|
TLIKE duisende jare gelede—met die
uitvinding van die ploeg—is die aarde omgekeer. Dit was ’n
omdolwing van die grond, maar ook ’n omwenteling in die
wêreldgeskiedenis. Die mens se bestaan sou nooit weer dieselfde wees
nie.
Al was die eerste ploeë nog heel primitief, het hierdie prakseersels
wondere met die boere se gesaaides verrig. Die grond is losgemaak en
belug, sodat suurstof en water kon binnekom om deur die plante benut
te word.
Tog roem die mens verniet dat hy die ploeg uitgevind het.
In die negentiende eeu het die Britse natuurkundige Charles Darwin,
wat ’n lewenslange studie van die erdwurm gemaak het, aangetoon dat
hierdie eenvoudige diertjies ’n soortgelyke funksie as die ploeg
verrig. (Ja, dis die einste Darwin van die evolusieteorie wat ook ’n erdwurm-kenner
was.)
REGS:
Hierdie soort erdwurm staan bekend as die “red wiggler”.
Foto deur
Mihai Duguleana,
wat dit tot openbare besit verklaar het
(“released into the public domain”)
Met hul onophoudelike gedolwe maak erdwurms die grond los en belug dit.
Meer nog: hulle voeg plantmateriaal by die grond, óf deur blare
ondergronds te sleep wanneer hulle vreet óf met uitwerpsels in hul
gate of op die grondoppervlak. Só word noodsaaklike chemikalieë weer
in omloop geplaas.
Die natuur het nogmaals die mens voorgespring.
Wat is ’n erdwurm eintlik?
ERDWURM is die algemene naam
vir die grootste lede van Oligochaeta (wat deur verskillende geleerdes
as óf ’n klas óf ’n subklas beskou word) in die phylum Annelida, oftewel
die gesegmenteerde wurms. Tot hierdie phylum behoort die klasse van die borselwurms,
wat hoofsaaklik in die see woon; die bloedsuiers, wat in die see,
vars water en op land voorkom; en die erdwurms, wat meestal
landbewoners is.
Van die sowat 6000 erdwurmspesies kom slegs sowat 120 soorte wyd
verspreid op die aarde voor. Hulle lewe
ondergronds en verkies klam, humusryke grond. En die wurmbevolkings in die grond kan verstommend
hoog wees. Na
raming kan daar tot drie miljoen wurms—of drie ton—in minder
as ’n halwe hektaar woudgrond lewe.
Dit kan piepklein wurmpies van minder as ’n halwe millimeter
lank wees, tot Goliatte van tot drie meter.
In 1937 is ’n reus met ’n lengte van 6,7 m en
’n deursnee van 2 cm hier in ons eie land in die destydse Transvaal gevind—en,
hoewel dit moeilik is om dit te bevestig, bly hierdie bielie bes
moontlik steeds die langste erdwurm op aarde waarvan die lengte
aangeteken is.

BO: Uitwendige kenmerke van
die erdwurm.
ONDER: Dwarssnee deur die liggaamsholte van die erdwurm.

Bou van die erdwurm
EEN van die eerste dinge wat jy by die erdwurm sal opmerk as jy
een van naby bestudeer, is dat sy liggaam in ’n aantal gelyke dele,
of segmente, verdeel is. Die getal segmente verskil van spesie tot
spesie.
Jy sal ook opmerk dat die een kant van die liggaam—die voorkant—by die einde gepunt is. Die einde van die ander helfte—die
agterkant—is gerond.
Die punt aan die voorkant word gevorm deur ’n klein lob wat die
prostomium genoem word, wat die brein bevat en die mond bedek.
Volwasse erdwurms word maklik uitgeken aan die swelling net voor die
middel van die liggaam. Dit word ’n saaltjie of klitellum genoem en
speel ’n belangrike rol in die voortplanting van die wurm (ondertoe word
meer hieroor vertel).
Die hele liggaam word beskerm deur ’n dun kutikel, waaruit daar talle
uiters klein haartjies of borsels (chatae) steek. Dié stel die
wurm in staat om te seil en help ook tydens paring.
Die senustring loop langs die onderkant van die liggaam. Bloed word
gesirkuleer deur vyf sogenaamde harte in die voorkant.
Die erdwurm is ’n regte blindemol! Dit is ’n “mol” omdat dit in die
grond wroet en dit is blind deurdat dit geen oë of voelers het nie.
Sekere selle in die wurm se
vel is wel gevoelig vir die ultravioletstrale van die son. Blootstelling
aan sonlig verlam die wurm en maak dit uiteindelik dood.
Daar is ook klein reseptore wat gevoelig is vir chemikalieë,
aanraking en trillings. Darwin, wat tot sy dood toe die erdwurm
bestudeer het, het die wurms se sensitiwiteit vir vibrasies getoets.
Hy het ’n ry blompotte met erdwurms daarin op sy klavier neergesit.
Wanneer hy sekere lae note gespeel het, het die wurms in hul gate
verdwyn. Ander note het geen uitwerking op hulle gehad nie.
Die erdwurm ervaar sintuiglik sy lewe op ’n manier
wat ek en jy ons glad nie eens kan voorstel nie.
Fynproewers van grond
ERDWURMS neem voedsel op twee verskillende maniere in: hulle vreet
óf blare wat hulle gedeeltelik in hul gate insleep óf, wanneer kos
skaars is soos gedurende droë weer, grawe hulle gaatjies deur die
grond te vreet en groot hoeveelhede daarvan in te sluk. Namate die
grond deur hul liggame beweeg, onttrek hulle sekere voedingstowwe
daaruit.
Party soorte wurms kom na die oppervlak om daar ontslae te raak van
die grond wat hulle gevreet het. Die bekende wurmhopies word op
hierdie manier gevorm. Ander raak ondergronds van die afvalstowwe
ontslae.

BO: Parende erdwurms.
Ter saaklike deel van ’n foto deur
“Jackhynes”,
wat dit tot openbare besit verklaar
het (“released into the public domain”)
Hoe erdwurms aanteel
ERDWURMS is hermafrodities (tweeslagtig), met ander woorde hulle het
sowel manlike as vroulike geslagsorgane. Tog kan ’n erdwurm nie
self die eiers bevrug wat dit voortbring nie en is ’n maat vir aanteling
nodig. Die testis en ’n opening vorm die manlike orgaan, terwyl ovaria,
eierleiers en ’n opening die vroulike orgaan uitmaak. Daarbenewens het
hulle spermasakkies, waarin die sperma van die maat opgevang word..
Ná die paring en ’n ruk nadat elk van die erdwurms weer hul eie gang
gegaan het, ontstaan daar ’n slymband by die saaltjie (kitellum). Die
erdwurm kruip agteruit uit die slymband, wat meebring dat die eiertjies
en die sperma in die slymband beland. Aan die einde van die proses
wanneer die wurm uit die slymband glip, sluit die slymband en vorm dit
’n kokon. Nuwe wurmpies kruip ná enkele weke uit die kokon en ná nog ’n
paar weke kan hulle hulle onderaardse lewe as volgroeide erdwurms
aandurf.

BO: Erdwurmkokonne.
Foto: Clive A. Edwards, The Ohio
State University, Columbus / U.S. Department of Agriculture
Hoe erdwurms beweeg
’N ERDWURM beweeg met golwe van spiersametrekking en
-ontspanning—ál met die lengte van sy liggaam langs—sodat
’n bepaalde
gebied óf gerek en dun óf verkort en verdik is.
Al lyk erdwurms vir ons glad, is daar op die liggaam talle uiters klein haartjies, of chatae, wat die
wurm in staat stel om hom goed aan die grond of die wande van sy gat te
anker.
By
A
op die illustrasie REGS lê die erdwurm uitgestrek. Vir
posisie B
word die kopkant deur die haartjies geanker
terwyl die stertkant ingetrek word. Die erdwurm strek homself
daarna na posisie
C deur in sy geheel vorentoe
te beweeg. Sou dit agtertoe wil beweeg, doen dit
dieselfde bewegings met die haartjies vorentoe gestrek.
Die grond word deur erdwurms binnegedring deurdat hulle hul voorste
punte in enige openinkies tussen gronddele indwing en dit groter
maak. As die grond baie kompak is, vreet die wurms hul pad daardeur.
Die ondergrondse stryd
ANDERS as by insekte is die kutikel van die erdwurm dun en
deurdringbaar. Dit laat suurstof deur vir asemhaling en laat
koolsuurgas vry, maar doen weinig om waterverlies te keer of die
diertjie teen die son te beskerm. Om dié rede moet erdwurms bedags
in klam grond bly. Party prop die openinge na hul gate met gras,
stokkies en klippies toe.
Daar word slegs snags na kos gesoek, wanneer die vogtigheidsgraad
hoër is. Hulle kom selde heeltemal uit hul gate.
Gedurende droogtes onttrek baie soorte hulle tot in die klam
ondergrond. Ander soorte oorleef deur in ’n klein met slym
uitgevoerde kompartementjie onder die aarde op te krul.
Soos met talle ander bewoners van die natuur, hetsy op land, in vars
water of die see, is die ondergrondse bestaan van die erdwurm ’n
voortdurende drama van lewe en dood.
Voëls trek hulle uit hul gate uit met hul lang, dun snawels.
Hengelaars grawe hulle uit om as aas te gebruik. Selfs die boer met
sy ploeg—einste hy wat die erdwurm met sy grondomdolwery kom
naboots het—is ’n geswore vyand.
Die arme, stomme, lae wurm...

BO: Jy sou dit
nie sê nie—of miskien bemerk jy tog ’n vae ooreenkoms—maar
hierdie oranje gesegmenteerde wurm van die see is verwant aan
die erdwurm.
Foto: Charleston Bump Expedition
2003 / NOAA Office of Ocean Exploration / Dr. George Sedberry,
South Carolina DNR, Principal Investigator
|