|
Benjamin Franklin Die man wat “die vuur van die lug gevang en dit na die grond gebring het” (of het hy rêrig?)
BO: Benjamin Franklin, volgens ’n portret deur Joseph Duplessis.
|
|
Y LOOP oor ’n mat en raak aan
’n deurknop. ’n Vonk spring van jou vinger af net voordat jy aan die
deurknop vat. Dit staan bekend as stastiese elektrisiteit. Die
wonderlikste van alles is dat die weerligstrale in ’n donderstorm
ook sulke vonke is—net op ’n ontsaglik groter skaal. Benjamin
Franklin het dit besef. Hy moes dit nog net bewys.
Maar hierdie geniale man was ’n “veelweter” in die klassieke sin van die woord. Met ander woorde hy was iemand wat van baie dinge geweet het... maar hy het ook baie dinge gedoen. Franklin was in sy tyd nie net ’n belangrike staatsman en diplomaat en een van die grondleggers van die Verenigde State van Amerika nie, maar het boonop sy stempel as ’n vername wetenskaplike en uitvinder afgedruk. Daarbenewens was hy ’n gevierde drukker, skrywer en satirikus.
Onder sy vele uitvindings is ’n weerligafleier, die bifokale bril, die buigbare urinêre kateter en, volgens minstens een bron, selfs paddavoete vir swemmers. Hy het nooit enige van sy skeppings gepatenteer nie en in sy outobiografie min of meer geskryf dat ons moet bly wees vir ’n geleentheid om andere te dien, aangesien ons op ons beurt weer die uitvindings van ander mense baie nuttig vind.
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
BENJAMIN FRANKLIN (1706–1790), wat in Boston, Massachusetts, gebore is, was die seun van ’n seep- en kersemaker, Josiah Franklin, wie se tweede vrou, Abiah Folger, Benjamin se ma was. Pa Josiah het altesame sewentien kinders gehad, en Benjamin was sy vyftiende kind en jongste seun.
Met weinig skoling het Benjamin sy loopbaan as boekdrukker begin en sy vak by sy halfbroer in Boston geleer. Hy was baie arm, maar die jong man het ’n briljante brein gehad, en hy het homself eenvoudig alles geleer wat hy gereken het hy behoort te weet. Hy het naderhand selfs Engeland toe gereis om daar meer van die drukkersbedryf te wete te kom, en toe sy eie drukkersaak in Philadelphia in Pennsilvanië, Amerika, geopen.
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
Met sy geskrifte en allerhande ander prestasies het hy so beroemd geraak dat sy landgenote hom as hul ambassadeur aangestel en weer na Engeland gestuur het. Maar die oorlogswolke was aan die saampak tussen Engeland en sy Amerikaanse kolonies. Franklin het alles in sy vermoë gedoen om die oorlog te keer, dog toe hy sien dat sy pogings vrugteloos is, het hy na Amerika teruggekeer. Daar moes hy vind dat die oorlog reeds begin het.
Franklin het ’n toonaangewende rol gespeel in die diplomatieke stryd om Amerika van Britse beheer te bevry (lees ook die Mieliestronk-artikel oor die totstandkoming van die Verenigde State). Hy is na Frankryk gestuur om dié land se steun vir Amerika teen Engeland te verkry. Uiteindelik kon hy die vreugde smaak om met die reëlings te begin wat tot vrede tussen Amerika en Engeland gelei het.
BO: Die ondertekening van die Vrede van Parys op 3 September 1783, volgens die tersaaklike deel van ’n onvoltooide skildery deur Benjamin West. Benjamin Franklin is derde van links. Die ondertekening van die Vrede van Parys was die formele einde van die Amerikaanse Onafhanklikheidsoorlog.
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
Dit is interessant dat die vrou in Franklin se lewe, sy geliefde Deborah Read, hom nooit op enige van sy uitgebreide oorsese reise vergesel het nie omdat sy bang was vir die see.
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
In sy later jare het hy verskeie essays geskryf waarin hy sy lesers probeer oortuig het hoe belangrik dit is om slawerny af te skaf en die swartmense in die Amerikaanse gemeenskap te integreer. Sy wens is egter eers baie jare ná sy dood bewaarheid.
Maar tot sover sy openbare lewe. Wat het daardie proefneming met weerlig nou eintlik behels waarna in die begin van hierdie artikel verwys is? Kortom, presies hoe sou die ondernemende Benjamin Franklin ’n vlieër in die lug opgestuur het wat weerlig na die grond toe sou gebring het?
’n Mens moet dit dadelik weer beklemtoon dat dit ’n ope vraag is of hy werklik self die eksperiment gedoen het om te bewys dat weerlig ’n vorm van elektrisiteit is. Toe moderne rekonstruksies van hierdie gevaarlike proefneming gedoen is, het dit immers geblyk dat hy dit byna seker nie sou oorleef het nie.
Trouens, niemand behoort eens te droom om hom dit na te doen nie. Die onderstaande beskrywing van die eksperiment is aanvanklik wel baie jare lank as die waarheid aanvaar, maar dit moet baie duidelik gestel word dat niemand maar niemand wat sy lewe liefhet ooit moet probeer om met ’n vlieër tussen die blitsende strale uit ’n donderwolk te lol nie!
DIE verhaal lui nietemin só:
Franklin het ’n vlieër van sy gemaak en ’n dun draad daaraan vasheg. Hy het ’n lyn aan die vlieër vasgemaak, maar naby sy hand het hy ’n lint van sy aan die lyn geknoop. Waar die lyn en lint saamgevoeg is, het hy ’n metaalsleutel aangebring. Eendag tydens ’n donderstorm het hy sy vlieër tot in ’n donderwolk opgestuur en in ’n deuropening op die resultaat gewag.
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
Franklin het vantevore ’n verklaring gedruk waarin hy die siening gehuldig het dat alles wat al met die studie van elektrisiteit vermag is niks meer is as dit wat in weerlig waar te neem is nie. Nou het die uur aangebreek waarin hy sy standpunt sou bewys of deur die wêreld uitgelag sou word. Hy was baie angstig toe hy saam met sy seun in die deuropening gewag het.
Die eerste donderwolk het verbygetrek sonder enige teken hoegenaamd, en Franklin het begin vrees dat sy proef misluk het. ’n Tweede wolk het egter oor die vlieër beweeg, en hierdie keer het hy gesien dat los vesels van die lyn styf en borselrig uitgestaan het. Hy het sy vinger na die vesels uitgesteek en hulle is na die vinger aangetrek. Toe plaas hy sy vinger op die sleutel. Dadelik voel hy ’n skok en sien ’n elektriese vonk.
Reën het nou uitgesak en die lyn van die vlieër benat, en elektrisiteit het oorvloedig teen die nat lyn afgevloei tot by die sleutel, waarvandaan ’n Leidse fles gelaai is. Dié was die eerste soort kondensator, wat in die 1740’s deur Pieter van Musschenbroeck in Leiden, Nederland, uitgevind is. Die Leidse fles is ’n toestel wat statiese elektrisiteit “berg” tussen twee elektrodes aan die binnekant en buitekant van ’n fles. Dit is in talle vroeë proefnemings gebruik wat met elektrisiteit gedoen is.
Of só lui die ou vertelling oor Franklin. Só sou hy dan bewys het dat weerlig elektrisiteit is. Hy sou ook ander proewe gedoen en gevind het dat party wolke ’n positiewe lading en ander ’n negatiewe lading het, en dat die ontlading in weerlig van wolk tot wolk presies dieselfde is as die statiese elektrisiteit wat elders op aarde deur verskillende voorwerpe opgewek word. (Weerligstrale kan van die een wolk na ’n ander, binne-in ’n wolk of van ’n wolk na die grond trek.)
Hoe Franklin ook al tot sy slotsom gekom het, sal waarskynlik maar altyd vir ons op die aarde onseker bly, maar die feit bly staan dat sy bevindings oor weerlig en elektrisiteit heeltemal korrek is.
En hy was skaars seker van sy feite toe begin hy weerligafleiers bou. As weerlig dan uit die lug gelei kan word, moet dit mos moontlik wees om dit in die grond in te lei pleks van dit toe te laat om ’n huis te verwoes wanneer dit op die gebou slaan.
Ons gebruik vandag steeds weerligafleiers. Dit red jaarliks duisende lewens, terwyl baie miljoene rande se eiendom daarmee teen verwoesting beskerm word.
Wat ook al die ware omstandighede ten tyde van die proefneming was, Franklin het sy groot ontdekking oor weerlig in 1752 gedoen. Hy het nog 38 jaar gelewe het, en toe hy in 1790 sterf, het nie net die hele Amerika nie, maar ook die hele Frankryk in die openbaar oor hom gerou. In die eenheid van elektriese lading wat die franklin genoem word, is Benjamin Franklin se naam verewig.
BO: “Franklin Tuis” deur Henry Bacon (1876).
Krediet: Histories (“Public Domain Old”)
|
|