|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
EROSIE:
Wat dit is en hoe om verwaarloosde grond te red EROSIE beteken die verwydering van afsettings, gesteentes en grond van die landskap, wat tot die skepping van nuwe landvorms lei. Só word magtige rotsafsettings byvoorbeeld met verloop van eeue deur riviere weggevreet, soos in die skouspelagtige Meiringspoort naby Oudtshoorn, by die Victoria-waterval in die Zambezi en op baie ander plekke (ook soos op die foto HIERBO in die Amerikaanse Weste). Erosie is ’n integrerende deel van ons lewende planeet.
Water, wind, dierlike gedrag en menslike werksaamhede kan almal gesamentlik of afsonderlik veroorsaak dat die bogrond verwyder en elders neergelê of in die see gespoel word. Bewaringsbewuste mense weet hoe belangrik dit is om ons kosbare grond te koester. Die rivieroewer op die foto HIERONDER was verspoeld en
uitgetrap en onooglik bar. Wat kon gedoen word om die situasie te red? Wel, vir eers kon vrugbare grond hierheen gebring word om die verlore grond te vervang. Dit sou egter niks gehelp het as die grond nie op ’n manier verstewig kon word om te keer dat dit met die volgende reëns weer net so in die rivier gespoel word nie. Daarvoor was plante nodig, terwyl ’n heining ook teen die rivieroewer aangebring sou moes word om die verdere uittrapping van die grond te voorkom. Die resultaat is op die ander foto HIERONDER te sien. Mense wat omgee, het ’n vergryp teen die natuur reggestel. En kyk net hoeveel groener en mooier lyk dit nou!
|