|
AL DIE STERRE wat ons snags in die hemelruim sien flikker—nie die handjievol planete hier naby ons nie, maar die werklike sterre—al daardie ligtende hemelbolle, asook die ander ontelbare menigtes wat so ver van ons is dat ons hulle nie naastenby met die blote oog kan sien nie, almal van hulle is eintlik sonne. Elkeen straal sy eie lig uit wat deur onstuimige atomiese woelinge in sy kraakwarm kern opgewek word. Hulle lyk maar net so klein omdat hulle so ver is. En hulle lę werklik oor ontsaglike afstande van mekaar af in die heelal versprei. Trouens, ’n mens kan jou daardie afstande nie voorstel as jy bloot in kilometers dink nie. Om dinge in perspektief te stel: die aarde is gemiddeld 149 600 000 km van die son af en dit neem die son se lig iets meer as agt minute om die aarde te bereik (teen lig se snelheid van nagenoeg 300 000 km per sekonde of 7˝ maal om die aarde elke sekonde). Maar dis nog lank nie al nie: die lig van die volgende naaste son (of ster) aan die aarde, die ster Proxima Centauri in die drieling-stersisteem Alpha Centauri, bereik ons eers ná die verloop van ’n hele 4,3 jaar. Dit is hoekom die sterrekundiges verkies om ruimtelike afstande in sogenaamde "ligminute", "lig-ure" en uiteindelik "ligjare" aan te dui—een ligjaar is dan die afstand wat lig in ’n jaar aflę. Dink vervolgens daaraan dat daar ook sterre is wat miljoene ligjare van ons verwyder is en ’n mens begin uiteindelik ’n vae denkbeeld vorm van die ondeurgrondelike enormiteit van die materiële skepping daarbuite. Die beperkte menslike verstand duisel behoorlik wanneer hy net daaraan dink...
|
||
|
Sterrestelsels
of galaktika |
||
|
OP
’n wolklose, maanlose nag sien ’n mens ’n strook dowwe lig wat
die donker hemelruim daarbo oorspan—die glimmende hemelstraat wat ons
as "die Melkweg" ken. Hierdie
Melkweg is een enorme groot familie van miljoene en miljoene sterre
waartoe ook ons eie son en sy gesin van planete, ens. behoort. Só ’n reuse-familie word
’n sterrestelsel genoem, maar sterrekundiges verkies
die naam galaktika, omdat ’n "stelsel" volgens hul
terminologie eintlik iets anders is. Ons
hou egter maar by die woord sterrestelsel. Dis die bekende woord en ’n
mens sal maar eers moet kyk of die naam galaktika ook in die taal van
die leke sal posvat! Die Melkweg is net een van ’n geskatte 100 000 miljoen sterrestelsels, wat elk uit baie miljoene sterre en newelvlekke bestaan. Sterrestelsels
het verskillende fatsoene. Die Melkweg en sy naaste groot buurman, die
sterrestelsel Andromeda, is spiraalvormig.
(Van die aarde af sien ons egter nie die Melkweg se spiraal nie,
want ons bekyk ons eie sterrestelsel van die sykant af).
Party
spiraalsterrestelsels het as't ware ’n "staaf" van sterre en
gas wat deur die middel daarvan loop, en hulle word dus staafspirale
genoem. Ander
sterrestelsels is weer ellipties. Dié is onder die grootstes in die
heelal. Nog ander het geen definitiewe vorm nie en word bloot onreëlmatige
sterrestelsels genoem. Hulle is gewoonlik klein. Die
Melkweg strek 100 000 ligjare ver van die een kant tot by die ander en
is 10 000 ligjare diep. Die menseverstand kan sulke afstande moeilik
begryp. Lig trek so vinnig dat dit binne een sekonde meer as sewe keer
om die aarde kan blits, maar dit het derduisende jare nodig om maar net
in ons eie sterrestelsel te versprei! Hoe
is die Melkweg saamgestel? Daar word gemeen dat die oupas onder die
sterre in die middel is, terwyl die jonger sterre die uitkrullende arms
van die spiraal vorm. Die son, wat een van sowat 100 000 miljoen sterre
in ons sterrestelsel is, lę in ’n vertakking van een van die arms,
omtrent twee derdes van die middelpunt af. Die
naaste bure van die Melkweg is die twee kleiner sterrestelsels wat die
Magellaanse Wolke genoem word. Aangesien hulle by die Kaap die Goeie
Hoop met die blote oog gesien kan word en soos dowwe wolke lyk, word
hulle ook die Kaapwolke of Kaapse Wolkies genoem. Groot
buurman Andromeda lę twee miljoen ligjare ver. Sterrestelsels
kom in groepe voor. Die Melkweg en Andromeda, plus sowat dertig ander
sterrestelsels, vorm saam wat bekend staan as die Plaaslike Groep. Maar
ons groep is klein in vergelyking met ander groepe wat meer as 2 500
sterrestelsels kan bevat. Sulke groepe word swerms en partykeer
superswerms genoem. |
||
|
Newelvlekke—sterre se geboortegrond |
||
|
Sterre
het eenderse lewenslope. ’n Ster begin as ’n wolk van gas en stof,
verbruik dan energie en gee lig en hitte af, en op die ou end sterf hy.
LINKS: Die wonderlike Arend-newelvlek, gesien deur die "oog" van die Hubble. Foto: NASA ’n
Ster word gebore uit
’n newelvlek wat begin krimp. Die stof en gas word
deur swaartekrag saamgetrek om ’n bal te vorm wat in die kern verdig en
uiters warm word. Uiteindelik word kernreaksies in die kern aan die gang
gesit en die gas begin gloei. Lig en hitte word uitgestraal. ’n Ster is
gebore. Een van die bekendste newelvlekke is die Groot Newelvlek in Orion. ’n Groot aantal sterre is waarskynlik besig om daar gestalte te kry. Nog ’n beroemde newelvlek is die Krap, só genoem omdat dit—deur die teleskope van die 19de eeu bekyk --- aan ’n krap herinner het. Vandag lyk dit egter nie soos ’n krap nie. o Klik hier vir groot ruimte-skouspel: Hubble kyk na geboorte van sterre |
||
|
Supernovas—sterre se doodsknalle |
||
|
’n
Ontploffende ster, ook supernova genoem, is baie helderder as
enige ander ster en kan partykeer selfs in die dag gesien word. Die
skouspel van die jaar 1054 het net 21 maande geduur, maar die
oorblyfsels van die ontploffing kan vandag steeds gesien word in die
helder gaswolk wat as die Krap-newelvlek bekend staan. Net
voor die vorige dekade, in 1987, was daar groot opgewondenheid onder
sterrekundiges oor ’n nuwe supernova aan die suiderhemel—die
helderste soortgelyke ontploffing sedert 1604. In sterrestelsels soos
die Melkweg is daar wel nagenoeg elke dertig jaar ’n supernova, maar
sowat vier in duisend jaar word met die blote oog gesien. Waarom
sterf party sterre dan met so ’n verskriklike knal? Wetenskaplikes reken
dit hou verband met ’n versteuring van die ewewig tussen ’n ster se
swaartekrag en die intense energie in sy kern. Alle sterre ontplof egter
nie aan die einde van hul dae nie. Dit lyk eerder of ons eie son in die
verre toekoms kan uitbrand as dat hy ooit kan ontplof. Maar in die hemelruim is elke dood die voorspel tot ’n geboorte, want die puin van die supernovas is ook die boustof vir nuwe sterre. |
||
|
Pulsars—'ligtorings' |
||
|
DIE eerste pulsar (neutron-ster) is in 1967 met
’n radioteleskoop
ontdek. Pulsars is vermoedelik die oorblyfsels van supernovas—klein,
uiters kompakte liggame waar die protone en elektrone in die dooie ster
se kern saamgepers is en neutrone gevorm het. Geleerdes
reken ’n neutron-ster se deursnee kan slegs10 tot 150 km wees, maar sy
digtheid is absoluut verstommend: Een eetlepel van sy stof kan honderde
miljoene tonne weeg! Voorts
roteer hierdie pulsars (pulserende sterre) ongelooflik vinnig. Hulle
stuur flitse van radiogolwe uit, byna soos hiperaktiewe
"ligtorings" in die ruimte. Daar is ’n neutron-ster in die
middel van die Krap-newelvlek, wat deur die supernova van die jaar 1054
veroorsaak is. Dié neutron-ster tol steeds dertig keer per sekonde in
die rondte! Voordat die geleerdes vasgestel het waar hierdie radioseine klaarblyklik vandaan kom, is ernstig gedink dat hulle dalk deur intelligente wesens in die buitenste ruimte gestuur kon gewees het! |
||
|
'Swart
gate'—die |
||
|
TOT betreklik onlangs het "swart gate" (die geleerdes
noem hulle gravitasiekolke) nog tot die wetenskapsfiksie behoort. Maar
baie sterrekundiges twyfel vandag glad nie dat hierdie bodemlose putte van
duisternis wel bestaan nie.
Die
gravitasiekolk wat ontstaan, word deur die sogenaamde gebeurtenishorison
omgrens—en aan die anderkant van daardie gebeurtenishorison geld
geeneen van die gewone wette van die fisika nie. Daar word self gedink dat
die ineengestorte ster heeltemal "weggepers" kan word, maar dat
die gravitasiekolk steeds die materie in sy omgewing, selfs ander sterre,
sal insuig. |
||
|
Kwasars—groot geheim |
||
|
Hoe
kan dit wees dat hierdie sogenaamde kwasars, wat maar ’n paar ligjare in
deursnee is, soveel lig kan opwek soos ’n miljoen miljoen sterre? Wat is
hulle werklik? Só
kan ons in ons gedagtewęreld na die verste sfere van ons ontsaglike
ruimte toer, maar vir ons menseverstand bly die allergrootste deel van die
wonderlike skepping steeds onbegryplik en verborge. |
||