Grondboontjie

Die gesogte peulvrug wat

letterlik “ten gronde gaan”!
  

   Grondboontjies in die dop

 

Foto: Alice Welch / U.S. Department of Agriculture

Die klein en nederige grondboontjie is as peulgewas maar net ’n stief-familielid van die neute. Maar nadat sy bestuifde blommetjie verwelk en onder die grond ingeduik het, ontwikkel dit tot ’n ondergrondse peul met olieryke en gesogte bone. En agterna, as geroosterde en gesoute versnapering, staan die grondboontjie sy plek terdeë op ons winkelrakke vol...

Grondboontjieplant

BO: ’n Dwarsdeursnee van die grondboontjieplant, bogronds en ondergronds.

Krediet: ARS / U.S. Department of Agriculture

D

ALK hou jy van jou grondboontjies heel. Of miskien verkies jy die botter wat daarvan gemaak word. Eters van grondboontjiebotter kan dit op hul beurt óf graag roomglad verorber óf met klein stukkies van die bone wat daarin versprei is.

 

Aan die ander kant kan sekere mense skoon histeries raak wanneer die vetterige grondboontjiebotter aan hul verhemelte kleef. Dit is ’n vrees wat aragibutirofobie genoem word—afgelei van die plantkundige naam van die grondboontjie, Arachis hypogaea, en die Latynse woord vir botter.

 

Gelukkig vir die grondboonboere en die produseerders van die voedselprodukte van die gewas is daar nie baie mense wat aan aragibutirofobie ly nie. Tog sal dié boonmense stellig nie hou van ’n heel onlangse amptelike bevinding in Amerika dat sowat een uit elke 26 kinders deur verskillende voedselallergieë gepla word nie.

 

Navorsers sê boonop dat een uit elke 100 Amerikaners ’n reaksie toon wanneer hulle grondboontjies geëet het, ’n allergie wat hulle gewoonlik lewenslank kasty.

 

Kontak met die bone, selfs byvoorbeeld ’n smeerseltjie van die botter teen ’n boom by piekniekplek, kan nare gevolge vir die lyers hê. Dit kan wissel van ’n minder ernstige teenreaksie soos ’n geringe veluitslag tot lewensgevaarlike simptome.

 

Mieliestronk.com het hoeka vir hierdie artikel ook met ’n nagenoeg sewentigjarige bejaarde Suid-Afrikaner gepraat wat glo maar onlangs eers uitgevind het wat die eintlike rede vir die onverklaarbare periodieke uitslag aan sy buik was. Hy het naamlik iets vreesliks begin jeuk elke keer nadat sy vrou vir hulle grondboontjiebotter van die winkels af saamgebring het. Wat ’n ontnugtering in sy gryse jare toe hy die grond-oorsaak van sy lang beproewing ontdek!

 

Na berig word, bly grondboontjie-allergie ook in Brittanje ’n groot bron van kommer vir die voedselbedryf daar.

 

Die probleem van die produsente sou groter gewees het as dit nie was dat baie ander dinge wat nie in die menslike maag beland nie, darem ook deels van hierdie soort bone uit die aarde gemaak word. Belangrike voorbeelde is sekere soorte ink, linoleum, ghries, seep, sjampoe, skeerroom, skoenpolitoer, verf en selfs die hoogs ontplofbare nitrogliserien.

 

Eetbare kommoditeite, benewens die heel bone en die botter, is produkte soos sekere soorte brood, koek, slaai, sop en tot sekere dranke.  

 

Dit alles maak die grondboontjie steeds ’n baie waardevolle plant. Duisende variëteite word gekweek, waarvan die Spaanse kutivar en die Loper, Virginia en Valencia die vier gewildste kultivargroepe is. Die klein Spaanse soorte word in Suid-Afrika verbou.

 

Bronne verskil oor die wêreld se vernaamste produsente van grondboontjies. Volgens een bron is China, Indië en Amerika boaan die lys, terwyl die produksie wêreldwyd sowat 30 miljoen metrieke ton per jaar bedra. Die oorbevolkte China se jaarbydrae van meer as 13 miljoen metrieke ton spreek boekdele. Grondboontjies dra nietemin jaarliks meer as vier miljard (vierduisend miljoen) dollar by tot die Amerikaanse ekonomie. En in Afrika is selfs ’n klein landjie soos Malawi ’n noemenswaardige verskaffer van grondboontjiebotter.

 

Lande waarin grondboontjiebotter baie gewild is, is Amerika, Australië, Brittanje, Kanada,  Nederland en natuurlik Suid-Afrika. Dis terloops interessant dat die smaak daarvoor blykbaar van kleins af aangeleer moet word, want dit proe glo alte raar vir mense wat nie daarmee vertroud is nie!

 

Daarteenoor het selfs die Amerikaanse ruimtevaarders op reis na die maan hul toebroodjies met grondboontjiebotter-en-jellie geniet. Wat meer sê,  voedingkundiges reken dat een grondboontjiebotter-toebroodjie, ’n glas melk en ’n lemoen ’n byna volmaak gebalanseerde maaltyd uitmaak, met die grondboontjies wat groot hoeveelhede proteïen verskaf. Die rede is dat die grondboontjie tot die proteïenryke peulplantfamilie behoort, wat ook die groenboontjies en die ertjies insluit.

 

Grondboontjies en grondboontjiebotter is in der waarheid ’n goedkoper bron van proteïen as baie ander kossoorte, soos kaas, vleis en hamburgers.

 

Waarop dit verder neerkom, is dat die grondboontjie nie rêrig ’n neut is nie, maar ’n peulplant. En daar is nogal ’n belangrike verskil. ’n Mens kan wel vra waarom volhard die Engelse dan so met hul benaming “peanut”!

 

Die grondboontjie bevat voorts talle noodsaaklike vitamiene en minerale en is van nature vry van cholesterol. Dis boonop ’n goeie bron van foliensuur, wat so belangrik vir die mens se gesondheid is.
 


Geskiedenis van die grondboontjie

Machu Picchu

BO: Die sonstad van vanmelewe se Inkas genaamd Machu Picchu—hul nou wêreldberoemde bergvesting in Peru in Suid-Amerika. Die Inkas was volgens alle aanduidings goed vertroud met die grondboontjie.

Foto (effens gewysig): Clive Ruggles / NASA

 

DIE kweek van die grondboontjie kom al van doer ver af. Die plant se land van oorsprong is moontlik Brasilië of Peru, hoewel daar nog geen fossiele gevind is wat enige van dié aansprake kan staaf nie. Maar vandat mense in Suid-Amerika pottebakkery begin beoefen het—nagenoeg 3500 jaar gelede—het hulle kruike gemaak wat soos grondboontjies gevorm was of wat met sulke vorms versier is.

 

Grafte van die ou Inkas wat aan die droë weskus van Suid-Amerika gevind is, bevat dikwels potte vol grondboontjies wat by die afgestorwenes gelaat is sodat die bone hulle, soos geglo is, in die hiernamaals kon voed.

 

Dit was die vroeë Spaanse ontdekkingsreisigers in Suid-Amerika wat die grondboontjie na Europa geneem het. Handelaars en ontdekkingsreisigers het dit op hul beurt van Spanje af na Asië en Afrika gebring, en in die tropiese Wes-Afrika het die kweek daarvan so gewild geword dat baie Afrikane dit as as een van verskeie plante beskou het wat ’n siel sou besit.

 

Toe Afrikane in hul hordes as slawe na Noord-Amerika gebring is, het die grondboontjie saamgegaan. Slawe het dit oral in die suide van die Verenigde State aangeplant, en daar word vertel dat die Amerikaanse slengwoord goober vir ’n grondboontjie juis afgelei is van ’n Kongolese naam daarvoor, te wete nguba.

 

Ironies genoeg is baie van die moderne gebruike van die grondboontjie juis te danke aan die werk van ’n beroemde Amerikaanse wetenskaplike en uitvinder wat as ’n slaaf gebore was, George Washington Carver (1864–1943). Sy navorsing het tot die ontwikkeling van meer as driehonderd gebruike van hierdie peulgewas gelei, waaronder skoenpolitoer en skeerroom.

 

George Washington CarverREGS: George Washington Carver,  die gewese slaaf wat 'n groot navorser van die gebruike van grondboontjies geword het.

 

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture

 

 

En grondboontjiebotter se uitvinder? Dit moet heel waarskynlik verskeie kere in die verlede uitgevind of heruitgevind gewees het, maar die vader van die moderne weergawe was ook ’n Amerikaner, ’n dokter van St. Louis, wat dit in die 1890’s geskep het as ’n plaasvervangende sagte proteïen vir mense met slegte tande wat nie meer so lekker kon kou nie.


Die grondboontjieplant
 

SOOS ander peulplante is Arachis hypogaea ’n bossie. Die bone word in die reël geplant wanneer die winter vir seker verby is (daar weinig rede is om ryp te vrees),  en ligte, goed gedreineerde grond is verkieslik. Die bone word sowat 5 cm diep geplant. As die weer saamspeel en dit warm genoeg bly—en die jong plante genoeg water kry—maak die plantjies binne twee weke hul verskyning.

 

Die grondboontjies is die plant se sade wat in peule, in hierdie geval doppe genoem, voorkom. Die eienaardigheid is dat die peule nie bogronds groei nie, maar onder die grond. Dis bes moontlik ’n verdigingsmeganisme waarmee die plant verhinder dat sy sade deur voëls, insekte en ander diere opgevreet word.

 

Die blomme waaruit die sade ontwikkel, kom natuurlik wel bogronds voor, want hulle moet immers in die buitelug bestuif word. Maar ná die bestuiwing verwelk die blomme en sak af grond toe, waar hulle hulself begrawe.

 

Die peuldoppe, wat ondergronds ryp word, word gewoonlik deur die boer geoes deur die hele plant uit die grond te haal, soos by aartappels. Afhangende van die soort kultivar en die weer, is die bone reg om geoes te word 110 tot 160 dae nadat hulle geplant is.

 

Die doppe word daarna drooggemaak, waarna dit uitgedop word om die rou grondboontjies te kry. Om elke individuele boon is nog ’n doppie wat verwyder moet word. Die grondboontjies word gerooster, gesout en verpak—en is uiteindelik gereed vir die winkelrak. En al is die klein en nederige grondboontjie as peulgewas maar net ’n stief-familielid van die neute, staan hy terdeë sy plek in die winkels vol.

 

Praat van ’n bielie van ’n boon!

 

Blom van die grondboontjieplant

BO: Die grondboontjieblom wat ná bestuiwing verwelk en letterlik “ten gronde gaan”... net om ondergronds voort te woeker en ’n peul met sade te word. Die sade is natuurlik die bekende grondboontjies.

Foto: ARS / U.S. Department of Agriculture

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad