|
Fossiele Hoe die oerverlede in klip vasgevang is
In die jong dae van die aarde vrek ’n groot, logge dier in ’n moeras. Sy karkas gaan lê op die bodem waar dit onder modder en ander afsettings begrawe word. Dan gaan die eeue verby totdat jy eendag sy oorblysels in ’n spoelsloot vind—en byna dadelik beroemd word! Maar watter fantastiese prosesse was aan die werk wat hierdie dier se liggaam so wonderbaarlik behoue laat bly het?
• Lees ook: Dopgehou uit die ruimte — ’n dinosourus!
Teks
uit Huisgenoot se Ons Wonderlike Wêreld
JY
loop in die veld, sê maar by ’n Karoo-koppie, en in ’n lap verspoelde
skalie trek jou aandag. In die bros gesteentes lê die beendere van ’n
lank uitgestorwe oerdier vir jou en gryns. As
jy niks van die waarde van fossiele geweet het nie, kon jy net sowel op
die geraamte van ’n onlangs gevrekte merinoskaap afgekom het. Maar
danksy jou kennis van die paleontologie weet jy dat die naaste museum heel
waarskynlik baie in jou vonds belang sal stel.
Maar
as jy nie in die studie van uitgestorwe organismes geïnteresseerd was
nie, sou al hierdie inligting moontlik met verloop van tyd weer onder die
Karoo-stof begrawe gewees het. Genoeg rede vir almal om ten minste ’n
basiese kennis van die paleontologie te verwerf... ’n Fossiel is enige oorblyfsel, teken of afdruk wat op natuurlike maniere behoue gebly het van ’n plant of dier uit die geologiese verlede. Die kenners van voorwêreldlike lewensvorme wat sulke fossiele bestudeer, word paleontoloë genoem. Daar
is baie soorte fossiele. Af en toe word ’n volledig gepreserveerde dier
of sy geraamte gevind, maar meer dikwels is dit ’n enkele been hier en
’n tand of skulp daar. Plant- of dierfossiele kom baiemaal as impressies
in steenkool of gesteentes voor. Hierdie afdrukke kan óf van ’n
volledige plant of dier wees óf net ’n deel daarvan, soos ’n poot of
’n blaar. Eiers,
versteende voorwerpe en gate wat deur diere gegrawe is, is nog vorms van
fossiele. Fossiele word meestal in die rotsagtige gedeeltes van die aardkors gevind. Hulle word ook in olie-deurdrenkte grond, in permanent bevrore stowwe en in grotte aangetref. Fossiele kom algemeen voor in sandsteen, skalie, kalkklip en ander afsettingsgesteentes. Afsettingsgesteentes word gevorm deur afsetting of sedimentasie—die afsakking van fyn rotsdeeltjies en organiese stowwe in water.
Foto: Mammoth Cave region / U.S. National Park Service Fossiele
is seldsaam in stollingsgesteentes, wat deur hitte gevorm is, en word
betreklik min gevind in metamorfe gesteentes, wat weens hitte en druk
veranderings ondergaan het. Formasies
van afsettingsgesteentes word op baie plekke op aarde gevind. In ons Karoo
is daar so ’n rykdom van fossiele in die skalie dat dit ’n mens
verbyster. Die
Karoo was in die jong dae van die aarde ’n vlakwater-meer en ’n
oneindige hoeveelheid oorblyfsels van die lewe daarin en daar rondom wag
stellig steeds om gevind te word. Maar hoekom is die bestudering van fossiele belangrik? Allereers verbreed dit die mens se kennis van ons planeet. Hulle bied inligting oor lewensvorme soos, sê, antieke seewiere en dinosourusse, wat lank, lank gelede reeds uitgesterf het. Hulle vertel ons ook van klimaatstoestande in verskillende stadiums van die aarde se bestaan, sodat ons kan sien hoe dinge verander het en dalk nog in die toekoms kan verander.
Foto: The United States Botanic Garden Maar fossiele is ook van industriële belang. Steenkool bestaan meestal uit die oorblyfsels van verrotte plantvorms, terwyl kryt uit die skulpe van piepklein waterdiertjies gevorm is. Die meeste soorte kalkklip kom van die oorblyfsels van seelelies en ander see-organismes. ’n
Krytagtige stof wat diatomiese aarde genoem en in filters, as ’n
skuurmiddel en as ’n isolerende stof gebruik word, is van die skulpies
van eensellige diatome
afkomstig. Sekere fossiele is ook nuttig in petroleumontginning deurdat hulle op dieselfde ondergrondse vlak as petroleum voorkom. Hul teenwoordigheid dui daarop dat petroleum moontlik daar naby gevind sal word.
• Foto links bo: NOAA • Foto regs bo: U.S. National Park Service
•
GEWONE BEGRAWING. Plante en diere wat in die water van
riviere, mere en oseane gelewe het, het dikwels, nadat hulle gevrek het,
na die bodem afgesak waar hulle onder modder en ander afsettings begrawe
is. Deurdat
dié afsettings ná verloop van eeue der eeue in gesteentes omgesit het,
het die harde oorblyfsels van die organismes in die afsettingsgesteentes
bewaar gebly. In
uitsonderlike gevalle het die sedimente selfs die sagte dele teen
verrotting beskerm, sodat hele karkasse tot duisende jare lank
gepreserveer is. Dit kon gebeur het waar die organisme byvoorbeeld in ’n
turfmoeras, ’n soutafsetting, natuurlike teer, natuurlike paraffien of
blywende sneeu begrawe is. Volmaak bewaarde karkasse, met die vleis
daaraan, van mammoete (’n soort olifant) uit die Ystyd is byvoorbeeld in
Noord-Siberië gevind.
•
KARBONISERING. Die belangrikste fossiele op ons planeet is,
sonder vrees vir teëspraak, steenkool. Steenkool is in werklikheid die
gefossileerde oorblyfsels van reuse-moeraswoude wat op groot dele van die
aarde, ook in Suid-Afrika, voorgekom het. Hierdie woude is mettertyd deur
alluviale afsettings bedek. Die plante het deur bakteriële werkinge
gedisintegreer en feitlik al hul bestanddele, buiten die koolstof, het
verlore gegaan. •
VERSTENING. Verstening is die "klassieke" vorm van
fossielvorming. Versteende, of klipagtige, fossiele is gevorm deurdat
water, wat minerale bevat het, in elke porie van die verrottende organisme
ingesypel het. ’n
Versteende fossiel het dikwels die buitevorm en soms selfs die
binnestruktuur van die organisme. Die oorspronklike kleure van die plant
of dier het egter in alle gevalle verlore gegaan. Die vervangingsmineraal is gewoonlik kalsiet of ’n soort kwarts. Versteende hout is die mees algemene voorbeeld van verstening.
Foto: U.S. Geological Survey •
BEVRIESING. Diep lae van permanent bevrore ys en modder het
soms duisende jare lank as ’n natuurlike yskas gedien, soos vir die
mammoete waarvan hierbo vertel is. •
DROGING. Diere se beendere of eiers het al baie lank geboue
gebly omdat die lug of omringende soliede materiaal kurkdroog was. Sulke
preseverings het soms in onversteurde spelonke of in diep sandlae
plaasgevind. •
IMPRESSIES. ’n Holte word gevorm wanneer ’n plant of
dier begrawe word in sand, vulkaan-as of sediment wat later verhard. Nadat
die organisme vergaan het, bly ’n hol afdruk van sy vorm in die
omringende stof agter. ’n Gietsel bestaan uit fyn sand of klei wat
agterna die holte opgevul het om ’n lewensgroot model van die lank
vergane organisme te vorm. • SPORE EN GATE. Voetspore wat diere in sagte grond gelaat het, het later verhard. Die gevolg is dat paleontoloë vandag selfs modelle van uitgestorwe diere kan probeer bou deur slegs sulke spore te bestudeer. Sekere diere het ook gate in grond of modder agtergelaat, wat iets van hul destydse leefwyse vertel.
Die
werk van paleontoloë
|