’n Laslappie van Mieliestronk

 

 

.GEEL

                 

Die kleur van roem en doem

GEEL is, soos almal natuurlik weet, ’n kleur. Wit lig is ’n mengsel van verskillende golflengtes. Dit beweeg vinniger in lug as in glas. Wanneer ligstrale só vertraag word, word dit gebuig of sogenaamd "gebreek" of "gerefrakteer". ’n Glasprisma refrakteer golflengtes in verskillende hoeveelhede en breek sodoende die lig op. Die strook geel lig lê tussen die rooi en oranje aan die een kant en die groen, blou, indigo en violet aan die ander.

 

 

’n Deel van ’n reënboogLINKS: ’n Deel van ’n reënboog—waarin geel ook sy regmatige plek inneem.

 

Let wel: geel is NIE ’n primêre kleur van lig nie. Die primêre kleure van lig is rooi, groen en blou. Oorvleuelende strale van hierdie kleure kombineer om verskillende resultate te lewer.  

 

Maar geel is inderdaad EEN VAN DIE PRIMÊRE PIGMENTKLEURE. Die ander twee is siaanblou en magenta (waarna daar dikwels foutiewelik verwys word as blou en rooi). Mengsels van verf van die primêre pigmentkleure lewer weer hul eie resultate.

 

Geel het ’n spesiale plek in ons wêreld. Dis die kleur van die son, van die kanarie in die kou, van affodille in die voortuin en distelblomme in die veld.

 

Dis die kleur van sonryp graanlande in die oestyd, van sterwende blare in die herfs—en van sekere baie nuttige bladsye in die telefoongids!

 

In voedsel, veral sekere vrugte, kan dit die teenwoordigheid van voedingstowwe aandui—gewoonlik yster en die vitamiene A en C.

 

Dit help diere om te oorleef. Baie tropiese visse, giftige paddas en stekende insekte is geel of het geel vlekke wat roofvyande waarsku dat hulle nie alte lekker smaak nie.

 

Panamese goue paddaREGS: ’n Panamese goue padda.

 

Foto: NatureServe / Vergunning U.S. National Science Foundation

 

Daarteenoor is die dowwe geel tinte van groot katte soos die leeus ’n uitstekende kamoeflering.

 

Heldergeel vere en snawels help voëlmannetjies om wyfies die hof te maak. Die oop geel bekkies van klein voëltjies stimuleer hul ouers om vir hulle kos te gee.

 

By die mens kan geel verskillende emosies ontlok—gevoelens van warmte en vreugde, of vyandskap en weersin.

 

Die antieke Chinese het ’n groot waarde daaraan geheg, en in die tiende eeu is dit tot amptelike kleur van die ryk verklaar. Die saffraangeel gekleurde gewade van Boeddhistiese monnike sou geestelike ontwikkeling en losmaking van wêreldse dinge voorstel.

 

Vir die antieke Grieke en Romeine was dit die kleur van gulhartigheid en edelheid, en dit is vereenselwig met Apollo, die mitologiese god van lig, reinheid en die son.

 

In die Middeleeue het die gevoelens egter verander: pleks van die kleur van roem was dit nou die kleur van doem. Skilders het Judas Iskariot in geel mantels uitgebeeld. In Frankryk is die deure van verraaiers geel beklad. In party lande is wette aangeneem wat die Jode daar verplig het om geel klere te dra omdat hulle Jesus verloën het.

 

In die vyftiende eeu het Hendrik van Wurtemberg en sy ridders in geel monderings opgeruk om hul vyande te intimideer. Slagoffers van die Spaanse Inkwisisie is in geel gedrapeer om kettery en verraad aan te dui. Die laksmanne het geel en rooi gedra.

 

In die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi's die Jode gebrandmerk deur hulle te dwing om geel armbande aan te hê.

 

Die lys waarin geel in ’n swak lig gestel word, raak ál langer... As iemand die spreekwoordelike geel baadjie aanhet, is hy ’n baie jaloerse skepsel. Die geel pers, sê die woordeboek, is "koerante en tydskrifte wat roekeloos jag maak op sensasieberigte en hulle verlustig in gekruide verslae oor menslike swakhede".

 

’n Rugbyspeler kan weens wangedrag op die veld ’n geel waarskuwingskaart ontvang.

 

Ook sekere siektes word met geel vereenselwig. Geelkoors is ’n gevaarlike, aansteeklike koorssiekte wat deur muskiete oorgedra word. Geelsug word gekenmerk deur ’n geelheid van die vel weens gal in die bloed.

 

In die onlangse tyd het geel darem wel iets van sy belangrikheid herwin. Die kleur trek immers onmiddellik die aandag. Trouens, dis moeilik om dit mis te kyk.

 

Geel waarskuwingstekenLINKS: Wie sal só ’n stuitige waarskuwingsteken langs ’n rivieroewer nie kan raaksien nie? Die geel skreeu dit immers uit: Lees hier!

 

Daarom gebruik adverteerders dit so graag en is dit so dikwels op die nommerplate van motorvoertuie en op gevaartekens te sien. In sekere lande word skoolbusse en taxi’s geel geverf om hulle opvallend te maak. Op die koop toe het navorsing getoon dat geel motors die minste in padongelukke betrokke raak.

 

Baie pille waarmee depressie behandel word, is geel gekleur.

 

Geelgranaat, geelsuiker, geeltulp en geelperskereën...  vandag is daar wel baie wat soet is aan die kleur wat in die gryse verlede so bitter verguis is.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad