|
Omvattende
artikel oor een van die verreikendste gebeurtenisse in die wêreldgeskiedenis Die
Franse Revolusie
Dit
was die tyd van die valbyl, van ’n skreeuende gepeupel wat bloed
geruik het. Maar
ondanks al die barbaarshede sou die volk van Frankryk uiteindelik tog
sterker anderkant uitkom. Hulle het immers geleer dat ongelykheid tussen
mense nie geduld hoef te word nie—dat geen groep mense in die
samelewing hoegenaamd die reg het om ’n ander groep van hul
menswaardigheid te beroof nie... Illustrations
used on this webpage are in the public domain according to South African
law—copyright expiring 50 years after the death of the creators. This may
also apply in some other countries but not in all. Please
refrain from re-using on other websites or in print until you have
verified legal provisions in your own country. Illustrasies
ingevolge Suid-Afrika reg kopieregvry—vyftig jaar plus ná die dood
van die persone wat hulle geskep het. |
|||||||||
|
Teks
en grafika-kompilasie deur Mieliestronk.com
Y was ’n skaam, vaal
koning wat in die grootste weelde gelewe het... hy en sy uitspattige
vrou in ’n land vol skreiende armoede en ellende. Soos die adellikes
en hooggeplaaste geestelikes het veral die koningin op die brandarm
landvolk neergesien. Dog talle hoë koppe—ook dié van die koning en
koningin—sou kort voor lank deur die valbyl afgekap word. Bloediger
tye was daar nog min in die wêreldgeskiedenis. Dit was die Franse
Revolusie. ’n Massiewe omwenteling in die Franse staatsbestel wat deur
die volk van Frankryk teweeggebring is en wat van 1789 tot 1799 geduur
het. En toe dit eindig, was die wêreld dramaties anders, nie soseer
uiterlik nie, maar weens die ingrypende nuwe idees wat dit by miljoene
mense opgewek het. Sonder die Franse
Revolusie kon Europa vandag ’n heeltemal ander aangesig gehad het. Maar hoe en hoekom het dit
gebeur? Hier is die hele aardskuddende verhaal...
VOOR
1789 het die koning van Frankryk met onbeperkte mag regeer deur middel
van ministers wat hy aangestel of afgedank het net soos dit hom behaag
het. Die koning se woord was wet. Die
Franse was in sekere groot groepe verdeel, te wete die aristokrasie en
geestelikes; die hoogs verdrukte gewone volk; en in die stede ook ’n
middelklas, die sogenaamde bourgeoisie, bestaande uit dokters,
regsgeleerdes, vervaardigers, handelaars en regeringsamptenare. Benewens
brandarm werkers in die stede, was daar op die platteland ook kleinboere
wat werklik moes spartel om siel en liggaam aanmekaar te hou. Hulle was
dikwels die lyfeienes van groot grondbase. Die oorspronklike oogmerke van die revolusie, om ’n grondwetlike monargie in die lewe te roep en die finansiële en politieke struktuur van Frankryk hervorm, het spoedig in ’n beweging ontwikkel om die koning van sy troon te verdryf en ’n republiek tot stand te bring. In
die loop van die revolusie is die enorme klomp grond wat sowel deur die
Rooms-Katolieke Kerk as die leenhere van die feudale stelsel besit is,
deur die nuwe regering oorgeneem en aan die bourgeoisie en gewone
volk verkoop. Die Eerste Republiek is gevestig en duisende mense is
tereggestel wat daarvan aangekla is dat hulle ’n republikeinse
regeringsvorm teenstaan. Die
revolusie is deur die diktatuur van Napoleon Bonaparte gevolg en, in
1815, deur die herstel van die monargie. Maar die Franse volk het geleer
dat ongelykheid nie geduld hoef te word nie en hulle het hulle nooit
weer soos voorheen deur die bevoorregte klas laat hiet en gebied nie. Die
Amerikaanse Revolusie van 1775 tot 1783, toe dertien Britse kolonies
daarin kon slaag om hulle van hul moederland los te maak, het meegehelp
om die Franse volk tot verset aan te spoor. Op sy beurt het die Franse
Revolusie, ondanks al die buitensporighede wat daarmee saamgegaan het,
die begrippe vryheid en gelykheid regdeur Europa laat versprei. Daarbenewens sou Frankryk blywende voordeel trek uit twee dinge wat die revolusie vermag het—die herindeling van die land in 83 administratiewe eenhede genaamd departmente; en die standardisasie van mate en gewigte vanweë die instelling van die metrieke stelsel.
MET
al die menseregteskendings wat deur die klasseverdelings in Frankryk
veroorsaak is, was die land lankal ryp vir ’n kolossale omwenteling.
Soos gesê, was daar in der waarheid drie basiese klasse—die
bevoorregte adel en hoë geestelikes; die middelklas van handelaars en
beroepslui; en die hoogs verarmde klas van kleinboere en werkers. Die
landvolk op die platteland is onder meer swaar belas deur die regering.
Boonop moes hulle ekstra heffings aan die leenhere en die
Rooms-Katolieke Kerk betaal. Hulle het kwalik genoeg gehad om van te
lewe omdat hulle so ’n groot deel van hul karige oeste op hul lappies
grond moes prysgee. Wanneer die oeste misluk het, soos in 1788, het die
toestand aan hongersnood gegrens. Die prys van brood het so gestyg dat
baie werkers in die stede byna van honger omgekom het. Die
bourgeoisie (middelklas) het self ’n groot deel van die
belastinglas gedra, maar feitlik geen stem gehad in die regering, wat
ferm in die hande van sy majesteit die koning en die bevoorregte klas
verskans was nie. Dog, as ontwikkelde mense wat toegang tot leesstof
gehad het, is die bourgeoisie se denke deur die geskrifte van
Franse intellektuele beïnvloed. So was daar Voltaire (die skrywersnaam van François Marie Arouet, 1694-1778), wat te velde getrek het teen die rigiede alleenheerskappy van die koning en die mag van die Rooms-Katolieke Kerk. Nog ’n skrywer, Jean Jacques Rousseau (1712-1778), het die gedagte verkondig dat ’n land in ooreenstemming van die wil van die volk regeer behoort te word.
Teen
die einde van die 1700’s was Frankryk in ’n groot geldelike
verknorsing. Koning Lodewyk XV, wat van 1715 tot 1774 regeer het, was
’n swak koning wat meer in plesier belang gestel het as om te regeer
en deur sy minnaresse oorheers is. Hy het die staatskoffers met sy
buitensporighede en swak regering uitgeput. Hy is deur sy kleinseun Lodewyk XVI opgevolg, ’n skaam en vaal karakter wat dit blykbaar goed bedoel het, maar ook ’n swak regeerder was wat eerder met slotte en ander meganiese toestelle wou peuter as om sy aandag aan staatsake te wy. Daarteenoor was sy koningin Marie Antoinette en die koninklike hof uitspattig.
Lodewyk
XVI was egter wel besorg oor die middelklas en gewone volk, maar hy het
slegte advies oor beleidsake en aanstellings aanvaar. Party van hierdie
raad het van Marie Antoinette gekom. Selfs
sy geslaagde bystand aan die dertien Britse kolonies in Amerika, in hul
revolusie teen Brittanje, was ’n terugslag omdat dit ’n swaar las op
die reeds baie verswakte staatsekonomie gelaai het. Trouens, Frankryk
was byna bankrot. Die
koning het dus geld bitter nodig gehad. Maar die gewone volk was reeds
tot die uiterste belas en die aristokratiese grondbase het glad nie
nodig gehad om belasting te betaal nie. Hoe nou gemaak? Lodewyk
het besluit om die State-Generaal byeen te roep, die land se nasionale
vergadering, wat ’n eeu en ’n driekwart, in 1614, laas vergader het.
OP
5 Mei 1789 vergader die State-Generaal by die koninklike paleis van
Versailles, buite Parys. Dit bestaan uit die verteenwoordigers van drie
stande, naamlik die geestelikes, die adel en die "derde stand"
of gewone volk. Soos deur die tradisie bepaal, het elke stand een stem. Almal
is dit eens dat die land se finansiële stelsel herorganiseer moet word,
maar die derde stand hoop dat daar ook nog ander hervormings sal wees.
Hulle stel voor dat elke afgevaardigde ’n stem moet kry (nie slegs
elke stand nie), wel wetende dat hulle die meerderheid sal uitmaak.
Marie Antoinette dring daarop aan dat die koning hierdie voorstel
verwerp. Die
derde stand onttrek hulle en vergader op ’n tennisbaan waar hulle ’n
eed neem om nie te ontbind totdat ’n grondwet geskryf en aanvaar is
nie. Die groep noem hulself die Nasionale Vergadering.
Baie
geestelikes met lae range wat ook voel dat hervorming nodig is, sluit
hulle by die groep aan. Selfs sekere adellikes word oorreed om hulle te
steun. Hulle kry ál meer steun en die koning word gedwing om die groep
as die opvolger van die State-Generaal te aanvaar. Terselfdertyd beveel
hy dat troepe na die omgewing van Parys moet beweeg. Die
mense van Paris reken die koning gaan die troepe teen die Vergadering
gebruik, wat hul kans sal vernietig om ’n stem in die regering te kry.
Onluste bars los, die oproeriges lê beslag op ’n voorraad wapens en
op 14 Julie 1789 bestorm en verwoes hulle die Bastille, die tronkvesting
wat as ’n simbool van politieke onderdrukking beskou word. Uitbundig
weens hierdie sukses, stig die mense van Parys ’n nuwe stadsregering
wat die Commune genoem word. ’n Afdeling soldate bekend as die
Nasionale Wag word georganiseer, onder aanvoering van die markies De
Lafayette. Die koning moet gelate sy stempel op hierdie veranderings
plaas. Nou
versprei die revolusie vinnig regdeur Frankryk en aristokrate begin land
uit vlug. In die Nasionale Vergadering is verteenwoordigers van die adel
en geestelikes sowel bang oor die oproerighede as begeester deur die
demokratiese gees van die mense. Op 4 Augustus gee hulle al die
voorregte prys wat hulle geërf het. "Liberté,
egalité, fraternité"
(Vryheid, Gelykheid, Broederskap) raak die strydkreet van die revolusie.
Die ou politieke en maatskaplike orde (ancien régime) verdwyn in
minder as twee maande geheel en al.
DIE
Nasionale Vergadering begin aan ’n nuwe grondwet werk deur ’n
Verklaring vir Menseregte op te stel. ’n Leier in die Vergadering is
die graaf De Mirabeau, wat ’n beperkte, grondwetlike monargie
voorstaan, met die gesag in die hande van die welgesteldes. In die
Vergadering is ook lede van radikale politieke klubs, soos die Jakobyne. Gerugte
dat die koning planne smee om teen die mense op te tree, veroorsaak dat
Paryse gepeupel op 5 Oktober 1789 na Versailles opruk. Die koningsgesin
word gedwing om hulle in Parys te gaan vestig. Die koninklike hof en die Vergadering
neem intrek in die Tuileries-paleis. Meer adellikes verlaat Frankryk uit
vrees vir die Paryse gepeupel. Die beheer van die Vergadering word in
die hande van die radikale gelaat. Die koning word van feitlik al sy mag
gestroop. Van
die geestelikes word vereis om trou aan die grondwet te sweer.
Kerkeiendom word gekonfiskeer en as sekuriteit vir die uitreiking van
papiergeld gebruik. Koningin
Marie Antoinette het lankal besef dat dinge nog ’n veel leliker
wending vir haar en haar man kon neem. As suster van die Oostenryker
Leopold II por sy Lodewyk aan om Frankryk te verlaat en
buitelandse hulp te soek. Mirabeau raai egter die koning aan om te bly
en die revolusie te steun. Maar in April 1791 sterf Mirabeau. In
Junie probeer die koning en koningin die land verlaat. Hulle word
voorgekeer en na Parys teruggebring. Lodewyk aanvaar die nuwe grondwet
wat sy gesag inkort. Die Nasionale Vergadering word ontbind en deur ’n
Wetgewende Vergadering vervang wat in Oktober byeenkom. Vir
ander heersers in Europa is die Franse Revolusie ’n onding wat die
gevestigde orde oral bedreig. Aangemoedig deur uitgeweke Franse
adellikes, beweeg Oostenrykse leërs na die grens. Frankryk eis dat
hulle padgee. Onder druk van die Vergadering verklaar koning Lodewyk in
April 1792 oorlog teen Oostenryk. Pruise steun Oostenryk en die
Pruisiese bevelvoerder dreig om Parys te verwoes as die koning kwaad
aangedoen sou word. Onder
aanvoering van Georges Jacques Danton, ’n ekstemis wat die monargie
afgeskaf wil hê, reageer die Paryse gepeupel op die Pruisiese
dreigement. Die Tuileries-paleis word bestorm, die wagte vermoor en die
koningsgesin gevange geneem. Die Vergadering versoek ’n Nasionale
Konvensie om ’n nuwe regering in die lewe te roep. Danton
lei nou die polisie in Parys. Daar en regoor die land word mense wat met
die koninklikes simpatiseer gevang en opgesluit. Met die aanmoediging
van die Paryse Commune, bestorm die gepeupel die tronke en vermoor
etlike duisende gevangenes. In
September 1792 vergader die Nasionale Konvensie. Die monargie word
afgeskaf en die Eerste Republiek van Frankryk word uitgeroep. Diie
koning word van verraad aangekla, verhoor, skuldig bevind en ter dood
veroordeel. In
Januarie 1793 sterf Lodewyk XVI onwaardig voor sowat
80 000 mense onder die bloedige guillotine (valbyl wat
veroordeeldes onthoof). Volgens een illustrasie van die gebeurtenis word sy kop ná die onthoofding voor die
skare rondgeswaai.
DIE
Franse troepe behaal oorwinnings aan verskeie fronte. Die
Oostenryk-Pruisiese opmars word in September 1792 by Valmy, Frankryk,
gestuit. Franse magte verower die Oostenrykse Nederland (België) en val
hiervandaan Duitsland binne. Savoy en Nice word van Sardinië afgeneem.
Ná die onthoofding van Lodewyk XVI skaar Brittanje, Holland en Spanje
hulle egter by Oostenryk en Pruise teen Frankryk. In
die Nasionale Konvensie eindig ’n faksiestryd in ’n oorwinning vir
die Jakobyne wat deur Maximilien Robespierre en Danton gelei word.
Girondyne (gematigdes) word uitgeban. (Nog ’n Jakobynse leier, Jean
Paul Marat, wat hewig met die Girodyne twis, word in 1793 deur ’n
Girondynse ondersteuner, Charlotte Corday, in sy bad doodgesteek.) ’n
Komitee vir Openbare Veiligheid word in April 1793 gevorm om enige
moontlike teenrevolusie te onderdruk. ’n Tyd van talryke politieke
teregstellings, bekend as die Skrikbewind, duur tot Julie 1794. Die
Komitee vir Openbare Veiligheid probeer Frankryk hervorm ooreenkomstig
sy eie fanatieke idees van menslikheid, maatskaplike idealisme en
patriotisme. Mense
word in dié tyd aangemoedig om op hul bure te spioeneer en nuus aan te
dra as hulle hulle daarvan verdink dat hulle meegevoel met die vyand
het. Duisende onskuldiges word voor spesiale howe gedaag, waar daar geen
behoorlike verhoor is nie, en ter dood veroordeel. Onder die slagoffers
is talle vooraanstaande mense, soos parlementslede en selfs koningin
Marie Antoinette.
Uiteindelik
sterf sowel Danton as Robespierre self as slagoffers van die monster wat
hulle help skep het. Danton raak naamlik moeg vir die bloedvergieting en
meen dat die Skrikbewind nie meer nodig is nie omdat die gevaar volgens
hom verby is. Robespierre wil egter nie kopgee nie en laat Danton en sy
ondersteuners onthoof. Maar ’n maand later sterf ook Robespierre onder
valbyl toe die parlement besluit om self weer te regeer. Die Skrikbewind
word beëindig . Intussen
duur die oorlog voort. Militêre nederlae in 1793 veroorsaak dat
veertien nuwe leërs op die been gebring word deur verpligte krygsdiens
in te stel. Dit is die
eerste keer in die geskiedenis dat algemene diensplig ingevoer word. Vyandelike
magte word teen die einde van daardie jaar uit Frankryk verdryf. Die
Franse herower België en marsjeer Holland binne. Teen Julie 1795
bestaan daar vredesverdrae met Holland, Pruise en Spanje.
TOE
die Skrikbewind eindig, is Frankryk se probleme egter nog lank nie
opgelos nie. Die oorlog is nog aan die gang en ’n sterk regering is
nodig. Uit reaksie teen bloedvergieting en diktatuur skryf die Nasionale
Konvensie ’n nuwe grondwet, waarkragtens die uitvoerende mag in die
hande van vyf mense, die sogenaamde Directoire of Direktorium,
geplaas word. Maar
toe die grondwet in September 1795 van krag raak, begin sekere van die
mense wat hul daarteen verset met ’n opstand in Parys. Die toestand
lyk hopeloos toe die gepeupel, soos in die dae van die Bastille, die
parlementsgeboue begin aanval. Toe
word die hulp ingeroep van die jong generaal Napoleon Bonaparte, ’n
gebore Korsikaan en een van die jong soldate wat tydens die Skrikbewind
deur die Jakobyne bevorder is. Napoleon laat die kanonne op die gepeupel
losbrand en binne ’n ommesientjie is die strate van Parys skoon.
Hiervoor word Napoleon tot hoof van die binnelandse leër bevorder. Tog
kan die Direktorium nie daarin slaag om ’n stabiele regering tot stand
te bring nie. Verskillende faksies wedywer om die mag te verkry. Beleide
jeens die ou artistokrasie en geestelikes verander van hardvogtig
tot verdraagsaam en terug na hardvogtig. Geweld en korrupsie
duur voort. Die finansies is chaoties. Maar
in die voortslepende oorlog onderskei die Franse hulle steeds op die
slagvelde, vasbeslote om die oorlog in hul guns te beklink. Die einste
Napoleon Bonaparte word gestuur om soveel Oostenrykse troepe as moontlik
in Noord-Italië besig te hou—’n gebied wat nog deur Oostenryk besit
word—terwyl ’n hoofaanval deur Duitsland geloods word. Dis
’n moeilike taak vir Napoleon, want sy troepe is swak toegerus, omdat
die beste leërs vir die hoofaanval gebruik word. Nogtans slaag hy
daarin om die Oostenrykers oral te verslaan en hulle tot naby hul
hoofstad Wenen te agtervolg. Napoleon raak beroemd in Frankryk vanweë
sy Italiaanse veldtog. Oostenryk
en Sardinië sluit vredesverdrae met Frankryk. Die Direktorium besluit
dat die tyd nou ryp is om Brittanje te pak, die enigste oorblywende
vyand van die vyf wat Frankryk in 1793 byna oorrompel het. Napoleon
beset Egipte ten einde Brittanje se handelsroete na Indië af te sny.
Toe die Britse vloot onder lord Nelson die Franse in 1798 in die Slag
van die Nyl verslaan, sluit Oostenryk, Rusland, Turkye en Napels hulle
by Brittanje aan in ’n koalisie teen Frankryk. Terwyl
Napoleon in Egipte is, hoor hy dat die Direktorium onder meer weens
wanbestuur op die punt is om ineen te stort. Hy laat dus sy leër in
Egipte agter, vaar met ’n klein skippie tussen die Engelse oorlogskepe
deur, wat dag en nag na hom soek, en land veilig in Frankryk. In Parys beëindig ’n staatsgreep op 9-10 November 1799 die beheer van die Direktorium. ’n Groep van drie Konsuls word aangestel, met Napoleon as Eerste Konsul aan die spits van die regering.
’n Groot
deel van die Franse volk, wat hom as ’n oorlogsheld beskou, verwelkom
hom met ope arms. Of hy nou met diktoriale magte beklee word of nie, is
hulle in elk geval mateloos moeg vir revolusie. En
die verhaal van die staatman Napoleon, die geniale veldheer wat keiser
van die Franse sou word, sorg vir ’n heel nuwe hoofstuk in die wêreldgeskiedenis... |
|||||||||
|
Ekstra brokkie Marie Antoinette: die swier en die tragedie
Sy is op 2 November 1755 in Wenen, Oostenryk, gebore as een van die dogters van die Heilige Romeinse*) keiser Frans I en keiserin Maria Theresa. Toe Marie Antionette in 1770 trou met Lodewyk, die Franse troonopvolger, is bedoel dat die huwelik die bondgenootskap tussen haar pa se vorstehuis, die Habsburgs van Oostenryk, en Frankryk moes verstewig. Vier kinders, twee meisies en twee seuns, is uit die huwelik gebore nadat Lodewyk in 1774 koning geword het—een meisie en een seun is klein oorlede. Die Franse het niks gehou van die vrou uit die vreemde wat die troon met hul koning gedeel het nie. En pleks van die ontevrede volk te pamperlang, het sy hulle net verder die harnas ingejaag met haar toegewydheid aan die belange van Oostenryk en die swak reputasies van sekere van haar vriende, om van haar uitspattighede nie eens te praat nie. Hierdie buitensporighede het toe foutiewelik die skuld gekry vir die geldelike probleme van die Franse regering. Die oordaad aan die koninklike hof was inderdaad geweldig. Dit het byvoorbeeld in 1787 bekend geword dat die koniklikes meer as twee keer Frankryk se totale inkomste bestee het. Koningin Marie Antoinette het haar nie van stryk laat bring het nie. Daar is vertel dat, toe aan haar gesê is dat die armes geen brood het nie, sy sou geantwoord het: “Laat hulle koek eet.’’ Daar is geen bewyse dat hierdie staaltjie waar is nie, maar dit het oor die jare bly steek as ’n skrynende aanklag teen Marie Antoinette en ’n aanduiding van hoe sy deur die Franse geminag is. Nadat die Franse Revolusie in 1789 uitgebreek het, het Marie Antoinette haar by die onversoenlikes in die koninklike hof geskaar wat gekant was teen enige ooreenkoms met die gematigde revolusionêre. Boonop het sy die hulp gevra van haar broer, die Heilige Romeinse keiser Leopold II. Die gety het so teen die koningshuis gekeer dat Marie Antoinette en Lodewyk in 1791 uit Parys probeer vlug het. Hulle is deur hul oorlewende seun, Lodewyk-Karel, vergesel. Hulle is egter voorgekeer en as gevangenes teruggebring. Die monargie is in 1792 omvergewerp. Koning Lodewyk is in die openbaar deur ’n valbyl onthoof en sy koningin Marie Antoinette is die volgende jaar deur die revolusionêre tribunaal (geregshof) weens verraad ter dood veroordeel. Op 16 Oktober 1793 het dieselfde lot as dié van haar man haar te beurt geval toe sy in Parys onder die valbyl (die sogenaamde guillotine) gesterf het. Tydens haar gevangenskap het sy groot moed geopenbaar en met waardigheid opgetree. As een van die bekendste vroue in die geskiedenis sou sy dan ook op verskillende maniere onthou word. Sy was bes moontlik die produk van haar opvoeding. Trouens, party historici dink vandag dat Marie Antoinette ’n naïewe, enghartige koninklike was wat nie werklik die toestande in die destydse Frankryk kon deurgrond nie, eerder as ’n losbol wat haar eie plesier bokant medelye gestel het. *) Die sogenaamde Heilige Romeinse Ryk was ’n ryk wat in die jaar 800 n.C. tot stand gebring is deur Karel die Grote deurdat hy sekere lande in Wes- en Sentraal-Europa in een politieke entiteit saamgevoeg het. Dit moet natuurlik nie verwar word met die antieke Romeinse Ryk van vroeër nie. Ook hierdie ryk was egter bestem vir ondergang. Met die verloop van tyd het die keiser se mag ál meer simbolies geraak, terwyl die eintlike mag by verskillende plaaslike heersers berus het. En toe die laaste Heilige Romeinse keiser in 1806 van sy titel afstand doen, was die gebied lank reeds wat die Franse skrywer Voltaire so sprekend beskryf het as "nòg heilig, nòg Romeins, nòg ’n ryk". |
|||||||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |