|
|
|||||||||
|
BO: Goudklonte. Foto’s deur “Aramgutang” / by Wikimedia Commons op die węreldwye web aangedui as openbare besit (“released into the public domain”) |
|||||||||
Goud,
die koning van die metale, wat so gesog is vanweë sy seldsaamheid, maar
ook as gevolg van sy baie ander goeie eienskappe, word van die vroegste
tye af deur die mens as edelmetaal geëer. Uit die vertellings van die ou
volkere van lank gelede weet ons watter besondere bekoring goud reeds ook
vir hulle gehad het. Dink
maar aan die verhaal van koning Midas in die Griekse mitologie. Toe Midas
iets kon wens, het hy gevra dat alles waaraan hy raak in goud moet
verander. Hy het gedink dit sou hom fabelagtig ryk maak. Tot sy
ontnugtering moes hy besef dat ook sy kos en drank by sy aanraking in goud
verander -- en om nie van honger te sterf nie, moes hy smeek dat die
towermag van hom weggeneem moes word. Omdat
goud nog altyd ’n simbool van rykdom was, was sy rol in die węreldgeskiedenis
vanselfsprekend enorm. En waar dit vir die węreld in die breë geld, geld
dit natuurlik in die oortrappende trap vir Suid-Afrika. Trouens, dis moeilik om die superieure rol van goud in die Suid-Afrikaaanse geskiedenis te oorskat. Die vroegste bekende plaaslike goudbewerking was, volgens geskiedkundiges, meer as duisend jaar gelede toe daar onder meer met goud handel gedryf is in die antieke koninkryk van Mapungubwe in die verre noorde van ons land. (Kyk ook artikel oor Mapungubwe.)
DIE
ou Transvaal (destyds bekend as die Zuid-Afrikaansche Republiek) kon as
’n arm, landelike staatjie geen uitermate bekoring vir Engeland ingehou
het nie. Maar dit was voordat die rykste goudvonds op aarde die groot węreldmoondheid
met begerende nuwe oë na dié destydse Boererepubliek laat kyk het. Soos
’n ou Transvaler vroeg-vroeg al geweeklaag het: "Die
ontdekking van die Witwatersrandse goudvelde is die eerste bylslag aan die
wortel van ons onafhanklikheid." Die
begin van die goudmynbedryf in 1886 en die stigting ’n jaar daarna van
Johannesburg (wat die middelpunt van die bedryf geword het) het ’n
magtige stroom immigrante, meestal Britte, op Transvaal laat toesak. Kort
voor lank was hulle toe selfs meer as die Boere. Om
die beheer te behou het die Boere geweier dat die sogenaamde
"Uitlanders" seggenskap in die Transvaalse regering kry. Dit was
water op die meul van die Britse ekspansioniste (diegene wat die Britse
ryk wou uitbrei). Wat
die ekspansioniste die "onvermydelike" oorlog met die Boere
genoem het, het toe uiteindelik op 11 Oktober 1899 uitgebreek. Die
oorwinning oor die Boere in 1902 het in 1910 tot die vorming van die Unie
van Suid-Afrika gelei -- die unifikasie in vier provinsies van die gewese
Boere-republieke van die Vrystaat en Transvaal en die ou Britse kolonies
van Kaapland en Natal. GOUD
het dus onmiskenbaar ’n nuwe tydperk in die ekonomiese en die politieke
lewe van Suid-Afrika ingelui -- en natuurlik ook ongekende welvaart vir
die land beteken. Die omwenteling wat ’n rukkie tevore deur die
ontginning van diamante by Kimberley begin is, is as gevolg van die nuwe
goudmyne koorsig tot nuwe hoogtes gevoer. Tot
’n ekonomie wat deur die landbou oorheers is -- wat merendeels op ’n
selfversorgende grondslag beoefen is -- is ’n nuwe sektor toegevoeg wat
die kenmerke sou dra van ’n meer ontwikkelde, geďndustrialiseerde en
"kapitalistiese" land met sy grootskaalse finansiële
transaksies, maatskappyevorming, spekulasie, kredietskepping, noem maar
op. Dit
het spoedig geblyk dat die Witwatersrandse erts van lae gehalte slegs
lonend ontgin kon word deur middel van doeltreffende administrasie,
bewerkingsmetodes en masjinerie. Dit het kapitaalbelegging op groot skaal
geverg, en hierdie bedryf het dan ook die bedryf van die groot kapitaal
geword, wat veral in die begin uit oorsese bronne geput het. Belangrike
gebeurtenisse in die geskiedenis van die bedryf was die geslaagde
ontginning aan die Verre Oos-Rand in 1912, die uitbreiding na die Wes-Rand
in die jare dertig, die ontdekkings van goud in die Vrystaat en die
ontginning van hierdie goudgebied ná die Tweede Węreldoorlog, en die
onttrekking van uraan uit die goudhoudende afsettings van die
Witwatersrand, Klerksdorp en die Vrystaat. VAN 1886 af was Suid-Afrika langer as ’n eeu lank die węreld se belangrikste goudproduserende land—en dis steeds ’n baie groot rolspeler op die internasionale goudtoneel, hoewel ons in 2007 in ons goudlewering deur China verbygesteek is. Op die toppunt van sy produksie in 1970 het Suid-Afrika vir 79 persent van die węreld se jaarlikse lewering gesorg. Vandag
sorg ons land se goudmyne vir sowat 25 persent van die węreld se
jaarlikse produksie. Ons verminderde lewering is hoofsaaklik die gevolg
van groot goudontdekkings elders, soos ook veral in Noord-Amerika en
Australië. Boonop is
Suid-Afrikaanse goudmyne in die afgelope aantal jare erg
gekniehalter deur eskalerende kostes en ’n rand-dollar-wisselkoers wat
hulle beslis nie altyd bevoordeel het nie.
Suiwer
goud is die mees pletbare en rekbare metaal wat daar is. Dit kan ---
werklik verstommend -- tot ’n dikte van slegs 0,000013 sentimeter
gehamer word en net 29 gram kan tot ’n 100 kilometer lange draad gerek
word! Allerlei
mooi voorwerpe kan gevolglik ook betreklik maklik daarvan gemaak word --
hoewel dit eintlik te sag is om suiwer te gebruik, selfs vir ornamentele
doeleindes. Dit word gewoonlik as allooi gebruik saam met koper of silwer.
Suiwer goud word aangedui 24 karaat; hoe minder goud in die allooi hoe
minder die karaat. Muntgoud
bestaan uit negentig dele goud en tien dele silwer. Groen goud, wat in
juweliersware gebruik word, bevat koper en silwer. Wit goud bevat sink en
nikkel, of platinummetale. Goud
is verder uiters onaktief. Yster kan oproes en koper kan groen aanslaan,
maar water en die dampe en gasse in die lug het normaalweg geen invloed op
goud nie. Ook
kan net die sterkste sure in goud invreet. Goud is dus ’n baie duursame
metaal. Waar
dit eintlik vandaan kom? Wetenskaplikes reken dit is baie, baie
millenniums gelede vanuit die aarde se vuurwarm binneste af opgerisp om
goudare in krake in die aardoppervlak te vorm. Met verloop van baie lang
tye het verwering dit tot afsettings afgebreek. Al
die węreld se goud kom dan natuurlik ook nie net uit myne nie. Duisende
hoopvolles het veral in die ou dae dikwels in riviere na sogenaamde
spoelgoud gesoek. Gruis en water word uit die rivierbedding geskep, die
mengsel in 'n pannetjie geskommel sodat dit oor die rand uitstort, terwyl
die veel swaarder krieseltjies klontgoud op die boom van die pan agterbly.
Die węreld se grootste bekende goudklont (sowat 71 kilogram)
is in 1869
naby Melbourne, Australië, gevind. Só ’n soort gelukkie is min mense
beskore, maar dis darem ook interessant dat hierdie edelmetaal nie
heeltemal so skaars is nie soos dit lyk nie. Dit kom nogal in baie
rotsformasies voor. Ongelukkig is dit meermale nie in sulke groot
konsentrasies dat ontginning enigsins lonend is nie. En
dan is daar mos ook die goud van die see. In elke veertig ton
seewater, word vertel, is daar een gram goud -- met die gevolg dat daar
duisende miljoene tonne goud in ons oseane moet wees. Tog is dit
hoegenaamd nie so maklik, en lonend, om die goud uit die seewater te
onttrek nie en sal die myne op land die belangrikste verskaffers bly
totdat die goud in die riwwe en elders uitgeput raak. En daarna? Nou ja. Dit
bly nietemin altyd interessant om te kyk hoe goud werklik diep onder uit
die aarde se maag geworstel word. Suid-Afrika se smal maar uitgestrekte
goudriwwe lę dikwels ver onder die oppervlak en gewoonlik op ’n
skuinste van tot 20 grade. Die ontginning van goud is ’n
geweldige onderneming en tot 20 000 mense kan by 'n enkele groot myn
werk…
DIE
binnewerk van ’n goudmyn herinner ’n mens nogal baie aan ’n
spoorwegstelsel. Die skagte is die enigste verbinding van die myn met
die buitewęreld, en daarin word op vasgestelde plekke kamers uitgekap wat
stasies genoem word. Van hierdie stasies af loop gange
en
dwarsgange na al die dele van die myn net soos die hooflyne en taklyne van
’n spoorstelsel. In
die gange is daar dan ook werklike ysterspore wat net soos treinspore lyk
en waarlangs die gouderts met trokke en koekepanne (bakke op wiele) na
die stasies gebring word om daarna uit die myn opgehys te word. Aangesien
die skag of skagte die enigste opening van die myn na buite is, moet baie
sorg aan die dag gelę word met die maak en instandhouding daarvan.
Gevaarlike rotsstortings met lewensverliese kan wel in skagte voorkom waar
daar ’n swak plek is. Gevolglik word die skagte deeglik gestut met
pilare uit die rotsrif self, timmerwerk, klipstapels, staal, beton en op
nog ander maniere. Om seker te maak dat alles veilig is, word die stutwerk
gereeld as’t ware sentimeter vir sentimeter nagesien. Die
erts, die mynwerkers en die materiaal wat vir die myn nodig is, word met
hysbakke langs die skag boontoe uitgelig.
Bo-op
elke skag staan groot masjinerie wat die hyswerk doen. Die hystoue word
gereeld ondersoek en ingenieurs hou gedurig toesig oor die toestelle in
die skag en in die masjienkamer. Diep
onder die grond in die myn is daar altyd syferwater, wat voortdurend na
buite uitgepomp word met pompe, waarvan die pype ook langs die skag afloop. Vir die gedurige toevoer van vars lug in die myn is daar ’n
spesiale apparaat. Mynwerkers moet ook die hele tyd bedag wees op die
gevaar van myngas wat dikwels weens die rotsbrekery diep ondergronds afgee
word. Die
aardkors bestaan uit soliede rots op die plekke waar die goud uitgegrawe
word en dus word springstowwe gebruik om die rots te breek. Gate
word tydens hul skofte deur mynwerkers in die rots geboor en aan die einde
van die skofte word springstof daarin geplaas wat op ’n bepaalde tyd
moet ontplof wanneer niemand daar is nie. Twee tot drie ton rots word per
ontploffing uit die aardkors losgeruk. Hierdie erts word deur die skag
na bo gebring. Bogronds
breek stampmasjiene die gebreekte rots verder op, wat dan gewas word om
die goudhoudende banket af te skei van die rots waarin dit is. Vervolgens
beweeg die skoongewaste rots op ’n vervoerriem of draaitafel voor
werkers verby wat die uitsoekwerk doen. Die
afvalrots word na die mynhope gebring. Almal wat die Witwatersrand ken,
sal weet hoeveel sulke hope daar vandag is... die strakke getuienis van
hoe die natuur met barre grondhope ontsier kan word, tensy die steriele
grond weer vrugbaar kan word en die hope met plantegroei bedek kan word.
Die
gouderts word verder verwerk. Uiteindelik word suiwer goud deur middel van
oplossings afgeskei, waarna die goud gegiet word in stawe, wat maklik
hanteer kan word. Nou
is die goud gereed om die węreld ingestuur te word. Wie weet, dalk word
daardie een staaf nog eendag verwerk tot ’n aantal trouringe waarvan een
selfs op ’n dag aan jou eie vinger sal pryk!
|

BO: Sowat 1 km ondergronds in ’n Randse goudmyn in 1913.
Foto: New York State Archives