1603, is sy in die ouderdom van 69 jaar in
die Richmond-paleis in haar slaap oorlede. ’n Skrywer van daardie tyd het
haar laaste oomblikke só beskryf:
"Vanoggend
omstreeks drieuur het haar Majesteit ontslaap, sag soos ’n lam, gemaklik
soos ’n ryp appel wat van ’n boom afval... en ek twyfel nie dat sy in
ewige vreugdes verkeer onder die koninklike heiliges in die hemel nie."
|
Die
gebeurtenisryke lewe van
sir Walter Raleigh
Hy het nie vir koningin
Elizabeth I vertel dat hy dat hy met een van haar hofdames getrou het
nie… en toe sy dit uitvind, was sy glo rasend van jaloesie…
REGS: Sir Walter Raleigh.
EN van die kleurrykste
figure van die Elizabethaanse Engeland was sir Walter Raleigh (ca.
1552–1618), ’n edelman, soldaat, skrywer, digter en ontdekkingsreisiger.
Hy was blykbaar ook ’n hartebreker, wat niemand minder nie as koningin
Elizabeth I met sy sjarme oorrompel het. Boonop word hy veral onthou as
die man wat tabak in Engeland gewild gemaak het.
Maar op die ou end is sy
kop met ’n byl afgekap.
Raleigh (wie se van ook Rawleigh, Rawley en veral Ralegh
geskrywe is) is in Devon gebore in ’n
gesin van die deftige stand wat goeie verbintenisse gehad het. Hy was ’n
tyd lank ’n student aan die Universiteit van Oxford, het vir die
Hugenote in Frankryk geveg en later in Londen in die regte gestudeer.
Die ontdekkingreisiger sir
Humphrey Gilbert was sy halfbroer. In 1578 het Walter saam met Humphrey
op ’n seilskip koers gekies Amerika toe, waar Walter in die 1580’s
misluk het in sy pogings om ’n kolonie in die teenswoordige Amerikaanse
staat North Carolina tot stand te bring.
Van Raleigh is al dikwels
gesê dat hy aartappels en tabak uit die Amerikas na Brittanje gebring
het, maar hierdie Amerikaanse knolle en blare is in der waarheid reeds deur die
Spanjaarde aan die Engelse bekend gestel. Raleigh het wel gehelp om rook
gewild te maak aan die koninklike hof.
Hy het in 1580 die eerste keer onder
koning Elizabeth se aandag gekom toe hy na Ierland gegaan het om ’n
opstand in Munster te help onderdruk. Spoedig was hy ’n witbroodjie van
haar koninklike majesteit. Nie net is hy is tot ridder geslaan en as
kaptein van die koninklike wag aangestel nie, maar hy het ook ’n
parlementslid geword (in 1584) en uitgebreide landgoedere in Ierland
ontvang.
Maar in 1592 het die wiel gedraai.
Die koningin ontdek dat haar geliefde vertroueling in die geheim met een
van haar hofdames, Elizabeth Throckmorton, getrou het. Ontstoke van
jaloesie laat sy hom en sy vrou in die Londense Tower opsluit. Toe hy
vrygelaat word, probeer Raleigh die koningin se guns herwin deur ’n
ekspedisie te onderneem om die mitiese stad van goud El Dorado iewers in
die teenswoordige Venezuela te gaan vind. Vandag weet ons natuurlik dat
só ’n goudstad nie werklik bestaan nie en waarom Raleigh se ekspedisie
tot mislukking gedoen was.
Elizabeth se opvolger, koning James I van Engeland en VI van
Skotland, het min ooghare vir Raleigh gehad. In 1603 word hy daarvan
beskuldig dat hy teen die koning saamgesweer het en ter dood veroordeel.
Baie mense het egter destyds sowel as daarna gedink dat ’n onnodige en
onregverdige veroordeling was.
Die vonnis word tot lewenslange
tronkstraf versag en die volgende dosyn jare slyt Raleigh in die
Londense Tower. Tog word hy in 1616 vrygelaat om ’n tweede ekspedisie te
lei om El Dorado te probeer vind—wat, nodeloos om te sê, ook misluk. Op die koop
toe val Raleigh tydens die ekspedisie die Spanjaarde aan, hoewel die
koning hom belet het om dit te doen.
Toe Raleigh na Engeland terugkeer,
word die doodsvonnis heropgelê en word hy op 29 Oktober 1618 met ’n byl
onthoof.
Hy het sy straf gelate aanvaar, voor sy
teregstelling teergevoelig aan sy vrou geskryf, en by die voltrekking
van die vonnis die byl ondersoek wat hom sou dood.
Sy opmerking: “Dis skerp medisyne dié,
maar dit is ’n geneesheer vir alle siektes.”
Raleigh se kop is gebalsem en
aan sy vrou oorhandig. Dis
grieselig om daaraan te dink, maar daar word vertel dat sy vrou die
afgekapte kop die oorblywende 29 jaar van haar lewe bewaar het.
|