|
Viets
per fiets
|
||
|
||
| Waar
het dit alles begin—hierdie ewige getrap-trap op ons paaie? Kom saam op ’n leersame (en plek-plek humoristiese) verkenningstog na die
ontwikkelingsjare van die fiets... Hoofbron vir illustrasies: Schwinn Bicycle Co. |
||
|
|
||
|
||
Laat
wiel en val jou disnis!DIE eerste rywiel wat volledig van metaal is, maak in 1870 sy verskyning. Die pedale sit steeds aan die voorwiel. Bande van soliede rubber en die lang speke van die groot voorwiel sorg vir baie gladder ritte as dié wat sy voorganger kon bied. Die voorwiele het ál groter geword namate vervaardigers een ding besef het: hoe groter die wiel is des te verder kon ’n mens vorder met een rotasie van die pedale. Ryers sou ’n wiel koop wat so groot was as wat die lengte van hul bene sou toelaat. Hierdie soort fietse was baie gewild onder vermoënde jong mans van veral die 1880’s—die gemiddelde werker moes ses maande se lone daarvoor opdok. Maar omdat die fietsryer so hoog gesit het, kon hy ook baie hard val—dikwels op sy kop—wanneer ’n slaggat, klip of hond hom in sy vaart gestuit het... |
||
Driewiel
vir ’n dame
TERWYL die manne hul lewens op die hoë rywiele gewaag het, het die vroue die stemmiger driewiel vir volwassenes in die parke beproef. Hierdie driewiele was darem ook deftiger rygoed vir eerbiedwaardige menere soos dokters en geestelikes. |
||
|
|
||
Kettingreaksie...DIE verbetering van metale lei tot ’n volgende vernuwing in die fiets: ’n sterk ketting wat ’n mens kon trap dat die speke sing! Daar word ook teruggekeer tot twee wiele van dieselfde grootte. Hierdie fietse het egter steeds harde rubberbande gehad en, omdat daar nie meer lang speke was wat die skok kon absorbeer nie, was ritte baie ongemakliker as met die hoëwiel-ontwerpe. |
||
Opgepompte
gerief met spoedbeheer en handremmeDIE idee om lugbande van rubber te maak, is verwerklik deur ’n Skotse veearts, John Boyd Dunlop. (Klik hier om daaroor te lees in ons artikel oor rubber.) Dunlop het, só word vertel, in Noord-Ierland gewerk toe sy negejarige seun hom een môre in 1888 van sy probleem vertel het. Die seun, wat met sy driewiel deur die hobbelrige klipstrate van Belfast gery het, het gekla dat die geskud sy sitvlak seermaak. Dunlop het egter so ietwat oor sy seun se verknorsing nagedink, ’n stuk tuinslang in drie dele opgesny, die dele met water gevul, die ente toegeprop en hulle aan die driewiel se wiele geheg. Die seun kon nou heelwat geriefliker ry. ’n Besoekende vriend het aan Dunlop voorgestel dat hy lug pleks van water gebruik—en dié idee het hom so geslaag bewys dat hy dit in dieselfde jaar in Brittanje gepatenteer het. Die gerief en veiligheid wat die lugband gebied het, het die fiets geweldig populêr gemaak. En toe dinge soos spoedbeheermeganismes en handbeheerde remme ook nog bykom, was hierdie ryding se gewildheid verseël. |
||
Windmaker-weeldeDIE klassieke fietsmodelle wat pas ná die Eerste Wêreldoorlog hul verskyning gemaak het, het ontwikkel tot die glansrykste, windmakerigste modelle nog—dié van die jare vyftig. Ontwerpe het selfs sekere elemente van stralers en vuurpyle bevat! Teen die jare sestig het fietse darem slanker en eenvoudiger geword, met 3-spoed-fietse in die 1960’s en 1970’s. In die 1970’s het 10-spoed-modelle hul beslag gekry. Later het ook die bergfiets en nog wat gevolg. Lank lewe die fiets! |
||
|
TOE die Afrikaanse taal gestandaardiseer is, was daar baie woorde wat nie werklik ’n deel van Afrikaanssprekendes se woordeskat was nie, enersyds vanweë die landelike bestaan van die meeste van die taalgebruikers en andersyds omdat dit maklik was om sommer die Engelse woorde vir nuwe dinge en begrippe te gebruik. Taalpuriste het egter gevoel dat ons eerder by die Nederlands behoort te gaan leen omdat Afrikaans en moderne Nederlands immers uit dieselfde stam kom, te wete sewentiende-eeuse Nederlands. Só het dit dan ook gebeur dat ons die woord fiets van die Nederlanders oorgeneem het (pleks van bicycle, wat selfs tot baie-sukkel vervorm is!). Die Nederlanders het maar eers omstreeks 1870 die woord fiets vir die eerste keer op skrif gestel. Nederlandse taalkundiges het ook nie geweet waar die mense aan die woord gekom het nie en allerhande teorieë is oor die jare heen bedink om dit te probeer verklaar.
Die raaisel is blykbaar maar nou eers opgelos deur twee
taalprofessore van die Gentse universiteit in die Vlaamse deel
van België, ene Gunnar de Boel en Luc de Grauwe.
Volgens hulle het die Nederlanders dit oorgeneem van sprekers in sekere Duitse gebiede, waar die nuwe trapding destyds ’n vice-pferd genoem is, letterlik ’n “vervangingsperd” of dan wel “tweedeklas-perd“ (vergelyk dit met ons ander woord ysterperd). Die vice-pferd is later afgekort tot Viez (die Duitsers spreek z uit as ts). Die geleerdes het hul bevinding gedoen nadat prof. De Boel agtergekom het dat Duitsers in die suidelike Rynland sider oftewel appelwyn afkeurend as “vice-wijn¨ afmaak, dit wil sê plaasvervanger-wyn. Hulle noem dit ook Viez, en dié word eweneens in bepaalde dele van Duitsland soos fiets uitgespreek. Nou ja, dalk hou fiets dan ook verband met die woord vies wat ons gebruik om die een of ander ding te beskryf wat ons naar of kwaad maak! Bron: deredactie.be, 21 Februarie 2012. |
||