|
L NIÑO en
La Niña. Elke af en toe lees ons van hulle, maar min mense verstaan
rêrig wat hierdie potensiële deugniete met die aarde se weerpatrone
aanvang. Wat meer sê, selfs wetenskaplikes ken nog nie al die
antwoorde nie. Tog is baie inligting al ingewin oor hierdie
verskynsels wat ook die weer in Suid-Afrika kan beïnvloed en
byvoorbeeld tot droogtes in ons land kan lei.
Die gereelde El Niño/La
Niña-gebeurtenisse is al
beskryf as ’n wipplankryery van warm water wat in die Stille Oseaan
(ook genoem Groot Oseaan) heen en weer tussen die kuste van Suid-Amerika en Indonesië spoel.
Die warm water van El Niño bly in die reël sowat vier jaar lank teen
die Suid-Amerikaanse kus en beweeg dan stadig oor die Stille
Oseaan—terug na Indonesië vir nog vier jaar.
Vissers van Peru in Suid-Amerika het opgemerk dat die koms van die
warm seewater met die Kerstyd saamval en dit El Niño genoem, wat “Die
Babaseun”
beteken, met verwysing na die baba Jesus in die krip in Betlehem. Wanneer die warm water aan die teenoorgestelde kant
naby Indonesië is, verwys wetenskaplikes na die gebeurtenis as La
Niña of “Die Babameisie”. Stadige golfies voer die warm water tydens
die siklus oor die oseaan.
Die verhoging in die temperatuur van die seewater op die bepaalde
plekke het ’n waarneembare uitwerking op klimate oor die wêreld
heen. Só het klimatoloë oor dekades vasgestel dat ernstige El
Niño-toestande sulke dramatiese afwykings van die normale
weerspatrone kan veroorsaak soos droogtes in Afrika, Australië en
Indië en matige winters in Kanada.
Daarbenewens kan ontwrigtings in die visserybedryf plaasvind weens
veranderde patrone in
die seelewe in die Stille Oseaan. Die invloed op die koraalriwwe in die
Groot Oseaan kan ook enorm wees. Voorts kan die warm water
swaar reëns meebring wat die normale atmosferiese toestande
deurmekaar krap. Wat meer sê, die seeoppervlak styg met ’n verstommende sowat
18 cm.

BO:
Vissersbote in die suidoostelike Stille Oseaan. Die koms van El
Niño het ’n baie groot invloed op die visserybedryf aan die
westekant van Suid-Amerika deurdat die warm seewater veranderde patrone in
die seelewe meebring. Die eerste keer dat die benaming “El Niño”
(Die Babaseun) gebruik is om na klimaatsverandering te verwys,
was in 1892, toe ’n sekere kaptein Camilo Carrilo dit genoem het
op ’n aardrykskunde-kongres in Lima, Peru. Hy het vertel dat
Peruaanse seemanne die warm seestroom só noem omdat dit so
opmerklik is rondom die Kerstyd.
Illustrasie deur M. Recabal,
NOAA
Die oorsaak van El Niño en La Niña word steeds nie ten volle begryp nie,
maar ’n belangrike bydraende faktor is die sterkte van die heersende
passaatwinde wat van oos na wes oor die ekwatoriale Stille Oseaan
waai. Tydens sterk El Niño-verskynsels verflou die passaatwinde of
verander hulle van rigting. Die konsentrasie van warm oppervlakwater
in die westelike tropiese Stille Oseaan—water wat warmer as 28°C
is—word ooswaarts gedwing en veroorsaak stortreëns oor Suid-Amerika
aan die oostelike Stille Oseaan. Intussen ondervind Indonesië aan
die westelike Stille Oseaan droogtetoestande.
Min of meer die teenoorgestelde gebeur wanneer La Niña voorkom. Die
suidoostelike pasaatwinde versterk en water wat selfs warmer as
gewoonlik is, word in die westelike Stille Oseaan opgehoop. Dit lei
tot oormatige reën in die weste en droë toestande in die oostelike
Stille Oseaan.
Argeologiese getuienis dui daarop dat El Niños en La Niñas reeds
duisende jare lank op die aarde voorkom, maar presies hoe lank bly ’n ope
vraag. Dit is egter slegs sedert die middel van die 1970’s dat daar
kennelike internasionale erkenning is van die wydverspreide invloede
van hierdie verskynsels op die weerspatrone.
Groot wisselings in die atmosferiese druk word daartydens tussen die
Stille Oseaan en die Atlantiese Oseaan ondervind. Terwyl die
veranderinge in die Stille Oseaan met die term “El Niño/La Niña”
aangedui word, staan die veranderinge in die atmosfeer bekend as die
“Suidelike Ossilasie”. Omdat hierdie twee nie geskei kan word nie,
word die term ENSO—vir El Niño Suidelike Ossillasie—dikwels
gebruik. ENSO verwys egter na sowel El Niño as La Niña.
Die woord ossilasie beteken slingering, soos ’n mens dit ook by ’n
pendule sal kry—en raak des te duideliker as ’n mens aan daardie
vergelyking van die wipplankryery dink waarna ons in die begin van
hierdie artikel verwys het.

BO:
Klimaatsveranderinge kan selfs welige woude laat verdor...
Foto: U.S. National Park Service
Klik hier om terug
te keer na die inhoudsblad
|