Garibaldi —
die vurige bevryder
Foto oorgeneem uit ’n webwerf van die sentrale regering van die VSA, te wete www.senate.com. Die foto word na die oordeel van Mieliestronk.com tot openbare besit gereken.
Italië
het in 1861 ’n verenigde land geword toe die stadstate van die
skiereiland, saam met die nabygeleë eilande Sardinië en Sicilië, onder
koning Victor Emmanuel II saamgevoeg is. Maar dit sou nie sonder bloed en
groot opoffering gebeur nie. •
Dit lees soos ’n trefferboek... hierdie omvattende vertelling oor
die vryheidsvegter Guiseppe Garibaldi en sy dapper stryd vir die
unifikasie van Italië... |
||||||||||
Foto openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom
WELKOM
tuis! Die ontvangs is oorweldigend. Op die hawehoof van Nice staan ’n
skare wuiwende mense, en op die dobberende bote is dit glimlaggende gesigte
net waar jy kyk. Die
nuus van Garibaldi se terugkeer na Italië—hier in die jaar 1848—het hom
vooruitgeloop. Dit was veertien lange jare. Giuseppe Garibaldi was ’n
uitgewekene in Suid-Amerika ná ’n mislukte rebellie teen die koning van
Sardinië. Maar
nou is hy terug in sy tuisstad. Weliswaar nie om te rus nie, maar om aan te
hou om vir Italiaanse vryheid te veg... Die
Italië van die middel van die negentiende eeu was nie verenig soos vandag
nie. Van die vyfde eeu af is die eens magtige Romeinse Ryk deur ’n reeks
invalle van ander volkere verskeur. Toe, in 1814-’15, het die Kongres van
Wenen dit in agt koninkryke verdeel, elk met ’n ander heerser van wie
heelparty buitelanders was. Die
Italiane het dit gehaat om deur vreemdes regeer te word en wou verenig wees
in ’n enkele land waar hulle hulself kon regeer. ’n Haas ononderbroke
reeks opstande het tussen 1820 en 1845 oral oor Italië voorgekom, maar
hulle was swak georganiseer. Toe
kom Garibaldi...
GIUSEPPE
GARIBALDI is op 4 Julie 1807 gebore aan die Middellandse See in die hawestad
Nice
(wat toe aan Frankryk behoort het, daarvoor en daarna aan Sardinië en
uiteindelik weer aan Frankryk). As jongeling was Garibaldi knaend by die
dokke, en later ’n matroos op die Mediterreense handelsroetes.
Garibaldi
raak bevriend met die leier, die Genuese idealis Giuseppe Mazzini. Diep beïnvloed
deur sy opvattings, sluit Garibaldi hom by die organisasie aan en help om
hul eerste sending te beplan: ’n opstand teen die koning van Sardinië. Van
die beoogde rebellie kom niks tereg nie. Die leër kom van hul planne te
hore en Garibaldi moet na Frankryk vlug. Toe hy hoor dat die koning van
Sardinië hom ter dood veroordeel het, ontsnap hy na Suid-Amerika.
GARIBALDI
kom in 1835 in Rio de Janeiro aan. In Brasilië is baie Italiane wat hul
fortuin oorsee kom soek het, onder wie lede van Jong Italië wat eweneens
vir hul lewe gevlug het. Kort
ná sy aankoms rebelleer die inwoners van die Brasiliaanse staat Rio Grande
do Sul teen die keiser van Brasilië. Hulle wil ’n verkose regering hê. Garibaldi
neem self die wapens op en val die keiser se vloot aan. Kort daarna word sy
skip, Rio Pardo, deur ’n orkaan getref en sestien bemanningslede sterf. Een
môre, terwyl hy oor die dood van sy makkers mymer, sien Garibaldi sy
toekomstige vrou op ’n ander skip raak—’n jong Brasiliaanse vrou met
die naam Anna Maria de Jesus da Silva, maar wat Anita genoem word. Hoewel sy nie ideologies van aard is nie, word sy gou deur
Garibaldi beïnvloed en
veg sy verbete aan sy sy.
Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom Ná
die orkaanramp ontvang Garibaldi twee nuwe skepe, maar vergeleke met dié
van die keiser is hulle klein en swak toegerus. Eindelik, toe ’n nederlaag
hom in die Slag van Laguna in die gesig staar, gelas hy dat die skepe
verbrand word om te keer dat die vyand hulle gebruik. Hy wyk die binneland
in. Die
volgende paar maande veg hy in die Rio Grande-leër. Die lewe is wreed en
aaklig, en die enigste ligpuntjie is die geboorte van sy eerste seun. Toe
die winter verby is, neem hy sy gesin na Montevideo in Uruguay, waar hy glo
hulle veilig sal wees. Maar kort ná hul aankoms, in 1843, breek gevegte
tussen Uruguay en Argentinië uit. Terwyl
Montevideo hom vir oorlog gereed maak, organiseer Garibaldi ’n Italiaanse
legioen. Hy klee sy manskappe in sekere weggooi-oorpakke van slagters, wat
soos rooi hemde lyk. Dit is dus hier, in Suid-Amerika, waar die bekende
Italiaanse vrywilligerslegioen die Rooi Hemde begin.
Detail van ’n historiese skildery Die
beleg van Montevideo duur nege bitter jare. In dié tyd skenk Anita die lewe
aan nog twee kinders. Teen
die tyd dat die oorlog verby is, hoor Garibaldi dat die Italiane hul
vryheidstryd hervat het. Dit is sy hartsbegeerte om huis toe te gaan. Hy
stuur dus Anita en die kinders vooruit, en vertrek in 1848 met 63 soldate
van die Italiaanse legioen van Montevideo om hom by die stryd aan te sluit. Die
Italiane is ernstig in hul soeke na vryheid. Al die groot Italiaanse stede
het teen hul vreemde heersers gerebelleer en nuwe, verkose regerings in die
lewe geroep. Die
koning van Sardinië het sy politieke sienswyse verander en, in sy verset
teen Oostenrykse heerskappy, vra hy nou die hulp van Jong Italië.
DIE
eerste oorlog waarin Garibaldi veg, is dié teen die Oostenrykers in
Noord-ltalië in 1848. Die burgers van Milaan en Venesië het hul eie nuwe,
verkose regerings tot stand gebring, en die Oostenrykers probeer hul beheer
herwin. Garibaldi bied die koning van Sardinië sy dienste aan, en dié hef
sy doodvonnis op. Garibaldi
organiseer dadelik sy 63 Rooi Hemde. Maar voordat hulle kan gaan veg, vra
die koning van Sardinië vir ’n skietstilstand. Garibaldi voel dat hulle
moet aanhou veg en doen ’n beroep op alle Italiane om so te maak. Met
slegs ’n klein leër en minderwaardige wapens word daar inbeweeg.
Verrassingsaanvalle word op die vyand uitgevoer en daar word teruggeval
voordat die
vyand
kan terugslaan (guerrilla-oorlogvoering). Maar die Rooi Hemde raak uitgeput
en Garibaldi kry koors. Die leër word ontbind en Milaan val in die
Oostenrykers se hande.
Garibaldi
wil veral keer dat die vyand die Villa Corsini oorneem, wat hulle in staat
sal stel om die stadsmure te bombardeer en Rome se verdedigingswerke te
vernietig. Die
Lombard-brigade, ’n groep vrywilligers, veg sy aan sy met die Rooi Hemde
en keer ’n tyd lank dat die villa oorgeneem word. Maar vroegoggend op 3
Junie—ondanks ’n wapenstilstand—verras die Franse die soldate van
Rome. In
die volgende sewentien uur word verwoed in die hitte van die midsomer geveg.
Teen die aand
het
die Franse ’n strategiese posisie verkry, hoewel hulle nog nie Rome kon
binnegaan nie. Die
Republikeinse troepe word daagliks gebombardeer en Rome val ’n maand
later. Vier
dae voordat die beleg sou eindig, sluit ’n swanger Anita haar by Garibaldi
aan. Sy vlug met haar man en sowat 4000 manskappe. Hulle laat omtrent 3500
gesneuweldes agter. Met
die Oostenrykers warm op hul spoor, is hul mikpunt Venesië, en hulle trek
sowat ’n maand lank deur die berge. Baie sterf onderweg of gee moed op en
dros. Garibaldi ontbind die mag en laat dit aan elke manskap oor om self oor
sy lot te besluit. Anita kry koors en sterf op 4 Augustus. Die
gebroke Garibaldi gaan na die Apennyne waar dapper republikeine, wat soos
houtkappers vermom is, hulle bedags wegsteek en hulle snags deur die woude
lei. Garibaldi
arriveer in die koninkryk van Sardinië, maar word gelas om pad te gee,
aangesien die nuwe regering, wat pas deur Oostenryk verslaan is, ten minste
probeer om goeie vredesvoorwaardes te beding. Hy
vaar na Londen en dan na New York, waar hy in Julie 1850 aankom—weer ’n
uitgewekene. •
• •
•
Garibaldi is al beskryf as ’n kurkprop op die water. Nes jy dink jy’t hom onder, spring hy weer elders op. Lees nou verder oor dié groot Italiaanse held en wat tot hierdie interessante vergelyking gelei het... DIE
maan skyn helder en bestraal die wit maanhare van die branders wat hulle op
die kus te pletter loop. Honderde—dalk duisende—lang, donker figure is
op die strand bymekaar. Party deel wapens uit, sommige omhels mekaar, ander
maak gereed om op die vissersbote te klim wat aan die rotse vasgemaak is. Daar
heers ’n besondere stilte. Die enigste geluid, behalwe dié van die see,
is ’n snik af en toe van ’n huilende vrou of ma. Die
tyd: 4 Mei 1860, rondom middernag. Die plek: Quarto, Italië. Die toneel was
so roerend dat ’n verslaggewer van Engeland se Daily News daaroor sou
skryf: "Wat kon met hierdie Italiane gebeur het? Is hulle dan nie meer
die ligsinnige en sorgelose wesens wat ons eenmaal geken het nie?" Die
antwoord is natuurlik dat die Rooi Hemde op die punt was om na Sicilië te
vaar om dit van sy vreemde heerskappy te bevry. Maar sukses sou nie dadelik
soos ’n ryp appel In hul skoot val nie... TERWYL
hy ’n uitgewekene in die VSA is, werk Garibaldi eers as ’n kersmaker en
gaan dan terug see toe. Tydens ’n reis wat hy in 1854 onderneem, verneem
hy dat ’n nuwe regering in die koninkryk van Sardinië aan die bewind
gekom het. In Mei daardie jaar keer hy dus terug na Nice. Ses
maande later koop hy die helfte van Caprera, ’n onbewoonde eiland aan die
noordoostelike punt van Sardinië, en verhuis soontoe met party van sy
gesinslede en vriende. Hy verwyl sy tyd deur te bou en na sy tuin en diere
om te sien. Baie bannelinge en avonturiers besoek hom hier, en hy
korrespondeer met talle beroemde mense. Toe,
in 1859, word Garibaldi gevra om ’n klein leërtjie op die been te bring
vir ’n oorlog wat Frankryk en Italië teen Oostenryk beplan vir die
bevryding van Lombardye en Venezia (Venesië en die gebied na die noorde). Garibaldi
se manskappe verdryf die Oostenrykers uit dele van Noord-ltalië, maar die
Franse keiser beëindig skielik die oorlog sonder dat die Oostenrykers
instem om Venezia te verlaat. Die
Italiane is woedend en gevoelens van nasionalisme word weer eens aangevuur.
DIE
Koninkryk van die Beide Siciliës
was ’n politieke
entiteit wat in 1816 uit die koninkryke van Sicilië en Napels
gevorm is. Garibaldi
wou lankal die Koninkryk van die Beide Siciliës verlos van die koning van
Napels en sy leër, die Napolitaanse soldate. Teen middernag op 4 Mei 1860
trek Garibaldi sy rooi hemp aan en loop af na die rotsagtige
strand
van Quatro. Teen
dagbreek die volgende oggend vaar hy en sy manskappe weg na Sicilië. Daar
is altesaam 1217 vrywilligers—wat as Die Duisend bekend sal staan. Sowat
die helfte is fabriekswerkers, maar daar is ook dokters, regsgeleerdes,
ingenieurs, sakelui, joernaliste, kunstenaars, klerke, bakkers, haarkappers,
groentehandelaars, skoenmakers en boere—en selfs een vrou. Die
Duisend land op 11 Mei by Marsala in Sicilië. Hulle word deur die Siciliane
verwelkom, en nog 150 vrywilligers sluit hulle by hulle aan. Ná ’n paar
dae marsjeer hulle die binneland in na die dorpie Calatafimi, en gevegte
breek in sekere nabygeleë heuwels uit. Die
Napolitane het twee keer
soveel
manskappe en kragtiger
wapens,
maar Garibaldi spoor sy
manne
aan deur te sê: "Hier maak
ons
Italië of sterf terwyl ons
probeer!"
Die Napolitane word so
uitgeput
dat hulle die aftog moet blaas. Kort hierna vat Die Duisend koers na die berge buite Palermo en in die nag van 26 Mei sluip hulle die stad binne. Die geesdriftige inwoners veg saam. Huisvroue gooi meubels, matrasse en ander dinge by hul vensters uit om die strate te blokkeer. Mans wat geen wapens het nie, gebruik enige stuk ystergereedskap waarop hulle hul hande kan lê.
Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom Die
gevegte duur drie bitter dae. Die Napolitane skiet voor die voet op
burgerlikes en dood of verwond honderde. Hulle plunder en moor met
bajonette. Maar ál meer mense sluit hulle by Garibaldi aan en uiteindelik
gee die Napolitane oor. Garibaldi
se manskappe jaag vyandelike soldate tot op die vasteland en maak gereed om
hulle ook daar te oorwin. Teen dié tyd weet feitlik die hele wêreld van
die oorwinning en Brittanje, Duitsland, Spanje en Amerika bied vrywilligers
en ekonomiese hulp aan. Toe
die Rooi Hemde na Napels opruk, gee baie van die Napolitaanse soldate oor en
die res vlug noordwaarts. Die jubelende inwoners van Napels kom uit die stad
gehardloop om hul "Verlosser" te verwelkom. Garibaldi
oorhandig die streek aan Victor Emmanuel II,
die
koning van Sardinië, en dit word deel van die nuwe land Italië.
In
hierdie stadium is Napoleon III
die
keiser van Frankryk. Victor Emmanuel II,
bang
om hom te vertoorn, stuur sy troepe om Garibaldi se opmars na Rome te stuit. Huiwerig
om teen sy mede-Italiane te veg, onttrek Garibaldi hom in die berge. Maar
Emmanuel se soldate agtervolg hom en skiet Garibaldi in die dy, waardeur hy
gedwing word om hom oor te gee. Hy en sy offisiere word in hegtenis geneem.
Openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom In
1864 aanvaar hy ’n uitnodiging om Engeland te besoek. Ofskoon dit reën
toe hy in Southampton aankom, kry hy ’n oorweldigende ontvangs. Vroue en
kinders dra rooi hemde, ’n Garibaldi-wals en -polka is bedink. Daar is
Garibaldi-beskuit, ’n Garibaldi-halsdoekspeld en selfs Garibaldi-parfuum. Die verafgode held word na Londen gebring waar nog meer verering op hom wag. Dan keer hy na Caprera terug vir nog twee jaar, maar die "ledige en nuttelose lewe", soos hy dit beskryf, is op die punt om te verander.
Teen
dié tyd is die 59-jarige Garibaldi half mank en siek, en baie van die
gevegte wat volg, word vanuit ’n koets beheer. "Wees arende," sê
hy aan sy Rooi Hemde. En arende is hulle inderdaad wat die een berg ná die
ander verower totdat Venezia aan hulle behoort. Garibaldi
wend hom nou tot Rome en maak die gemoedere gaande met die kreet: "Rome
of die dood." Teen
die einde van 1867 val die Rooi Hemde die pous se gebied binne. Maar weens
Victor Emmanuel se belofte aan Napoleon III
word
Garibaldi in hegtenis geneem. Ná ’n storm van protes word hy na Caprera
teruggebring waar oorlogskepe die eiland omring om te keer dat hy ontsnap. Een
nag, tydens ’n digte mis, ontsnap Garibaldi in ’n lekkende roeibootjie
en binne ’n paar dae is hy by sy Rooi Hemde. Net toe sy manne op die punt
was om die pous se leër te verslaan, stuur Napoleon III
’n
mag om die pous te help. Die Rooi Hemde word tot oorgawe gedwing. Die
uiteindelike toevoeging van Rome tot Italië geskied verbasend maklik. ’n
Oorlog tussen Frankryk en Pruise in 1870 lei tot ’n nuwe regering in
Frankryk, wat sy leër uit Rome onttrek. Die
koninklike Italiaanse leër ruk na Rome op en buit dit van die pous.
Garibaldi neem nie hieraan deel nie.
Foto deur Nadar, openbare besit vanweë die verval van kopiereg weens ouderdom Hy
veg nog in slegs een kampanje—dié keer ten behoewe van die Franse, wat
hulp nodig het om hul land teen Pruise te verdedig. In
Februarie 1871 keer hy terug na Caprera. Teen dié tyd is hy al feitlik ’n
kreupele weens rumatiek en ou oorlogsbeserings, en hy verwyl die meeste van
sy tyd deur poësie en romans te skryf. Hy sterf op 2 Junie 1882. In sy laaste lewensbeskrywing skryf hy: "Ek het ’n stormagtige lewe gehad, wat—soos dié van die meeste mense, glo ek—uit goed sowel as kwaad bestaan het. Ek durf sê dat ek altyd die goeie nagejaag het, vir myself en vir my medemens. As ek by enige geleentheid kwaad gedoen het, het ek dit onopsetlik gedoen."
Vir
die Italianers bly Garibaldi tot vandag toe ’n groot romantiese figuur en
volksheld. |
||||||||||