|
Gom Nog altyd gedink jy weet presies hoekom gom dinge so stewig aanmekaar vaslym? Die antwoorde op sulke "simpel" vrae is baiemaal glad nie so eenvoudig as wat ’n mens sou reken nie… |
||
AAR
is baie vrae wat ’n mens kan stel oor die mees gewone dinge in die wêreld
om ons—vrae oor verskynsels wat ons almal as vanselfsprekend aanneem.
’n Mens sou dink die antwoorde daarop is doodeenvoudig en voor die
hand liggend. Een só ’n vraag is: Hoekom laat gom dinge blywend
aanmekaar vassit? Maar
sulke vrae is dikwels glad nie so eenvoudig as ’n mens mooi daaroor
nadink nie. Dit help nie om te sê dis omdat gom klewerig is nie.
Heuning of suikerstroop is immers ook klewerig, maar jy sal laf wees as
jy byvoorbeeld ’n prentjie met behulp van heuning of stroop in ’n
boek wil inplak! Tog
het wetenskaplikes al die raaisel van gomme vir ons opgelos deur met
betreklik maklike verklarings vir die kleefvermoë van hierdie soort
stowwe vorendag te kom. Gegomde dinge kleef doodeenvoudig aanmekaar vas
omdat die gom hulle as’t ware aanmekaar "vassweis". Hoe dit
gedoen word, hang van die soort gom en die tipe materiale af. Die
oppervlakke van baie soorte materiaal—soos papier, houtplanke en vele
meer—is eintlik hoegenaamd nie so glad soos hulle op die oog af lyk
nie, maar vol piepklein gaatjies, gleufies en barsies. ’n Mens kan dit
duidelik sien as jy sulke stowwe deur ’n mikroskoop bekyk. In sy
vloeibare toestand vul die gom daardie openinkies op en bou ’n brug
tussen twee oppervlakke. Hierna verhard die gom sodat die saamvoeging
blywend word.
Maar
dit kan ook gebeur dat die molekules op die oppervlakke van voorwerpe
verstrengel raak met die molekules van die gom—wat weer vir ander
soorte aaneenhegtings sorg. Vlugtige kleefstof los byvoorbeeld twee
verskillende plastiek-oppervlakke op sodat hulle versag en aanmekaar
vassit—net om weer te weer te verhard en ’n blywende binding in die
plastiek te vorm nadat die kleefmiddel verdamp het. Daar
is ’n groot menigte verskillende soorte kleefmiddels. Selfs
nie-organiese stowwe soos bou-sement kan as "kleefmiddels"
beskou word—dit hou mos darem bakstene stewig bymekaar—maar in die
gewone sin van die woord is kleefstowwe organiese dinge soos gomme en
harse, wat sowel natuurlik as sinteties kan wees. Natuurlike
kleefstowwe is reeds in die Oudheid deur die mens gebruik. Die eerste
kleefstowwe was verskillende soorte plantgom en -harse. Argeoloë het
6000 jaar oue keramiekhouers gevind wat gebreek was en met planthars
herstel is. Amerikaanse Indiane in wat tans die oostelike deel van die
Verenigde State is, het ’n mengsel van spardennegom en vet as ’n
kleefmiddel gebruik. Egiptiese
sneewerke wat na berekening 3300 jaar oud is, toon dat ’n dun stuk
fineer vasgelym is aan iets wat na ’n sekere soort houtplank lyk.
Papirus, die voorloper van moderne papier, het vesels van rietagtige
plante bevat wat met meeldeeg saamgebind is. Asfalt, soorte boompik en
byewas is in antieke en Middeleeuse tye vir verseëling en as
kleefstowwe gebruik. Houtvoorwerpe
is saamgeheg met die gom wat van visse, horings en kaas verkry is. Die
tegnologie van diere- en vis-gomsoorte het in die agttiende eeu
ontwikkel en in die negentiende eeu is semente in gebruik geneem wat op
rubber en nitrosellulose gegrond was. Maar
dit was eers in die twintigste eeu dat die tegnologie van kleefstowwe
met rasse skrede vooruitgegaan het. Natuurlike kleefstowe is verbeter en
baie sintetiese stowwe wat deur chemici ontwikkel is, het die
natuurlikes verdring. Die
vinnige vooruitgang in die lug- en ruimtevaartbedryf het die tegnologie
van kleefstowwe ook geweldig beïnvloed. Die behoefte aan supersterk en
uiters weerstandbiedende stowwe in die lugruim en die buitenste ruimte,
het tot die ontwikkeling van talle nuwe soorte stowwe gelei wat
mettertyd ook baie nuttig deur ons aardgebondenes aangewend kon word. Só
het kunshars-kleefstowwe soos die epoksiharse in vele opsigte die
tradisionele soorte kleefstowwe vervang. Maar
darem lank nog nie heeltemal nie. Die verskillende soorte gom—natuurlik
sowel as sinteties—word hieronder van naderby bekyk. A)
Natuurlike soorte gom NATUURLIKE
kleefstowwe kom van plante of diere. Baie mense sal kan vertel hoe hulle
heel dienlike gom verkry het deur huishoudelike stysel met kookwater te
"blus" of desnoods dalk selfs die hars van sekere bekende
boomsoorte soos die soetdoring te gebruik. Daar is egter ook nog baie
ander kleefstowwe in die natuur. Die belangrikste natuurlike produkte
is: i)
Boomgom Soorte
natuurlike plantaardige gom sluit in akasiagom, wat verkry word van
akasiabome wat opsetlik beskadig word sodat die gom daaruit kan sypel.
Nog só ’n uitsypelende stof is "boommelk" of natuurlike
lateks, wat in die gomlastiekbedryf van die egte rubberboom verkry word
(nie die soort rubberboom wat in baie van ons tuine groei nie, hoewel
dié ook lateks bevat). ii)
Styselgom Styselgom
(ook dekstrien genoem) word uit aartappels, mielies, koring of rys
verkry en dié stysel-ekstrakte sorg wêreldwyd vir die vernaamste
plantaardige kleefstowwe. Hulle word nuttig aangewend in die
verpakkingsbedryf en onder meer ook om plakpapier aan mure vas te lym. iii)
Dieregom Met
dieregom word gewoonlik dié soorte kleefstof bedoel wat van die
kollageen van soogdiere berei is. Kollageen is ’n proteïen en die
hoofbestandeel van bindweefsel. Dit word uit die velle, beendere en
spiere van die diere verkry. Die
kollageen is normaalweg onoplosbaar, maar los stadig op indien dit in
sure, alkalieë of warm water gedompel is. Die gevomde produk staan in
sy suiwer vorm as gelatien en in sy donkerder, onsuiwerder vorm as
dieregom bekend. Onder
die tradisionele gebruike van dieregom is die las van hout, die bind van
boeke en dies meer. Hoewel dit nog altyd ’n goeie kleefstof geblyk
het, is dit reeds in ’n groot mate deur sintetiese kleefstowwe
vervang. iv)
Kaseïengom Kaseïen
is die hoofbestanddeel van die eiwit in soogdiermelk. Kaseïengom word
berei deur kaseïen in ’n waterige alkaliese oplosmiddel op te los.
Kaseïengom se vogweerstand en duursaamheid is in die reël beter as dié
van dieregom. Kaseïen word ook gebruik om die kleefvermoë van verwe te
verbeter.
v)
Bloedeiwitgom Hierdie
soort gom word van die eiwit in bloedwei gemaak. Dit word óf van vars
dierebloed verkry óf van gedroogde oplosbare bloedpoeier waarby water
gevoeg is. ’n Groot aantal gomprodukte wat uit bloed berei word, word
in die laaghoutbedryf gebruik. B)
Sintetiese kleefstowwe AS
daar een Suid-Afrikaanse maatskappy is wat baanbrekerswerk met
kleefstowwe gedoen het, is dit Pratley (Edms.) Bpk. van Factoria,
Krugersdorp, in Gauteng. Een van sy produkte, "Pratley Putty",
is byvoorbeeld die enigste Suid-Afrikaanse produk wat destyds saamgegaan
het maan toe. Vandag dink ons nog aan Pratley-produkte as supersterk
semente en kleefstowwe wat "gebou is om te klou"! Hoewel
natuurlike kleefstowwe goedkoper verkry kan word, is die belangrikste
kleefstowwe dan ook vandag sinteties. Dié wat op kunsharse en
kunsrubbers gegrond is, is besonder sterk en uitmuntend veelsydig. Party
sintetiese kleefstowwe, soos die epoksiharse, is sterk genoeg om in
konstruksies in die plek van sweising of klinkwerk gebruik te word. Wat
kunsstowwe so gewild help maak, is dat hulle sonder onderbrekings
in die produksie en van konstante gehalte vervaardig kan word.
Hulle is nie onderhewig aan die seisoene en die reënval soos
byvoorbeeld plantaardige produkte nie. Op die koop toe kan hulle op baie
maniere getemper en geplooi word om die beste eienskappe vir ’n
bepaalde aanwending te verkry. Om
die vervaardiging van al die verskillende soorte sintetiese kleefstowwe
volledig te bespreek, kan so tegnies raak dat die deursnee-leser bes
moontlik weinig erg daaraan sal hê. Ter wille van ’n oorsigtelike
beeld moet minstens die volgende twee hoofsoorte egter kortliks genoem
word: i)
Kontaksemente Kontakkleefstowwe
of -semente word gewoonlik aan altwee oppervlakke aangewend wat
saamgevoeg moet word. Hulle word grootliks in die montering van motors,
in meubelvervaardiging en die leergoederebedryf gebruik. Plastiekstowwe
word doeltreffend hiermee vasgelym. ii)
Strukturele kleefstowwe Dit
is kleefstowwe wat in die reël duursaam en weerstandbiedend is, terwyl
hulle ook hitte en oplossende stowwe goed kan weerstaan. Die meeste kan
in een van ’n sestal kategorieë ingedeel word:
Elk
van hierdie kategorieë kan aangepas word vir die vervaardiging van ’n
hele reeks kleefstowwe met verskillende fisiese en meganiese eienskappe
en aanwendingsmoontlikhede. MET
soveel kleefstowwe op die mark, kan dit nogal ’n taai tameletjie wees
om presies te weet wát ’n mens wáár moet gebruik. Dog epoksihars is
waarskynlik die beste veelsydige kleefstof. Dit sal enige twee
oppervlakke aanmekaar laat kleef en is duursaam. Maar
hoe lyk die toekoms van gom en kie.? Wetenskaplikes wat lank
dronkgeslaan is deur die vermoë van geitjies om teen die gladste
gepoleerde glasmure uit te skarrel, het vasgestel dat hulle miljoene
mikroskopiese haartjies aan hul pote het. Dit stel hulle in staat om aan
sulke gladde oppervlakke te kleef—sonder die hulp van suigkrag,
klewerige uitskeidings, elektrostatiese kragte, wrywing of Velcro-agtige
ineensluitings. Maar hoe? Volgens
die wetenskaplikes gebruik hierdie klein reptiele heel waarskynlik
kragte wat Van der Waals-kragte genoem word om molekulêre verbindings
te vorm tussen die mikroskopiese haartjies en die oppervlak waarop hulle
loop. Die bindkrag is so sterk dat een enkele haartjie in al die
miljoene ’n mier se gewig sou kon kan dra. Daarmee
is die deur vir chemiese ingenieurs geopen om dalk nog eendag met ’n
nuwe werklik wondersterk gom vorendag te kom. Dan
hoef ons nie langer die holruggeryde uitdrukking te gebruik van iets wat
soos klits aan ’n wolkous kleef nie. Dan kan ons byvoorbeeld sê dit
kleef soos geitjie-gom aan enigiets! |
||