|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
GRAND CANYON: Beeldwerk
van eeue der eeue Vreemde rotsformasies... groots en ontsagwekkend en deur die Coloradorivier oor baie eeue uitgekerf... die Grand Canyon word nie verniet as een van die sewe natuurwonders van die wêreld beskou nie...
Foto: U.S. National Park Service ETLIKE
honderde kilometers ver sny die vretende rivier deur die plato...
deur die dorre uitgestrektheid wat nogal baie soos ons Karoo lyk.
Dit is ’n indrukwekkende voorbeeld van die erosiewerking van ’n
rivier. Die
reusagtige kloof is een van die beroemdste toeriste-attraksies op aarde.
Die gesteentes in hierdie deel van die Amerikaanse woestyn is so ryk aan
kleure en kleurskakerings dat die naam ''Painted Desert'' daaraan gegee
is.
Foto: U.S. National Park Service
En
in die erosiedal onder die hoogvlakte wemel dit eweneens van die tinte en
kleure. ’n Menigte rotse troon hier omhoog in rooi, wit, groen, bruin en
swart, en in die klip sien jy allerhande gedaantes soos kastele, forte,
skepe en nog meer. Die
Grand Canyon, wat deur Coloradorivier uit die dorsland gekerf is, is 446 km lank, plek-plek byna 30 km breed, met enorme rotswande van
tot 1 800 m hoog. Dat die honger rivier hom selfs ná al die eeue nog nie
versadig gevreet het aan die klip nie, sien jy aan sy eie kenmerkende
kleur: rooi van die modder. (Trouens, die naam Colorado is die Spaanse
woord vir ''rooierig'' of ''gekleur''.) Die
Coloradorivier raas oor versnellings, kolk en draai om rotse heen en skuim
waar dit om die volgende hoek verdwyn. In die proses is van die gekleurde
rotse deur die millenniums heen ook wonderlik gepoleer. Die
erosieproses wat die Grand Canyon laat ontstaan het, is dieselfde as wat
die koppies en rante—en spoelslote—gevorm het wat jy sien as jy, sê
maar, deur die Vrystaat of Karoo ry. Die skaal is net ontsaglik groter. As
’n mens byvoorbeeld op die rand van die canyon staan en ondertoe kyk,
lyk ’n man op ’n perd daar onder soos ’n klein stippeltjie. En
probeer jy ’n klip gooi tot op een van die ''tafelbergies'' halfpad
ondertoe, val dit net hier by jou teen die afgrond. Die
Grand Canyon se erosie is ook dieselfde lot wat selfs die hoogste berge op
aarde tref. Die proses van afbreek is immers gedurig aan die gang, weens
die eroderende werking van water en wind.
Foto: JPL / NASA
So
enorm en haas ontoeganklik is die canyon dat die hart daarvan net te voet,
per muil of per boot bereik kan word. ’n Interessante inheemse dier is ’n
pienk ratelslang wat met die pienk sandsteen in die canyon versmelt.
Wetenskaplikes sê ’n groot deel van die geskiedenis van die aarde word
in die gesteentes onthul. In
die jongste tyd, minstens die afgelope 4000 jaar, was dit die tuiste van
Indiane. Die eerste Spaanse ekspedisie wat die gebied in 1540 besoek het,
het teruggekeer nadat hulle drie dae lank ’n pad na die canyon probeer
vind het. Daar is geen getuienis dat enige Europeërs voor 1776 weer
soontoe gegaan het nie.
Foto: U.S. National Park Service.
Joseph
Ives, ’n Amerikaanse ontdekkingsreisiger wat die canyon in 1857 besoek
het, het die streek as ''totaal waardeloos'' afgemaak en voorspel dat dit
''die laaste geselskap witmense'' sou wees wat hierdie '’nuttelose
terrein'' besoek. Hoe verkeerd hy was, sien ons aan die meer as vier
miljoen besoekers (van alle rasse) wat jaarliks stroom na hierdie diep
dalkloof wat as een van die sewe natuurwonders van die wêreld beskou
word. ’n
Gewese Amerikaanse president, Theodore Roosevelt, som die gevoelens op van
almal wat al die majestueuse skoonheid van die canyon aanskou het en
daardeur geraak is: ''Die indrukwekkendste natuurtoneel wat ek nog ooit
gesien het... Dit is pragtig en verskriklik en onaards... Los dit soos dit
is. Jy kan nie daarop verbeter nie.'' |