’n Laslappie van Mieliestronk

GUY FAWKES
 
 Die verraderlike komplot van die plofstof-man en sy makkers

Vuurwerk-animasie

Guy FawkesLINKS: Guy Fawkes (1570-1606), volgens ’n voorstelling wat omstreeks 1900 deur ’n illustreerder gemaak is.

Krediet: vir illustrasie links: Histories (“Public Domain Old”)
 

DIS die nag van die groot lawaai, 5 November—Ghaai Fôksaand, soos die kinders sê—en oral om jou hoor jy die klappers ontplof en sien jy die ligtende vuurwerk in die naghemel. Vir party mense is dit ’n groot geleentheid om te vier, ander wil met die hele knetterende kabaal niks te doen hê nie.

Talle het skaars ’n benul waaroor die Guy Fawkesvierings eintlik gaan. Weet jy? Indien nie, sal jy hierdie verhaal moontlik interessant vind... die ware storie van ’n berugte man van Engeland wat sy naam ook in die Suid-Afrikaanse folklore verewig het.

Die Britse parlementsgeboue aan die Teems in Londen, soos dit vandag daar lyk

BO: Die Britse parlementsgebou aan die Teems in Londen, soos dit vandag daar lyk. In die vroeë 1600’s wou ene Guy (of Guido) Fawkes en sy kamerade die Engelse parlement in Londen met plofstof in puin lê. Hulle wou die aristo­krotate, die edelliede en die koning vermoor en die bewind oorneem. Hul plan is op die nippertjie gefnuik, anders kon die Engelse geskiedenis baie anders verloop het.

Foto: Adrian Pingstone,
wat dit tot openbare besit verklaar het by Wikimedia Commons op die wêreldwye web (“released to the public domain”)

Ons verplaas ons na die jaar 1605. Koning Jakobus I oftewel James l *) (vroeër James VI van Skotland) het twee jaar tevore vir Elizabeth I as die Engelse monarg opgevolg. (Dit is terloops dieselfde koning na wie die “Authorized King James Version” van die Engelse Bybel genoem is, want die vertaling is deur hom gelas en ook tydens sy heerskappy  voltooi.)

James, ’n Protestant, word beskou as onverdraagsaam teenoor die Katolieke, wat steeds ’n aansienlike deel van Engeland se bevolking uitmaak. Hy was dus skaars op die Engelse troon of ’n aantal komplotte is al teen hom gesmee.

Maar nou word die heel belangrikste sameswering bedink: die Buskruit-komplot. ’n Groep mans, onder wie ’n man van Yorkshire met die naam Guy (of Guido) Fawkes, konkel saam met die doel om James en sy land se hoës te vermoor en sodoende die regering omver te werp.

Om die verraad te volvoer, werf sir Robert Catesby, ’n Katoliek van Warwickshire, ’n groep manne. Hulle huur ’n gewelfkelder onder die hoërhuis in die parlementsgebou nadat hul poging misluk het om ’n tonnel onder die gebou te grawe. Hierna bring hulle heimlik 36 vate met buskruit (of sowat 800 kg daarvan) na die kelder. Die buskruit word onder stapels vuurmaakhout en steenkool versteek.

Hul oogmerk is om die buskruit op 5 November te laat ontplof en daarmee die parlementsgebou te verwoes...  terwyl die aristokrate en edellui binne-in is, al die Protestantse hoës en selfs die meeste van die Katolieke. Ook die koning sal daar wees, want hy gaan op daardie dag die parlement toespreek. Die ganse regeringskorps van Engeland sal só met een slag uitgewis kan word.

Maar toe, op 26 Oktober 1605, word ’n anonieme brief ontvang deur ene lord Monteagle, vermoedelik geskryf deur sy swaer sir Francis Tresham, een van die samesweerders. Lord Monteagle word gewaarsku om van die parlement af weg te bly weens ’n “verskiklike slag” wat dit sou tref. Hoewel gemeen word dat die brief sommer net ’n poets is, bly lord Monteagle agterdogtig, en uiteindelik word die brief aan koning James gewys.

Die koning stuur sir Thomas Knyvet om die kelders onder die parlementsgebou te ondersoek. Sir Thomas se nagtelike inspeksie vind in die vroeë oggendure van 5 November plaas, en die versteekte plofstof word gekry in die kelder wat die samesweerders gehuur het. Guy Fawkes word gearresteer toe hy die kelder binnegaan of verlaat... bronne verskil oor presies wat daar gebeur het, maar dit was slegs ’n paar uur voor die beplande ontploffing. Alles kom op die lappe. ’n Kolossale ramp word voorkom.

Die meeste van die samesweerders word gevange geneem, verhoor, gemartel en oplaas gehang. Van almal sou Fawkes die meeste onthou word, want dit was hy wat die ontploffing moes laat gebeur. Die taak is waarskynlik aan hom opgedra weens sy militêre ondervinding en  omdat hy vantevore met plofstof gewerk het. Hy het naamlik vroeër tien jaar lank as soldaat ter wille van die Katolieke saak vir die Spanjaarde in Europa geveg. Dit was in daardie tyd dat hy die naam Guido aangeneem het en bes moontlik sy groot kennis omtrent plofstof opgedoen het.

Toe Fawkes en sy kamerade tereggestel moes word, was hy geweldig uitgeput omdat hy soveel gemartel was om hom te dwing om te verklap wie almal by die sameswering betrokke was. Hy was die laaste een wat teen die leer na die galg opgeklim het. Hy het egter van bo af ondertoe gespring en sy nek gebreek. Só het hy gekeer dat hy opgehang word.

Hierna het dit ’n formaliteit geword om die kelders van die parlementsgebou pynlik gereeld voor elke nuwe parlementsitting te deursoek... net om seker te maak...

Guy Fawkes verskyn voor die koning

BO: Guy Fawkes verskyn voor die koning nadat hy gevange geneem is, volgens ’n kunswerk van nagenoeg 1870 deur sir John Gilbert.

Krediet: Histories (“Public Domain Old”)

In Engeland—en in verskillende wêrelddele waar sekere mense van Engelse afkoms woon—word 5 November steeds elke jaar feestelik gedenk, tradisioneel uit pure blydskap dat die parlement toe nie destyds die lug ingeblaas is nie. Ook tradisioneel sou kinders van vorige geslagte jaarliks die aand van 5 November ’n groteske pop verbrand wat Fawkes sou voorstel en ’n “guy” genoem is.

’n Suid-Afrikaanse senior burger wat in die jare van die Tweede Wêreldoorlog (die 1940’s) op Port Alfred gewoon het, waar daar destyds nog talle afstammelinge van die Britse Setlaars van 1920 was, onthou dat die kinders van hierdie Oos-Kaapse kusdorp gereeld op Guy Fawkesaande poppe verbrand het. Hulle het ook van huis tot huis geloop en geld of geskenkies gevra deur by die voordeure te dreunsing:

Guy, guy, guy,
penny for a guy.
Haven’t got a penny,
a ha’penny will do.
Haven’t got a ha’penny,
God bless you.

(Die “penny” en “ha’penny” was Britse munte, maar Suid-Afrika het ook sy pennies en halfpennies gehad. Toe ons land in 1961 na die desimale geldstelsel oorgeskakel het, is een pennie gelykgestel aan een sent.)

Die genoemde “guy”-seremonie kom ooreen met Amerikaanse kinders se “trick-or-treat”-gebruik tydens hul jaarlikse Halloween op 31 Oktober. Maar sover dit Guy Fawkesaand aangaan, lyk dit of die vierings vandag nog meestal net met vuurwerk voortgesit word. Die huis-tot-huis-gebedel en brandende poppe is blykbaar iets van die verlede. Ten minste in Suid-Afrika. Die verhaal agter Guy Fawkesaand is immers so te sê vergete, maar vuurwerk is mos vir baie mense so prettig.

En praat van piromaniese kaperjolle... of miskien moet ’n mens dit sommer klapper-jolle noem!

Maar plesierig of nie, talle mense reken daar is ’n hele paar goeie redes hoekom hierdie vurige uitbundigheid van gewone lede van die publiek, groot en klein, sterk ontmoedig moet word—op Guy Fawkesaand sowel as tydens die Nuwejaarsvieringe of wanneer ook al.

Talle van die jolige lawaaimakers besef byvoorbeeld blykbaar nie wat hulle aan die senuwees van hul arme honde doen nie. Die mens se tradisionele beste vriend hoor geluide baie harder as ek en jy, en elke enkele klapperknal moet vir hom soos ’n skrikwekkende donderslag klink. Ná slegs twintig, dertig sulke ervarings moet ou Wollie omtrent ’n wrak wees.

En dan is vuurwerk natuurlik ook nie rêrig iets om mee te speel nie. In die hande van agtelosiges, onoplettendes, dromers en soms selfs heeltemal verantwoordelike mense kan dit baie gevaarlik en partymaal lewensgevaarlik wees.

As jy vuurwerk wil geniet, gaan kyk na die beheerde vertonings wat deur opgeleides aangebied word—en wat maklik honderd keer skouspelagtiger sal wees as enige onbeholpe (en boonop dikwels onwettige) geknoei met gevaarlike klappergoed op jou eie werf.

__________________________

*) Mieliestronk.com volg, waar moontlik, die beleid om nie Britse koninklikes se name te verdiets soos veral vroeër gebruiklik was nie. Dit maak immers vir ons geen sin om byvoorbeeld die verskillende Engelse konings Charles van weleer Karel te noem, terwyl die huidige Britse troonopvolger Charles is en so nimmer aste nooit Karel sal word nie.

Klik hier om terug te keer na die Laslappie-bladwyser

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad