’n Laslappie van Mieliestronk

FARADAY, MICHAEL:

 “Pa van die kommersieel praktiese opwekking van elektrisiteit

 

Michael FaradayREGS: ’n Bekende afbeelding van Michael Faraday (1791-1867). Die voorwerp in sy hand is nie ’n sigaar, soos stellig dikwels gedink word nie, maar ’n glashouer, soos dié wat hy in sy eksperimente gebruik het.

 

Detail van ’n gravure deur Henry Adlard, gegrond op ’n vorige afbeelding deur Maull & Polyblank, omsteeks 1857. Kopieregvry vanweë verjaring.

 

BAIE dankie, Faraday, kan ’n mens tereg sê—as jy die wêreld om jou met al dié man se nalatenskappe bekyk. Die elektriese motor, die dinamo, elektrisiteit in die huis... dit en nog meer het ons aan Michael Faraday se besonderse genialiteit te danke.

 

Hierdie begaafde Britse fisikus en chemikus het uit die werkersklas gekom en hom as die voorste eksperimentele wetenskaplike van sy tyd gevestig.

 

Michael Faraday is op 22 September 1791 in Newington,  Surrey, naby Londen, gebore. Sy pa, James, was ’n grofsmid. Die gesin was arm, maar baie godvrugtig.

 

Michael het elementêre onderrig ontvang, maar moes op dertien die skool verlaat en uitspring om geld te verdien.

 

Hy het vir ’n plaaslike boekhandelaar koerante afgelewer en is ’n jaar later as vakleerling vir boekhandel en boekbindery in Londen aangestel.

 

In sy vakleerlingtyd het Faraday baie boeke gelees en lesings oor die natuurkunde bygewoon. Hy het toe ook na ’n reeks lesings deur die Engelse skeikundige sir Humphry Davy gaan luister. Hy was so besiel dat hy vir Davy geskryf het dat hy hom graag aan die wetenskap wou toewy.

 

Davy het die 21-jarige Faraday as sy assistent by die Royal Institution in Londen aangestel—en die twee het lewenslange vriende geword.

 

In sy laboratorium by die Royal Institution het Faraday hom met hart en siel aan navorsing gewy. Dit het gelyk of daar geen einde aan al sy proefnemings was nie.

 

Hy het die beginsel van die elektriese motor uitgevind en ’n eenvoudige model van een gebou; hy het verskeie gasse, waaronder chloor, in vloeistowwe omgeskep; hy het met die diffusie van gasse geëksperimenteer; hy het benseen geïsoleer; en hy het nuwe soorte lense uitgevind.

 

Faraday het op 12 June 1821 met Sarah Barnard getrou. Sy was warm en sjarmant en die volmaakte vrou vir hom. Hulle het geen eie kinders gehad nie en hul nefies en niggies met hul toegeneentheid oorlaai. Faraday het dikwels hierdie gretige jong gehoor met wetenskaplike proefnemings vermaak.

 

Faraday word beskryf as "die vader van die kommersieel praktiese opwekking van elektrisiteit"—dog ’n mens kan maar net wonder wat dié man self oor só ’n mondvol sou gesê het. Hoewel hy met sy werk ’n menigte uitvindsels moontlik gemaak het, het hy nie in die kommersiële ontwikkeling van sy bevindings belang gestel nie—selfs nie eens in die geld wat dit vir hom gegenereer het nie.

 

Sy enigste ware belangstelling was om die natuur se verborge wette te ontrafel.

 

In 1823 is Faraday tot lid van die Royal Society verkies, en in 1825 was hy hoof van die laboratorium. In 1833 het hy professor in skeikunde aan die Royal Institution geword. Hy was ’n gewilde en lewendige dosent, en elke Kersfees het hy wetenskaplike lesings vir kinders gehou. Die beroemdste hiervan was "Die Chemiese Geskiedenis van ’n Kers".

 

Maar dit was op die gebiede van elektrisiteit en magnetisme dat Faraday hom uitmuntend onderskei het. Hy het agtergekom dat, wanneer ’n magneet in ’n rol koperdraad beweeg word, ’n elektriese stroom in die draad opgewek word—en só die beginsel van elektromagnetiese induksie ontdek. Vandag word die magdom van elektrisiteit van die wêreld opgewek deur magnete in spoele te laat tol.

 

Kragopwekking met ’n tollende magneet

   
BO: Faraday se grootste ontdekking. Die eenvoudige beginsel van elektromagnetiese induksie, waarvolgens elektrisiteit vandag steeds in ons kragsentrales opgewek word, word deur hierdie tekening uitbeeld. Solank ons ’n magneet in die rondte kan laat draai in die nabyheid van ’n spoeldraad, kan ons net soveel elektrisiteit maak as wat ons wil.

ESKOM

 

Die Amerikaanse fisikus Joseph Henry het weliswaar kort voor Faraday induksie ontdek, dog hy het nie sy bevindings gepubliseer nie. Hoe ook al, hoe totaal anders sou die wêreld nie vandag sonder hierdie epiese ontdekking van kragopwekking gelyk het nie!

 

Faraday se navorsing oor elektrolise het tot sy twee Wette van Elektrolise gelei en die grondslag van baie latere uitvindings gevorm. Belangrike uitvloeisels was die grootskaalse kommersiële aanwending van elektrochemie in die affinering van metale en in die vervaardiging van bytsoda en gasse.

 

FaradayIn 1857 is ’n afvaardiging gestuur om Faraday die voorsitterskap van die Royal Society aan te bied. In die eerste helfte van die negentiende eeu was daar ’n sterk gevoel dat die wetenskap in Engeland op die afdraande was. Faraday het egter gevoel dat hy veels te oud vir die pos was en het die aanbod nie aanvaar nie.

 

Trouens, die man het so min in wêreldlike verering belang gestel dat hy selfs geweier het om tot ridder geslaan te word.

 

Faraday se proewe beslaan ’n ellelange lys. Hy het veertig jaar in die Royal Institution gebly. In 1858 het koningin Victoria, op versoek van Albert, die prinsgemaal, ’n huisie in Hampton Court tot sy beskikking gestel. Hier het hy gewoon tot sy dood op 25 Augustus 1867.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad