n Laslappie van Mieliestronk

GUTENBERG, JOHANNES
Pionier van die drukkuns

 

GutenbergREGS: Johannes Gensfleisch zur Laden zum Gutenberg (ca. 1398-1468). Dit is ’n voorstelling wat ná sy dood van hom gemaak is.

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

 

 

DIE Duitser Johannes Gutenberg was ’n baanbreker van die drukkuns in Europa met sy invoering teen omstreeks 1440 van ’n drukpers wat los gegote drukletters gebruik het. In 1455 het hy ’n Bybel uitgegee, sy grootste prestasie.

 

Hoewel die idee van los letters in die Europese drukkuns tradisioneel aan Gutenberg toegeskryf word, het sowel Nederlandse as Franse historici al met baie getuienis vorendag gekom wat die uitvinding van die Westerse drukkuns aan mense in hul eie lande toeskryf. Dit is bekend dat onder meer Laurens Janszoon Coster van Nederland en Procopius Waldfoghel van Frankryk ook in Gutenberg se tyd met los drukletters gewerk het. Sover ons weet, het hul bydraes egter nie die drukkuns kennelik bevorder nie.

 

Gutenberg se werk het wel. Die Gutenberg-Bybel word immers in die Weste beskou as die boek wat die era van die gedrukte boek ingelui het.

 

Danksy die innovasie van mense soos Gutenberg is boeke—en dus kennis—tot die beskikking van mense van alle stande gestel.

 

Tog is uitvoerige aantekeninge van hierdie Duitse drukker se lewe en werk ongelukkig maar skraal. Sy naam verskyn nie eens op enige van die werke wat aan hom toegeskryf word nie.

 

Bladsy uit Gutenberg-BybelLINKS: ’n Bladsy uit die gedrukte Bybel (in Latyn) wat as die werk van Gutenberg beskou word. Nog 'n afbeelding van bladsye uit hierdie Bybel verskyn in die Mieliestronk-artikel oor biblioteke.

 

Bron: U.S. Library of Congress

 

 

Die drukkuns het ook nie, soos baie mense dink, by Gutenberg of enige van sy tydgenote ontstaan nie. Dié kuns op sigself is baie oud. Trouens, reeds in die derde eeu v.C. het die Chinese dokumente gedruk deur van kleistempels gebruik te maak. In die jaar 400 het hulle ’n drukproses uitgevind waarin stempels wat uit houtblokke gekerf is, met ink bedek en dan teen papier gedruk is.

 

Hoe ook al, danksy Gutenberg en andere kon boeke goedkoop en op groot skaal uitgegee word. Net in die halfeeu van 1450 tot 1500 is meer as 6000 afsonderlike werke gedruk. Kennis van allerlei aard het vinnig oor die hele Europa versprei.

 

’n Houtsnee uit die 1560’s toon die werksaamhede in ’n destydse drukkeryREGS: ’n Houtsnee uit die 1560’s toon die werksaamhede in ’n destydse drukkery. Die eintlike drukpers is regs voor. Vlak by die drukpers smeer ’n werker ink aan die opgehewe metaalletters in ’n reghoekige raam, wat daarna—met ’n papiervel bo-op—onder die pers ingestoot sal word. Die drukker links voor kyk na ’n reeds gedrukte papiervel. Agter is lettersetters besig om met los gegote drukletters te werk. Dit is bekend dat Gutenberg ’n allooi van lood, tin en antimoon vir sy letters gebruik het. Sulke lettersetters het die los letters met die hand in die reghoekige raam geplaas wanneer hulle geskrewe teks gekopieer het. Agterna sou die metaalletters doodeenvoudig verwyder kon word om ander tekste te kopieer—dit kon dus oor en oor gebruik word.

 

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

 

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

 

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad