|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
FARADAY, MICHAEL: “Pa
van die kommersieel praktiese opwekking van elektrisiteit”
Detail van ’n gravure deur Henry Adlard, gegrond op ’n vorige afbeelding deur Maull & Polyblank, omsteeks 1857. Kopieregvry vanweë verjaring.
BAIE
dankie, Faraday, kan ’n mens tereg sê—as jy die wêreld om jou met al
dié man se nalatenskappe bekyk. Die elektriese motor, die dinamo,
elektrisiteit in die huis... dit en nog meer het ons aan Michael Faraday
se besonderse genialiteit te danke. Hierdie
begaafde Britse fisikus en chemikus het uit die werkersklas gekom en hom
as die voorste eksperimentele wetenskaplike van sy tyd gevestig. Michael
Faraday is op 22 September 1791 in Newington,
Surrey, naby Londen, gebore. Sy pa, James, was ’n grofsmid. Die
gesin was arm, maar baie godvrugtig. Michael
het elementêre onderrig ontvang, maar moes op dertien die skool verlaat
en uitspring om geld te verdien. Hy
het vir ’n plaaslike boekhandelaar koerante afgelewer en is ’n jaar
later as vakleerling vir boekhandel en boekbindery in Londen aangestel. In
sy vakleerlingtyd het Faraday baie boeke gelees en lesings oor die
natuurkunde bygewoon. Hy het toe ook na ’n reeks lesings deur die
Engelse skeikundige sir Humphry Davy gaan
luister. Hy was so besiel dat hy vir Davy geskryf het dat hy hom graag aan
die wetenskap wou toewy. Davy
het die 21-jarige Faraday as sy
assistent by die Royal Institution in Londen aangestel—en die twee het
lewenslange vriende geword. In
sy laboratorium by die Royal Institution het Faraday hom met hart en siel
aan navorsing gewy. Dit het gelyk of daar geen einde aan al sy proefnemings
was nie. Hy
het die beginsel van die elektriese motor uitgevind en ’n eenvoudige
model van een gebou; hy het verskeie gasse, waaronder chloor, in
vloeistowwe omgeskep; hy het met die diffusie van gasse geëksperimenteer;
hy het benseen geïsoleer; en hy het nuwe soorte lense uitgevind. Faraday
het op 12 June 1821 met Sarah Barnard getrou. Sy was warm en sjarmant en
die volmaakte vrou vir hom. Hulle het geen eie kinders gehad nie en hul
nefies en niggies met hul toegeneentheid oorlaai. Faraday het dikwels
hierdie gretige jong gehoor met wetenskaplike proefnemings vermaak. Faraday
word beskryf as "die vader van die kommersieel praktiese opwekking
van elektrisiteit"—dog ’n mens kan
maar net wonder wat dié man self oor só ’n mondvol sou gesê het.
Hoewel hy met sy werk ’n menigte uitvindsels moontlik gemaak het, het hy
nie in die kommersiële ontwikkeling van sy bevindings belang gestel nie—selfs
nie eens in die geld wat dit vir hom gegenereer het nie. Sy
enigste ware belangstelling was om die natuur se verborge wette te
ontrafel. In
1823 is Faraday tot lid van die Royal Society verkies, en in 1825 was hy
hoof van die laboratorium. In 1833 het hy professor in skeikunde aan die
Royal Institution geword. Hy was ’n gewilde en lewendige dosent, en elke
Kersfees het hy wetenskaplike lesings vir kinders gehou. Die beroemdste
hiervan was "Die Chemiese Geskiedenis van ’n Kers". Maar dit was op die gebiede van elektrisiteit en magnetisme dat Faraday hom uitmuntend onderskei het. Hy het agtergekom dat, wanneer ’n magneet in ’n rol koperdraad beweeg word, ’n elektriese stroom in die draad opgewek word—en só die beginsel van elektromagnetiese induksie ontdek. Vandag word die magdom van elektrisiteit van die wêreld opgewek deur magnete in spoele te laat tol.
Die
Amerikaanse fisikus Joseph Henry het weliswaar kort voor Faraday induksie
ontdek, dog hy het nie sy bevindings gepubliseer nie. Hoe ook al, hoe
totaal anders sou die wêreld nie vandag sonder hierdie epiese ontdekking
van kragopwekking gelyk het nie! Faraday
se navorsing oor elektrolise het tot sy twee Wette van Elektrolise gelei
en die grondslag van baie latere uitvindings gevorm. Belangrike
uitvloeisels was die grootskaalse kommersiële aanwending van
elektrochemie in die affinering van metale en in die vervaardiging van
bytsoda en gasse.
Trouens,
die man het so min in wêreldlike verering belang gestel dat hy selfs
geweier het om tot ridder geslaan te word. Faraday
se proewe beslaan ’n ellelange lys. Hy het veertig jaar in die Royal
Institution gebly. In 1858 het koningin Victoria, op versoek van Albert,
die prinsgemaal, ’n huisie in Hampton Court tot sy beskikking gestel.
Hier het hy gewoon tot sy dood op 25 Augustus 1867. |