|
Onvergeetlike
skouspel van die Kaapse Fleurige
fynbos Die Kaapse Blommeryk is nie net die kleinste van die ses blommeryke wat op die aarde bestaan nie, maar ook die rykste. En fynbos maak sowat tagtig persent van die sowat 8 700 plantespesies uit wat hier voorkom. Proteas, heide, biesies en bolle... op berge en in dale golf die rykheid van die duisende soorte in die wind... FOTO
BO: ’n Blom van die koningsprotea, Suid-Afrika se nasionale blom, Erkenning:
Al die foto’s en sekere inligting vir hierdie artikel is met dank
oorgeneem uit ’n insiggewende geïllustreerde
verslag van die Amerikaanse departement van landbou (USDA), wie se
navorsingsdiens (ARS) daadwerklike hulp vir natuurbewaring wêreldwyd
verskaf en ook ernstig belang stel in die behoud van die Kaapse
Blommeryk hier in Suid-Afrika. Komende van werknemers van die
Amerikaanse federale regering, is hul foto’s en teks ingevolge die
Amerikaanse reg kopieregvry en in die sogenaamde “openbare domein”. |
||||||||||
RAAT
van ’n blommeland! Hoewel Suid-Afrika minder as een persent van die
droë grond van die aardbol in beslag neem, bevat ons land tien persent
van al die wêreld se plantsoorte. En
as daar nou ’n plaaslike streek met ’n groot oorvloed van
verskillende plante is, is dit die fleurige gebied van die Kaapse
Blommeryk. Trouens, hierdie gloriewêreld is die gasheer van nie minder
nie as sowat 8 700 plantespesies, waarvan ongeveer twee derdes slegs hier
en nêrens elders groei nie. Proteas,
heide, biesies en bolle... op berge en in dale golf die rykheid van die
duisende soorte in die wind.
In hierdie planteryk kan die plante as
“wesenlik fynbos” beskryf word. Fynbos bedek immers ongeveer die
helfte van die oppervlakte van die Kaapse Blommeryk en maak sowat tagtig
persent van die plantespesies uit wat hier voorkom. Hierdie soort
plantegroei kom voor in ’n honderd tot tweehonderd kilometer breë kusgordel wat van Clanwilliam in die weste tot Port Elizabeth in die ooste
strek, en dié in die weste is ryker en meer gevarieerd as dié in die
oostelike streke. Maar presies wat is fynbos? Dit is ’n ongewone mengsel van plantsoorte van verskillende vorms en groottes, hoewel bome iets seldsaams in natuurlike fynbos is. Vier planttipes kom voor:
Die meeste van die plante is immergroen en
het harde blare. Die
erikoïde. restioïde en geofiete DIE
baie volop erikoïde bestaan uit meer as 3 000 spesies, waaronder byna 630 verskillende spesies van die erika-familie. Erikas
of heide is in die reël kleiner as die proteas en het talle klein
tuitblomme en naaldagtige blare. Restioïde,
lede van die Restionaceae-familie, lyk na riete of biesies en
bestaan uit 310 spesies wat Elegia (32 spesies) insluit. Meer as 1 400 blombolspesies van Suid-Afrika se meer as 2 000 soorte kom onder die fynbos voor, waarvan 96 gladiole en 54 lachenalias is. Suid-Afrika se geofiete-flora is die rykste ter wêreld. Baie van hierdie soorte is uitgevoer en nou gewilde kweekblomme oorsee.
Die
veelsoortige proteas PROTEAS is blomplante wat die meeste met fynbos geassosieer word. Hulle is paslik genoem na die god Proteus in die Griekse mitologie, ’n wese wat baie verskillende vorms kon aanneem, net soos die proteasoorte. Proteas is baie prominent in die natuur met hul groot blare en dikwels treffende blomme, wat deur voëls bestuif kan word. Die proteas is inheems in die Suidelike Halfrond en Suid-Afrika spog met sowat die helfte van al die soorte wat in die wêreld voorkom. Voorbeelde van die verstommende verskeidenheid en kleur van die Proteaceae is te sien in die majestueuse koningsprotea, P. cynaroides (Suid-Afrika se nasionale blom); die delikate bergbruidjie, Serruria; die fassinerende speldekussings, Leucospermum; en die keëlbosse, Leucadendron.
Die
blomme en vrugte van sekere proteasoorte is so mooi en ongewoon in vorm
en kleur dat hulle, vars of gedroog, baie gewild by blommerangskikkers
is. Dit is interessant dat veldbrande,
verskriklik soos hulle is, nie net as voordelig nie, maar as noodsaaklik
vir die voortbestaan van fynbos beskou word. Dis natuurlik mits die
brande nie te gereeld plaasvind en die proteas nie die nodige kans gegun
word om voort te plant nie. Maar die hitte (dalk ook die rook) van veldbrande
is inderdaad nodig om baie van die sade te laat ontkiem. Die
waarde van fynbos ONS dink
miskien nie só daaraan nie, maar elke keer wanneer ons ’n koppie
rooibos- of heuningbostee drink, is ons besig om ’n fynbossoort te
benut. Die Sederberg-gebied is naamlik beroemd vir sy bossietee. Nog ’n waarde van fynbos lê in die
tonne veldbomme van die Wes-Kaap wat jaarliks na Europa en die Ooste
uitgevoer word—’n bedryf wat werk aan duisende mense
verskaf. Voorts word biesies steeds vir strooidakke
gebruik, soos reeds honderde of selfs duisende jare gelede. Maar
alles is nie pluis op die fynbos-toneel nie. Groot dele van die fynboswêreld
is al deur die landbou of denneplantasies oorgeneem of het weens die
stedelike uitbreidings rondom Kaapstad verdwyn. Fynbosstreke word ook
bedreig deur die verspreiding van uitheemse indringerplante, veral
wattelbome en akasia-spesies uit Australië. Wat so ontstellend is, is dat sowat 1 700
blommespesies wat inheems is in die Kaap in ’n mindere of meerdere
mate met uitwissing bedreig word—en dat minstens 29 reeds uitgewis is. Die
goeie nuus is darem dat ons eie bewaringsbewustes—en groot
simpatiseerders soos die navorsingsdiens van die Amerikaanse departement
van landbou—al daadwerklike planne gemaak het om die Kaapse Blommeryk
sover moontlik te bewaar en te koester. Ons is dit immers aan ons nageslag verskuldig.
|
||||||||||
| *)
Die Kaapse Blommeryk en ons ander Wêrelderfenisgebiede WÊRELDERFENISGEBIEDE
word deur Unesco (die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike
en Kulturele Organisasie) aangewys ingevolge die Wêrelderfenis-konvensie
wat daarop gemik is om die wêreld se kultuur- en natuurerfenis te
bewaar. Dit is in 1972 deur Unesco aanvaar, en 1997 het Suid-Afrika die
150ste land geword wat dié konvensie bekragtig het. Suid-Afrika het nou agt gebiede wat ingevolge hierdie konvensie tot Wêrelderfenisgebiede geproklameer is. Benewens die Kaapse Blommeryk is daar die Groter St. Lucia-vleilandpark, Robbeneiland, die Wieg van die Mensdom-fossielterrein, Mapungubwe, die Ukhahlamba-Drakensbergpark, die Vredefortkoepel en, in 2007 geproklameer, die Richtersveld Kulturele en Botaniese Landskap. Oor die meeste van hierdie plekke is daar heelparty inligting op die werf van Mieliestronk.com. |
||||||||||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |
||||||||||