|
||
|
Vier sierlike grootboksoorte van Suid-Afrika
Wildsbokke of antilope (na die Griekse woord antholops, wat
’n dier met horings beteken) is ’n populęre versamelnaam van sekere
soorte diere. Dit verwys na daardie lede van die
• Vier van die grootboksoorte van Suid-Afrika word in hierdie artikel van nader bekyk. (Daar is egter ook nog verskeie ander, soos die blouwildebees, swartwildebees, bontbok, rooihartbees en waterbok.)
• Vir ’n ander artikel oor sewe van Suid-Afrika se fassinerende kleinboksoorte klik hier
|
||
Foto: Kopiereg © South African Tourism / Suid-Afrikaanse Toerisme
ONS eland, ook genoem die gewone eland of suidelike eland, is ’n regte bielie onder die bokke. Daar is ook ’n spesie genaamd die reuse-eland (Taurotragus derbianus) in Midde- en Noord-Afrika, maar die voorvoegsel “reuse” is misleidend, want die twee soorte verskil nie wesenlik in grootte nie.
Hierdie elandspesies word inderdaad as die grootste “wildsbokke” of “antilope” ter węreld beskou, hoewel die elande in baie opsigte bra “beesagtig” is. Daar word vertel dat ’n uitgegroeide bul die skaal op amper duisend kilogram kan laat kreun en by die skouer byna twee meter hoog kan staan.
Jong en volwasse elande is in die reël geelbruin, terwyl dié wat spreekwoordelik lank in die tand begin raak blougrys is. Sowel die mannetjies as die wyfies het lang, reguit horings met ’n opmerklike spiraalrif. Elande word gekenmerk deur vyf of ses dofwit, regaf strepe aan die sye, asook ook ’n behaarde keelvel.
Hierdie diere kom gewoonlik in troppe van dertig tot tagtig (maar meer as vierhonderd is al in een trop getel) op die oop vlaktes en yl doringveld voor. Hulle is ywerige blaarvreters wat egter ook lief vir jong gras is.
In hul gelukkiger verlede was daar ’n menigte van hulle op die wye vlaktes in groot dele van Suidelike Afrika en Oos-Afrika, maar die elande is meedoënloos gejag. Dit was enersyds omdat hulle van nature bra mak is en andersyds natuurlik omdat elandvleis so lekker smaak. Gelukkig is daar darem vandag nog stewige elandpopulasies in van ons wildtuine. |
||
BO: ’n Koedoebul met sy treffende gedraaide horings.
Foto van
Wildlife-Pictures-Online.com,
ONS koedoe is eintlik die groot koedoe. Die klein koedoe (Tragelaphus imberbis), wat ’n middelgroot wildsbok is, is ’n neef van hom. Dog omdat die klein koedoe nie by ons voorkom nie, maar ’n boorling van Oos-Afrika is, volstaan ons hier bloot met die naam koedoe. Ons kry die naam van die isiXhosa-naam vir hierdie grootboksoort, te wete iqudu.
Ons koedoe is nou nie die eland se portuur nie, maar as jy een van die volwasse koedoebulle sien wat by die driehonderd kilogram weeg, besef jy dat ons hier mos ook met ’n taamlike knewel onder die wildsbokke te doen het.
Elkeen wat al met sy of haar lewe daarvan afgekom het nadat ’n koedoe in die nag voor dié persoon se motor ingespring is, sal eweneens kan getuig dat hy ręrig ’n formidabele kalant is.
Illustrasie: MSKARG
’n Uitgegroeide koedoebul het ’n skouerhoogte van nagenoeg een en ’n halwe meter. En hy lyk werklik sierlik met sy dik, gedraaide horings, wat selfs nog langer as hierdie hoogte kan wees. Blaasinstrumente wat van koedoehoring gemaak word, is op sigself indrukwekkend.
Koedoekoeie het egter nie horings nie. Hulle neig ook om heelwat kleiner as die bulle te wees.
Koedoes se lyfkleur is in die reël 'n ligte geel- tot grysbruin en daar is vier tot tien of selfs twaalf regaf wit strepe langs die sye.
Hierdie wildsbokke hou in klein troppies en vreet blare in die bosagtige dele van Suidelike Afrika en Oos-Afrika, waarin hulle wyd verspreid voorkom. Ondanks hierdie groot verspreiding is daar in die meeste gebiede maar betreklik min van hulle oor, vanweë ’n kwynende habitat, ontbossing en—soos in die geval van die eland en vele ander wildsbokke—die eintlik onbesonne jag wat in die verlede op hulle gemaak is. |
||
BO: ’n Gemsbok in Namibië.
NET soos baie Suid-Afrikaners wat deesdae groener weivelde in die buiteland gaan soek, het tientalle van Afrika se gemsbokke ook al na Amerika “uitgewyk”.
Van 1969 tot 1977 is 93 van hierdie wildsbokke in die Tularosa-stroomgebied in die Amerikaanse staat Nieu-Mexiko vrygelaat, toe ’n vergelyk getref is tussen voorstanders van die bewaring van die natuur en ander mense wat dit vir reklame en wins wou aanwend. Na verneem word, het die gemsbokke daar al tot ’n geraamde drieduisend aangewas.
Die rede wat vir die geil toename aangegee word, is dat die gemsbokke se natuurlike roofvyande, soos leeus, nie daar voorkom nie.
Maar is ’n belangriker rede nie miskien dat daar nie soveel menslike jagters is wat hul vleis soek nie? Of hul horings! Gemsbokke in Afrika is immers gesog by jagters vanweë hul skouspelagtige horings met ’n gemiddelde lengte van tussen 80 en 90 cm. Die spiesvormige horings word by albei geslagte aangetref, maar by die koeie is die horings langer en dunner. Dit is interessant dat die kalwers gewoonlik met kort horinkies gebore word.
Gemsbokke kom in die Kalahari-woestyn, die noorde van Namibië, Tanzanië, Zambië en Kenia voor.
Die bok staan nagenoeg 1,3 meter hoog. Sy pels se kleur is bruin-grys, en hy het swart en wit strepe aan die kop, pote en buik. Die maanhaar en stert is donkerbruin tot byna swart. .
Gemsbokke kan lang tye sonder water klaarkom, maar indien daar wel water is, suip hulle gereeld. |
||
BO: ’n Swartwitpensbul, afneem naby die Kafuerivier in Zambië.
NET soos Suid-Afrika se rugbytrots die Springbokke genoem word, na die hupse inheemse huppelaars van ons wye velde, so heet Zimbabwe se nasionale rugbyspan die Sables, dit wil sę die Swartwitpense.
Die swartwitpens is ’n statige tropiese wildsbok wat binne ons grense in Limpopo en Mpumalanga voorkom, maar sy verspreidingsgebied is wyer in Suidelike Afrika, terwyl hy ook in Oos-Afrika aangetref word. Hy is ’n grasvreter en kuddedier van die oop bosveld. Swartwitpense hou altyd naby water.
Swartwitpense vorm troppe waarin een enkele bul oor sy eie “huishouding” van tien tot dertig koeie en hul kalwers heers. |
||