|
||||||||||||
Y
kyk op die oomblik daarteen vas—of nee, jy is kennelik besig om
heeltemal dwarsdeur dit te kyk. Waarvan praat ons? Die glas aan die
voorkant van jou rekenaarskerm, natuurlik!
Glas
is en bly een van die onontbeerlikste kommoditeite op aarde, wat in ons
motorruite, kamervensters, bottels en hoeveel ander alledaagse artikels
voorkom. Sonder glas in mense se brillense sou die lewe vir hulle maar
bitter dof en vaal gewees het. Om nie praat van hoe ons glasloos sonder
ons drinkglase, koorspennetjies, teleskope, spieëls, kweekhuise,
glasvesel, ensovoorts sou klaargekom het nie. Glas word selfs vir die
uitkykvensters van ruimtetuie gebruik. Maar
wat was glas voor glas glas was? ’n Belangrike bestanddeel van verreweg
die meeste soorte is, glo dit, niks anders as suiwer sand nie. Natuurlike
glas bestaan dan ook reeds van alle eeue af. Dit word gevorm waar sekere
soorte rotse smelt wanneer hulle aan hoë temperature blootgestel word.
Sulke smeltings kan gebeur by verskynsels soos vulkaniese uitbarstings of
waar weerlig of meteoriete die aarde tref. In
die Steentyd het mense glo snywerktuie gebruik wat van obsidiaan gemaak is
(’n natuurlike glas van vulkaniese oorsprong wat ook glaslawa genoem
word), asook tektiete (glasagtige soorte klip wat op ander maniere gevorm
is of selfs uit die buitenste ruimte op die aarde beland het).
BO: Obsidiaan (of glaslawa) is ’n digte vulkaniese glas. Dit is in die reël swart van kleur vanweë kristalle van ysteroksied (roes) wat daarin voorkom.
Foto: U.S. Geological Survey
Die
ontdekking van glasbereiding VOLGENS
die ou Romeinse skrywer en ensiklopedis Plinius die Ouere (nagenoeg 23-79
n.C.) sou Feniciese handelaars glas omstreeks 5000 v.C. aan die sanderige kus
van Palestina ontdek het—of liewer per ongeluk van die bestaan daarvan
bewus geword het. Plinius
het beskryf hoe ’n aantal Feniciese matrose met ’n swaarbelaaide skip
van Alexandrië af oor die Middellandse See gevaar het. ’n Geweldige
storm het die skip meegesleur en dit naby die berg Karmel in Palestina
laat strand. Die
skeepsvrag het bestaan uit blokke natron (natriumkarbonaat of wassoda), en
die matrose het soveel moontlik daarvan gered. Op die sand het hulle ’n
vuur van bamboes en opdrifsels gemaak en hul kospotte op ’n paar blokke
natron oor die vuur geplaas. Later
het hulle opgemerk hoe die hewige hitte van die vuur die natron en die
sand laat saamsmelt het waardeur ’n harde, deurskynende stof gevorm is.
Die "glas" wat só verkry is, kon deur hitte weer gesmelt word. Hierdie
verhaal is bes moontlik niks meer as ’n blote legende nie, moontlik
versin om te verduidelik hoe die Feniciërs
begin het om glas uit sand te vervaardig. Nader aan die waarheid— en
gegrond op opgrawings—is miskien dat die eerste mensgemaakte
glasvoorwerpe, hoofsaaklik ondeursigtige glaskrale, omstreeks 3500 v.C. hul
verskyning in Egipte en Oos-Mesopotamië gemaak het. In
die derde millennium v.C., in Sentraal-Mesopotamië, is die basiese
grondstowwe van glas hoofsaaklik gebruik om glasuur op potte en vase aan
te bring. Die ontdekking kon bloot toevallig gewees het, waar kalkhoudende
sand in ’n oorverhitte oond beland en met soda verbind het om ’n
glasuurglans op die keramiekware te vorm. Dit was daarna veral Feniciese
handelaars en matrose wat hierdie nuwe kunsvorm teen die kuste van die
Middellandse See langs versprei het.
Die oudste fragmente van glasvase—getuienis van die oorsprong van glashouers—dateer egter van die sestiende eeu v.C. en is in Mesopotomië gevind. Die maak van glashouers was omstreeks hierdie tyd ook aan die ontwikkel in Egipte, terwyl daar eweneens getuienis is van ander antieke glasmaakbedrywe wat onafhanklik van mekaar in Micene (Griekeland), China en Noord-Tirol ontstaan het.
Gegote
glas NÁ
1500 v.C. het Egiptiese vakmanne ’n metode vir die vervaardiging van
glaspotte ontwikkel deur ’n kernvorm van klei wat aan ’n metaalstaaf
vas was in gesmelte glas te doop en dan die vorm te draai sodat die
gesmelte glas aan die klei vaskleef. Terwyl die glas steeds sag was, kon
die met glas bedekte vorm dan op ’n plat klip gerol word om die glas
glad te maak of te versier. Eindelik is dit stadig afgekoel waarna die
kleikern uit die verharde pot geskraap is. Hierdie glasware het in die reël
die vorms nageboots wat reeds vir keramiek-, metaal- en kliphouers gebruik
is.
Ietwat
later is die gietvorm-tegniek gebruik waar gesmelte glas in ’n gietvorm
ingeforseer of glasstukkies in die vorm gegooi en dan saamgemelt is. ’n
Gegote houer is daarna getemper (stadig afgekoel in ’n spesiale
kompartement van die glasoond) en dikwels geslyp en gepoleer om die ruwe
rande glad te maak. Die oudste voorbeelde van Egiptiese glasware is drie vase wat die naam van die farao Toetmoeses III (1504-1450 v.C.) dra. Glasproduksie
het tot omstreeks 1200 v.C. in Egipte en Mesopotamië gefloreer en toe weer
etlike eeue lank feitlik verdwyn. In die negende eeu v.C. het glasmakery in
Mesopotamië herleef, terwyl Sirië ook as ’n glasproduserende sentrum
verrys het. Die bedryf het toe regdeur die wêreld aan die Middellandse
See versprei. In
die Hellenistiese tydperk het Egipte, vanweë die glaswerke by Alexandrië,
’n toonaangewende rol gespeel in die verskaffing van luukse-glas aan
koninklike howe. Glasblasery Maar
hierdie toedrag van sake het vinnig verander toe Romeinse onderdane
waarskynlik in Fenicië (nou meestal in Libanon) ontdek het dat glas
in vorms geblaas kan word. Gesmelte glas word aan die punt van ’n hol
blaaspyp aangebring en soos ’n borrel opgeblaas. Dit kan in ’n hol
vorm ingeblaas word of aan die punt van die blaaspyp vrylik met eenvoudige
gereedskap in allerhande vorms omgetower word. Skielik kon ’n glaswerker
nou met behulp van glasblaas-tegnieke dosyne voorwerpe per dag maak—wat
dit spoedig goedkoop gemaak het sodat elkeen glasvoorwerpe kon besit.
Die
rol van die ou Romeine
In
die Romeinse wêreld is glas is byvoorbeeld in elke stadium van die
bereiding en die voorsit van kos gebruik. Hoewel die baie ryk mense uit
borde van goud en silwer geëet het, het baie meer mense glashouers
gebruik om kos op te dien, om uit te drink en om die hande tussen die
geregte te was.
Die
ou Romeinse skrywers het ook oor smeedbare glas geskryf. Petronius
(oorlede 66 n.C.) het byvoorbeeld vertel van ’n kunstenaar wat dinge van
glas kon maak wat net so sterk was asof hulle van goud of silwer gemaak
was. Hy het ’n baie mooi glasbeker vervaardig en dit toe aan die keiser
Nero (37-68 n.C.) gegee. Voor
die keiser het hy die beker heftig op die klipvloer neergesmyt—maar dit het nie gebreek nie, net ’n bietjie ingeduik. Die kunstenaar
het vervolgens ’n hamer uit ’n sak gehaal en die duik daarmee
uitgeslaan net soos ’n mens met ’n metaalbeker sou doen. Die keiser
het hom gevra of daar nog iemand anders was wat weet hoe om hierdie soort
glas te maak. Hy het nee geantwoord. Daarop
het die keiser beveel dat die man dadelik onthoof moes word—want, het
hy gesê, ''as hierdie kuns bekend word, sal goud en silwer van geen
meer waarde as vuilgoed wees nie". En
tot vandag toe weet niemand nog waarvan die kunstenaar sy beker gemaak het
nie! Waarheid of verdigsel? Hoe ook al, dit was eweneens die Romeine wat glas in die argitektuur begin aanwend het nadat helder glas omstreeks 100 n.C. in Alexandrië ontdek is (deur die byvoeging van mangaandioksied). Gegote glasvensters, wat egter nog lank nie so verfynd as vandag se ruite was nie, het hul verskyning in die belangrikste geboue in Rome en die mees luuksieuse villas van Herculaneum en Pompejii begin maak.
In
286 n.C. het keiser Diocletianus die Romeinse Ryk vir administratiewe
doeleindes in twee dele (wes en oos) verdeel. Hierdie geografiese
verdeling sou meebring dat kundige glasbereiders minder oor en weer beweeg
het, met die gevolg dat die oostelike en westelike glasware elk hul
eiesoortige eienskappe begin ontwikkel het. Alexandrië
het die belangrikste gebied vir glasvervaardiging in die ooste gebly en
luukse-glas veral vir uitvoer geproduseer. In Rome se westelike ryk het
die stad Keulen in die Rynland tot die spil van die glasbereidingsbedryf
ontwikkel, hoewel oostelike tegnieke steeds meestal aangewend is. Maar met
die verval van die Romeinse Ryk en kultuur het die tegnieke vir
glasbereiding, veral in die vyfde eeu, weinig vordering getoon. Germaanse
glasware is nie meer so ryklik versier nie omdat vakmanne hul verkreë
kennis en behendighede versaak en die kuns nie langer ontwikkel het nie.
Ontwikkelings
teen die jaar 1000 tot die begin van die twintigste eeu TEEN
die jaar 1000 het ’n betekenisvolle verandering in Europese
glasbereidingstegnieke plaasgevind. Omdat dit so moeilik was om
grondstowwe in te voer, is soda-glas geleidelik vervang deur glas wat met
potas gemaak is. Die potas is deur die verbranding van bome verkry. Glas
wat noord van die Alpe vervaardig is, het nou begin verskil van die glas
van die Middellandse See-gebied, waar byvoorbeeld Italië steeds soda-as
as belangrike grondstof bly gebruik het.
Ook in die elfde eeu het Duitse glasvakmanne ’n tegniek ontwikkel om glasplate te maak—wat in die dertiende eeu deur Venesiese vakmanne verder ontwikkel is. Deur ’n hol glasbal te blaas en dit op en af te skud, sou swaartekrag die glas laat uitrek het tot ’n silindriese "peul" van tot 3 meter lank en 45 sentimeter breed. Terwyl dit nog warm was, is die punte van die "peul" afgesny en die pyp wat oorgebly het in die lengte oopgesny en plat neergelê. Venesië, wat in die Middeleeue die Middellandse See met sy handelsvloot beheers het, het ook die Westerse wêreld se sentrum vir glas geword en in een stadium meer as 8000 vakmanne gehad wat in glasbereiding gespesialiseer het. Tot die einde van die dertiende eeu is die meeste glas van Venesië in die stad self gemaak, maar die baie brande wat deur glasoonde veroorsaak is, het die stadsowerheid genoop om die glasfabrieke na die eiland Murano oor te plaas. In
die tweede helfte van die vyftiende eeu het die vaklui van Murano
kwarts-sand en potas wat uit seeplante gemaak is, begin gebruik om ’n
besonder suiwer kristal te vervaardig. Teen die einde van die sestiende
eeu was 3000 van die eiland se 7000 inwoners op die een of ander manier
betrokke by die glasbereiding. Die
ontwikkeling van loodkristal word toegeskryf aan die Engelse
glasmaker George Ravenscroft (1618-1681), wat sy nuwe glas in 1674
gepatenteer het. Hy het die opdrag gekry om ’n plaasvervanger te vind
vir die Venesiese kristal wat in Murano gemaak en waarvoor suiwer
kwarts-sand en potas gebruik is. Deur groter hoeveelhede loodoksied pleks
van potas te gebruik, kon hy ’n sierglas met ’n hoë brekingsindeks
skep wat baie geskik vir diepslyping en graveerwerk was. In
1688 is ’n nuwe proses vir die maak van glasplate in Frankryk ontwikkel,
hoofsaak glasplate vir spieëls, wat tot in daardie stadium beelde nog
glad nie te waffers kon weerkaats nie. Die gesmelte glas is oor ’n
spesiale tafel gegiet en plat uitgerol. Nadat dit afgekoel het, is die
glasplate op groot ronde tafels deur middel van roterende skywe met
skuursand geslyp en daarna met skywe van velt (deurmekaargewerkte
wolvesels) gepoleer. Daarmee is sulke gladde glasplate verkry dat
uitstekende spieëls gemaak kon word deur dit aan die een kant met ’n
weerkaatsende metaal te bedek. Dit was egter eers in die latere stadiums van die Industriële Revolusie dat die meganiese tegnologie vir massaproduksie op die toneel begin verskyn het , terwyl diepgaande navorsing ook gedoen is oor die verhouding tussen die samestelling van glas en sy fisieke eienskappe. Die een ontwikkeling het op die ander gevolg met wetenskaplike studies oor die uitwerking van talle chemiese stowwe op die optiese en termiese eienskappe van glas, asook ’n veranderde glasoond wat massaproduksie moontlik gemaak het deur die voortdurende lewering van veel groter hoeveelhede gesmelte glas.
Teen die einde van die negentiende eeu het 'n Amerikaanse ingenieur ’n outomatiese bottelblaas-masjien uitgevind.
DIE
eerste
ware verandering van die ou gebruik om glasplate te skep deur gesmelte
glas op groot tafels te giet en dit dan plat te rol, het in 1905 geskied
toe ’n Belg genaamd Fourcault daarin
geslaag het om ’n aaneenlopende glaspaat met ’n egalige dikte uit die
tenk van gesmelte glas te voorskyn te bring. Die kommersiële produksie
van glasplate wat met die Fourcault-proses
geskep is, het in 1914 op dreef gekom. Teen
die einde van die Eerste Wêreldorlog het nog ’n Belgiese ingenieur, ene
Emil Bicheroux, ’n proses ontwikkel waarvolgens die gesmelte glas
regstreeks uit ’n pot deur twee rollers gestuur is. Daarmee is ’n glas
met selfs egaliger dikte geskep, wat die slyping en polering makliker en
meer ekonomies gemaak het. ’n
Verdere ontwikkeling in die produksie van glasplate was die versterking
van glas deur middel van laminering, waar ’n laag selluloïed tussen
twee glasplate ingevoeg is—’n nuwe veiligheidsglas wat deur die
Franse wetenskaplike Edouard Benedictus uitgevind en in 1910 gepatenteer
is. In
die vlotproses wat ná die Tweede Wêreldoorlog deur die maatskappy Pilkington
Brothers van Brittanje ontwikkel
en in 1959 in gebruik gestel is, word
gesmelte glas oor die oppervlak van ’n bad gesmelte tin gegiet waarop
dit uitsprei en verplat voordat dit horisontaal in ’n aaneenlopende band
weggevoer word.
Maar daarmee het die tegnologiese ontwikkeling van glasbereiding nog lank nie tot ’n einde gekom nie. Deesdae is dit ’n integrerende deel van gerekenariseerde beheerstelsels, bedekkingstegnieke, sonkragbeheer en ’n duisternis ander dinge.
Daar is ’n ou uitdrukking wat die krabbelaars
van graffiti ontmoedig en lui: "Gekke en dwase skrywe hul name op
mure en glase." Tog is die mees gerespekteerde glasvervaardigers
vandag alte trots om hul name op hul glasprodukte te skryf—sonder die
geringste vrees dat hulle hulle daarmee as dwase sal brandmerk!
|
||||||||||||