|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
GANDHI: Mahatma, die “Groot Siel” van Indië
Grafika op hierdie bladsy openbare besit vanweë verstryking van kopiereg as gevolg van ouderdom.
MOHANDAS
KARAMCHAND GANDHI is op 2 Oktober 1869 as die seun van ryk ouers in
Porbandar, Indië, gebore. Indië was destyds ’n deel van die Britse
Ryk. Gandhi
het in Engeland in die regte studeer waar hy, weens sy kleur en afkoms, as
’n tweedeklas-burger beskou is. Hierdie vroeë kennismaking met rassisme
en kolonialisme het Gandhi laat belangstel in die beginsels van lydelike
verset en geweldloosheid soos die Amerikaanse natuurkenner, filosoof en
skrywer Henry David Thoreau (1817-1862) dit beskryf het. (Lydelike verset
beteken om weerstand te bied sonder om met geweld te rebelleer.)
Gandhi
het hierdie begrippe in Suid-Afrika toegepas, waar hy hom van 1893 tot
1914 bevind het en as leier van die Indiërbevolking opgetree het, asook
daarna in Indië. In sy geboorteland het hy leier geword van die nasionale
beweging om Indië van die Britse beheer te bevry. Gandhi is in Indië as ’n
heilige beskou, en sy eerlikheid is nooit in twyfel getrek nie. Die
benaming Mahatma beteken ''Groot Siel''. Gandhi,
wat geweldloosheid en burgerlike ongehoorsaamheid verkondig het teen wat
as onbillike wette beskou is, het dikwels weens sy oortuigings en optredes
in die tronk beland. Hy het
egter baie van sy volgelinge oortuig dat onafhanklikheid deur
geweldloosheid verkry kon word. Hy het self verskeie kere gedreig om te
vas tot die dood as nie aan sy eise voldoen word nie.
Foto: New York State Archives
Hy
ook die Moslems en Hindoes probeer saamvoeg, maar kon nie daarin slaag om
Indië verenig te hou nie. In 1947 het die Moslemse deel van die land die
onafhanklike staat Pakistan geword. Indië het ook in 1947 sy
onafhanklikheid verkry. Hoewel
hy nooit die leiersamp beklee het nie, is Gandhi as Indië se politieke en
geestelike leier beskou. ’n Fanatieke sluipmoordenaar het hom in 1948 om
die lewe gebring.
|