|
|
||
|
Basiese
feite omtrent kloning, geneties veranderde voedselsoorte en die gebruik
van stamselle in die geneeskunde Genetiese
ingryping ’n Piesang met ’n teenmiddel teen hepatitis B in sy samestelling. Tabakplante wat die erffaktore van ’n jellievis bevat. ’n Insek wat rondvlieg met menslike gene in sy selle. Word Frankenstein-monsters vandag wyd en syd deur die wêreld se wetenskaplikes geskep of is hulle besig om met hul kennis ons lewenstryd op die aarde te vergemaklik? Besluit maar self... Grafika: Mieliestronk.com |
||
|
N
die grootste, swierigste kamer in die huis lê Ouma op haar sterfbed. Sy
was nooit ’n maklike mens nie—bra selfsugtig en veeleisend, om die
reine waarheid te sê. ’n Mens wil dit nou nie te hardop verkondig
nie, maar daar gaan beslis nie baie trane op Ouma se begrafnis gestort
word nie. “Ek
het ’n goeie lewe gehad,” sê sy met ’n flouerige kraakstem terwyl
jy langs haar bed staan. “Daarom het ek besluit om dit alles weer van
voor af te doen.” Jy
lyk verbaas toe Ouma krampagtig na ’n koevert op die kassie langs haar
bed beduie. In ’n brief binne-in word in besonderhede oor die ontstaan
van ’n nuwe Ouma vertel. ’n Klompie van haar liggaamselle is besig
om in ’n nabygeleë laboratorium te vermeerder, lees jy, en onderaan
die brief het Ouma ’n lakonieke naskrif in haar bewerige handskrif
gekrabbel. “Sien
julle weer teen Kersfees.” Kloning. Die onnatuurlike vermenigvuldiging van identiese organismes deur middel van proefbuis-tegnologie. Dit is lankal nie meer ’n nuwe konsep in die wetenskaplike wêreld nie, en die Suid-Afrikaanse Wet op Menslike Weefsel verbied natuurlik die kloning van mense. En terwyl
groot wêreldmoondhede nog beheerde dierlike en plantaardige klonings sal toelaat, het hulle
self hoeka wal
gegooi om die kloning van mense met mag en mening te voorkom. Soos ’n
kommentator op CNN dit gestel het: “Sien die wêreld werklik kans vir
duisend Saddam Hoeseins?” Nee, daar is heeltemal te veel probleme
rondom menslike klonings om dit sommerso te laat gebeur. Nie
alleen is daar die oneindig baie etiese vraagstukke wat sulke praktyke kan
meebring nie, maar dit lyk boonop of wetenskaplikes nog nie eens naastenby
die volle tegniek van mens- en soogdier-klonings bemeester het nie. Dit
ondanks die min of meer geslaagde kloning van die beroemde skaap Dolly
’n klompie jare gelede. Só het ’n navorser van die Oregon Primate Research Centre in Amerika ’n tyd gelede aan die pers vertel dat die sentrum ná talle pogings om ape te kloon nog geen enkele lewensvatbare fetus van ’n gekloonde aap kon oplewer nie. Eerder was daar ’n “galery van gruwels”, wat bestaan het uit groteske, misvormde embrio’s wat eintlik lyk of hulle uit ’n rillerfliek ontsnap het. Tog is daar ander terreine van genetiese ingryping waar wetenskaplikes vandag op veel meer suksesse kan roem. Biochemici is byvoorbeeld lankal kliphard besig om baie van ons landbougewasse geneties te verander en, só glo hulle, doeltreffender te maak. Die uitdaging is om die resultate van hierdie genetiese ingryping só te kanaliseer dat dit voordelig en veilig vir almal is. Die mees fantastiese onwentelings word dan ook beplan—of het reeds werklikheid geword. Hieronder word meer daarvan vertel. Geneties
veranderde kosse vir die mens GEDOKTERDE
druiwe wat hartplobleme verminder. ’n Piesang met ’n teenmiddel teen
hepatitis B in sy samestelling. Tabakplante wat die erffaktore van ’n
jellievis bevat sodat hulle vanself kan gloei en die boer kan waarsku as
hulle deur ’n plaag aangeval word. En,
les bes, veranderde koffie wat nog presies ruik en smaak soos die ware
Jakob, maar geen greintjie kaffeïen meer in sy maaksel het nie. ’n
Opge-koffie-de aarde? Of ’n nuwe Utopie? Word Frankenstein-monsters
deur die wêreld se wetenskaplikes geskep of is hulle ywerig besig om
met hul kennis die stryd vir miljoene mense teen hongersnood te wen? Dit
is die vrae wat in groot erns gestel word, noudat die woorde
“genetiese manipulasie” selfs ’n deel van die gewone mens se
woordeskat geword het. Maar
wat beteken dit presies—hierdie ingryping in die oorgeërfde
eienskappe van die kosse wat ons eet? Een
ding wat ons moet onthou, is dat die mens darem al geslagte lank
doodnatuurlik besig is om die plante en diere vir sy etenstafel geneties
te manipuleer. Deur inteling en veredeling het hy immers lankal talle
nuwe kultivars van plante en diererasse geskep wat groter, geharder en
meer bestand teen hul parasiete is. Maar
in die afgelope jare is die wetenskaplikes aan die werk met ’n heel on-natuurlike
proses: deur in die diepste binnewerkinge van die selle van lewende
wesens te peuter en daaraan te verander, kan ’n kweper teoreties iets
van ’n krokodil ontvang of (en dit is al gedoen) ’n vrugtevlieg iets
van ’n mens. Maar
sê
nou, word gevra, die onheilige konkoksie ruk hand-uit en daar word
monsterkieme en -goggas vrygelaat wat niemand sal kan beheer nie? Om
dit so sterk te stel: is die mens nie besig om God te speel nie? Selfs
iemand soos prins Charles het al by geleentheid gesê wetenskaplikes
“oortree op die terrein wat aan God behoort”. Soos met malbeessiekte kan die gevolge jare later veel erger
wees as wat enigiemand ooit verwag het. Groot
biochemiese maatskappye het die Britse kroonprins egter onmiddellik
daarvan beskuldig dat hy in die pad van vooruitgang staan en op die
voordele van massaproduksie en plaagbestande kos gewys. Hulle word
gesteun deur talle voorstanders van genetiese ingryping wat nog baie
meer voordele daarin sien. Oral waar plante byvoorbeeld op dié wyse
veredel is, word gesê, is daar geld en sukses, en word meer kos gekweek
sodat meer mense daardeur gevoed kan word. Hier
by ons gebruik ons reeds Canola-olie wat deur genetiese ingryping
moontlik gemaak is. Die Canola-plant se olie kon eers glad nie gebruik
word nie—dit was giftig—maar nadat die binnestrukture verander is,
het ons ’n nie-toksiese olie wat poli-onversadig is en deur die
Hartstigting aanbeveel word. Boere
plant ook reeds lankal byvoorbeeld gemanipuleerde mielies en soja aan,
en kweek geil aan nuwe tamaties met ’n langer rakleeftyd. Ook die
veelsydige katoenplant,
waarvan die saad onder
meer vir die maak van kook-
en slaaiolie gebruik word, is geneties verander om ’n toksiese proteïen
te produseer wat vernietigende bolwurmruspers doodmaak.
Maniere
waarop plante en diere geneties verander word OM
genetiese manipulasie beter te begryp, kan ’n mens vir jou twee soorte
tamaties voorstel. Die een soort loop meer onder wurms deur en raak ook
gouer gekneus en vrot. Die ander soort bly langer ferm en bied meer
weerstand teen plae.
Voorts
isoleer hulle ook die geen wat die ander tamatie meer weerstand teen
wurms gee, en plant dit oor op die eerste tamatie om hom ook ’n
"beter’’ tamatie te maak. ’n
Ander soort manipulering is wanneer ’n mikro-organisme, soos die
bt-toksien (Bacillus thuringiensis), na die saad van ’n plant
oorgedra word. As ’n stamboorder die plant vreet—soos by suikerriet
gebeur—vrek die boorder. Verbruikers
is ontsteld omdat mense wat suiker eet dan ook die bt-toksien inkry.
Maar bt is vergaanbaar, nie giftig vir mense nie en die dosisse is
boonop so laag dat dit die mens nooit sal affekteer nie. Genetiese manipulasie kan deur middel van verskillende tegnieke uitgevoer word. By plante is die algemeenste metode die gebruik van ’n sekere bakterie, Agrobacterium tumefacsiens, as die draer van ’n geen wat die wetenskaplikes aan ’n spesifieke plant wil oordra. Die veranderde sel verander uiteindelik deur selverdeling vegetatief in ’n volwaardig veranderde plant (kyk die illustrasie enkele paragrawe ondertoe).By diere word sekere virusse weer gebruik om die gewenste eienskappe in die ontvangers se vroegste genetiese samestellings (eierselle) in te plant.Daar is ook meganiese tegnieke soos die een waarby die sogenaamde geen-kanon gebruik word. Piepklein goue kraletjies is die kanonkoeëls, en die gewenste geen word aan die oppervlak van ’n koeëltjie “vasgegom”. Hierna word die ballletjie in die kern van die sel ingeskiet. Nog ’n tegniek is mikro-injeksie, waarby die materiaal van een dier met ’n mikro-spuitnaald na ’n bevrugte eiersel van ’n ander dier oorgedra word. |
|
BO:
’n Plant kan geneties verander word deur ’n bakterie te gebruik wat
natuurlikerwys DNS in plantselle invoeg ten einde groeisels te
veroorsaak wat dit as voedsel kan benut. ’n Gewenste geen van, sê,
’n jellievis word in ’n DNS-seksie ingelas en dié word dan na die
bakterie oorgedra. Die bakterie infekteer plantselle en die gewenste
geen word in die proses vervolgens daarheen oorgeplaas. Die veranderde
plantselle word toegelaat om te verdeel en baie kopieë van hulself te
maak. Uit hierdie kopieë word plante in ’n kweekmedium gekweek. |
|
Genetiese ingryping in die stryd teen menslike siektes en kwale GENETIESE
manipulasie word op baie
maniere in die farmaseutiese bedryf aangewend. Met geneties
gemanipuleerde skape en koeie wil die navorsers byvoorbeeld menslike
eiwitte maak
wat as medisyne gebruik kan word.
Maar kloning bly steeds een van die
belangrikste vorms van genetiese manipulasie. En—glo dit—daar is wel
’n belangrike rede waarom sekere medici graag mense sou wou kloon.
Gelukkig het dit darem niks te doen met die skepping van reekse en
reekse identiese babas nie.
Biowetenskaplikes het naamlik
vasgestel dat daar sekere ongelooflik kragtige selle bestaan, selle wat
dalk eendag gebruik kan word om ’n hele reeks menslike siektes te
genees. Nuwe organe sal straks ook daarmee geskep kan word om dié te
vervang wat verlore gegaan het en op die koop toe sal hulle hopelik
feitlik enige deel van die liggaam kan verjong. Hierdie selle is
aanwesig in menslike embrio’s.
Hulle word embrioniese stamselle
(ES-selle) genoem. Embrioniese stamselle is die natuur se manier om ’n
mens tot stand te bring: hulle is in staat om tot feitlik elke ander
soort sel in die liggaam te ontwikkel. Embrio’s in hul vroegste
ontwikkelingstadiums bevat talle van hierdie spesiale selle wat nog nie
gedifferensieer en in meer gespesialiseerde soorte soos hart-, brein- en
senu-selle verander het nie. ES-selle verskyn sowat ’n week ná
bevrugting en is die “ouers” van al die selle in die volgroeide
menslike liggaam.
Hierdie
embrioniese stamselle het ’n verstommende potensiaal deurdat hulle so
in enige soort sel kan ontwikkel, hetsy ’n nuwe spier-sel wat kan
saamtrek of ’n nuwe senu-sel wat elektriese impulse aanstuur. In
proefnemings wat met diere gedoen is, het dit gelyk of stamselle wat
binne-in beskadigde liggaamsdele geplaas word, as’t ware
"weet" waar hulle hulle bevind en in presies die soort nuwe
selle verander wat op daardie spesifieke plek benodig word.
Wetenskaplikes
is besig om ondersoek in te stel hoe hulle aangewend kan word om ’n
menigte menslike siektes, waaronder hartsiekte, diabetes (suikersiekte)
en Parkinson se siekte te genees. Dit kan dalk selfs uiteindelik
moontlik wees om hele menslike "onderdele" met stamselle te
kweek.
Soos
gesê, moet embrioniese stamselle van baie jong embrio’s geoes word.
As jy egter siek is, sal dit waarskynlik veiliger wees om jou met
ES-selle te behandel wat geneties identities aan jou is sodat daar geen
kans kan wees dat jou immuunstelsel hulle verwerp nie. Teoreties kan
hulle geoes word van ’n vroeë embrio wat ’n gekloonde weergawe van
jou is. Hierdie embrio sal dan weggooi word. Maar hierdie doelbewuste weggooiery van embrio’s is juis een rede waarom terapeutiese kloning so kontroversieel is. Baie mense beskou immers embrio’s as die begin van die menslike lewe. Ander voel weer dat die tegniek so belowend is vir die moontlike redding van menselewens dat die doel die middele heilig. Baie navorsing lê egter nog voor en miskien
kom ’n skrander geleerde nog met ’n heeltemal ander oplossing
vorendag in die mens se stryd teen sy baie siektes en gebreke. Maar is daar daar dan geen ander plek waar ’n mens stamselle sal kry as in embrio’s nie? Daar is tóg. Stamselle kom ook in volgroeide menseliggame voor waar hulle voortdurend die liggaamsdele in stand hou en herstel. Daar word gesê dat hierdie volwasse stamselle gedeeltelik gedifferensieerd is—dit beteken dat hulle reeds deels op pad is om ’n besondere soort sel te word. Hulle is nogtans merkwaardig veranderbaar en kan steeds van byvoorbeeld breinselle in bloedselle omskakel. Baie mense wat bekommerd is oor die misbruik van embrio’s sal veel eerder wou sien dat metodes van behandeling met volwasse stamselle ontwikkel word.
Ongegronde vrese? WAT is dan die toekoms van genetiese manipulasie? Hoe ’n mens ook al daaroor voel, dit lyk of dit in ten minste sekere van sy vorms hier is om te bly. Voorstanders sê ons moet ook asseblief vergeet van nagmerrie-scenario’s soos in die rolprent Gatticca (1998), waarin net geneties “gesuiwerde” mense gesogte poste kan beklee, terwyl “liefdeskinders” wat op gewone maniere verwek is, gedoem is om mindere werk te doen. Een geleerde brei verder hieroor uit: “Baie mense se meeste vrese is heel waarskynlik hoogs ongegrond en berus miskien dikwels selfs op onkunde. Onthou ook dat daardie mal professore wat die ergste onheilighede in die rolprente aanvang, nie maklik in die ware lewe geduld sal word nie!” |