|
’n Laslappie van Mieliestronk |
|
Foto: Charles H. Smith / U.S. Fish & Wildlife Service
Toor
jou hier, goël jou daar, en siedaar! Kort voor lank merk die toeskouers
hoe die sand begin roer. Dan gebeur die onmoontlike: die man staan op uit
die "dood" en vryf verdwaas maar springlewendig die sand uit sy
oë. In Haïti, ’n landjie in die Wes-Indiese Eilande, is dit ’n ou laai van toordokters of sogenaamde voodoo-priesters om só met die doofmiddels te "toor" wat hulle van die velle van verskeie soorte Suid- en Sentraal-Amerikaanse paddas kry. Hulle
gebruik hierdie gifstowwe om mense so te bedwelm dat dit lyk of hulle dood
is. Dan laat hulle kwansuis die dooies opstaan net wanneer die delmmiddels
natuurlikerwys begin uitwerk. Byna
alle paddas het ’n titseljie gif in hul velle. By die meeste soorte is
die uitskeidings te swak om enige uitwerking op groot diere of mense te hê.
Maar een groep—die gifpylpaddas van Suid- en Sentraal-Amerika—skei
party van die dodelikste stowwe af wat aan die mens bekend is.
Foto: Jim Ross / NASA Hierdie
klein, maar dikwels opsigtelike paddas behoort meestal tot die genera Dendrobates
en Phyllobates. Daar is sowat 135 spesies, waarvan minstens 55
giftig is. Die gif, ’n mengsel van chemikalieë wat van spesie tot
spesie verskil, word deur kliere in die vel afgeskei en beskerm die paddas
teen feitlik alle roofvyande. Eeue
lank reeds het Indiaanse jagters van die tropiese reënwoude van Suid- en
Sentraal-Amerika die uitskeidings van drie paddaspesies vooraan hul pyle
aangebring. Soms
word die punt regstreeks teen die vel van die padda gevryf. Ander kere
word die gif "geoes" en gebêre om later gebruik te word. ’n
Amerindiaan sal die padda met ’n skerp stok doodsteek, seker maak dat hy
nie van die gif aan sy eie vel kry nie, en die padda dan oor ’n vuur
hou. Die
hitte laat die kliere druppeltjies gif afgee, wat in ’n houer opgevang
en vir ’n paar dae eenkant gesit word om dit te laat gis. Die wapens
word later in die vloeistof gedoop. ’n Dier wat deur ’n vergiftigde pyl getref word, raak verlam wanneer die gif in sy bloedstroom beland, en die jag het dus geslaag.
Foto deur Arpingstone, wat dit in die Wikipedia-ensiklopedie tot openbare besit (“in the public domain”) verklaar het Die
Amerindiane verlaat hulle egter vandag nie meer soveel op die gifpylpaddas
nie, omdat vuurwapens grotendeels die blaaspyp en pyl en boog vervang het.
Maar die windmakerige amfibieë is besig om elders gewild te raak—in die
mediese wêreld. Die
afskeidings van sekere soorte bevat chemikalieë wat as pynstillers selfs
baie sterker as morfien is. Ander toksiene kan dalk nog eendag as
hartstimulant gebruik word vir mense wat ’n hartaanval gekry het. Die
grootste probleem vir die medici is dat gifpylpaddas in gevangenskap
geleidelik hul giftigheid verloor. Hul nasate is dan ook glad nie giftig
nie, waarskynlik weens die verandering in die paddas se kos. Dit is een
van die redes waarom dit so belangrik is om die reënwoude en hul bewoners
te bewaar. |
|