|
GEHOORAPPARATE:
Wonderlike
hulp vir die dowes
STEL
jou voor jou ore is ''toe''. Jy’t nog nooit die suiwer gekoer van ’n
duif gehoor, die ritmiese geklots van die branders teen die rotse, die
meevoerende lied van ’n supersanger, die gesus van die wind nie. Meer
nog, jy weet nie hoe spraak moet klink nie. Jy's werklik afgesny van die wêreld.
Hoe
neerdrukkend hartseer moet dit nie vir duisende gehoor-gestremde mense in
vergange eeue gewees het om sedert hul geboorte van die een so belangrike
sintuig beroof te wees nie. Of vir mense soos Ludwig van Beethoven , die
musikale genie, wat eenmaal deur die helderste note bekoor is, maar op
dertig sy gehoor begin verloor het en in sy laaste paar jaar heeltemal
doof was.
REGS:
Ludwig van Beethoven (1770-1827).
Weliswaar
het sekere hardhorendes gou agtergekom dat hulle dowwe geluide op ’n
manier kon versterk. Dit is gedoen deur die punt van ’n tregtervormige
buis in die oor te druk. Maar só ’n oortrompet, en selfs die latere
elektroniese sak-apparate, was baiemaal eerder ’n ongemak as ’n groot
hulp. Ligjare ver is hulle van vandag se gesofistikeerde toestelle.
Trouens,
dit het deur die jare soveel verander dat gehoor-akoestici deesdae nie
eens meer van gehoor-apparate praat nie, maar van gehoor-rekenaars.
Hoorgoed het in toorgoed verander en
nuwe wêrelde vir gehoorgestremdes laat oopgaan. Praat van
sofistikasie teen die geluid-konsternasie!
Niks
groter as grondboontjiedoppe nie, is die BTE-toestelletjies en ITE-
apparaatjies. (BTE staan vir Behind The Ear—agter die oor, en ITE vir In
The Ear—in die oor.) By die BTE word die ontvanger, mikrofoon en
versterker letterlik in ’n kassie agter die oor gedra. Klank beweeg deur
’n sagte plastiekpypie na die oorkanaal.
Die
binne-oorse ITE (daar is twee tipes) het die voordeel dat dit kosmeties
meer aanvaarbaar is, maar daar is ook sekere nadele, soos die beperkings
wat die min ruimte op elektroniese komponente plaas.
Die
soort gehoorapparaat word aan ’n spesiale programmeerbare eenheid
gekoppel. Met dié eenheid word verstellings dan na gelang van die draer
se gehoorverlies gedoen.
|