|
||
![]() |
||
|
||
|
DINK
aan die syferreeks 0 tot 100 of 1000. Hoe sien jy dit in jou gedagte?
Begin die syfer 0 onder op ’n "draad" wat stadig klim,
reghoekig buig op syfer 12, weer só buig by 20, en op 50 ’n skerphoek maak
voor hy steil opstyg tot by 100? Of
begin jou 0 in die suidooste, kinkel die syfers noordweswaarts tot by
10, loop reguit wes tot by 100 en swenk dan suidwes
tot by 1000? Malligheid,
sal jy waarskynlik wil sê. Maar daar is baie duisende mense wat sulke
(of ander) soorte "getalvorms" ervaar, en talle sal
waarskynlik verheug wees om te lees dat hulle nie die enigste op aarde
is nie! Mense
met getalvorms praat nie altyd maklik daaroor nie -- maar hulle bevind
hulle in uitgelese geselskap. Napoleon het sulke grafieke in sy
geestesoog gesien, ook ander van die grootste en beroemdste mense ter wêreld. Maar
dan word dit ook by die grootste domkoppe en misdadigers gevind, sodat
die getalvorm-mens eintlik niks het om op te roem nie! Soms
neem só ’n getalstreep die eienaardigste wendings aan. ’n Universiteitstudent het al
’n syferreeks beskryf wat drie maal om sy lyf
draai en die getal 100 is in sy regterbroeksak. Partykeer sien van dié mense ook getalle in allerhande kleure, byvoorbeeld ’n rooi 10, ’n geel 20, ’n blou 30, ensovoorts. ’n Mens sou dink dis alles straks net ’n breintruuk om abstrakte dinge konkreet te maak, maar so eenvoudig is dit ook nie. Die verskynsel het ’n naam: sinestesie. Dis nie ’n siekte nie, nie ’n "waansin" nie, maar ’n geneigdheid. ’n Karaktereienskap, kan ’n mens maar sê. En dit lyk of dit geneties kan wees, want lede van families deel dikwels die hebbelikheid. Wat dit des te verstommender maak, is dat familielede dit soms selfs eens is oor watter kleure aan watter getalle behoort! Alle min of meer "normale" mense sien seker die werklikheid om ons taamlik eenders. Daarteenoor kan ’n mens nouliks glo dat mense met wie jy elke dag omgaan, in só ’n wêreld van kleur en vorm lewe waarvan jy nie die minste vermoede gehad het nie! Soos Patricia Duffy, ’n taalinstrukteur by die Verenigde Volkere, dit op ’n keer gestel het (sy ervaar kleur wanneer sy na letters en syfers kyk): "Sinestesie is wonderlik. Om dit te verloor sou baie ontstellend wees, soos om een van jou sintuie te verloor." |
||
|
Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad |